Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman


Скачать книгу
dit is wat na Johan soek. Dis daardie blondine wat gisteroggend so haar flikkers vir hom gegooi het. Die klein snip moenie dink sy kan Johan van onder hulle neuse kom steel nie. Johan behoort aan húlle. Al die verpleegsters – sy inkluis – sukkel al lankal om sy belangstelling te prikkel. Hierdie vreemde meisie met die wit hare moenie dink sy gaan met die prys wegstap nie. Sy is ’n buitestander, ’n stadsjapie en boonop nog uit Johannesburg …

      Hoekom het hy dan gevra sy moet hom skakel? dink Ila vies. Of het hy geweet die suster sou haar so kortaf behandel? Is dit hoekom hy die boodskap by die hotel gelaat het? Juis omdat sy afgehaal moet voel as sy met hom probeer kontak maak en dit nie kan regkry nie? Gebruik hy die onvriendelike suster as ’n doeltreffende buffer teen lastige en onwelkome telefoonoproepe?

      Ila weet Johan Retief sal nie so kleinlik wees nie. Iewers is daar seker ’n misverstand.

      “Kan u my asseblief dokter Retief se huisnommer gee?” vra Ila.

      “Dit spyt my, ek ken nie sy privaatnommer nie. Ek glo ook nie dokter Retief het ’n telefoon by sy huis nie.”

      Johan moet net nie uitvind sy het ’n stokkie probeer steek voor hierdie moontlike toekomstige romanse nie, dink die suster bekommerd. Sy sal maar sê dit was nie sý wat aan diens was toe die dametjie geskakel het nie.

      Ila plaas die gehoorbuis teleurgesteld terug op die mikkie. Voor haar strek ’n lang en eensame aand. Sy sal maar daardie foto’s van die huis en die werf bekyk en die ou briewe lees. Dan sal sy vir haar ’n tydskrif gaan koop en vroeg in die bed klim sodat sy môre fris kan voel as Martin Niehaus kom kuier.

      6

      Dit het minder as twee weke geduur. Op die agste dag verklaar Martin dat Ila meer soos Daniela is as wat Daniela self was.

      “Hoekom dit nog ’n week uitstel? Ek dink jy is reg om volgende Sondag Rietendal toe te gaan.”

      Ila skrik. Sy byt haar onderlip senuweeagtig vas.

      “Miskien is jy reg. Hoe gouer hoe beter, anders keil my senuwees my te veel op. Maar ek is so bang ek begaan ’n flater wat my verraai. Vra my nog ’n klomp vrae – sommer deurmekaar – om seker te maak ek het my huiswerk deeglik gedoen.”

      “Beskryf die kombuis, die sit- en eetkamer, die ou man se slaapkamer en jou eie …”

      En: “Hoeveel trappe het die wenteltrap? Hoe diep is die swembad? Wanneer is die tennisbaan aangelê? Watter soort bome staan aan die noordekant van die huis? Waar is die badkamers geleë …?”

      En: “Wie was jou onderwyser op skool? Wie het Afrikaans doseer? Wat was jou geskiedenisonderwyser se bynaam? Wie was ou Brilletjies?”

      En: “Wat was jou ma se name? Jou stiefma s’n? Die kleur van hulle hare en oë? Watter een van die twee was bang vir donderweer en spinnekoppe? Wanneer is jou verjaarsdag? Jou pa en ma s’n? Myne …?”

      En: “Die dag toe die oukêrel vir jou die Volkswagen gekoop het – wat was jou reaksie? Hoeveel perdekrag het die motor gehad …?”

      En: “Beskryf vir Mieta. Hoe het sy jou altyd genoem? Hoekom kon sy Snuffels nie verdra nie? Vertel my wat het gebeur toe jou kat die roomkoek opgeëet het …”

      Die vrae is kort na mekaar en soos geweerskote afgevuur. Op almal antwoord Ila korrek, sonder huiwering en sonder om haar notas te raadpleeg.

      “Wat was jou kat se naam?” wil Martin oplaas weet.

      “Watter een?”

      “Die Siamese een.”

      “Daniela het nooit ’n Siamese kat gehad nie.”

      “Mooi. Ek kan jou nie eers uitvang nie. Goed, die gemmerkat …”

      “Floors.”

      “Hoekom het jy hom daardie naam gegee?”

      “Daniela het gesê hy is sommer ’n dom kat – ’n regte Floors.”

      “Watter soort hond is Snuffels?”

      “ ’n Rifrug. Oom Daniel het die hond met haar sestiende verjaarsdag vir Daniela gegee – met ’n blou strik om sy nek.”

      “Korrek. Jy is ’n uitstekende leerling. Maar ek dink jy moet afleer om van Daniela en oom Daniel te praat. Leef jouself so in jou rol in dat jy van ‘ek’ en van ‘Vader’ praat, of liewer Vadie, soos sy hom altyd genoem het. Is dit al teetyd? Sal ek vir ons ’n skinkbord tee na jou kamer toe bestel?”

      Martin keer Ila toe sy haar koppie optel om haar tee te drink.

      “Nee, onthou, Daniela het altyd suiker in haar tee gegooi – twee lepels vol.”

      “Soet tee maak my naar.”

      “Jy sal daaraan moet gewoond raak, skatlam. Twee lepels suiker in daardie koppie tee, en roer dit …”

      “Kon sy nie intussen …”

      “Nie sý nie – ek. Probeer dit aanleer en nou reeds oefen.”

      “Goed, ék kan. Kon ek nie intussen opgehou het om suiker in my koffie en tee te drink nie? Miskien sodat ek nie moet vet word nie.”

      “Jy het jou nooit oor jou figuur bekommer nie. Jy was van nature skraal gebou.”

      “Goed, dan sal ek seker maar aan soet tee en koffie moet gewoond raak. Martin, is jy seker oom Daniel … e … my vader sal bly wees om my te sien? Is hy nie nog kwaad en verbitterd nie?”

      Martin was besig om die velle papier te bestudeer waarop Ila Daniela se handskrif geoefen het. Hy knik goedkeurend en kyk dan op.

      “Ek verseker jou die ou man sal ’n gemeste kalf slag, skatlam.”

      “Moenie my skatlam en liefste noem nie.”

      “Hoekom nie? Dis wat ek Daniela in die verlede genoem het. Ek sal jou graag méér wil noem, as jy my dit sal toelaat. Het ek al vir jou gesê ek dink ek is geleidelik besig om op jou verlief te raak, skatlam?”

      “Ja, jy het – omtrent gemiddeld nege-en-sestig keer per dag. Moenie verspot wees en dit vir my nog moeiliker maak nie, Martin.”

      “Verspot?” Martin lyk afgehaal. “Ek sê vir die nooientjie ek het haar lief, en sy sê ek moenie verspot wees nie. Hoekom is jy so onromanties, my liefste?”

      “Ons twee is slegs vennote, onthou? Moet niks meer van my verwag nie.”

      “Hoekom nie? As die ou man omkap, is ek nie so ’n slegte proposisie om mee te trou nie, weet jy? Aantreklike jong boer, skatlam, sjarmant, verstaan die kuns om ’n dame te hanteer …”

      “Ek sou meer van jou gehou het as jy beskeie was, en stil; skaam en teruggetrokke.”

      “En brandarm?” vra hy sag en insinuerend.

      Ila kyk vinnig na Martin, dan laat sy haar oë sak.

      “Ons twee is voëls van eenderse vere,” sê Martin. “Jy kan maar stry, dit help nie. Ek weet hoe belangrik geld vir jou is. Hoekom anders het jy ingestem om jou as Daniela voor te doen? Ek sluk nie heeltemal daardie sentimentele storietjie dat dit uit jammerte vir die oukêrel is nie. Nee, ek dink die trekpleister was daardie vyf-en-dertigduisend rand waarvoor jy my geruk het.”

      “Dis jý wat die bykomende vyfduisend rand aangebied het.”

      “Slegs omdat jy nog steeds huiwerig was om in te stem. Ek dink dit was jou idee, my skat, om soveel geld moontlik uit die maskerade te maak. Is ek reg?”

      Ila ignoreer die vraag. Dit sal nie deug om met Martin rusie te maak nie. Sy besluit om die onderwerp te verander.

      “Is jy seker oom Daniel … my pa … het my vergewe? Wie sê hy sal my nie die deur wys as ek Sondag op Rietendal aankom nie?”

      “Ek sê mos, ek het hom al twee keer in daardie rigting gepols. Dit sal sy blyste dag wees as jy by die voordeur instap. Ou Mieta sal


Скачать книгу