In landsbelang. Quintus van der Merwe
Читать онлайн книгу.hy Carla by haar motor groet, is daar weinig wat hy kan sê om haar gerus te stel. Bradley besluit op die ingewing van die oomblik om Carla te agtervolg. Hy wil vasstel of iemand hulle dopgehou het.
Hy is redelik seker dat kontak met vreemdelinge of ongewone optrede gemonitor sal word. Hy het naby die restaurant parkeer en moet vinnig loop om by sy motor te kom voor sy te ver vorder.
Vir ’n ruk lank kan hy haar nie sien nie, maar toe hy by die Waterfront se sirkel kom, sien hy die grys Polo regs, stad se kant toe, draai. Daar is ’n paar motors tussen hulle, maar hy ken die pad goed en weet hy kan haar voor die stad inhaal. Bowendien is die kanse goed dat die verkeerslig by die Buitengracht haar ’n paar minute sal ophou.
Die suidwestewind het die Kaap nou behoorlik ingeval en slierte reën slaan hard teen die motor se ruite. Dit het vinnig donker geword en Bradley moet mooi kyk om die Polo voor hom op te spoor. Hy jaag by ’n paar stadige motors verby en sien tot sy verligting dat die Buitengracht-verkeerslig rooi is.
Hy weet Carla woon in Tamboerskloof en dat sy regs sal moet draai. Hy ry stadiger en posisioneer hom dat daar ’n paar motors tussen hulle is. Hy sal betyds moet wegkom, want die lig bly net ’n kort rukkie groen.
Bradley kyk na die motors tussen hom en Carla. Die swart Golf voor hom het ’n GP-registrasienommer en Bradley merk dat die bestuurder rondkyk. Dit sou ’n toeris kon wees, maar hy merk dat die bestuurder hom in sy spieëltjie dophou.
Die lig verander na groen, maar toe Bradley begin ry, stop die Golf skielik. Bradley kan nie betyds tot stilstand kom nie en ry met ’n harde slag agter in die motor vas.
“Wat de donner besiel die man?”
Bradley is onmiddellik kwaad. Die volgende oomblik word ’n blou lig op die Golf se dak gesit en klim die bestuurder uit. Agter hom het ’n polisievoertuig gestop en Bradley weet dat hy nie verder kan ry nie. Intussen volg Carla niksvermoedend die pad Tamboerskloof toe.
*
Toe Bradley en sy prokureur die polisiekantoor in Buitenkantstraat kort voor middernag verlaat, is hy steeds kwaad. Die polisie het hom lank aangehou, eers met ’n aantyging dat hy onder die invloed van drank bestuur het, maar nadat hy ’n asemtoets gedoen het en daar geen teken van alkohol in sy bloed gevind is nie, is hy steeds nie vrygelaat nie.
Hy het aangedring om die Kommissaris van Polisie te sien, maar hulle wou aanvanklik nie eers die stasiebevelvoerder laat kom nie. Eers nadat sy prokureur die provinsiale minister se kantoor geskakel het, is hy vrygelaat.
Bradley het al soms vir die minister regsadvies gegee en John Dyantyi het goed geweet wie hy is. Hy was lank genoeg betrokke by politici en weet hoe hul koppe werk. Dyantyi sou nie nou ongevraagde publisiteit wou hê nie. Maar hoekom die onnodige ongeluk?
Die volgende oggend bel John Dyantyi se kantoor vir Bradley.
“Is dit advokaat Bradley Walters? U praat met die ministerie van veiligheid en sekuriteit in die Wes-Kaapse provinsiale regering.”
“Dag, Ministerie. Kan ek help?”
“Giggel. Dis Minki wat praat.”
“My donner, Minki. Hoekom bel jy?”
Bradley is nie lus vir staatsdiens-maniertjies nie.
“Ekskuus, advokaat Walters. Ek skakel om te vra of dit u enigsins sal pas om ons minister te kom sien vanmiddag. Vieruur by die Wetgewer in Waalstraat.”
“Dis reg. Ek sal daar wees. Ek weet waar sy kantoor is.”
“Dis minister John Dyantyi, kamer 403 op die vierde verdieping, om vieruur. Pas dit u?”
“Ja, Minki, dit fokken pas my!” Hy sit die telefoon hard neer.
Toe Bradley die middag by Waalstraat 4 aanmeld om minister Dyantyi te spreek, weet die polisie by die ingang van sy afspraak en laat hom onmiddellik binne. Nie lank tevore nie moes hy sy eie kantoor in dieselfde gebou ontruim. Dit laat steeds ’n bitter smaak in sy mond.
Wanneer hy by die minister se kantoor aanmeld, nooi Dyantyi hom vriendelik uit om by hom in sy sitkamer te kom sit.
“Advokaat Walters. Ek wil graag om verskoning vra vir die arrestasie gisteraand. Ek kan verduidelik. Dit was heeltemal buite orde en ek sal toesien dat die skuldiges verantwoording doen.”
Bradley weet hy kan dit met ’n knippie sout neem, maar hy besluit om vir eers dit daar te laat. Hy ken vir Dyantyi en het eintlik nogal respek vir die erns waarmee hy probeer om die bendegeweld en misdaad op die Kaapse Vlakte aan te vat. Hy vermoed daar is ’n ander rede vir die ongeluk.
“Minister, ek is seker daar moet ’n misverstand wees. As jou mense my oor my kontak met Carla Simons monitor of probeer intimideer, kan ek sommer reguit sê julle mors jul tyd.”
“Advokaat, kan ek jou maar Bradley noem, ons ken mekaar mos. Dit gaan nie oor mejuffrou Simons nie. As sy met jou oor die vertaling gepraat het, is sy nie baie professioneel nie. Maar ek moes haar nie gedreig het nie.”
Bradley begin vermoed dat Dyantyi probeer uitvind hoeveel Carla vir hom vertel het.
“Kan ek aanneem dat jy haar in jou hoedanigheid as regsverteenwoordiger gesien het?” John Dyantyi haal swaar asem. Hy is ietwat oorgewig en dit lyk asof hy pas ’n paar verdiepings trappe geklim het.
Die twee mans kyk ondersoekend na mekaar. Bradley is nie meer bereid om die polities korrekte rol te speel nie. Hy werk nie meer vir die provinsiale regering nie, en het nie lus vir tydmors nie.
“Sy het my as vriend genader. Sy voel bedreig en bang en na wat ek gister gesien het, het sy skynbaar rede om so te voel. Ek beskou dit boonop as onwettig en ’n misbruik van staatsfondse om my sonder rede te arresteer,” sê Bradley, steeds ontsteld.
“Julle gaan my vir elke sent van my motor se skade vergoed.”
John Dyantyi glimlag.
“Bradley, ons sal alles betaal. Daar ís ’n ander rede hoekom ek jou laat kom het.” Hy staan op en stap na sy lessenaar.
“Kan ek jou maar op hoogte bring?” vra Dyantyi.
Hy vroetel in sy lessenaar se laai, haal ’n pakkie sigarette uit en bied vir Bradley aan.
“Ek weet ons mag nie in die gebou rook nie, maar reëls is mos daar om gebreek te word. Elke outjie het sy foutjie.”
Hy lag kliphard vir sy kwinkslag. Bradley skud sy kop. Hy haat rook. En mense wat in geboue rook.
“Dit hou nie verband met mejuffrou Simons nie, alhoewel ek vertrou dat die inligting nie gaan uitlek nie. Daar is ’n ander ding waaroor ek met jou wil praat. Dis groot sake hierdie met potensieel ernstige nagevolge.”
Hy leun vorentoe en praat sagter.
“Dit gaan oor Abdool Pillay.”
Hy leun weer terug in sy stoel, asof hy wil hê die woorde moet eers insink voordat hy hervat. Hy trek ’n slag hard aan die sigaret en blaas die rook eenkant toe. Bradley kyk die minister skepties aan.
“Die man het ’n bedreiging vir staatsveiligheid geword.”
“Wat het dit met my te doen?”
Bradley wonder of dit net ’n verskoning is omdat hulle hom onregmatig gearresteer het en nou die moontlike gevolge vrees.
“Ons weet jy ken die wet. Ek weet hoeveel jy vir die regering gedoen het voor jy jou pos verloor het. Ek weet hoe goed jy is, Bradley.”
Hy wag ’n rukkie, blaas weer rook uit venster se kant toe.
“Bradley, ons wil jou op kontrak aanstel. Die Pillay-vent beskik oor inligting wat nie alleen die kantoor van die staatspresident kompromitteer nie, maar inderdaad die land in gevaar stel.”
“Hoekom ek?”
Bradley wil agter die ware motief vir die aanbod kom.
“Jy is skoon. Jy het goeie werk vir die Skerpioene