Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman


Скачать книгу
sit ongelukkig nie langs dieselfde vuur nie, maar moenie jou oor daardie snuiter van ’n perdedoktertjie bekommer nie. Ek sal hom hanteer. Ons laat die bure en vriende vir môre. Beskryf vir my die buitegeboue op die plaas, en veral die motorhuise.”

      Ila raadpleeg vlugtig haar aantekeninge en die skets van die werf, dan begin sy soos ’n resitasie voordra:

      “Die grondpad van die hek gaan oor ’n brug en kronkel dan onder ’n laning seringbome verby tot by die vier motorhuise. By die eerste een staan ’n reuse-frangipaniboom. Rooskleurig. Geplant deur Daniela se oupa. Die motorhuise is al vier witgepleister, met twee trapgewels aan weerskante en ’n grasdak …”

      7

      Martin was ’n goeie leermeester. Die brug, die kronkelende grondpad en die motorhuise is net soos hy dit beskryf het. Selfs die frangipaniboom waaronder hulle stilgehou het, lyk soos hy beduie het.

      “Bang?” vra Martin toe hulle uit die motor klim.

      “Nee.” Ila skud haar kop. “Nie bang nie; doodverskrik en baie lus om om te draai en weg te hardloop.”

      Martin stap om die motor en help Ila hoflik uit. Hy neem albei haar hande in syne. “Welkom op Rietendal, Daniela.”

      Voordat Ila kan antwoord, trek hy haar nader. Sy arms gly om haar middel en hy buig af om haar te soen. Hy moes Ila se onwillekeurige teësin agtergekom het, want hy fluister onderlangs: “Daar is van die huis se vensters waardeur mens die motorhuise kan sien. Onder die omstandighede sou ek haar gesoen het, nie waar nie?”

      Ila rem nie verder nie. “En dink jy nie,” fluister sy met haar wang teen Martin se bors, “dat Daniela jou dalk ’n taai klap sou gegee het as jy haar gesoen het nie? Julle twee is nie juis op vriendskaplike voet uitmekaar vyf jaar gelede nie, is julle?”

      “Almiskie. Maar onthou, ons is immers broer en suster. Sy sou nie teen ’n broederlike verwelkomingsoentjie beswaar gemaak het nie.”

      Martin se soen is allesbehalwe broederlik. Sy mond is warm en dwingend op hare, soos dié van ’n minnaar. Hy druk haar teen hom vas asof hy haar nooit weer sal los nie. Sy asem jaag in sy keel en hy fluister gesmoord: “Ek is seker jy kan beter doen as dit, liefste. Dis nie jou oupa wat jy soen nie. Moenie so stokstyf staan nie. Ontspan …”

      Ila dwing haarself om haar arms om Martin se nek te sit en hom ’n ligte drukkie te gee. Haar mond beweeg effens onder syne.

      “Is daar iemand wat ons kan sien – wat ons miskien dophou?” vra sy uitasem.

      “Nie wat ek van weet nie,” antwoord Martin vroom. “Die ou man wag op die noordelike stoep en Mieta is agter in die kombuis. Daar sal nie ander mense dié tyd op ’n Sondagoggend by die huis wees nie.”

      “Maar hoekom het jy dan gesê ek moet jou vashou …?”

      Martin maak haar met ’n soentjie stil. Toe hy Ila vir oulaas teen hom vasdruk, kan sy voel hoe hy skud van die lag.

      “Nie so hard nie, skatlam. Mens weet nooit wie hóór ons dalk nie.”

      Ila is baie kwaad. “As niemand ons kan sien nie, kan niemand ons ook hoor nie. Dit was gemeen van jou. Ek sal jou nooit daarvoor vergewe nie.”

      Martin grinnik. “Het ek jou nie gewaarsku ek is ’n opportunistiese man nie?”

      Hy is nog steeds hoogs geamuseerd en baie tevrede met homself toe hy Ila se hand neem om haar huis toe te lei.

      “Moenie skrik as die ou man aanvanklik dalk effens brommerig is nie. Hy is nie ’n mens wat maklik sy gevoelens wys nie. Agter daardie outokratiese en dominerende uiterlike skuil ’n baie klein hartjie, maar hy is bang die mense kom dit agter. Lyk bly om hom te sien, sê jy is jammer omdat jy so lank weggebly het en wag dat die storm oorwaai. As die donderweer en blitse verby is, sal jy agterkom hoe bly die ou man in werklikheid is om jou by die huis te hê.”

      “Nóú sê jy my …” verwyt Ila hom. “Jy het my onder die indruk gebring dit gaan net maanskyn en rose wees. Jy het niks gesê van donderweer en blitse nie …”

      ’n Swart vrou kom skielik om die huis gestorm. Sy steek ’n paar treë van Ila af vas, hande op die heupe, en die blitse waarvan Martin gepraat het in die klein, swart ogies.

      “Mieta …” waarsku Martin haar onderlangs.

      “En vir wat bly jy so lank weg, meisiekind! Het jy vergeet jy het ’n huis en ’n pa? Kyk hoe lyk jy! Jy is so maer soos ’n kraai! Het hulle nie in Janniesburg vir jou kos gegee nie? Ook maar goed ek het skaapboud en bobotie en roomkoek gemaak dat ek jou kan begin vet voer. Jy lyk siek! Jy lyk …”

      “Mieta …” val Ila haar sag in die rede. “Mieta … ek het nog nie eers my voet oor die drumpel gesit nie, en jy baklei al klaar met my. Is jy nie bly ek het huis toe gekom nie?”

      Mieta wil nog verder raas, maar sy kan geen woord uitkry nie. Die aggressiewe houding verdwyn. Haar hande frommel die wit voorskoot en haar lippe bewe. Dan verkrummel haar hele gesig terwyl trane oor die verrimpelde wange loop. Mieta swaai kortom, druk haar voorskoot teen haar mond en hardloop terug kombuis toe.

      “Hindernis een is verby,” sê Martin liggies. “Jy het ou Mieta gefop. Pragtig kop gehou, skatlam.”

      Ila sluk aan die pynlike knop in haar keel. Arme ou Mieta se vreugde was aandoenlik. Ook sý het blykbaar ’n baie klein hartjie wat sy agter raas en baklei probeer wegsteek het. En bobotie … Mieta het onthou dat Daniela so lief was vir bobotie met geelrys en rosyntjies.

      “Wel, waar wil jy instap?” vra Martin ongeërg. “Voordeur of agterdeur?”

      “Waar sou Daniela ingestap het?” vra Ila.

      “Jy is Daniela,” herinner Martin haar. “Doen soos jy goed dink. Ek glo nie Daniela self sou ou Mieta beter hanteer het nie. Hou so aan.”

      “Ek dink ek behoort seker reguit na haar … my pa toe te gaan.”

      Ila stap sonder huiwering regs om die huis, deur die hekkie in die hibiskusheining en oor ’n grasperk na die noordelike stoep aan die voorkant waar Daniela se pa wag …

      Maar beide Ila en Martin het van die kwaai rifrughond vergeet. Snuffels het agter die huis in die koelte van die soetdoringboom gelê en slaap en nie dadelik die motor hoor stilhou nie. Sy werk is om hoenders en vreemdelinge op die werf te verjaag. Nou wil hy vir sy aanvanklike pligsversuim vergoed. Hy storm deur die hekkie en toe hy sy baas herken, verwelkom hy Martin luidkeels.

      Maar dan steek hy vas. Die stert gaan staan botstil. Die geblaf hou op en hy kyk onseker na Ila. ’n Diep grom stoot in sy keel op en hy kom ’n tree nader.

      Met een vinnige beweging koes Ila agter Martin in sodat hy tussen haar en die massiewe rifrug is.

      “Ek … ek het vergeet om jou te sê. Ek ly aan ’n ewige vrees vir honde,” sê sy senuweeagtig.

      “Snuffels sal nie byt as jy by my is nie.”

      “Ek verkies om dit liewer nie op die proef te stel nie. Jaag hom weg. Jaag hom deur die heining en maak die hek toe, asseblief …”

      “Kom, Snuf …!” beveel Martin terwyl hy die hekkie oop­hou.

      Die rifrughond is gewoonlik baie gehoorsaam. Maar vandag luister hy nie na die bevel nie. Hy kom snuif-snuif nader aan Ila terwyl sy geel oë haar stip dophou.

      “Snuffels! Uit!” gebied Martin. Toe die hond nog steeds nie gehoorsaam nie, gryp hy hom en boender hom deur die hek. Dis lastig dat Ila bang is vir honde, dink hy ergerlik. Sy en die rifrug sal moet maats maak, anders sal die oukêrel agterdogtig raak. Snuffels was Daniela se hond en die twee was onafskeidbaar. Dis nie geloofwaardig dat ’n meisie in haar kinderdae baie lief was vir diere, maar vyf jaar later skielik ’n vrees vir honde koester nie. Ila sal baie vinnig van hierdie onsinnige fobie ontslae moet raak.

      “Toe ek klein was, het ’n wolfhond my eendag gebyt,” verduidelik Ila. “Van toe af is ek bang vir honde.


Скачать книгу