In landsbelang. Quintus van der Merwe

Читать онлайн книгу.

In landsbelang - Quintus van der Merwe


Скачать книгу
word onderbreek toe die selfoon op sy gordel vibreer. Hy lees die boodskap, stap na binne en gaan sit voor die rekenaar. Hy sit sy oorfone op. Dis Nerine wat met hoofkantoor praat. Dit kan interessant word.

      “Goeiemiddag, ambassadeur. Hoe gaan dit in Parys? Ek hoop jy het al regte sjampanje gedrink.”

      “Dit gaan goed, dankie. Net regtig baie besig. Ek hardloop heeltyd rond en werk harder as wat ek ooit as parlementslid in Suid-Afrika gewerk het.”

      Johan herken nie die stem van hoofkantoor nie. Dis vir hom opvallend dat die man Afrikaans praat. Dit klink asof Nerine hom ken.

      “Ambassadeur, daar is inligting wat ek direk moet herlei. Ek vertrou dat jy dit as uiters geheim sal hanteer.”

      “Maar natuurlik. Laat ek hoor.”

      Johan sit regop. Sy verklap steeds nie die man se identiteit nie.

      “Die staat se hoofaankoper in die wapentransaksies het verdwyn. Jy weet Abdool Pillay staan onder verdenking vir bedrog en dat hy hierdie week in die hof moes verskyn. Die polisie vermoed hy het landuit gevlug.”

      Johan het ’n vermoede wat gaan volg. Afgesien van die bewerings van groot bedrae omkoopgeld aan die Duitse ThyssenKrupp in die laat negentigerjare, was daar ook aantygings van omkopery teen Franse maatskappye by die aankoop van wapens deur Suid-Afrika.

      “Ambassadeur, Pillay het voor jou termyn belangrike samesprekings met regeringslui in Parys gehad. Ons wil hê enige bewyse van daardie ontmoetings moet opgespoor word. Verstaan? Jy het in die parlement beweer dat jy kennis dra van wie die rolspelers in die beweerde bedrog- en omkoopaantygings is. Wel, jy weet nie. Jy gaan alle moontlike bewyse in die ambassade vind, ons laat weet wat dit is, en ons sal dan opdrag gee wat jy daarmee moet doen. Dis ’n opdrag. En as Pillay op ’n manier by julle uitkom, moet hy sonder versuim aangehou word en jy moet my summier kontak.”

      Daar is ruk lank stilte.

      “Ambassadeur Cloete, verstaan jy?”

      “Ek hoor jou. Ek sal uiteraard laat weet as hy ons kontak. Is daar aanduidings dat hy op pad Frankryk toe is?”

      Johan glimlag. Hier kom ’n lekker toets vir Nerine Cloete se lojaliteit. In Suid-Afrika word sy as Ms Clean beskou, die een wat al die korrupsie en bedrog kwansuis sou ontbloot en skuldiges aan die kaak stel. Nou word sy effektief gemuilband. Dit gaan regtig interessant word.

      “Ons weet nie. Daar is geen rekord dat hy die land verlaat het nie. Sorg jy net dat daar nie onwelkome inligting uit die Suid-Afrikaanse ambassade lek nie.” Daar is weer ’n lang stilte.

      “Daar is nog iets, ambassadeur Cloete.”

      “Sê maar.”

      “Ons het verneem dat daar foto’s van die staatspresident bestaan wat in Parys geneem is. Jy moet daai foto’s probeer kry. Dis in landsbelang. Niemand anders weet van hierdie opdrag nie.”

      Dan beëindig die man die gesprek. Johan hoor hoe Nerine haar gehoorstuk eers ’n paar sekondes later neersit. Hier kom pêre. Hoe gaan sy dít hanteer? Die onbekende beller is beslis een van haar seniors en die ou is nie baie diplomaties en taktvol nie.

      Johan gaan staan weer op die balkon. Sedert sy aanhouding het hy ’n konstante behoefte om in die buitelug te wees. Dit is 23 Augustus en die Franse hoofstad is lekker warm. Hy sien hoe mense langs die Seine drentel. Miskien kan hy bietjie in die son kom. Hy stap na Janet Naidoo se kantoor om te sê dat hy uitgaan, toe sy eie telefoon lui. Hy skrik ietwat toe hy die ambassadeur se stem hoor.

      “Johan, kan jy asseblief onmiddellik na my kantoor toe kom? Daar is iets wat ons dringend moet bespreek.”

      Johan Castelyn kan nie anders as om eers ’n slag in die spieël te kyk nie. Hy stap met ’n vonkel in sy blou oë na die ambassadeur se kantoor toe.

      “Die ambassadeur sal jou nou sien.”

      Die Suid-Afrikaanse buitelandse assistent, Charize, wat as sekretaresse en persoonlike assistent vir die ambassadeur diens doen, glimlag vriendelik. Sy staan effens terug om Johan die kantoor binne te laat. Johan is so bewus van Charize se borste dat hy oorkompenseer en in die deurkosyn vasloop. Charize bly diplomaties glimlag. Vir Johan het sy die selfversekerdheid van iemand wat gelukkig is met haarself en haar voorkoms. Daar is seker iemand wat haar gelukkig hou. Dit frustreer hom.

      Ambassadeur Cloete sit en skryf by haar lessenaar toe hy by die kantoor ingaan. Die vertrek ruik na vars blomme. Sy staan op en nooi hom na die sitkamergedeelte. Hulle gaan sit, ’n glas-koffietafel tussen hulle.

      “Johan, hoe gaan dit?” Sy glimlag vriendelik. “Is jy gelukkig met jou plasing hier?”

      Die oogkontak is gemaklik en kenmerkend van iemand wat gereeld en maklik met mense omgaan.

      “Ja dankie, ambassadeur.”

      “Jy is alleen hier, nè? Geen familie nie? Kan ek vir jou koffie aanbied?”

      “Graag. Dankie, ambassadeur.”

      Sy staan op en stap tot by die deur.

      “Charize, sal jy vir ons koffie bring asseblief?” Sy maak die deur toe en gaan sit weer by Johan.

      “Johan, ek het ’n opdrag vir jou.”

      “Hoe kan ek help? Is dit handelswerk of ander werk?”

      Nerine glimlag. Van die diplomatieke personeel by die ambassade is sy die enigste wat weet dat hy onder dekking werk.

      “Dis ander werk. Ek wil vir jou, eerder as jou kollegas, vra om my te help. Hierdie is ’n uiters geheime saak en ek vertrou dat dit tussen ons sal bly. Dit móét tussen ons bly.”

      “Vertel my meer. Ek kan doen met ’n bietjie opwinding. Ek is reeds ietwat verveeld met die kantoorlewe.”

      “Dis ongelukkig nie so opwindend nie.”

      Sy swaai haar een been oor die ander en merk dat sy oë die beweging volg.

      “Johan, ek het opdrag gekry om alle rekords van ’n besoek aan die ambassade te vind en te vernietig. Dis van omtrent ’n jaar gelede. Jy sal miskien weet dat daar al in die parlement gepraat is oor die aankoop van die wapens en dat daar beskuldigings van omkopery is.”

      Sy kyk na die deur toe. Effens senuagtig.

      “Ek moet jou in my vertroue neem. Ek weet nie wat jou eintlike opdrag hier in Frankryk is nie. Ek wil ook nie weet nie. Maar ek weet jy is ook nog maar kort hier, en dat jy nie ’n tropdier is wat maar net saam met die stroom beweeg nie.”

      Johan vind dit moeilik om verbaas of geïnteresseerd voor te kom. Hy weet reeds wat sy gaan sê, maar nou moet hy toneelspeel. Nerine leun na hom toe en praat sagter.

      “Die hoofonderhandelaar in die wapentransaksie het verdwyn. Hulle vermoed hy is landuit. Die Geheime Diens is op sy spoor en ons is gevra om uit te kyk vir hom.”

      Dit wil vir Johan voorkom asof die geharde politikus nou ietwat versigtiger optree, asof sy raad wil vra.

      “Jy weet dat ek hierdie hele storie aan die publiek wou oopvlek. Die wapenaankope.”

      “Ek verstaan. Ek is bewus daarvan.” Hy kyk vinnig na haar en fokus dan op die blomme op die tafel. “Het gewonder hoekom hulle jou uit die land uit wil hê.”

      “Ek het nooit gesê ek gaan stilbly nie. Ek is die laaste een wat iets onder die mat wil vee, maar nou word ek beveel om bewyse te soek en daaroor stil te bly.”

      Haar stemtoon styg en sy praat al vinniger. Johan kan sien dis vir haar ’n gewetensaak en dat sy nie weet hoe om dit te hanteer nie.

      “Ek weet nie met wie ek daaroor moet praat nie. Die ander diplomate sien my as ’n politieke aanstelling en vertrou dat ek met die regering ingeklits is en ’n direkte lyn na hulle toe het.”

      Daar is ’n klop aan die deur. Charize verskyn met ’n silwer skinkbord met koffie. Johan se vinnige opstaan om die skinkbord te neem word met ’n mooi glimlag begroet. Hy moet konsentreer


Скачать книгу