Etosha. Piet van Rooyen
Читать онлайн книгу.draf. Hulle is reeds die spoor aan die oprol, stuk vir stuk, die spoorsnyers wat wyd voor die voertuie draf, met die hande vorentoe wink. Hulle het die radio’s in die hande waarmee hulle deur die lug met mekaar gesels, daardie spul Koevoete en Unitas, die grynslagte oor hulle lippe.
Vir die spoorsnyers is dit maklik. Hulle het genoeg water op die bakkies wat so agter hulle aansnork. Hulle raak nie moeg nie. Hulle het genoeg aflosmanne om oor te neem as die asems jaag, die son te genadeloos neerbak. Hulle is nie soos hy wat alleen gekom het en alleen weer stil-stil sy eie pad probeer gaan nie.
Vetamunua verskrik ’n steenbok uit sy lêplek op. Die dier nael rooi en knarsend oor die gruis weg, so vinnig, so rats, soveel vryer as hy. Hy is spyt dat hy nie ’n dier is nie. Sy vlugheid van voet word deur sy menslikheid beperk. Sy verstand sal hom nie meer red nie.
Hy kan nou duidelik die dreuning hoor, ver maar onmiskenbaar. Hy weet dis futiel: Die vliegtuig het die dooie renoster gesien, die spoorsnyers daarnatoe gelei. Nou kom hulle onverpoos aan in die rigting waarnatoe hy draf. Hulle soek hom, soek hom. As dit ander soort agtervolgers was, sou hy hulle dalk van die spoor kon afgooi. Maar hierdie bloedhonde, hierdie APU’s, nooit nie!
Voor hom lê ’n reeks skurwe koppies. Hy swaai soontoe weg. Van daar af sal hy verder kan sien. Hy kyk angstig na die oop veld wat agter hom strek. Geen figure, geen gedaantes nie. Maar hulle sal kom. Dit kom, dis onontkombaar.
Vetamunua het ’n klipkoppie bereik. Die koppie bestaan uit ’n reeks groot granietblokke wat kruis en dwars op mekaar gestapel staan. Hy kruip in ’n rotsskeur in. Hier lê hy hard na asem en hyg. Sy asem eggo van die rotswande af terug na hom toe in sy nou skuilplek.
Hy besef hy kan nie verder nie. Hy sal moet probeer vergeet van die agtervolgers. Laat hy liewer aan sy vrouens by die huis dink, aan sy kinders. Hy stuur sy gedagtes spesifiek uit na sy oudste seun, na Justus toe. Hy onthou hom as kind. Hy onthou die reuk van sy varsgewasde lyf. Hy sien die twee boksterte op sy kop gevleg sit. Dis die jong bokwagtertjie daar by Onaiso. Dis die seun na wie hy nou so verlang.
Sy hart word sag as hy hom voor sy gedagtes roep. Die Finse pater het gesê dat hy die slimste seun is wat tot nog toe uit Kaokoland gekom het. Dat hy dit nog baie ver sal bring in die lewe wat wag. Dat hy sy mense sal help, hulle uit die Bos uit sal haal.
Hy het hom so min gesien die laaste jare, net die paar vakansietye, wanneer hy soms huis toe gekom het van die Groot Skool af om te kom groet. Dan het hy dadelik die stad se gewoontes neergesit en weer Himba geword, net soos enigeen van sy mense. Hy was dan nie skaam om handewerk te doen nie. Hy het die byl by sy pa oorgevat en begin houtmaak. Hy’s fluks, sy seun. Soms het hy sommer vanself die vroue gaan help om die koeie te melk, vroeg soggens, met die eerste lig. Hy het die kinders help hout bymekaarmaak. Nee, hy was nooit skaam om te wys waar hy vandaan kom nie, die Ndjipua, die Justus van hom. Ndjipua is die oudste. Hy’s die seun van sy eerste vrou, Karukembe, sy met die sagte hande, die goeie hart. Justus is ook so, nes sy ma, nie hard nie. Hy is dalk te sag soms vir hierdie soort wêreld, hierdie uitgedroogte plek, hierdie verlatenheid waarin hulle woon.
Dit is met die gedagtes aan sy oudste seun dat hy nou al duideliker die voertuie hoor, die sagte gegrom wat van agter die horison van bome opstyg en op die wind nader stuif. Hy staan op uit die koelte van die rotsskuiling en staar deur die rooi waas in sy oë na die vlakte onder hom. Daar, nog ver op die einder, maar duidelik al nader, sien hy die stof in dik walms staan. Hy sien die blink flits van die voertuie wat al op sy spoor langs ry. Daar is geen manier waarop hy meer sal kan wegkom nie, weet hy.
Hy gly uit die skuiling uit en skuif laag op sy maag oor die harde, growwe rotsbank. Hy mag nie nou moed opgee nie. Hy wurm homself tussen al nouer-wordende skeure deur, tussen die boomwortels wat knoetserig tussen die klippe groei. Onder aan die koppie glip hy uit in die oopte. Hy begin weer hardloop, direk in die sakkende son in. Hy voel die enjins van die voertuie in die knyping van sy boude brul. Hy hoef nie te twyfel nie, hulle is op pad na hom toe. Hulle het hom in sig.
6
“Daar!” skree Jason, wat saam met die Boesman voor op die spoor draf. Hy maak ’n handbeweging na vore en gaan staan. Die twee voertuie rem agter hom.
Ja, Fabianus het self ook nou die hardlopende figuur tussen die bosse deur herken. Hy wink die spoorsnyers terug in die bakkies in. “Kom klim! Kom klim!”
’n Duisend meter na vore sien hulle die dun figuur in die skerp lig draf. Op dié afstand lyk dit na ’n blote skadubeeld, die stokkerige nabootsing van ’n mens.
“Kontak!” roep Fabianus hard bo die gedreun van die enjins uit. Hy stryk oor die louwarm grendel van sy R4. Dis ’n vrou in sy hand. Hy voel die opgewondenheid in hom opstoot. Sy hart klop vinniger in sy borskas. Dis die hormone wat pomp.
Van nou af sal dit gou gaan. Hulle ken die storie. Dis ’n ou storie vir hulle. Die hardloper probeer wegswaai na ruwer terrein. Hy wil wegkom, maar die bakkies is in vierwieltrek. Niks verhoed hulle om oor klippe en slote te klouter nie. As hulle regtig op plekke nie kan deur nie, ry hulle wyd om. Hulle het hom, weet hy. Daar is niks meer wat die man kan red nie.
“Hoe wens hy nie nou hy’s net ’n poep in die wind nie!” roep Fabianus uit. Die ander se lag dawer.
Die wilddief het die geweer weggegooi, kort daarna die renosterhoring ook. Hy’t die kapmes van sy riempie losgewikkel, dit haastig in ’n bos ingeslinger. Hy hardloop so hard hy kan, oor die vlaktes, swenk tussen die bosse deur. Die dorings raap aan sy bene, sny bloedstrepe oor sy skene en teen sy kuite. Sy kaal bolyf is ’n bewegende donker vlek deur die plantegroei.
Die APU’s gee hom kans. Hulle het lank gewag vir dié geleentheid. Hulle geniet die speletjie. Hulle is katte wat met ’n muis speel. Hulle sloer met die bakkies, ry stadig deur die slote, gooi wye ompaaie deur die veld. Soms verloor hulle hom so amper uit sig, gee hom kastig moed. Dan kom hulle onverwags uit ’n ander rigting terug. Hulle bly hom afsny van sy koers af, druk hom weg van waarheen hy aan die vlug is. Daar is nog genoeg lig van hierdie dag oor. Hulle is nie haastig nie. Hulle sal hom kry, weet hulle. Dis lekker om die bevrediging uit te rek. Die adrenalien pomp deur die are. Die oë is wyd gesper. Die asems jaag opgewonde.
Hulle kan van ver af sien hoe die wilddief in die hardloop bly soek na wegkruipplek. Hulle sien van ver hoe hy hoop vir ’n erdvarkgat of ’n skeur tussen die klippe. Maar daar is niks hier om hom te beskut nie – geen digte bos, geen diep erosiesloot, nie die minste vorm van skuiling, geen skuilplek meer nie. Dis nou alles in die oopte. Die tyd van afrekening het gekom. Dis nie elke dag dat hulle ’n wilddief so maklik vastrek nie!
“Druk hom daar na die groot bome toe, daar onder in die rivierloop. Ek wil hom daar hê,” sê Fabianus vir sy drywer.
“Hoe dan?” vra die nuwe man, Mistake. Dis die eerste keer dat hy saamkom. Hy staan langs Fabianus op die bakkie, kyk kort-kort met heldeverering na sy bevelvoerder. Dis die beroemde kryger Fabianus da Fonseca van wie hy voorheen so baie gehoor het. Nou’s hy self deel van die groep. Hy staan langs die man self. Hy staan so naby dat hy aan hom kan vat.
“Ons soek ’n lekker hangplek,” sê Fabianus.
“O.”
Die ander weet al wat om te verwag, dis ’n ou ding dié. Hulle is glad nie haastig nie. Hulle druk die prooi in die rigting van die rivier. Hulle druk hom na waar hulle hom wil hê. Hulle was al voorheen by by wildvangoperasies. Hulle het al baie gesien hoe die wildvanghelikopters die vlugtende wild bly druk.
Hulle gee die man kans tot waar hy in ’n droë rivierloop onder die bome verdwyn. Hulle sien hoe hy homself, pootuit, in ’n digte bos inwurm, agter die beskutting van ’n ou, omgevalle boomstomp in. Hulle kyk nou nie meer in sy rigting nie. Hulle gee voor dat hulle niks van hom weet nie. Hulle maak of hulle moed opgegee, die prooi verloor het. Hulle gee voor dat hulle maar net op ’n uitstappie, ’n mannepiekniek is.
Hulle ry stadig nader en hou aan die kant van die riviersand stil. Die hele span agtervolgers klim van die voertuie af. Hulle boks speel-speel na mekaar met ritmiese bewegings van die skouers en oordadige bewegings van die koppe. Dan gaan sit hulle een vir een in die koelte van die groot kameelbome wat hier in die rivierloop