Etosha. Piet van Rooyen

Читать онлайн книгу.

Etosha - Piet van Rooyen


Скачать книгу
Die geur van vars gebak stoot in die neusgate op. Karel voel hoe sy speekselkliere kwyl. In ’n rak agter die glas onder die toonbank, bokant die varsgebakte brood en Brötchen, is daar mooi ronde Duitse glanskoekies en vierkantige stukke vlatert. Karel is ’n groot man, lank en swaar gebou met reuse-boarmspiere en dik kuite. Hy het gedurig hervulling nodig om sy groot lyf aan die gang te hou, grinnik hy by homself.

      Die bakkery is byna leeg. Die hoërskoolkinders wat vakansietye hier kom sit en Coke of Cream Soda floats drink, is op skool op ander, groter plekke. Die paar boere wat dorp toe gekom het, is besig met hul inkopies. By ’n tafel op die klein veranda sit daar tog drie vreemde mans, Karel vermoed van Gauteng af. Hulle stofbedekte Corollatjie, ’n groene met ’n GP-registrasienommer, staan buite in die straat, ’n onvanpaste karretjie vir dié wêreld waar almal met groot bakkies ry.

      “Môre,” sê Karel vir Fanie en knik in die reisigers se rigting. Fanie is lank en stewig en lyk woes agter sy los baard.

      “’n Koek vir my vrou en ’n pastei vir my,” sê Karel vir die bakker en lag. “’n Koffie en ’n tee daarmee.”

      “Moet jou nie snaaks hou nie, jy’s nie nou in die Park nie!” sê Karel se vrou vir hom, en aan die bakker: “Jou plek stink,” en trek haar neus op ’n plooi.

      “Verstopping in die drein gehad; nou weer reg,” sê Fanie. “Sit maar buite, die lug is varser daar.”

      “En daai drie kriminele?” Karel het hom vir sy vrou se berisping vervies. Hy is al van vanoggend af nie in ’n goeie bui nie. Die dooie renoster het hom sleg ontstel. Daar was maar vyf in totaal in Kowares se omgewing, nou’s daar minstens een minder.

      “Van Gauteng af, kom wildplase bekyk, ryk manne, wil wild koop.”

      “Laat maar buitentoe bring.”

      “Maak so.”

      Karel Fechter is die Panne se parkhoof. Hy is al lank in hierdie land, hier gebore en grootgeword: in die Kamanjab-gebied, op ’n plaas in Khorixas se rigting. Op Kamanjab skoolgegaan, in die tye toe daar nog ’n skool vir wit kinders was. Hy was nooit uitgeknip vir skool nie. Hy’s ’n doener, nie ’n luisteraar nie, en hy is bly daardie stukkie van sy verlede lê agter hom. Hy moes vir te lang ure stilsit in daardie warm, klein asbesklaskamers, te veel frustrerende huiswerk doen, onnodige goed memoriseer. Die weermagdae daarna was goed; hy jonk-jonk al offisier in ’n elite-eenheid van die pantserkorps. Deur die grensoorlog gekom, sonder om doodgeskiet te word deur die Swapo’s. Daarna begin as jong wildbewaarder. Hom opgewerk deur die range tot by die parkhoofskap. Nou is hy in sy element: die buitelewe, wilde diere, leeus en olifante, ’n getroue groep manskappe, sy eie teenwilddiefstaleenheid – wat kan hy meer vra?

      Net jammer van hierdie vrou van hom wat so skoorsoek en oor alles kla: oor die warmte, die alleenheid, die gebrek aan geriewe. Sy was lankal reeds in die stad as sy haar sin gehad het. Snaaks, want sy kom ook maar van hier rond af; het ook maar in hierdie wêreld grootgeword. Haar ouers was dalk net te arm, het dalk net te versukkeld gelewe, troos Karel hom dikwels as sy vrou op haar ergste is. Hy wens net sy het ’n beter sin vir humor gehad. Maar nou rem die misnoegde trek op haar mond haar nog meer af, laat haar net nog meer afgetakel lyk.

      Fanie bring self die skinkbord stoep toe. Hy gaan sit ’n rukkie by Karel en geselsies maak. “Julle sal moet plan maak met die olifante, of hoe?”

      “Hulle raak te veel, ja.”

      “Ek was laas naweek in die Park en daar is omtrent nie meer ’n heel boom oor nie.”

      “Ja’k.”

      “Ek praat met oom Danie Wepener wat in die vyftigerjare daar rond vir water geboor het. Hy sê my toe was die hele Park nog vol bome, oral groot mopani’s, kameeldorings, tamboties en appelblare. ’n Heel ander soort plek, sê hy. Mooi soos die Paradys.”

      “Dit is so, die olifante raak te veel, maar hoe kry ons hulle minder?”

      “Skiet die donnerse goed, of laat hulle skiet.”

      “Jy weet mos self ons het hulle toentertyd in blikkies gesit. By die ton. Toe kom beneuk die koerantmense alles, net toe ons behoorlik ’n plan het.”

      “Kry trofeejagters in. Groot bulle is honderdduisende werd.”

      “En dan, wil jy die hele toerismebedryf op ons nekke hê? Die goed het die manier om nie te wil vrek waar jy hom raakskiet nie. Dink daaraan as die bul daar voor troppe toeriste gaan omdop, of links en regs begin karre plattrap van woede? Olifante is ’n emosionele kwessie, die wêreld oor, jy weet dit self.”

      “Ja.”

      “Die Groenes gaan al erg genoeg tekere sonder die olifante. Kyk hoeveel stront moes Seevisserye opvreet na daardie Carte Blanche-program oor die roboestery aan die kus. Of wil jy hê ons moet die Park sluit in die jagtyd? Soos dit nou is, kom die toeriste buitendien omtrent almal in die wintermaande. Ons bulle is hoeka te klein, die fosfate in die grond is te min om groot tande te maak.”

      “Klein bulle is orraait. Die koeie beteken ook iets. Ek hoor daar’s selfs mense wat ingaan vir olifante sonder tande.”

      “Miskien.” Karel trek sy skouers op. Hy is nie eintlik lus om te gesels nie, hy het ander dinge wat op sy gedagtes beslag lê. Hy probeer lighartig voorkom, maar die renosterkarkas in die rivierloop naby Kowares bly met hom lol. Hy het sy vrou belowe dat hulle inkom dorp toe en het dus net gou vir die APU’s daarvan gesê en die ruitverwysings van die plek aangedui. Hulle moet maar self verder opsnork. Hulle sal wel die wilddief kry, as hy nie al uit die Park uit is nie.

      Hy’s lus om vir Fanie te sê om hom met sy eie sake besig te hou, maar bedink hom. ’n Mens het min genoeg vriende in hierdie hinterland. Die bakker het hom tot dusver nog net goed behandel, anders as baie ander. En ou Fanie het self ook maar sy probleme, ’n swak hart, hoë rentekoerse wat dreig om hom dood te wurg, kontrakte wat uit sy hande glip, omdat hy te eerlik is. Daarvan, van al sy mislukte besigheid, vertel hy altyd vir Karel as die vrouens nie by is nie.

      Karel se heftige stem het die besoekers laat opkyk van hulle tafeltjie af. “Kom ontmoet ons parkhoof,” sê Fanie na die Gautengers toe.

      “Graag, graag.” Die drie manne staan op en kom skud Karel se blad. Hulle knik eenkant toe vir Magdel wat die laaste vla met die punt van haar koekvurkie van die bordjie af aan die skep is.

      “Hy weet alles van die wildboerdery hier rond,” sê Fanie vir die vreemdelinge.

      “So?”

      “Dis my lewe,” erken Karel, “die wild.”

      “Waar kan ons goeie leeus kry?” vra een van die Gautengers.

      “Leeus?”

      “Ja, man, daar is groot geld in die leeus deesdae. En natuurlik in buffels. Maar dié het julle nie hier nie.”

      “Nee, buffels het ons nie, en leeus is moeilikheid. Ons sukkel ons klaar moer toe om die goed van die plase af te hou.”

      “Stuur hulle vir ons. By ons is geblikte leeus groot besigheid. Daar is baie vereistes, maar as jou drade reg is, en jou teelwyfies bring hulle kant, kan mens goed leef. Maar ons hardloop ’n bietjie uit genetiese materiaal uit daar onder.”

      “Ek sou nie omgee om self van ’n paar van my leeus ontslae te raak nie. Hulle raak te veel vir die Panne. Ons het nou al byna vierhonderd leeus, hulle druk mekaar al uit die loopgebiede uit. Maar ons verkoop nog nie leeus aan die publiek nie. Net ander wild kom op ons veilings. Ons het nog te min beheer oor waar ons leeus heen verdwyn as hulle eers uit ons hande is. En die boere sal ons braai. Natuurbewaring se naam is al klaar gat genoeg. Soos dit is, het die boere rondom die Panne al klaar groot probleme met ons leeus wat deurkruip. Ek dink daar is die afgelope tien jaar al ’n hele paar honderd van hulle geskiet. Hulle het natuurlik ver meer as dit se bees opgevreet.”

      “Bly maar ’n probleem. Kan mens iewers anders leeus te koop kry hier rond, by privaat boere dalk?”

      “Nie waarvan ek weet nie. Sou buitendien onwettig wees, sover julle


Скачать книгу