Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman


Скачать книгу
praat jy?” frons sy verward.

      “Van jou verskuilde identiteit,” lig hy haar kil in.

      Dit laat haar steeds in die duister. “Ek was honderd persent eerlik oor my agtergrond en opleiding. Wat bedoel jy?”

      “Jou naam. Meer spesifiek: jou ván.”

      Dis asof ’n ystervuis om haar hart klem. Sy het geweet hierdie oomblik gaan kom, gewag daarvoor … Selfs ’n paar sinne ter verduideliking voorberei, maar in haar paniek is alles vergete. Haar verstand staan stil en haar tong sit aan haar droë verhemelte vas.

      “Basson? Dis ’n taamlik algemene van. Kyk maar in die foonboek hoeveel Bassons daar is.”

      Hy maak haar opmerking minagtend af. “Wat de joos het dit met die saak te doen? Hoekom het jy nie vir my gesê jy’s Vita se suster nie?”

      “Jy het nie gevra nie. Dit het nooit ter sprake gekom nie.”

      “Daardie heel eerste dag al het ek gedink jy lyk bekend, maar ek kon nie plaas aan wie jy my herinner nie.”

      Dis te verstane dat hy nie dadelik die familietrek herken het nie, dink Carmia. Vita is langer, met ’n voller figuur, en haar hare is donkerder.

      “Nou, egter, weet ek wie dit was.” Hy snuif vol veragting. “Iemand wat ek wil vergeet, en dit reggekry het – tot jy opgedaag het om my te herinner hoe stiksiende ek was. En dan het ek jóú van naïwiteit beskuldig … Jý wat ’n meester in slinksheid is!”

      Carmia het nie verskonings nie; sy weet nie hoe om haar optrede te regverdig nie. Sy kyk nie na hom nie, sit net met onsiende oë na die sleutelbord en staar. Gaan hy haar aansê om haar tasse te pak? Sy wens Margo was hier om vir haar in die bres te tree, maar aan die ander kant wil sy ook nie stres op die ouer vrou laai nie.

      “Vita het van haar suster gepraat: Karretjies of Karrie of iets. Maar ek het nie geweet dit kom van Carmia af nie. Julle het seker lekker gespot met die arme sot wat hom ’n tweede keer laat flous het?”

      Carmia skud miserabel haar kop.

      Deneys kan nie haar gesig sien nie, net die gordyn hare wat heen en weer swaai, en vertolk dit verkeerd.

      “Ontken jy dat jy my bedrieg het?”

      Sy hou haar hande in ’n hulpelose, pleitende gebaar uit. “Dit was nie met opset nie.”

      “Wat dan? Per ongeluk? Hoe belieg en bedrieg jy iemand ‘per ongeluk’?” wil hy sarkasties weet. “Ek kan begryp as dit Vita was, maar ek het gedink jy besit ’n tikkie meer integriteit. Maar lyk my julle Bassons is eenders. Vat uit ’n man wat julle kan en gooi hom dan eenkant soos ’n leeggesuigde lemoen. En ek het saamgewerk … Dit vir jou maklik gemaak deur vir jou verleidelike maniertjies te val. Jy het geweet iets is besig om tussen ons te ontwikkel, maar dit was nie vir jou belangrik nie.”

      Dan was sy nie al een wat daarvan bewus was nie – hy kon ook aanvoel daar is ’n vonk tussen hulle. Sy woorde skroei deur haar, soos ’n fisieke pyn wat haar laat inmekaarkrimp.

      “Dit wás,” erken sy, haar stem hees van ingehoue trane.

      Deneys loop soos ’n stoomroller oor haar. “Kastig nie ‘beskikbaar’ nie – dit was die woord wat jy gebruik het toe ek gesê het dat ek jou graag beter wil leer ken. Hoekom? Te veel ander kêrels? Du Plessis en nog hoeveel ander? Maar terselfdertyd nie onwillig vir ’n flirtasie nie, dit het ek deeglik agtergekom.”

      Sy weet waarna hy verwys. Toe haar mond onder syne oopgegaan het en sy hom uitnodigend teruggesoen het … Haar wange brand en sy wens sy kon die herinnering uit haar geheue wis.

      “Net soos jou suster – lok ’n man uit en verlei hom. Laat hom dink hy is die enigste man in haar lewe en dan op ’n dag, nul uit die noorde, hoor hy nee, hy staan heel agter in die tou en sy het ’n beter proposisie gehaak. Meer geld, beter minnaar of wat ook al … Jy en sy is eenders: ydel en agterbaks.”

      “Ek weet ek moes jou gesê het –” probeer sy verweer, maar hy gee haar nie kans om klaar te praat nie.

      “Hoekom hét jy nie?” val hy haar beskuldigend in die rede.

      Carmia antwoord eerlik: “Omdat ek nie die werk sou gekry het as jy geweet het wie ek is nie.”

      “Korrek! Ek sou gesorg het dat jy nie ’n voet naby Skamanga sit nie. Net jammer dis nou te laat. Dis jammer Tasha het my nie vroeër gewaarsku nie, dan was jy nie nou ingeburger en ewe tuis hier nie, asof jy onmisbaar is.”

      Tasha … registreer Carmia. Sy onthou die nadenkende uitdrukking op die meisie se gesig toe Margo hulle voorgestel het. Sy moes geweet het Tasha sal nie gras onder haar voete laat groei om die situasie uit te buit nie. Die vroumens het haar visier op Deneys en sy sal nie toelaat dat ’n ander meisie hom inpalm nie.

      Deneys sluit sy oë ’n oomblik en vryf met sy hand oor sy voorkop asof hy hoofpyn het. “En my ouma … Weet sy wie jy is?”

      Carmia is met haar rug teen die muur. As sy dit ontken, is dit weer ’n leuen wat hy later teen haar kop kan gooi. En as sy erken Margo weet, betrek sy haar werkgewer by die komplot. Sy skuld dit aan Margo om haar te beskerm.

      “Ek is agter met my werk,” sê Carmia met ’n kalmte wat sy van êrens opdiep. “Jy het nou jou sê gesê, en ek kan verstaan dat jy my kwalik neem. Jy het alle reg daartoe. Ek het gesê ek is jammer en probeer verduidelik wat die situasie was. Maar nou moet ek dringend hierdie hoofstuk klaarkry. Ons private vete sal moet wag tot later. Dit word laat … Moet jy nie ook gaan vlieg nie?”

      Deneys kyk ergerlik op sy horlosie. “Ja, in my maai in gaan vlieg!”

      Hy stap weg en klap die deur byna uit sy skarniere uit agter hom toe.

      Carmia hoor dit skaars. Hoor ook nie toe die viertrek se deur klap en die gruis in alle rigtings spat soos hy wegtrek nie. Sy laat haar kop in haar hande sak terwyl hygende snikke haar skouers laat ruk.

      10

      Laatmiddag, toe Margo gaan rus het, bel sy vir Vita.

      Dis nie hul gewone tyd nie en haar suster is verbaas. “Wat’s verkeerd?”

      “Alles!”

      “Hoe klink jou stem so vreemd? Is jy siek?”

      “Nee …” Carmia neem ’n sluk van die sterk, swart koffie waarmee sy haar deur die dag aan die gang gehou het. “Ous, nou moet jy mooi luister, nie grappe maak nie en my eerlik antwoord … Oukei?”

      “Oukei. Wat het gebeur?”

      Carmia vertel van die rusie met Deneys, sy beskuldigings en haar vrees dat sy oor drie dae nie meer ’n werk gaan hê wanneer hy terugkom van die Kaap af nie.

      “Jy werk mos nie vir hom nie, jy werk vir Margo,” stel Vita haar gerus.

      Carmia is nie oortuig nie. “Vertel dit vir hóm. Hy wil my hier weg hê; hy gaan my agt en veertig uur kennis gee.”

      “Wat sê Margo?”

      “Sy weet nog nie van al die drama nie. Sy is van gister af nie lekker nie – sy slaap sleg en het chronies hoofpyn. Ek is bekommerd, maar sy wil nie dat ek haar dokter toe neem nie. Sy sê hulle snuffel kwale uit wat sy nie het nie en wil haar in die hospitaal sit, waar sy nie wil wees nie. Ek wil nie my probleme op haar laai nie; hierdie ding is tussen my en Deneys. Ek wil hê jy moet my presies vertel wat destyds tussen julle twee gebeur het.”

      Vita stotter en praat bont, maar Carmia gee nie skiet nie. “Het hy jóú afgesê, of jy vir hom?”

      “Wel, dis eintlik ’n lang storie …”

      “Ek het tyd om te luister.”

      Vita kom met ’n lang aanloop. “Jy sê jy het self ook boots en all vir hom geval?”

      “Ja, maar dis nie ter sprake nie. Ons praat nie nou oor my nie, ons praat oor jou.”

      “Ek


Скачать книгу