Tou. Piet Steyn

Читать онлайн книгу.

Tou - Piet Steyn


Скачать книгу
teen haar wang vas. “Wie’t gebel?”

      Hy vryf sag met die agterkant van sy wysvinger oor haar wang. “Kat kom my oplaai, ek sal moet gou maak.”

      “Ons kom nie meer bymekaar uit nie, ou grote … Jy moet versigtig wees.”

      “Moenie worrie nie, ou girl. Ek is te bang om dapper te wees,” probeer hy haar gerusstel, maar sy maag maak ’n draai as hy dink aan die implikasies van haar woorde. Hy is deesdae, met Ann en Tiaan in die huis, baie meer bewus daarvan dat die statistieke van polisiemanne wat aan diens geskiet word teen hom moet tel. Soos ou Giel altyd gesê het: “’n Man se beurt is jou beurt …” En toe kom sy ou vriend se beurt daar in daardie verskriklike dennebos in Mpumalanga. Bliksem! Sal daardie beelde hom dan nooit los nie. Hy staar nikssiende in sy koffiebeker. Is dit waaroor sy droom gaan? Hy gryp vererg sy handdoek van die stoel se leuning af, sit die koppie op die bedkassie neer en stap badkamer toe.

      “Jou koffie!” roep Ann agter hom aan.

      “Laat dit maar eers bietjie koud word!”

      In die storthokkie draai hy net die koue kraan oop en die yskoue water is soos naalde op sy vel. Hy snak na sy asem, woel die seep in sy oksels en sien hoe die skuim oor sy maag en teen sy bene afloop. Sy gedagtes tas weer na die nag wat verby is, na Tiaan se seswaaipie-doeke, na die bure se stoeplig en sy droom. Dis nie Giel se bos nie, dink hy. Dis nie die bos met swart stamme en skerp blaarnaalde en ’n man sonder duime teen ’n boom nie. Hierdie bos is kalm en rustig, die stamme van die bome is wit en die blare skitter en vonkel silwer as die wind daardeur gaan. Maar dan daardie monster!

      Pine pluk sy kop heen en weer, asof hy die gedagtes saam met die water wil afskud, draai die kraan toe. Bog. Dis die bangmaakstories van ’n kind! Hy stamp die stortdeur oop, reik na die handdoek.

      Maar die man met die een been … Wie is daardie donner? En laas nag was dit die derde keer dat hy natgesweet wakker geskrik het nadat daardie ou in sy kop rond gehinkepink het.

      ***

      “Jy lyk maar lekker kak, ou pel,” sê Kat toe Pine langs hom inskuif.

      Pine gaap. “Mmm,” brom hy terwyl hy die twak in die Keyser se kop met sy duim vasdruk.

      Kat hou die man met die breë brandewynbottelskouers en die ylerige swart borselkop uit die hoek van sy oog dop. Iets pla sy ou pel. Die blou denim en bruin windjekker wat hy aanhet, lyk of hy daarin geslaap het. Dalk is daar fout met Tiaan. “Hoe gaan dit met die laaitie?” vra hy.

      “Goed,” sê Pine kortaf. Hy krap in ’n vuurhoutjieboks rond na een wat nog ’n kop het.

      “Slaap julle al deur?” Kat probeer hard om ’n glimlag te ontlok, maar Pine beskou dit ooglopend as ’n simpel vraag wat nie ’n antwoord werd is nie.

      “Eintlik mag jy nie in die kar rook nie, dis staatseiendom,” sê Kat skoorsoekerig toe Pine die vuurhoutjie oor die boksie se swaelkant laat kras.

      “Gaan skyt, Kat,” grom hy tussen blou rookwolke deur. “Jy’s nie Ann nie. Verwag jy, of het jy dalk ’n baby op die agterste sitplek?”

      Kat sit sy donkerbril op. Hy vee ’n slag sy welige swart snor met die agterkant van sy hand uit sy mondhoeke, eers links, dan regs, voordat hy die Toyota met die geel en blou strepe in rat druk en vinnig wegtrek.

      Beddings oranje Namakwalandse madeliefies en plate geel affodille in die tuine langs die straat flits verby. Die grasperke se bleek wintergras en rypkolle weerkaats die son verblindend en Pine skuif sy donkerbril van sy voorkop na sy oë. Hy skuif die Z88 gemakliker op sy heup. “Waarheen is ons nou eintlik op pad?” vra hy met die kromsteel vasgeknyp tussen sy tande.

      “Vrededorp. Daar hang ’n paar perde aan hul nekke.”

      “Ag hel.” Pine sug en lê terug in die sitplek. “Ek aanvaar hulle is van die tweebeensoort, anders was dit ’n joppie vir die SPCA.”

      “Slaap jy, ek sal jou roer as ons daar kom.”

      6

      ’n Mens moet twee keer kyk om hom raak te sien, die man wat so stil teen die kant van ’n ou bushalte in die son sit en bak. Net die wit rook van ’n selfgedraaide sigaret wat uit die kant van sy mond hang, beweeg. Die rook kruip teen sy vuil baard op, irriteer sy regteroog en hang bokant hom in die windlose koue voor die flenters van wat ’n Omo-advertensie was. Die ou grys jas wat hy styf om sy maer lyf vou, die bos grys hare wat onder ’n vuil gebreide mus uitsteek en die welige baard laat hom byna volmaak met die omgewing saamsmelt, maak hom deel van die sypaadjie en die vaalgrys en verwaarloosde wintertuin van die huis agter hom.

      Vir die onoplettende verbyganger sal dit bes moontlik lyk asof die verwaarloosde ou man wat langbeen op ’n stuk karton sit, net nóg ’n hawelose is wat hier teen die genadelose koue van die Goudstad se strate skuil.

      Maar as jy goed kyk, is daar benewens die rook ook ander tekens van lewe: Die witblou waterige oë kyk stip oor die groot rooi neus en die vingerpunte met die swart naels wat by ’n paar gebreide moffies uitsteek vervat kort-kort aan ’n dik voosgevatte boek wat hy op sy skoot vashou. Sy blik is gerig op die bedrywighede by ’n huis reg oorkant die straat, en wanneer daar nog ’n polisievoertuig stilhou, vertrek sy mond in ’n effense glimlag wat gelerige hier-en-daar-tande ontbloot. Twee groot speurders klim uit en sy oë volg elke beweging. Die een is ’n dik kêrel sonder nek en met ’n kromsteelpyp in die mond, die ander ou is lank met ’n swart krulkop en welige snor. Die man langs die bushalte het oënskynlik genoeg gesien. Hy sukkel moeisaam regop, styf van die lang sit in die koue, gooi ’n vuil toksak oor sy skouer en skuifel in die straat af.

      ***

      Pine klim uit die motor en strek sy nek heen en weer – ’n motorkar is nie juis die gemaklikste plek om ’n uiltjie te knip nie. Kat het agter die bussie van die forensiese eenheid stilgehou. In die oprit staan ’n ambulans en ’n voertuig van die blitspatrollie. Die straat self is byna verlate en dit is net ’n boemelaar wat oorkant van sy rusplek opgestaan het en nou wegskuifel. Pine kyk die verwaarloosde figuur nadenkend agterna.

      “En nou?” vra Kat.

      “Nee, niks, ek dog ek sien ’n spook. Kom ons gaan in.”

      Kat kyk fronsend rond om te probeer vasstel wat Pine bedoel, maar volg dan gedwee toe Pine sy deur toeklap en begin aanstryk.

      “Lyk my na ’n groot paartie,” brom Pine, klop sy pyp teen die skewe hekpaal uit en stoot die skewe ysterhek verder oop.

      Die huis dateer opsigtelik van die middel-1930’s, vierkantig en met sierstene tot vensterbankhoogte, van daar witgeverfde pleister tot dakhoogte. Die rooi sinkdak skilfer erg af en plek-plek wys die geel onderlaag. ’n Verwaarloosde huis met ’n verwaarloosde tuin, heeltemal in harmonie met die res van die straat.

      Pine en Kat word op die reguit sementpaadjie wat plek-plek deur oranje opslagblommetjies omsoom word deur speurder-inspekteur Jerome Williams tegemoet gestap. Sy hande is diep in ’n blou parka se sakke, sy nek weggetrek in die opgeslane kraag, ’n bofbalpet laag oor sy donker oë.

      Pine loop stadiger en wag hom dan in. “Yes, Jerome,” sê hy, “hoe lyk dit daar binne?”

      Die jong man knik. “Nee, hel, Sup, julle moet maar self loop kyk wat dáárbinne aan die happen is. Dis meer violent as die Americans se gangfights oppie Cape Flats.”

      Wanneer Jerome oorslaan na sy Kaapse dialek is hy óf moedswillig óf ontsteld. Pine kan in sy oë sien hy is nie nou moedswillig nie. “Wat het gebeur?” vra hy.

      Jerome draai hom skuins in die huis se rigting, haal sy pet af en beduie. “Dáá …” hy bly ’n oomblik stil asof hy dit nog nie kan glo nie, “dáá binne hang drie lanies aan hulle se nekke met sukke funny tickets op hulle se borse gepin. Soos ’ie djuts allyd sê: ‘Aan djulle nekke tot djulle vrek is’.” Hy sit sy pet terug op ’n kaalgeskeerde kop wat blink in die oggendson, daar is nie ’n teken van sy normale geestigheid op sy gesig nie. “En vrek ís hulle, Sup! Gelynch soos in mob justice. Noose ommie nek, broeke nat gepis,


Скачать книгу