In landsbelang. Quintus van der Merwe
Читать онлайн книгу.iemand wat hom bangmaak nie.”
Dyantyi leun vorentoe, praat nog sagter met sy hees stem.
“Jy moet hom bevriend, maak nie saak wat dit kos nie. Wanneer nodig, sal ons jou verdere opdragte gee. Intussen moet jy hom net vind en ons op hoogte hou van wat die man doen en dink.” Hy leun weer terug. “Ek wil hom lewendig hê.”
“John, hou dit verband met die vertaling?”
Die minister kyk lank na Bradley, maar dan glimlag hy.
“So, dan het sy die inhoud met jou bespreek. Dis onwettig en ek kan haar laat opsluit daarvoor.”
Hulle kyk ’n ruk stilswyend na mekaar.
“Wat is jou antwoord? Gaan jy ons help?”
Bradley haal sy skouers op.
“Gee my tyd om daaroor te dink. Die regering het my sleg behandel na jare se lojale diens. Ek skuld julle niks, so julle gaan my vrek goed moet betaal om my hande met daai donner vuil te maak.”
Dyantyi het steeds sy opgeplakte glimlag.
“Dis klaar gereël, my broer. Hier is jou eerste betaling, as aansporing. Weet net dat hierdie iets tussen jou en my is. Alhoewel die kabinet weet dat ons moet optree, is alle detail en verantwoordelikheid aan my oorgelaat. Jy rapporteer alleen en direk aan my.”
Toe Bradley uitstap, wonder hy steeds of dit nie ’n rookskerm is nie. Dit was nie nodig om hom te arresteer nie. Miskien wil hulle hom net bangmaak en daarvan weerhou om die Carla-brief en dreigemente verder te voer.
By die Waalstraat-verkeerslig kyk hy vinnig in die groot, bruin koevert. Dit is gevul met pakkies tweehonderdrandnote. Soos hy vinnig tel, is daar eenhonderdduisend rand in.
4
Die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys is ’n swart marmergebou langs die Seine en staan uit tussen die ouer argitektuur van die omgewing. Binne is dit modern en funksioneel ingerig. Johan Castelyn het ’n groot kantoor aan die kant van die gebou en van sy klein balkonnetjie kan hy die Seine se stadige vloei deur die stad volg.
Een aspek waaraan hy nog moet gewoond raak, is dat hy nou saam met die ander agente agter ’n geslote deur van die diplomate geskei word. Hy het destyds tydens sy eerste plasing in Parys dikwels gewonder wat agter die geslote deur gebeur.
In Afrika was daar nie agente by die missies waar hy gewerk het nie, maar by die groot kantore in die wêreldstede fungeer die geheime dienste afsonderlik van hul Suid-Afrikaanse kollegas. Jy sien die kollegas in die hysbak en selfs tydens etes en by amptelike funksies, maar hulle praat nooit oor die aard van hul werk nie.
Die opleiding in Suid-Afrika het vinnig en sonder probleme verloop. Hy weet nou alles van telefone afluister, hoe om mense te agtervolg en hoe om kantore te “bug”. Dit gaan eintlik teen sy grein in om op sy kollegas te spioeneer, maar ten minste moet hy net op die ambassadeur konsentreer. Hy probeer al sedert sy aankoms twee weke gelede vasstel wie vir hóm monitor, maar is nog nie seker nie.
Saam met hom agter die geslote deur is daar slegs drie ander mense: ’n vrou, Janet, van Durban, en haar man, Essop, wat amper nooit op kantoor is nie. Beide werk vir NIA. Dan is daar ’n man van die weermag se Hoofdirektoraat: Intelligensie, Sipho Motsapi, wat ook die hoof van die afdeling is. Aangenaam op die oppervlak, maar nie iemand wat hy ooit sal kan vertrou nie.
Gelukkig hoef hy ook nie te veel met die Franse en ander geheime dienste te skakel nie, deels omdat dit nie sy opdrag is nie, maar hulle is daarvan bewus dat hy onder dekking as handelsattaché bekend staan. Slegs enkele Suid-Afrikaanse hanteerders weet wat sy werklike opdrag in Frankryk is. Sy ambassadeur, Nerine Cloete, weet dat hy onder dekking werk, maar nie sy óf die Franse Geheime Diens weet wat die fokus is nie.
Johan vind sy ambassadeur professioneel, maar ietwat afstandelik. Met haar swart hare en gladde bruin vel moet sy beslis Oosterse voorsate hê. Sy hou hom besig en is amper elke aand by een of ander funksie. Afgesien van die afluisterapparate in haar kantoor en in die ampswoning, kan hy haar telefoon, rekenaar en selfoonoproepe monitor. Hy hoef haar dus nie fisies in die oog te hou nie, alhoewel hy al gewens het dat hy kameras in haar huis kan installeer.
Die feit dat sy ’n veiligheidswag het wat as haar motorbestuurder dupliseer, kompliseer sake soms. Die ou is nogal suspisieus en doen sy werk goed. Die Franse bestuurder werk al jare vir die Suid-Afrikaanse ambassadeurs en ken Parys en sy boulevards besonder goed, maar die ampsmotor het in elk geval ook ’n mikroskyfie, indien hy haar sou wou volg.
Dit was aanvanklik vir Johan nogal opwindend om iemand so sonder haar medewete af te loer. Om as luistervink so baie van iemand se doen en late uit te vind, en tog geen invloed of bydrae te kan maak nie, is egter ’n vreemde ervaring. Hy wens soms hy kan haar oor sekere aspekte advies gee. Sy is maar nog ’n groentjie in die diplomatieke wêreld. Politieke aanstellings het nog altyd anders as beroepsdiplomate opgetree. Nou, in die derde week van afluister en monitor, is hy klaar baie gefrustreerd dat hy net kan luister en nie kan saampraat nie.
Hy moet homself aanhoudend herinner dat hy nou nie meer ’n gewone diplomaat en kollega is nie, maar ’n spook. Johan vermy dit om oor die moraliteit van spioeneer op iemand te dink. Dit gaan oor wat met die inligting gedoen word. As die staat die inligting sou gebruik om ’n voorsprong op die interne politieke speelveld te verkry, sou dit wel vir hom problematies wees.
Nerine Cloete is ’n lid van die grootste opposisieparty en sou daarom miskien ’n effense risiko vir die regering kon inhou. Hy dink egter nie sy kan veel skade hier in Parys aanrig nie. Hy het nog nie nodig gehad om enigiets suspisieus in sy verslae te vermeld nie. Sy is eintlik skoon en tot dusver was daar nog geen gesprekke of onderhandelinge met betrekking tot sensitiewe sake nie. Die enigste verwysing na wapens was ’n gesprek oor sanksies teen Zimbabwe met die Amerikaanse ambassadeur. Sy het tot nou toe glad nie Suid-Afrika se eie wapenaankope vermeld nie.
Johan dink gereeld oor hoe hy self vroeër in Wes-Afrika by wapenverkope betrokke geraak het. Dit was net alles so maklik. Hy het homself laat glo dat die strydende partye in elk geval wapens sou koop. Hoekom nie by hom nie? Hy het wel moeite gehad om homself te oortuig dat die diamante wat vir wapenaankope gebruik is nie die rede vir die voortbestaan van die oorloë was nie. Hy het self gesien watter verwoesting die voortdurende rebellies en burgeroorloë in Afrika-state veroorsaak. Maar hy het reeds sy straf uitgedien.
Hy is vir dood agtergelaat nadat die rebelle hom tydens hul ontsnappoging uit Togo raakgeskiet het. Sy Suid-Afrikaanse kollegas het vir weke lank probeer vasstel wat met hom gebeur het. Toe die regering formeel navraag gedoen het of hy dood is en of sy liggaam gerepatrieer kon word, het die nuwe Togolese regering die Suid-Afrikaanse regering ingelig dat hy in die gevangenis aangehou word. Na ’n lang tydperk van swaarkry, word hy nou ’n nuwe lewe gegun. Hy wil die beste daarvan maak.
Johan wonder soms by die vergaderings waartydens al die afdelings verteenwoordig is, of die ambassadeur ooit vermoed dat sy dalk dopgehou en afgeluister word. Tot nou toe vermy hy, om meer as een rede, onnodige oogkontak met haar. Hy is nog nie gemaklik met hoe hy haar tydens interaksies moet hanteer nie. Soms wonder hy of hy dalk onnatuurlik optree. Terselfdertyd fantaseer hy soms oor haar terwyl hy gesprekke afluister. Hoe sit sy terwyl sy oor die telefoon praat? Waaraan dink sy wanneer alles stil is in die kantoor? En tuis? Buiten vir die personeel is sy alleen in die groot ampswoning.
“Where do you go to my lovely, when you’re alone in your bed …?”
Johan staan op en stap na sy balkonnetjie. Hy moet vir hom ander afleiding kry. Hier is ’n stad met miljoene vroue aan sy voete. Hy moet net van die Suid-Afrikaners en plaaslik gewerfde personeel wegbly. As jy moeilikheid soek, moet jy met iemand by die ambassade ’n ding begin. Jy het nog nie aan ’n hand gevat nie, dan loop die stories die wêreld vol.
Hy wonder wat van sy Nederlandse lugwaardin geword het. Nadat hulle uit Togo gevlug het en hy deur die rebelle gevange geneem is, het hy eers ’n jaar later via ’n diplomaat wat hom in die gevangenis besoek het, gehoor dat sy steeds in Nederland