In landsbelang. Quintus van der Merwe

Читать онлайн книгу.

In landsbelang - Quintus van der Merwe


Скачать книгу

      Carla skrik toe Bradley skielik langs haar verskyn. Hy het seker by die sydeur ingekom.

      “Jammer dat jy moes wag. Ek is nie gewoond aan die verkeer stad toe nie.”

      Carla probeer tot verhaal kom.

      “Kom sit. Baie dankie dat jy gekom het.”

      Bradley gaan sit langs Carla op een van die kroegstoeltjies langs die toonbank. Hy is gemaklik aangetrek en lyk vir Carla anders as vorige kere wat hulle kontak gehad het. Sonder ’n das kom hy jonger voor. Sy kyk rond vir ’n kelner.

      “Jy lyk lekker ontspanne. Ek het nog altyd hierdie beeld van jou met ’n formele pak en das.”

      “Ek werk nou van die huis af. Dis nie meer nodig om fancy aan te trek nie.”

      “Ek het jou lanklaas gesien,” sê Carla. “Jammer dat ek so skaars was.”

      “Ek kom maar min in die Kaap. Ek woon nog in Kuilsrivier en werk van daar af.”

      ’n Kelnerin met donker oë meld aan.

      “Just a coffee for now, please. Cold milk, thank you.”

      Hy kyk haar agterna as sy wegloop.

      “Werk hier nog steeds so baie Oos-Europeërs? Ek onthou die probleme wat ons met die mense se werkspermitte gehad het.”

      “Dit lyk so.”

      Sy kyk met ’n glimlag na hom. Hy lyk gesond en selfversekerd. Die swart hare begin effens grys te raak, maar sy oë is blink en lewendig.

      “Hoe gaan dit, Bradley? Hoe lank is dit nou al dat jou vrou …?”

      “Dit gaan goed. Dis meer as twee jaar. Maar ek kan eerlik sê dat dit goed gaan. Daar is lewe buite die provinsiale regering.”

      Hy skram daarvan weg om oor sy vrou te praat. Bradley verskuif die fokus van die gesprek terug na haar.

      “Hoe gaan dit met jóú?”

      Sy draai haar na hom toe, maar sê niks.

      “Waarom die dringende ontmoeting? Hoekom wou jy nie oor die telefoon praat nie?” wil Bradley weet.

      “Bradley, ek weet nie met wie ek kan praat nie, maar ek loop met hierdie ding rond en dit vreet my op.”

      Sy kyk om haar.

      “Jy weet ek werk nog as vertaler by die vertalingsdiens van die regering. Ek wil nie graag my werk verloor nie en ek wil ook nie onprofessioneel optree nie. Maar miskien kan jy as regsadviseur my raad gee. Jy ken my ’n bietjie en jy ken die binnewerkinge van die politiek.”

      “Wat het gebeur? Wil hulle van jou ook ontslae raak?”

      “Nee. Of liewer, nog nie. Maar ek moes in groot geheimhouding ’n dokument vir die minister van veiligheid en sekuriteit uit Frans vertaal. Die minister het my die dood voor die oë gesweer as die inligting ooit uitlek. Ek moet met iemand praat …”

      Bradley sien die nattigheid in Carla se oë. Hy sit sy hand op haar skouer. Die fisieke kontak laat haar ineenkrimp en sy kyk af.

      “Carla, kyk na my. Wat moes jy vertaal?”

      “Your coffee, sir. Anything else?”

      Bradley neem die koffie. Daar het ’n man vlak langs hom kom sit. Hy het hom oënskynlik in sy koerant verdiep, maar Bradley weet hulle kan nie hier verder praat nie. Terwyl hy sy koffie drink, gesels hulle oor onbenullighede.

      “Ek drink net klaar, dan gaan stap ons langs die see. Ek mis my draf hier smiddags na werk. Ons stap vuurtoring toe en dan vertel jy my alles.”

      Hulle stap op die promenade in die rigting van Mouillepunt se vuurtoring. Hulle moet kort-kort koes vir die golwe wat woes teen die muur slaan. Sy is lank en gee lang genoeg treë dat hy nie sy tred by haar hoef aan te pas nie.

      “Carla, is dit minister Dyantyi?” Sy knik.

      “Ek het al vir hom werk gedoen. Een van die min hardwerkende ouens.”

      Die wind waai koud oor die see. Bradley het lus om sy arm om haar skouers te sit, maar besluit daarteen. Hy het soms met Carla te doen gekry toe sy wetsontwerpe vir die Wes-Kaapse wetgewer na Afrikaans moes vertaal. Sy is bekend as die beste vertaler van regsdokumente en het die Engelse brondokumente met besondere insig vertaal. Sy is boonop Frans en Spaans magtig.

      “Praat met my, Carla. Wat gaan aan by die werk?”

      Hy kyk na haar. Die oë reflekteer die groen van die see. Haar lang hare is opvallend rooi in die laaste sonstrale.

      “Die minister het my ingeroep om ’n e-pos uit Frans te vertaal. Hy weet ek het uiters geheime klaring, maar ek moes die vertaling verbatim daar in sy kantoor doen. Dit het vir my gelyk asof hy min of meer weet waaroor dit gaan, maar hy wou presies weet wat elke woord beteken.”

      ’n Groot brander breek onverwags oor die muur. Carla gil en hulle probeer wegspring, maar hulle is albei nat en staan vir ’n paar sekondes asof hulle gevries het. Hulle kyk na mekaar en raak aan die lag.

      “Wie het die teks geskryf? En waaroor gaan dit?”

      “Belowe jy gaan ons nie in die moeilikheid laat beland nie. Ek weet ek mag nie vir jou vertel nie, maar dit pla my regtig vreeslik.”

      “Dit hang af, Carla. Ek kan nie belowe nie.”

      “Dis ’n anonieme e-pos wat aan die minister van veiligheid en sekuriteit gerig is. Ek vermoed dit kom uit Europa, maar Dyantyi het die adresgedeelte afgesny. In die brief beweer die persoon dat hy oor baie sensitiewe inligting omtrent president Jackson Dube se besoek aan Parys beskik. Volgens die persoon bestaan daar eksplisiete foto’s van die president saam met ’n vrou. Erger nog, dis skynbaar geneem tydens die besoek aan Parys toe die president na bewering met wapenhandelaars onderhandel het.”

      “Eksplisiet soos in naak en in kompromitterende posisies?”

      “Wel, ek het nie die foto’s gesien nie. Ek neem so aan.”

      “Maar enige aap kan sulke bewerings maak. Waar is die bewyse?”

      “As jy sien hoe die minister gereageer het, is hier beslis rede tot kommer. Die probleem is dat die president ontken dat hy hoegenaamd daardie tyd in Frankryk was. Hy het blykbaar in die parlement gesê dat hy nie met die Franse oor wapens gepraat het nie. Maar hier is nou blykbaar foto’s.”

      “Maar dit kan nog steeds alles net valse bewerings wees.”

      Carla gaan staan en kyk stip na Bradley.

      “Bradley, die minister het na ek die vertaling gedoen het, die telefoon opgetel. Ek kon hoor dat hy in Xhosa iets in die lyn van “ontslae raak” gesê het. My eerstejaar Xhosa is genoeg om te kon verstaan. Terwyl ek nog in sy kantoor was!”

      “Hy het dus bevestig dat dit dalk wel gebeur het en dat die foto’s eg kan wees.”

      “En eers toe besef hy skynbaar dat ek nog in die kantoor is. Dis tóé hy met sy dreigemente teenoor my begin. Dat as dit ooit uitlek, ek so goed as dood is. Hy kan mos nie so met my praat nie. Ek kan nie meer so aangaan nie. Ek wil nie meer werk toe gaan nie. En ek dink iemand hou my dop. Ek sal nie verbaas wees as hulle ons nou dophou nie.”

      Bradley kan nie help om te kyk of daar inderdaad so iemand is nie. Daar is verskeie motors langs die see geparkeer en oral stappers en drawwers wat die laaste daglig gebruik.

      “Ons sal ’n plan moet maak. As die briefskrywer ernstig is en wel die foto’s pos of op die internet plaas, of die inligting lek uit, kan dit vir jou ook gevolge inhou.”

      “Hoe bedoel jy?”

      “Wel, minister Dyantyi kan vermoed dat jy dit aan iemand vertel het. Iemand soos ek byvoorbeeld, wat dit weer aan ’n mediakontak laat val.”

      Sy kyk vinnig na Bradley. Dit is asof die wind nou harder en kouer waai. Daar is boonop ’n groot, donker wolk bokant die see wat vinnig


Скачать книгу