Rebecca. Wilna Adriaanse
Читать онлайн книгу.so uitsoekerig soos julle wil beweer nie. Ek wil net nie meer my tyd mors nie. As daar korter paaie is om my doel te bereik, dan gaan ek hulle neem.”
“Amen,” kom dit spottend van William. “Kom ons drink op die kortpaaie van die lewe.”
Deborah snork misnoeg terwyl die ander twee hulle glase lig.
“Wat doen ons vanaand?” verbreek Rebecca die stilte.
“Daar speel vanaand ’n nuwe jazz-band by die winkel. Ek het gesê ek sal ’n draai maak en van daar af kan ons nog besluit,” antwoord William haar toe Deborah net skouers optrek.
Hulle spreek af hoe laat hulle mekaar by William se musiekwinkel kry en dan staan William en Rebecca op.
“Wil jy ’n lift hê?” vra William.
Rebecca knik. “Dit sal gaaf wees, aangesien jy daar by my plek moet verbyry.”
“Wat byt op die oomblik vir Deborah?” wil William weet toe hulle in die motor sit. Hy sit die flikkerlig aan en wag vir ’n opening in die verkeer.
“Sy het die laaste tyd ’n paar dates from hell gehad.” Rebecca draai haar kop om hom te help kyk vir aankomende verkeer.
“Wat het van Pierre geword?”
“Deborah het nog altyd eerder vir die bliksems as die prinse gegaan. Ek dink sy verbeel haar sy is nie goed genoeg vir die Pierres van hierdie wêreld nie.”
“Is dit nie ’n besluit wat hý moet neem nie?”
“Hm, ek dink hy is nogal erg oor haar, maar sy is ’n masochis as dit by mans kom. Hoe slegter hulle haar behandel, hoe meer hou sy van hulle.”
“Dink jy dit kan werk tussen hulle?”
“As hulle mekaar aanvaar soos hulle is en nie probeer verander nie. Mense moet mekaar vat soos hulle is en as jy nie kans sien vir die een nie, soek dan iemand wat presies is soos jy wil hê. Op daardie manier wag daar geen onaangename verrassings op enigeen nie.”
“Sê die kenner van verhoudings!”
Rebecca kyk gesteurd na William. “As ek jy is, bly ek liewer doodstil. Ek sien ook nie juis vordering met jou projek nie.”
Hy vee met sy hand deur sy hare en gee ’n selfbewuste laggie. “Ek moes jou ook nooit vertel het hoe ek voel nie.”
“Ek is nie onnosel nie. En in elk geval lees ek jou soos ’n boek. Jy was van die eerste ontmoeting af belustig vir die mooie mizz Robberts.”
“En wat het dit my nou al in die sak gebring? Ek wens net ek kan eendag ’n vrou se kop verstaan. Daarna sal ek ’n gelukkige man kan sterf. Dis seker nie te veel gevra nie en dis nie asof ek vra om jóú te verstaan nie.” Hy kyk tersluiks na haar.
“Wat bedoel jy daarmee?”
“Sommige vrouens is rillers, ander is soos kookboeke – vol resepte, nog ander is romanses, maar jy, Rebecca Fagan, is ’n geslote boek. Ek weet nie waaronder ’n mens jou kan klassifiseer nie.”
“Ek verkies dit op die oomblik so.” Sy beduie vir hom na ’n stilhouplek. “Stop sommer hier, jy gaan nie nader plek kry nie.”
“Jy weet ek is nie vreeslik kieskeurig of materialisties nie, maar dink jy nie dis tyd dat jy uit hierdie hool trek nie?” Sy blik gaan oor die verskeidenheid karakters wat bo-oor die balkonreling van die gebou hang en hy waai terug toe ’n paar vir hom waai. “Dit lyk soos die Verenigde Nasies.”
“Ek het ten minste ’n bed en ’n kamer en ek het nog al my vriende. Die vinnigste wat ’n vriendskap tot niet gaan is as ’n mens op jou pelle se nekke begin lê.”
“Hoeveel keer het ek al vir jou gesê jy sal nie op my nek lê nie?”
Rebecca leun oor en soen hom op sy wang. “Glo my, dis beter so.” Sy maak die deur oop en spring vinnig uit. In die wegstap lig sy haar hand om totsiens te sê, sonder om te weet of hy vir haar kyk.
“Wanneer stel jy ons aan die mooi musiekman bekend?” wil ’n blondekop- Hollandse meisie van die balkon af weet.
Rebecca lag op na haar toe. “Hy is nie beskikbaar nie.”
“Dis wat jy altyd sê,” roep ’n ander een beskuldigend.
“Hy is gay,” roep Rebecca terug terwyl sy deur die voordeur verdwyn en die trappies twee-twee ophardloop.
“Ek dink jy wil hom net vir jouself hou,” spot die blondekop toe Rebecca op die balkon uitstap.
“Wat wil julle in elk geval met ’n Suid-Afrikaner maak?”
“Ek vind Suid-Afrika en sy mense tog baie interessant,” antwoord die donkerkop wat Rebecca vroeër verwyt het. “Of miskien moet ek sê ek vind die Suid-Afrikaanse mans tog interessant.”
“Julle lyk soos aasvoëls op soek na prooi,” klink ’n manstem agter hulle op en ’n donker Keniaan kom staan met sy rug teen die balkonreling.
“Die vooruitsigte lyk maar skraal,” sug die blonde meisie. “En Rebecca wil ons ook nie aan haar ryk vriende voorstel nie.”
“Wie wil ’n ryk man hê?” Rebecca skud haar kop.
“Ons!” koor ’n paar stemme gelyk.
Rebecca draai om. “’n Ryk man is soos ’n granaat,” roep sy oor haar skouer terug. “Al daardie rooi pitte lyk vreeslik belowend, maar op die ou end kry jy niks vir ’n klomp moeite nie.”
“Ek gee nie om vir moeite nie,” antwoord die donkerkopmeisie beslis. “En gelukkig weet ek nie hoe ’n granaat lyk nie!”
Rebecca waai oor haar skouer. “Dan moet jy miskien een in die hande probeer kry. Jy kan jouself baie moeite bespaar.”
Sy stap die gang af en sluit ’n deur onder ’n trap oop. Die ligskakelaar is ’n toutjie wat uit die dak hang en toe sy dit trek, skakel ’n enkele gloeilamp in die skuins plafon aan. Die vertrek onder die trap is is net groot genoeg vir ’n klein enkelbed en ’n piepklein bedtafeltjie, maar dis ten minste privaat, dink Rebecca vir die soveelste maal.
Sy haal ’n handdoek van die haak agter die deur af en bid woordeloos dat daar warm water in die storte is. Dis gelukkig vroeg en die meeste inwoners het nog nie begin regmaak om uit te gaan nie. Dit maak egter ook nie saak nie. Teen dié tyd is sy in elk geval gewoond aan koue storte. En die beste verweer is om nie daaraan te dink nie. Dis ’n les wat sy vroeg in haar lewe geleer het. Sy tob nie oor dinge waaraan sy niks kan doen nie.
Toe die straal koue water haar tref, trek sy net haar asem in en blaas dit stadig weer uit voordat sy met energieke hale die dag se hitte begin afwas. Haar kopvel tintel byna pynlik van die koue water, maar hoe langer sy bly staan, hoe beter raak dit. Sy wens sy kan haar soos ’n hond droogskud. Die dag soos waterdruppels van haar lyf af laat wegspat.
2
Rebecca weet sy moet net geduldig wees. Die een of ander tyd sal sy ’n kans kry om deur die veiligheidsbeamptes te kom. Daar is in elk geval soveel mense by die laaste dag van die groot gholftoernooi dat die beamptes sekerlik hulle hande vol het. Selfs sy verkyk haar aan al die wie’s wie wat hier vergader is. Afgesien van al die bekende gholfspelers is daar ’n groot aantal glanspersoonlikhede wat aan die liefdadigheidstoernooi deelneem.
Sy wonder stilweg wie die meeste by sulke geleenthede baat. Die bedrag geld wat aan die einde van so ’n toernooi aan die gelukkige instansie oorhandig word, is waarskynlik nie ’n kwart van dit wat die borge daaruit maak nie. Sy kyk na die versameling advertensieborde langs die baan. Dis asof mense nie meer hulle eie oordeel vertrou nie. Hulle het iemand nodig om vir hulle te sê watter tipe tee en toiletpapier hulle moet gebruik. Die ergste is waarskynlik die sportwêreld. Daar is letterlik ’n skoen en ’n handskoen vir elke geleentheid. En bewaar jou as jy dalk met jou stapskoene gaan draf of jou drafskoene vir tennis gebruik. Jy is gedoem om vir die res van jou lewe met ’n verkromde ruggraat en knobbeltone te