Etosha. Piet van Rooyen
Читать онлайн книгу.van haar plat hand op die plaat het die mannetjie traag opgestaan van sy lêplek af, maar maak geen aanstaltes om te hardloop nie. Hy weier om te beweeg. Hy strek hom op die dwarste voor hulle in sy volle lengte uit en krom sy nek en rug met ’n tipies katagtige beweging. Sy pens hang swaar van die beesvleis. Dan draai hy viervoet in hulle rigting, kyk haar stip met sy goudgeel oë aan. Die uitdaging daarin is onmiskenbaar. Sy stert kwispel rukkerig oor sy rug. Hy maak kort, steunende gromgeluide.
“Hy is vol kak!” sê Kasupi van agter.
“Dit kan ek sien,” brom sy by haarself.
Sy slaan weer op die deur, die keer harder. “Sjoes! Sjoes!” skree sy.
Nou gee die leeu wel ’n paar treë pad, maar glad nie haastig nie. Toe sy stadig agter hom begin aanry, steek hy gou weer vas.
Hy’s te vol gevreet om te hardloop, dink sy.
“Hy gaan nie loop nie,” bevestig Kasupi haar vermoedens van agter. “Hier kom daai manne ook nou,” sê hy.
Die jagters moes haar gevolg het, vermoed het dat sy hier agter iets aanry. Daar bly vir haar geen ander opsie oor nie. Sy trek die verdowingsgeweer reg, vat die deurhandvatsel met mening vas en klim uit. Dan stap sy vorentoe om en stut haar rug teen die Land Rover se rooster. Sy en die leeu staan nou direk teenoor mekaar opgestel. Die dier takseer haar met die oë. Die afstand tussen hulle is ’n skrale twintig meter. Sy weet dis hopeloos te naby vir haar om betyds terug te kom in die veiligheid van die kajuit in as die dier sou besluit om te storm.
In die agtergrond hoor sy die jagters se voertuig nader dreun, en uit die hoek van haar oog sien sy die blink van die bakwerk flits. Sy het al baie met leeus gewerk. Sy glo sy ken hulle. Hulle het nog altyd eerder padgegee as gestorm. Sy gaan die kans vat.
Sy korrel direk op die mannetjie se bors, daar waar die maanhare yl in ’n kroontjie van krulhare saamloop. Dan druk sy die sneller. Sy voel die ligte skop van die geweer teen haar skouer, hoor die knal van ver af en gedemp tussen die bosse terugeggo. Sy sien die rooi pyltjie netjies teen die leeu se bors vasslaan. Sy sien die rooi klossie van die pyl teen die leeu se bors hang, ’n tossel op ’n sirkusdier. Maar dit is nie ’n sirkusdier nie!
“Hy kom!” skree Kasupi.
Alles vind in stadige aksie plaas, ver, asof dit buite haar gebeur, met iemand anders, op ’n ander plek. Sy het die geweer laat val en is besig om hand oor stadige hand teen die voorkant van die Land Rover af te beweeg terug na die kajuit toe. Die hoekige metaal van die voertuig druk skerp teen haar heupe. Sy voel haar broek se lissie aan ’n uitsteeksel op die bakwerk haak en pluk vervaard daaraan. Dit skeur met ’n dun geluid, gee skiet. Sy hoor die asem hortend by haar mond uitkom. Sy sien die leeu se lyf, die reusekop al groter word soos hy nader storm in wolke stof. Die leeu vul haar hele gedagteveld, haar hele wese. Hy suig haar in sy bestaan in, in sy twee woedende geel oë in.
Die veld se stilte slaan kloppend teen haar ore vas, dring haar kop binne. Die vrees dring allesoorheersend uit haar maag en in haar keel in op. Klein walms stof slaan tussen die leeu se pote uit op.
“Voertsek! Voertsek!” hoor sy vir Kasupi en Halfkop albei skor skree.
’n Skoot knal, nog een. Die leeu tol op sy spore om. Dan verdwyn hy in ’n maalstroom van woede en stof. Sy sien die kolkende stofwolk skaars vyf meter voor haar, sien die vlieting van ’n rukkende stert, hoor hoe hy aanmekaar en skor bly grom. Vir ’n oomblik bedaar die wilde gemaal van stof, kan sy die mannetjie trots en regop voor haar sien, terwyl hy stip na haar kyk. Dan knal ’n laaste skoot. Met ’n ruk steier die dier op sy agterpote terug. Hy lê ’n paar maal hygend en asemhaal, raak dan heeltemal stil.
Die veld is volkome vasgevang in die helderheid van die sonlig. Alles is skerp en duidelik. Alles hou asem op na die wilde geknal van die skote, die leeu se woedende gegrom. Alles is stil.
Haar bene gaan rukkend onder haar aan die bewe. Sy kan nie staan nie, sy moet gaan sit. Met die wenas se haak om aan vas te hou, sak sy heeltemal verlam en hulpeloos na onder. Sy gaan wydsbeen op die grond sit. Haar mond is oop. Sy voel die slym oor haar lippe loop, oor haar ken drup. Daar is ’n skerp metaalsmaak in haar mond. Die geweer lê langs haar op die grond. Sy kan voel hoe die loop warm teen haar been druk.
Sy kyk eers op toe die skaduwee van die donker man oor haar val, geweer in die hand. “Noue ontkoming, nè, my suster?”
Botsende emosies wel in haar op: vrees, woede, dankbaarheid, verligting, verontwaardiging. Die ontsteltenis skop die krag terug in haar bene. Sy kan nie so bly sit nie. Sy vat aan die Land Rover se buffer en trek haarself regop. Voor haar staan die ander twee jagters reeds by die dooie leeu. Sy ignoreer die donker man by haar en stap nader na die karkas. “Dis my leeu,” sê sy en wys met haar toon na die rooi klossie waar die pyl steeds teen die leeu se bors sit.
“Ek het geskiet,” sê die kort dikke. Hy buk vorentoe en trek die pyl uit die leeu se bors. ’n Druppel bloed glinster daarop, ’n klein ronde rooi druppeltjie. Dan gooi hy die pyl met ’n uitdagende gebaar eenkant toe.
“Ja, by die venster uit, na ek hom reeds verdoof het.”
“Hy het min verdoof gelyk vir my!”
“Jy ken die reëls: Die eerste trefskoot merk die dier as die skut s’n.” Al die bewerigheid is nou uit haar uit. Net die woede bly. Sy kan sien dat haar selfversekerde houding, na die lewensgevaar van so pas, die jagters ontsenu. Sy is bly daaroor.
“Jy’s ook nie juis die dankbare tipe nie, nè?” sê die stiller een van die drie jagters. Dis die eerste keer dat sy hom hoor praat.
“Ek besef julle het my lewe gered, dankie. Jammer dat ek so ongeskik is. Dis die skrik, en die ontsteltenis.” Sy moet haar dwing om hierdie woorde te sê. In haar bly slegs die woede en skaamte steek.
“Neem ’n foto en los die dier vir haar,” sê Palazzolo, wat nou ook langs hulle kom staan. Hy stoot met sy skoen aan die dooie leeu se lippe. Dis nou behoorlik lig.
“Dis my eerste leeu!” bly die dikke mor.
“Ons kom weer. Hulle sal weer uitkruip uit die Park uit. Neem ’n foto en laat ons ry. Ek is honger. En lus vir koffie.”
“Ek het in jou huis geslaap,” sê Olivia vir die man.
“Goed so. My plesier.”
“Dankie.” Olivia draai om en stap die twintig meter na die Land Rover terug. Die spoorsnyers staan woordeloos teen die bakwerk aangeleun. Hulle maak beurte met ’n enkele selfgerolde sigaret; gee dit na elke dampie bakhand na mekaar aan.
Sy gaan sit en skink vir haar van die koue tee uit die termosfles; drink met klein slukkies. Die koue, soet vloeistof bring kalmte terug in haar senuwees. Vanuit die kajuit sit sy en kyk hoe die jagters die leeu in verskeie posisies uitstal om foto na foto van die dooie dier te neem, die grynsende jagters in verskillende houdings daaragter, gewere dwars in die hande, vol dapperheid en bravade.
Die jagters ry sonder enige verdere woorde van afskeid. Toe hulle stof verdwyn, ry Olivia nader om die dooie dier op te laai. Sy tel die rooi verdowingspyl op waar die jagter dit eenkant in die stof gegooi het. Die spoorsnyers trek die agterpote met ’n stuk baaldraad oorkruis teen mekaar vas. Toe laat sy die wenas agtertoe oor die katrolle trek en hys die leeu stadig daarmee op die bak. Kasupi en Halfkop druk die swaar lyf met hul skouers oor die bak se rand, terwyl sy die kontroles van die wenas beheer. Sy werk versigtig.
“Lig op, lig op,” sê sy vir die spoorsnyers. Sy wil nie hê dat die vel seerkry wanneer die lyf swaar oor die skerp rand skuur nie. Sy is weer eens dankbaar vir hierdie kontrepsie van kabel en katrolle wat Fechter vir haar in die werkwinkels laat opsit het. In haar en hierdie twee skraal spoorsnyers se lywe sou dit nie sit om byna tweehonderd kilogram se dooie leeu met die hande op die bak te moes trek nie.
Wanneer hulle by die plaasopstal verbyry, sien sy die jagters se Cruiser ingetrek staan waar sy gisteraand geslaap het. Sy weet dat sy met hierdie een misluk het. Sy sou veel eerder met die lewende leeu wou terugry. Tog gee die karkas haar die geleentheid om ’n vars disseksie te doen.
Dis