Tweegevreet. Zirk van den Berg
Читать онлайн книгу.s’n nie. Hy lyk meer donkie as perd, en so wild soos enige dier wat Stempsky al ooit gesien het. Hy vat die swaar draadknipper in albei hande, sit die kake om die boonste draad en druk die handvatsels na mekaar toe. Die draad breek met ’n piengklank. Stempsky versit die knipper haastig na die volgende draad toe en dan die een daarna, en sien die sebravul se bewegings word vryer namate die draad losser raak.
Die dier trappel en ruk en spring dan los, draai om en hol na sy ma toe, wat ondanks die mense se dreigende teenwoordigheid nader gekom het. Sy lig haar neus en gee sulke sebrablaffies. Die kleintjie antwoord, en dan is hulle herenig. Hulle raak aan mekaar met hulle neuse, vryf vel teen vel en draf saam weg, klaarblyklik tevrede dat die natuurlike orde herstel is.
Stempsky kyk hulle agterna, bly om hulle onthalwe, hartseer vir sy eie ma, en vir ander ma’s wie se kinders nie teruggekom het na hulle toe nie.
Dit lyk asof die sebratjie vryelik beweeg. Die diere draf in ’n holte af en toe kan hy hulle nie meer sien nie. Die geluid van hulle twee se hoewe klink op in die stil oggendlug, ’n ritmiese murmeling, en dan verslaan ook dít.
Die seuns staan by die kombuis. Die voor-op-die-wa ene, die een wat Dudeck besluit het om Dawid te noem, praat eerste: “Daar gaan ’n hoop goeie kos.”
“Ek hou nie van sebra nie,” sê die ander een, Jonatan – ook nie sy regte naam nie.
Dawid is nog op die oorlogspad, en beduie na die stukkende heining toe. “Wie gaan dit nou regmaak?” Die seun het ’n sekere eiegeregtigheid wat van hom ’n natuurlike leier maak.
Stempsky is nie seker of hy Dawid sou kon uitstaan as die noodlot hom nie vanweë sy ras en ouderdom bo die seun gestel het nie. “Moet jou maar nie daaroor verknies nie, ek sal dit doen – nadat ek ontbyt gehad het.”
Die seuns vang die skimp en loop druipstert kombuis toe.
Stempsky vat die draadknipper terug na die gereedskapshokkie en stap dan oor na die perde toe. Dat hy die sebra kon verlos, het hom opgebeur. Nogtans kan hy nie wag om weer uit te ry nie. Hy hou daarvan om aktief te wees, dit hou sy kop besig. Hy en Bock gaan die meeste dae op patrollie, hulle hou ’n ogie oor dinge en maak seker dat hulle raakgesien word. Hulle is die enigste sigbare blyke van Duitse gesag. Daar is natuurlik setlaars, maar hulle het hulle hande vol om net te oorleef, en dan is daar die paaie, dof en leeg vir dae aaneen. Daar is ’n telegraafkantoor op Haris, maar dis omtrent twee derdes van die pad terug Windhoek toe.
Hy hou van die moontlikhede wat hierdie land bied. As hy hier ’n vrou kan vind, sal dit vir hom gans onnodig wees om ooit terug te gaan Duitsland toe. Hy het al klaar iemand in gedagte, maar sy het nog maar onlangs haar man verloor en is boonop baie beter daaraan toe as hy. Dit kwel hom dat sy dalk enige toenadering van sy kant af sal beskou as onvanpas, ’n fortuinsoekery, of albei.
Hy het nie meer bande met sy vaderland nie, net die ou vrou vir wie hy briewe skryf en wat dalk nie meer lank gaan lewe nie. Haar briewe bevat al hoe meer verwysings na dokters en dae in die bed. Hy verwag om binnekort verlos te wees van daardie verpligting. As hy soos daardie sebravul eers die drade afskud wat hom vashou, as sy laaste bande met die Hans Stempsky van ouds wegval, lê die lewe vir hom oop.
* * *
Siegfried Bock sukkel om die geesdrif bymekaar te skraap om selfs net voor te gee dat hy ’n brief aan Traudl Dehlinger skryf; nog een om te voeg by die ongeposte stapel in sy trommel wat dien as dagboek van sy lewe en gedagtes hier in Suidwes-Afrika. Hy gee die stryd gewonne en staan op. Daar is niks dringends om op ’n Sondagoggend te doen nie, maar hy het genoeg daarvan gehad om in Dudeck se walms te sit.
Hy trek sy uniform aan, die donker kakie wat hom identifiseer as ’n militêre man, en die rooi band, skuins van skouer tot heup, wat wys hy is in die polisie. Hy is gesekondeer uit die leër, waar hy nie goed reggekom het nie. Die polisiemag is nog nie behoorlik op sy voete nie en bestaan hoofsaaklik uit soldate wat aan polisiediens toegedeel is. Siegfried is ook nie seker of hy vir die polisie uitgeknip is nie, maar ten minste is hier minder mense met wie hy oor die weg hoef te kom.
Hy verlaat die barak en struikel byna oor die groot geel brak wat hom ’n ruk gelede by die polisiekantoor kom tuismaak het. Die hond dink die hele werf is sy slaapplek en hulle moet keer om hom van hulle beddens af te hou. Nou lê hy vlak voor die deur. Siegfried trap oor hom en loop ’n ent die veld in. Die omgewing inspireer hom steeds, dit is so anders as enigiets wat hy voorheen geken het. Hy doen deesdae moeite om die verskillende diere, voëls, bome, insekte en akkedisse te herken, en om hulle name te leer. Toe hy om die gebou se hoek kom, kyk hy af na die Hochnamib-nedersetting net meer as ’n kilometer ver in ’n droë rivierloop se kronkeling, en besluit om eerder na die ander kant toe te mik, waar hy minder tekens van menslike teenwoordigheid sal sien.
Die heining om die groentetuin is stukkend, maar hy sien niemand wat vir hom sal kan sê waarom dit so is nie. Die perde in hulle kamp wei rustig – Dudeck en Stempsky het albei vosperde, syne is appelblou. Hy loop by hulle verby. Noorde toe is daar net ongereptheid, soos dit moes gelyk het voordat die eerste mense hier aangekom het. Van ver af lyk die landskap leeg, maar van naderby is dit vol gediertes wat hop, vlieg en kruip. Insekte zoem verby sy ore. Iets skarrel in die droë gras, ’n bloukopkoggelmander lê en hyg op ’n klip, vaal versamelvoëls sing, vlerk-teen-vlerk op ’n tak ingepak. Teen die volgende helling knibbel ’n steenbokkie aan ’n latjiesbos. Hy skrik momenteel vir ’n moontlike bedreiging, kyk rond en wend hom dan weer tot die blaartjies.
Voordat hy hierheen gekom het, het Siegfried hom voorgestel hoe Afrika moet wees, maar in sy drome het Afrika slegs bestaan uit verre berge, groot diere en wilde stamlede, nie dit wat nou om hom is nie. Hy het alles gesien soos wat ’n mens na ’n prentjie kyk – hy was nie deel daarvan, omring deur wildernis waaruit hy nie kan wegkom nie. Van waar hy nou staan, kan hy honderde kilometer in enige rigting gaan en steeds in Afrika wees.
Wat ’n plek vir ’n boekwurm uit Berlyn om hom in te bevind!
Tog kan hy nie dink dat hy ooit sal terugkeer na die lewe wat in sy herinneringe draal nie. Dis nou ’n vreemdeling se lewe daardie. Hy was altyd die skepper en hoofkarakter van ’n verhaal in sy kop, maar iets het gebeur vandat hy Suidwes-Afrika toe gekom het. Sy ou aannames moes wyk voor die harde werklikhede van hierdie land; nie net oor die natuur nie, maar ook die aard van Duitse heerskappy. Min van die plaaslike mense verwelkom hulle – party verdra hulle en ander kom in opstand. Oorlog woed nog in die suide, tussen die Duitse schutztruppen en Nama-kommando’s wat hulle soos wildehonde in die lieste hap en op vlug slaan sodra hulle draai om terug te veg. Die manier waarop sy mense hierdie deel van Afrika in Duitse grondgebied verander, ontwrig almal wat hier woon se lewens. Party van sy landgenote doen laakbare dinge; hy het dit met sy eie oë gesien en wonder of hy gedoem is om hulle skuld te deel.
Hy voel gestroop van vrede en voorneme, geteister deur sy eie tekortkominge. Die Siegfried Bock wat in Maart in Suidwes-Afrika aangekom het, het stuk vir stuk doodgegaan, van die eerste keer dat hy swart vroue gesien het wat as trekdiere gebruik word, tot daardie verskrikking wat hy agter ’n duin in die Kalahari aanskou het. Beelde van daardie rooi sand, die stowwerige swart vel, glinsterende bloed en die gapende vlees teister hom steeds wanneer hy sy oë toemaak. En dan voel hy die skudding in sy hand toe die mes van ’n ribbebeen af glip tot in die hart van ’n man wat boos was, maar nogtans ’n mens, een wie se bloed die sagte vel in die V tussen Siegfried se wysvinger en duim gevlek het. Hy staan self nie onskuldig nie. Hy is ’n vyand van hierdie land se mense en ’n verraaier van sy eie.
Sy dae het ’n sussende eenselwigheid gekry, met roetines wat hy uit noodsaak volg – om te eet en kos te kweek, om sy toerusting en lyf te versorg, en te doen wat hier rond van ’n polisieman verwag word, wat meestal daaruit bestaan om na ver plekke te ry en dan terug. Hy sien uit na iets wat die patroon kan breek, maar is terselfdertyd bang om in ’n situasie te beland waar hy daadwerklik sal moet optree. Vir ’n wit man in Afrika is dit ’n komplekse saak vol slaggate. Die dinge wat hy elke dag doen, is sy lewe, soos vir almal. Dit behoort genoeg te wees, sê hy vir homself, maar hy is jonk en geneig tot drome. Hy vind dat hy wens vir iets groters, ’n roeping of doel – rigting vir sy lewe. Hy het geen idee watter vorm dit kan aanneem nie, en kan hom nie eens voorstel waar die nodige impuls vandaan kan kom nie. Hierdie leegheid