In landsbelang. Quintus van der Merwe

Читать онлайн книгу.

In landsbelang - Quintus van der Merwe


Скачать книгу
ry tot by die ou kerk en parkeer haar motor onder die bome op die plein. Toe sy uitklim, hoor sy die onmiskenbare klanke van die basuinorkes wat oefen. Haar tuisdorp is onlosmaaklik aan musiek gekoppel en sy het as jong meisie saksofoon in die orkes gespeel. Later het sy weekliks Kaap toe gegaan vir meer gevorderde musieklesse totdat die kerk besluit het bruin mense mag nie in die Groote Kerk oefen nie.

      Alhoewel sy aan die Universiteit van Stellenbosch verder kon studeer, het sy nooit vrede gemaak met hoe teenoor haar en ander landgenote gediskrimineer is nie. Dit is grotendeels hoekom sy tydens haar studentejare ’n politieke aktivis was en waar die saadjie vir haar loopbaan gesaai is.

      Sy stap na die restaurant en sien langsaan is daar nou ’n gastehuis. Van die rivier se kant kom twee mans aangestap. In die stad sou sy onmiddellik versigtig wees, maar iets in die mans se houding stel haar gerus. Sy wil by die restaurant ingaan om te sien of daar iets is wat sy vir haar ma kan koop vir ete, maar gaan staan as een van die mans haar roep.

      “Middag, mevrou. Smart kar. Hulle pay mos goed by die parliament. Is djy hier op biesigheid of net ’n tourist? Nog nie te grênd geword vir ons Genadendalers nie.”

      Sy herken nie die mans nie, maar aanvaar hulle het haar op TV gesien.

      “Goeiemiddag. Ek kom net vir die naweek by my ma kuier.”

      Hulle kyk haar op en af. Sy het nog dieselfde swart broekpak van die parlementsitting aan en voel skielik ontuis in die duur klere.

      “Wies djou ma?”

      “Hester Cloete. Hester Cloete van Bergstraat. Ek het hier grootgeword. Wie is julle?”

      “Nei, ons ken vir tant Hester. Ons weet wie mevrou ook is. Mevrou moet daai politicians goed in hul moer stuur. Vir wat het ons al daai fancy airplanes en skippies nodig? Is hulle bang ou Mugabe val ons aan? Nee, ons wiet mevrou. Dis virrie kickbacks. Ammal wil vinnig ryk raak, maar ons sit hier sonner jobs en die kinners gebruik tik en die grootmense suip. Pleks hulle gee ons hyse. Jy moet ons help, mevrou. Vertel hulle hoe ons suffer.”

      “Ek doen my bes. Wat is jul name?” Nerine onderdruk ’n glimlag.

      “Dis Willem. En hierie een is Frans, my broer,” en hy wys na sy swygsame broer.

      “Ek gaan hulle goed op hul tone hou. Ek belowe.”

      Sy groet vriendelik en glip by die restaurant in. Dit raak laat en sy wil haar ma met iets lekkers verras. Soos altyd voel sy op haar gemak by haar ma. Dis die enigste plek waar sy regtig kan ontspan. Sy kon met haar laaste besoek sien haar ma beweeg moeisaam en besef dat sy nie lank meer alleen sal kan woon nie.

      Nerine ry stadig deur die arm woonbuurt. Sy waai vir die kinders wat na die vreemde motor staan en kyk. Die huis sit teen die heuwel en daar is ’n mooi uitsig oor die riviervallei. Die nedersetting het sy ontstaan te danke aan die beskikbaarheid van water. Morawiese sendelinge het langs die rivier ’n klein stukkie Europa kompleet met ’n plein langs die kerk probeer herskep. Oor die jare het hulle grotendeels daartoe bygedra dat die inwoners ’n goeie opvoeding gekry het.

      Hier kon die bruin inwoners, ver van die stad, goeie onderwys en musiekopleiding ontvang. Die werkloosheid en armoede en gepaardgaande probleme dreig egter om die besondere karakter van haar geliefde geboortedorp finaal tot niet te maak.

      Na hulle klaar geëet het, gaan sit hulle op die stoepie.

      “Óf ma kom woon by my in die Kaap óf ek kom woon hier. Jy kan nie meer so alleen aangaan nie. Wat as jy val of iets anders gebeur?”

      “Ek bly net hier. Ek gaan nie uit die vallei uit nie. Wat moet ek in daai Sodom en Gomorra gaan doen? Ek hoor niks goed …”

      Nerine se selfoon onderbreek haar ma. Sy herken nie die nommer nie, maar sien dis van die sentrale deel van Kaapstad en besluit om te antwoord.

      “Ms Cloete. The President would like to speak to you.”

      Sy stap vinnig na buite. ’n Paar minute later kom sit Nerine sprakeloos by haar ma.

      “Ma, die president wil my as ambassadeur Parys toe stuur.”

      “Was dit die president? Ambassadeur? Nerine …”

      “Wat moet ek doen? Dis ’n groot eer en ek sal graag ons land wil verteenwoordig, maar hoekom kies hy vir my? Ek is een van die regering se grootste kritici.”

      Haar ma kyk met ’n glimlag na Nerine.

      “As ek dit aanvaar, moet ek binne twee weke vir opleiding Pretoria toe gaan. Hulle wil hê ek moet so gou moontlik begin. Ek moet Maandag al aandui of ek die aanstelling aanvaar.”

      Teen Sondagaand en na talle gesprekke en lang wandelings langs die rivier, weet Nerine wat sy gaan doen.

      “Ek is bly jy gaan, Nerine. Dis ’n groot eer. Miskien kan jy meer bereik met ’n internasionale gehoor. Dinge begin nou so vinnig agteruitgaan in die land van ons. En die opposisiepartye is so klein, die regering steur hulle tog nie aan julle nie.” Sy kyk trots na Nerine.

      “Dan kom kuier ek vir jou daar annerkant in die vreemde.”

      “Miskien is ma reg. Ek kan seker altyd terugkom en hier verder vir ons mense kom veg. Miskien is ’n verandering goed.”

      Sy klink nie baie seker nie.

      “Mense gaan seker sê dat ek my beginsels verloën en ’n meeloper van die regering word, maar ek gaan nie ’n politieke party verteenwoordig nie.”

      “Jy gaan jou land verteenwoordig, Nerine.” Haar ma glimlag bemoedigend.

      “En ma gaan sommer by my kom woon daar in Parys.”

      Hulle sit en gesels nog tot laat op die stoep. Later in haar bed tel sy twaalf slae van die kerkklok. Sy weet sy kan die uitdaging nie weerstaan nie.

      3

squigle.jpg

      Carla Simons kyk vinnig na die deur, maar dit is nie Bradley wat by die koffiewinkel inkom nie. Sy kyk weer na buite oor die see. Dis ’n mooi wintersdag, maar die son gaan binnekort agter die water verdwyn. Sy weet dit was een van Bradley se gunsteling-plekke waar hy soms na werk kom asem skep het. Maar waar bly hy? Sy kan nie meer langer alleen met die ding loop nie. Sy kan nie haar ouers daarmee pla nie en beslis nie enige kollegas by die werk nie. Toe Bradley haar die vorige dag gebel het om te vra hoe dit gaan, kon sy nie anders as om te vra of sy hom kan sien nie.

      Sy sit by ’n hoë toonbank vlak langs waar die koffiebone gemaal word. Sy trek die aroma diep in haar neus in. Ander kliënte sit verdiep in koerante of gesels ontspanne, maar Carla voel steeds die spanning op die krop van haar maag.

      Buite stap ’n jong egpaar met ’n babatjie in ’n stootkarretjie verby. Hulle lag en praat met die kleintjie in die waentjie. Wat ’n ander wêreld is dit nie hier aan dié kant van die berg nie. Voor Newport staan daar ’n blinkrooi Ferrari.

      Sy hoop Bradley kan haar raad gee. Hul verhouding van vroeër was op die punt om baie ernstig te word, maar sy kon nie daarmee saamleef dat hy getroud was nie. Nadat sy die eerste keer sy vrou gesien het, het sy gevra dat hulle die verhouding beëindig.

      Hulle het nog by die werk soms kontak gehad, maar sy was nie bereid om hom met ’n ander te deel nie. Boonop was sy nog baie onervare en was die verhouding met ’n bruin man op sigself vir haar ’n groot aanpassing. Sedert hy sy werk verloor het en nie meer in die middestad werk nie, het sy nie meer moeite gedoen om hom te kontak nie. Hy het skynbaar aanvaar dat hulle nie ’n verhouding kon voortsit nie.

      Sy het dikwels gedink dat hy seker bitter is oor die wyse waarop die provinsiale regering van hom ontslae geraak het. As jong regsadviseur was Bradley Walters jare lank een van die beste denkers en wetskrywers van die Wes-Kaapse regering. Na die laaste verkiesing het die samestelling van die provinsiale regering egter drasties verander en is begin met ’n skoonmaak van senior beamptes wat enige verbintenis met die vorige regering gehad het. Bradley moes opnuut vir sy eie werk aansoek doen en het dit


Скачать книгу