Arendsnes. Dirk Jordaan
Читать онлайн книгу.goed. “Wat’s fout, Anton?”
“Niks nie.”
“Toe nou, jy kan nie iets vir ’n speurder wegsteek nie,” sê sy en probeer hard glimlag. “Praat met my.”
Hy sug, sit die afstandbeheer neer en draai na haar toe. “Beteken dit jy gaan elke aand so laat by die huis kom?”
Sy voel effe verslae. Sy was dan so opgewonde oor haar suksesse van die dag. “Soms, hoekom?”
“Dis great dat jy nou ’n speurder is, deel van die Valke is, maar dis nie wat ons in gedagte gehad het nie. Ons het gedink dit sal beter gaan. Jy kom al later hier aan en die werk sluk jou in. En dis omtrent al waaroor jy kan praat …” Hy kry dit nie reg om die klank van beskuldiging in sy stem te verbloem nie.
“Hierdie is my groot kans, Anton. Dis waarvoor ek gewag het, waarvoor ek opgelei is. Ons het tog geweet dit kan ook gebeur. Dit kom saam met die territory.”
“Ek weet, ja, maar … Toemaar, los dit.”
“Net hierdie een, dan sal dit rustiger gaan. Ek kan met hierdie saak my merk maak.”
“Oukei.” Hy kyk weg. “Ek gaan slaap, dis ’n skooldag môre.” Hy staan op en sit die televisie af.
“Ek kom nou, ek wil net eers gaan bad.”
Hy stap by haar verby. Sy hoor hom in die badkamer, hoor die kraan kortstondig oopgaan terwyl hy sy tande borsel. As hy net wil verstaan hoe belangrik dit vir haar is. Sy kan aanvoel sy is op dié punt in haar loopbaan waar alles wat sy moes deurgaan, skielik gaan sin hê. Waar die opofferings die moeite werd gaan word. Maar sy weet ook dat hul wêrelde nog altyd verskil het. Hy is per slot van sake ’n ingenieur, ’n man wat elke dag met syfers werk in ’n omgewing waar dinge reg of verkeerd is. Waar swart swart is, en waar wit wit bly. Hy werk nie met mense en hul swakhede en booshede nie, maar met die vastighede van ’n syferwetenskap en met materiale soos staal en beton.
Hulle het mekaar by ’n muurbalbaan ontmoet, in ’n gimnasium. Hulle het begin gesels en ’n muurbalafspraak vir die volgende dag gemaak. Nadat sy die baan se vloer met hom gevee het, was daar geen keer nie – sy was vir hom ’n uitdaging. Hy is nie die aantreklikste man wat sy al ontmoet het nie. Hy lyk meer of hy in die voorry van ’n rugbyspan hoort as agter ’n lessenaar, maar sy humorsin en vasberadenheid het die deurslag gegee en drie jaar later is hulle getroud. Vanaand, hier op die rusbank, voel dit reeds soos ’n leeftyd gelede. Sy kan nie eens onthou wanneer laas hy haar opsetlik laat lag het nie.
Hulle het saam gebou aan ’n lewe bymekaar, saam hul ambisies teenoor mekaar uitgelê en saam hierdie blyplekkie gekoop. Hulle was saam bly toe sy bevorder is, want dit het ’n bietjie van die finansiële druk van hulle afgehaal. Maar dit was nie lank voordat Johan sy opwagting gemaak het nie. Kinderuitgawes het daardie geldelike voorsprong gou-gou opgevreet en deesdae voel dit vir haar asof hulle weer terug is waar hulle was. Anton wag op bevordering, werk elke dag in die hoop dat hy eendag ’n junior vennoot gaan word. Maar hy het die verkeerde velkleur, bly hy bitter sê. As hy net lank genoeg by een firma wil bly, het sy weer gedink. Sy durf dit egter nie sê nie. Sy weet al wat sy finale verweer sal wees: “Ek is nie jou pa nie. Al wil jy hê ek moet soos hy wees!”
Boonop wil hy ’n tweede kind hê. “G’n laaitie behoort alleen groot te word nie,” meen hy.
Sy weet hy’s reg, maar hy’s nie die een wat al die hormoonveranderings en swaardra moet deurgaan nie. Veral noudat sy op die drumpel van ’n belangrike nuwe deel van haar loopbaan staan, sien sy nie kans nie. Miskien ’n bietjie later.
Die bevordering tot speurder en later die oorplasing na die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke was nie net ’n finansiële uitkoms nie. Sy kon ook ontsnap aan die ongereëlde ure van patrolliewerk, die laatnagstudeer vir haar speureksamens en die beklemmende omgewing van die aanklagkantoor. Dis nie dat sy nié van haar werk gehou het nie, maar daar op grondvlak is dinge soms moeilik. Dit was veral moeilik net voordat sy speurder geword het, met ’n nuwe stasiebevelvoerder wat dinge vir almal rof gemaak het. Soms het die bevelvoerder selfs geweier om Engels te praat op die oggendparades. Dan het Lydia maar net haar pantserbaadjie opgetel en uitgestap na die patrollievoertuig toe. Sello sou wel vir haar verduidelik wat die Sotho-opdragte vir die dag was.
Nadat sy haar laaste speureksamen geslaag het, het die toekoms blinker gelyk. En toe die Valke gevorm word, het sy ’n lang kans gevat en aansoek gedoen. Sy het wonderbaarlik ’n aanstelling gekry. Sy het baie hard gewerk tot nou toe, maar weet dat sy ook dankbaar behoort te wees. Daar is uiters min wit, en veral vroulike, lede in dié direktoraat. En sy word gereeld daarop attent gemaak.
Dinge word nooit werklik makliker nie, besef sy. As dit op die een front beter gaan, is daar weer iewers anders waar dinge moeilik raak. Soms voel dit vir haar of almal net altyd iets van haar wil hê, haar konstant onder druk wil hou.
Sy sug, sluk die laaste van die wyn, staan op en gaan sit die langsteelglas in die kombuiswasbak neer. Die donkerrooi sediment onder in die glas lyk soos dag oue bloed, ’n rooi kolletjie wat ’n forensiese bewysstuk, ’n leidraad, behoort te wees.
Iewers in die nag dryf Lydia op uit haar diep slaap, veroorsaak deur moegheid, ’n warm bad en die glas wyn. Sy maak nie haar oë heeltemal oop nie; sy’s nog in ’n grys newelwêreld waar die slaapkamer met sy skemerlig in ’n vreemde vorm surrealisties om haar kokon, die mure nie reghoekig nie, maar gekrom soos ’n koepel oor die bed, net buite sig in ’n dromerige wasigheid.
’n Hondjie kef iewers – ’n eensame, reëlmatige geluid, met perfekte tussenposes, soos ’n duikbootsonar wat die nag ingestuur word. Asof die dier wil seker maak hy’s nie alleen in die wêreld nie.
Sy lê op haar regtersy, haar bene effe opgetrek. Sy is bewus van Anton agter haar rug. Die duvet is styf om hulle getrek as gevolg van die vroegoggendkoue, hul lywe is in die nag deur die koue tot teenaan mekaar gedwing. Sy hand is op haar bobeen en sy voel sy asem in haar nek, voel hoe dit haar hare, bevry van die werkdrag se poniestert-rekkie, liggies beweeg. Sy hand skuif op tot op haar heup en begin stadig daaroor vryf, voordat dit om die hoek van haar heupbeen gly, onder die rek in van die manspajamabroek wat sy dra, tot in haar lies. Die teken is onmiskenbaar. Sy strek haar bene reguit en draai, stadig, tot op haar rug, na hom toe.
Hoofstuk 5
Die kliprant strek weerskante van hom uit soos die borswering van ’n oeroue natuurlike kasteel, die rotse ’n ry knopperige uitsteeksels op die rant se rug.
Kalvyn Botha skep asem op een van die rotse, sy stapkierie dwars oor sy skoot en die sonstrale op sy skouers. Die laatmiddagson is nog helder, maar die rant gooi reeds ’n breë skaduwee oor die vallei daaronder. Die hond ritsel iewers laer af deur die wintervaal gras, snuffelend op soek na ’n niksvermoedende prooi.
Van hier kan hy die plate doringbome sien wat met mekaar skouers skuur en die ligter groen ruigte van vaderlandswilgers, wit-stinkhoutbome en riete al langs die rivier af. Dit is daar waar hy die bloekombome laat afsaag het en waar die ongenooide wattelbome steeds staan. Dit is ook waar hy die eerste keer gesien het hoe ’n riet werklik rittel in die sterk stroom van die rivier wat afkom, en wat hom die gesegde “bewe soos ’n riet” laat verstaan het.
Hy kyk in ’n suidwestelike rigting en sien die nok van sy huis se vaal grasdak ver onder hom tussen die bome uitsteek. Sy wegkruipplek, sy stukkie plaas, sy skans teen die wêreld daar buite. Maar dan val die spitsdakke in die verte hom weer op. Hulle versprei so vinnig, die rykmansbuurte in die noordooste van die hoofstad groei so snel, dat hul gestapelde rooi dakteëls byna maandeliks nader kruip. Soos Monopoly-geboutjies lyk hulle van hier af. Hy weet dat die dubbelverdiepings wat in gelid agter die hoë mure saamgehok staan, al meer word, en die geïsoleerde kleinhoewe wat hy jare gelede gekoop het, glad nie meer so ver van die stadsgedruis en -verkeer is nie.
Hy sug, tel die stok van sy skoot af op en staan op. ’n Voëltjie vlug skril tussen die gras regs van hom uit met die hond kort op sy hakke. Botha fluit in daardie rigting. Die baksteenrooi rifrug stop, tel hygend sy kop op, sien hom raak en vleg dan sy pad tussen klip en graspol in sy rigting, al sturend met sy