Etosha. Piet van Rooyen
Читать онлайн книгу.dat die wilddief hier enkele treë van hulle af met kloppende hart en hygende asem na hulle gesprekke lê en luister, maar vir hulle is dit asof hy nie meer bestaan nie.
“My vrou het hierdie mensvleis hopeloos te sag gekook,” mor Fabianus en lek aan sy toebroodjie. “Dis amper ’n sop.”
“Myne het Damara-ballas op. Jissis, maar dis taai!” sê Moses.
“Kom ons ruil. Ek is mal daaroor as hulle so onder my tande stukkend klap,” sê Boniface, die een met die seunsgesig.
“Gee bietjie daai bottel met Boesmanbloed aan,” sê ’n ander.
“Daardie ingemaakte oë met die slaaisous wat jy laas gehad het, het jy weer saamgebring?”
“Nee, dis op. Ons moet weer slag.”
Die APU’s lag met diep stemme en smak die lippe terwyl hulle rustig in die skaduwee van die voertuie sit en hulle middagete eet. Die wilddief probeer hom al kleiner trek in sy koeltekol. Hy hoop steeds dat hulle hom nie gesien het nie. Hy bly wens dat hulle bloot toevallig hier sit en eet, lag en gesels. Hy moet moed hou, dapper probeer bly, praat hy homself voor.
“Dis darem vrek jammer daardie landdros op Outjo het die saak van ons laaste renosterslagter so maklik uitgegooi. Te min getuienis, glo mos,” sê Fabianus. “Dit vra ekstra om dié een weg te hou van die wet af. Die wet weet nie meer nie. Die wet het sag geword. Ons is nou die nuwe wet. Of wat sê ek alles?”
“Jy sê reg, Sersant! Hulle maak dit al hoe moeiliker vir ons om die slegte ouens hof toe te vat.”
“Ja, en ons wil tog so graag die reg laat geskied. Nou kyk nou net. Nou kan ons nie meer nie. Nou word ons gedwing om self te moet regmaak wat verkeerd loop,” sê Jason sydelings.
“Ai, dat ons nuwe land se reg darem so sleg werk van die begin af. Dit plaas soveel meer druk op ons om regverdig te wees.”
“Ons moet nou maar self die laksman speel.” Fabianus praat met opset Herero, dat die wilddief mooi kan verstaan. “Ete ovapangure. Ons is die regters,” sê hy.
“Ja, dis soveel moeiliker,” praat die manne kamtig ernstig saam.
Toe hulle klaar gerus het, staan die APU’s op en stap doodluiters nader, die semi-outomatiese R4-gewere losweg in die vuiste gehou.
Fabianus gee sy geweer vir een van die ander om vas te hou en trek die wilddief aan sy enkels onder sy bos uit. “Wat het ons hier?” vra Fabianus met ’n spottende stem: “Rooikaffer se kind? Siesa! Moet ons aan al daardie rooi klei loop vat? Vir wat was julle spul Himbas julle nie?”
Vetamunua Tjambiro se oë is wyd gesper. In sy gees het hy ’n honderd maal al reeds gesterf. Hy weet van baie jagters wat ingegaan het in die Park in en nooit weer daar uitgekom het nie. Hy ken hulle name, van sy vriende, goeie mense, glad nie skelms nie. Dit kon leeus wees, olifante, of mambas, wat die mense doodmaak, maar hy weet beter. Die meeste sterf aan die hande van hierdie manne, hierdie selfdes wat hom nou aan die enkels beet het en rofweg oor die oop sand uit sy skuilplek sleep.
Die stories loop lankal dat dit vir die APU’s makliker is, minder moeite, om self die vonnis uit te spreek, om self die dood te bestel. Dit is verlate plekke hierdie, so ver in die weste van die Park. Dis plekke waar die toeriste nooit kom nie. Hier geld die wet van die Bos, nie die staat se wette nie, weet hy.
Vetamunua lê ’n patetiese bondeltjie mens, ineengekrul voor hulle op die grond. Hy ruk van kop tot tone. ’n Onbeheerste vrees vir hierdie spul menseslagters het hom beetgepak. Sy tande klapper op mekaar. Hy kerm sag. Hy moet mooi dink om die urine in sy blaas te hou. Hy knyp sy sfinkter styf toe om homself nie te bevuil nie.
“Die son bak,” sê Fabianus. “Ek raak haastig. Daar’s koue bier by die kamp.”
“Vat ons hom terug?” vra Jason.
“Nee, die ding ruik sleg. Hy’s gesweet. Hy’s vol rooi klei en beesmis gesmeer. Hy’t te lank aan renosterhoring gevat. Hy sal die bakkie stink maak. En dis groot werk om die gemors van die bak af te was. Hoekom smeer hulle hulle altyd so vuil? Hè? Ek praat met jou!” Fabianus skop met sy skoenpunt aan die stil figuur op die grond.
Die wilddief gee ’n diep snak.
“Bring die tou,” roep Fabianus na die Boesman wat agter op die bakkie bly sit het.
“Trek af sy broek!” beveel hy die nuwe rekruut.
Die ou man se oë is wit van die vrees.
Mistake tree vorentoe en trap met sy stewel hard teen die wilddief se maag. Hy kry die broek aan die pype beet en pluk dit met een beweging van die skraal bene af. Flentertjies rafels bly aan die maer enkels kleef, ’n teken dat dit tog mens is dié, nie heeltemal dier nie.
“Kyk die miserabele ou pielietjie! Kyk hoe lê die voëltjie in sy harige nes.”
“Siesa!”
“Kom maak vas hier.” Fabianus beduie met die vinger vir Mistake en die Boesman-spoorsnyer om die wilddief se voete te lig en die tou om sy enkels styf te trek. Hulle is die mees junior lede van die spul. Hulle moet die vuilwerk doen. Fabianus weier om sy hande verder vol sweet en Himba-klei te laat raak.
Boniface en Moses, die lang, maer Mbundu, trek aan die tou. Met lang hale hys hulle die wilddief in die boom in op, kop na onder, voete na bo. Die wilddief se kop swaai heen en weer voor dit tot stilstand kom.
Fabianus haal die knipmes uit sy sak. “Wil jy dalk praat? Ietsie sê?” vra hy gemaak bedees.
Tjambiro het nie meer ’n stem nie. Hy wens hy kon iets sê wat hierdie hele saak duidelik sou maak. Hy wens hy kan hierdie soldate van sy seun vertel, iets sê wat sy jagtog vir hierdie mense sal kan verklaar. Maar geen woord kom uit sy keel nie. Daar is geen medepligtiges wat hy kan verraai nie, niemand op wie hy sy skuld kan pak nie. Hy het vir niemand gesê hy kom hiernatoe nie. Niemand sal weet as hy hier agterbly nie. Net die wind sal kan oordra wat gebeur het. Hy skud sy kop, voel hoe die bloed swaar daarin klop. “My seun, my seun,” kom dit skor oor sy lippe.
“Wat sê jy?” vra Fabianus. “Ek kan nie mooi hoor nie.”
Maar die ou man het klaar gepraat, hy het niks meer te sê nie.
“Hou vas sy arms!” Fabianus tree vorentoe en sny met ’n vinnige, skerp haal die wilddief se oor af. Hy staan wyd dat die bloed nie op sy broekspype mors nie. Die druppende bloed gooi ’n fyn spoortjie op die sand en klippe. Fabianus buk en vee sy bloedbevlekte vingers aan die wilddief se vuil broek af waar dit eenkant op die grond lê.
“Aag! Aag!” Die wilddief skree hard en kermend.
Die APU’s lag, hulle ken reeds hierdie soort skreeu. Die wilddiewe bly altyd kamma dapper, totdat die patrollie behoorlik met hulle galle begin werk. Die gekerm doen hulle goed, dit maak die bloed warm, stoot die are skoon, gee vuur in die lende, alles dinge wat vanaand by die vroumense goed werk. Hierdie trillende gekerm stoot die koerasie goed op vir vanaand se sports. Almal van hulle verdien ’n paar biere vanaand, en ’n paar loslyf vroumense. Definitief. Hulle kort beloning na ’n goeie dag se werk. As Fechter dalk nie weet hoe om hulle na behore te beloon nie, weet hulle self wat hulle wil hê. Hulle vat wat hulle toekom. Hulle is die reg van die Bos. Hulle is die beste. Hulle speel in die wenspan.
“So merk ons die skape. Aan die oor. Net reg om te slag.”
Die wilddief huil met ’n lang, uitgerekte kerm. As hulle hom wil doodmaak, laat dit tog asseblief gou kom.
Wanneer Fabianus die ander oor afsny, stol die gekerm in sy keel. Die groepie mans het ook nou ophou jil en praat. Net die veld sing verder met ’n hoë fluitgeluid. Iewers het twee neushoringvoëls met hul uitgerekte gekok-kok begin. Dit dring deur die hitte en deur die rooi waas in die wilddief se oë soos tromslae van ver oor ’n rivier.
Die son is vinnig aan die sak. Die dag nader sy einde. Die wilddief hang onderstebo aan die boom. Hy is stil, hy kerm nie meer nie. Net sy asem kom in kort, hortende stote by sy mond uit. Die APU’s staan hom sonder emosie en bekyk.
“Fok