Tou. Piet Steyn
Читать онлайн книгу.hou die prosessie met skrefiesoë dop. “Hulle behoort vir daardie vigilantes medaljes te gee,” brom hy.
“Jy kan nie so sê nie, demmit, Kat,” berispe Pine hom, maar hy doen dit halfhartig, sy stemtoon vertroulik eerder as skerp.
“Hoekom nie?”
“Omdat jy ’n polisieman is, dis hoekom.”
’n Ruk lank staan hulle in stilte en kyk hoe die drie lyke in die ambulanse gestoot word.
“Het jy al gedink dat daardie A5 joune kon gewees het met Tiaan en Ann …”
“Ja, verdomp, ek het,” sê Pine kortaf. “Kom ons ry.”
8
“Kassie!”
“Hmm?”
“Is daar nog ys?”
“Mmm. Altyd.”
“Nou gooi ietsie, my hel!”
“Gee kans, Kris. Hier gaan nou iets gebeur, watch net.”
Kassie en Kris, dis die twee in die kampstoele wat die poliesmanne aan hul vislyne so aandagtig sit en dophou. Hulle hoort eintlik nie bymekaar nie. Hulle behoort na regte nie eens vriende te wees nie, hulle verskil te veel. Kassie is klein, maer met ’n ronde bleek gesig, ’n swart dikraambril en ’n bokbaardjie. Sy swart hare, altans dit wat nog daarvan oor is, is ’n donker ring om die kaal koepel van sy kop. Kassie Kasselman is ’n klerk in die mynkantore, die “pay office”, en sy hande is sag en wit. Kris is groot en grof gebou, met ’n pens wat oor die lyfband van sy broek beur. Kris Freislich werk ondergronds, in ’n afbouplek. Sy hande is hard en stukkend van die gespook om die goud uit die aarde te myn – kilometers onder die oppervlak.
Onwaarskynlike pelle. Maar hulle ís, van kleintyd af. Hulle is ook bure, in die Merriespruit-uitbreiding van Virginia, anderkant die begraafplaas en onder die slikdam se wal. Met die modderramp van die 1990’s is Kassie se huis rakelings gemis. Die Freislichs was nie so gelukkig nie. ’n Deel van hulle huis het in die siedende stroom modder verdwyn, en daarmee saam Baby, hul dogtertjie wat lê en slaap het. Dié nag het hulle desperaat in die stinkende moddergemors rondgekrap, op soek na Baby. Saam met die woonbuurt se mense het hulle wanhopig geploeter, in die swart nag in geroep, gegil en later net stil gehuil.
Toe die son daardie oggend rooi opkom oor ’n verwoeste grys maanlandskap, het Kassie soos ’n spook uit die toegeslikte vlei gestap gekom. Hy was van kop tot tone bedek deur die sementagtige, klewerige gemors, ook dit wat hy in sy arms gehou het, was gehul in hierdie slymerige grysheid. Soos ’n wandelende standbeeld het hy gelyk. Maar die bondel in sy arms het geroer – Baby! Op daardie oomblik is die vriendskap tussen klerk en myner as’t ware vasgesement, ondanks alle verskille. Kris se swart Harley-Davidson lê tot vandag toe nog iewers in daardie modderige vlei begrawe; saam met sewentien ander wat nie so gelukkig soos Baby was nie.
Hier waar hulle in ’n inhammetjie tussen die riete sit, ’n hanetree van waar Voortrekkerweg oor die Sandrivier loop, sien albei hoe die een wit poliesman stadig begin beweeg. Maar soos iemand wie se kragte skielik ingee, val dit terug in die vaalbruin water.
Kris hou hom fyn dop; gereed vir enige skielike beweging. “Toe, roer jou gat,” fluister hy, “ek het nie heeldag tyd nie.” En as ’n nagedagte, terwyl hy ’n sigaretstompie van hom wegskiet: “Banggat.”
“Gee hom tyd, Kris, moenie haastig wees nie, dis ’n grote daai,” sê Kassie nadat sy aandag momenteel deur die sissende stompie op die swart modder afgelei is. “Die kleintjies byt nie so in die winter nie. Hy gaan ’n gat van jou maak, so watch hom.” Kassie lê terug in sy groen Campmaster-seilstoel, sy dop in die houer van die armleuning tydelik vergete. Die middagson bak warm op sy maer lyf; hy trek die laphoed laer oor sy voorkop om die weerkaatsing van die water uit sy oë te hou, hy wil niks van dié sports mis nie.
Kris waag dit om met sy een hand die Klippies-en-Coke onder sy stoel uit te haal. Skielik ruk die poliesman weer regop en hy los die glas. Daar is in elk geval nog net ’n paar waterige stukke ys in. “Kom nou, moenie jou soos ’n bleddie slegte platpoot gedra nie. Ek is reg vir jou, jou pes,” gesels hy sag met die stukkie deeg aan die lyn.
Dan begin die poliesman weer regop kom, maar hierdie keer nie soos ’n moeë man nie – dit lyk of hy gatvol is vir Kris se gekerm.
“Watch hom, ou pel,” sê Kassie, “dis nou sulke tyd.”
Kris gaan sit op sy hurke agter die stok, maak seker die briek is los. Kassie glimlag vir die stuk wit rug en boudspleet wat bokant die man se rooi onderbroekrek uitsteek – ou Kris se trademark. Sy pens laat nie meer ’n lyfband aan sy bokant toe nie.
Met elke spier gespanne en elke sintuig tot die uiterste gefokus op die stukkie deeg wat weer rukkerig op en af beweeg, haal hy vir oulaas, vóór die aksie begin, sy verbleikte Cheetah-keps af en krap met ’n swart vingernael in sy geelgrys hare, vee die sweet van sy rooigebrande gesig af en spoeg op sy hande, vat die stok se kurkhandvatsel stewig vas. Dan, asof van nêrens, is daar ’n helse lawaai! ’n Motorboot jaag voor hulle verby en die lyn met die stukkie deeg word slap en val terug in die modder.
Kris swets, hy weet dis verby. Geen ordentlike karp kan onder sulke omstandighede vreet nie. Hy spring op, smyt sy oranje pet op die grond en swaai sy vuis agter die boot aan. “Jou dooie hel!” skree hy. “Vat daai eierklitser van jou en gee pad! Ons vang vis … jou kak!”
Die man op die boot kan hom nie hoor nie, maar hy ken die tekens. Met albei sy middelvingers in die lug en sy mond groot oop soos hy lag, sleep hy ’n meisie in ’n bikini op ski’s by die twee vissermanne verby.
“Jy’s lekker grootbek, jou moer! Kom hier dan druk ek daardie vinger in jou gat op!” skree Kris briesend en gooi ’n stuk kerriepap agter die boot aan.
“Stadig, Kris,” probeer Kassie hom kalmeer. “Waar moet hulle nou anders ski?”
“Ek gee nie ’n hel om nie. Vir al wat ek omgee op die bleddie slime-damme,” blaas hy en tel sy glas op wat met die konsternasie omgeval het. “Wie de hel is dit in elk geval? Ek ken die windgat glad nie.”
Kassie hou sy hand uit vir die leë glas. “Dis die nuwe Under-ground Manager. Jy sal hom nog nie ken nie.”
“En die poeding op die ski’s, met die bikini?”
“Seker sy dogter. As jy haar bates so in die verbygaan kon waardeer, kan jy nie té kwaad wees nie.”
“Man, dis die Sandrivier hierdie.” Kris beduie met sy arms wyd gesprei asof hy die rivier met sy doringbome en blinkblaar-wag-’n-bietjies wil omhels. “Vandat ek ’n laaitie is, is dit my spot hierdie, hier onderkant die brug.” Hy tel brommend sy pet uit die modder op. “Ek kan maar net so wel weer uittrek en pap aansit.”
“Wag net eers totdat hy weer terugkom, anders skiet jy wragtig ’n koronêr. Kom ek gooi vir jou nog ’n kap.”
“Jy is seker maar reg. So ’n tweevingertjie vir die moerigheid en stadig met die Coke en ys, dit gee my sooibrand.” Kris vat die hervulde glas by Kassie, steek ’n Lexington aan en lê terug in sy stoel. Hy wikkel sy kaal tone van frustrasie. “Die bliksem, nou moet ek weer aas ook brei.” Hy neem ’n lang teug uit die glas.
“Hoe gaan hy af?” vra Kassie.
“Nee, hy loop mooi. Thanks, pel.”
Die motorboot kom terug en die man het steeds dieselfde grynslag op sy gesig en weer ’n middelvinger in die lug.
“Gee pad, jou gemors!” skree Kris en gooi die laaste stuk kerriepap agter die boot aan. Die meisie op die ski’s waai vriendelik. “Ag, fok jou ook,” brom hy toe hy weer sy sit kry.
Kassie sit met ’n glimlag aan sy bokbaard en trek. “Jy moet stadig, hy’s darem ’n manager,” roer hy sy ou vriend se moerigheid verder om.
“Te hel met hom, ek werk nie vir hom nie.” Kris tel sy stok op en katrol in.
“Ek