Rebecca. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Rebecca - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
sug hoorbaar en die frons tussen sy wenkbroue verdiep.

      “Doktor Hoffman, jy is ’n besige man en ek gaan nie jou tyd mors nie, maar ek wil ook nie myne mors nie. My akademiese rekords is beskikbaar as jy daarna wil kyk. Ek kan al die plekke waar ek sedert my skooldae gewerk het, kontak en vra hulle moet vir jou verwysings stuur waarin hulle verklaar dat ek ’n goeie werknemer was en nie gesteel het nie, maar ek en jy weet dis ’n mors van tyd. Hulle kan enige iets op daardie stuk papier skryf. Mense soos jy behoort deur die jare genoeg mensekennis op te doen om te weet wanneer hulle iemand kan vertrou en wanneer nie. Jou voorgeslagte en jy het nie hierdie maatskappy gestig en uitgebou sonder om soms kanse te waag nie. Om my aan te stel is maar net nog ’n kans.”

      “Daar is ’n groot verskil tussen berekende en onberekende kanse.”

      “Waarom het jy my dan vandag laat kom?” Rebecca weet nie waar haar ergerlikheid vandaan kom nie. Dis ’n emosie waarmee sy baie spaarsamig omgaan.

      “Jy het my Saterdag in ’n goeie bui gevang en ek het toevallig vanoggend ’n halfuur beskikbaar gehad.”

      Sy kyk op haar horlosie en staan op. “Jy is ’n gelukkige man. Ek het nie vanoggend ’n halfuur gehad om te mors nie.”

      “Hoe het jy geweet ek gaan Saterdag by die gholftoernooi wees?”

      Rebecca trek haar skouers op. “Dis verbasend hoe nuuswaardig jou doen en late blykbaar is.”

      “Juffrou Fagan,” keer sy stem haar toe sy by die deur is. “Het jy vir een oomblik gedink jy kan van die straat af in so ’n pos instap?” Vir die eerste keer slaan daar iets soos verbasing in sy stem deur.

      “Ek weet ek kan die werk doen en ek was onder die indruk jy is ’n dapper man,” laat sy oor haar skouer hoor.

      Sy mond gaan oop, maar sy het reeds die deur agter haar toegetrek.

      Buite die deur haal sy een keer diep asem. Dis die probleem met dobbel. Daar is altyd ’n kans om te verloor. Sy stap met ’n regop rug die gang af. Op hierdie oomblik is sy jammer sy het so vroeg opgestaan én dat sy nog nie eens ’n koppie koffie gedrink het nie. Hy kon haar baie moeite bespaar het as hy haar die eerste dag sommer net uitgegooi het.

      Drie mans in donker pakke en aktetasse kom by haar verby en sy groet afgetrokke. Hulle groet terug en sy sien hoe een oor sy skouer terugkyk. Miskien moet sy vra of hulle nie vir haar werk het nie, dink sy grimmig. Of miskien moet sy sommer net vra of hulle nie vir haar ’n koppie koffie het nie!

      “Jy begin jou dag op ’n interessante noot.” Alec Barnard glimlag veelbetekenend vir Julian waar hy agter sy lessenaar staan.

      “Waarvan praat jy?” Julian kyk vraend op.

      “Ek praat van jou eerste afspraak, of was sy dalk gisteraand se laaste afspraak?”

      Julian tel sonder ’n woord ’n skootrekenaar van sy lessenaar af op en stap daarmee na die konferensietafel. Die ander drie volg hom en oomblikke later sit elkeen met ’n oopgeslane rekenaar voor hom.

      Twee ure later maak hulle vir die eerste keer hul skootrekenaars toe en begin opstaan.

      “Stephen, sal jy asseblief agterbly? Daar is nog ’n saak wat ek met jou moet bespreek.”

      Die ander twee maak die deur oop en Stephen gaan neem op een van die rusbanke plaas terwyl hy diep sug. “Ek het nooit vannag geslaap nie. Die kleintjie het die hele nag geskreeu.”

      Julian gaan sit op die gemakstoel. “Ek dog julle het ’n au pair aangestel om julle te help.”

      “Ons het, maar Brenda glo ’n kind soek in die nag haar ouers.”

      Julian glimlag ietwat onwillig. “Sy is seker reg, maar liewer jy as ek.”

      Stephen sug weer en kyk dan vraend na Julian. “Wat wil jy nog bespreek?”

      “Hoe vorder Martin se soektog na ’n plaasvervanger vir Ernst?”

      “Daar is blykbaar ’n hele paar belowende kandidate. Hulle is besig met die laaste agtergrondondersoeke en behoort so oor twee weke met die onderhoude te begin.”

      “Ek wil hê jy moet vir my inligting oor iemand kry.”

      “Wie is dit?”

      “Rebecca Fagan.” Julian hou ’n enkele vel papier na hom uit en Stephen se blik gaan vlugtig daaroor.

      “Is dit die meisie wat vanoggend by jou was?”

      Julian knik.

      “Waar kom jy aan haar?”

      Julian druk sy vingers teenmekaar terwyl hy die storie vertel.

      Stephen lag verbaas. “Sy verdien beslis ’n paar punte vir deursettingsvermoë en waagmoed.”

      “Of sy het ander redes waarom sy so graag die werk wil hê.”

      Stephen staan moeisaam op. “Ek sal kyk wat ek kan uitvind.” Hy maak die deur oop, maar loer weer terug. “Terloops, ons het ’n uitnodiging na Angela se verjaardag gekry. Brenda wil weet of dit meer as ’n verjaardagparty gaan wees.”

      “Sê vir Brenda die tronke is vol nuuskierige mense.”

      “As ek so na die uitnodiging kyk, gaan dit ’n groot geleentheid wees.”

      “Hou op vis, Stephen. Ek het werk om te doen.”

      Stephen maak met ’n alwetende laggie die deur agter hom toe.

      3

      Rebecca luister ongeduldig hoe die telefoon aan die ander kant lui. Uiteindelik antwoord ’n slaperige stem.

      “Gert! Uiteindelik. Is jy wakker?”

      “Dit hang af wat jy met my wil maak.”

      “Ek kan nie meer vanaand saam met jou gaan nie.”

      “Wag! Watse dag is dit?” Hy kug heserig.

      “Dis Donderdag.”

      “Waarom kan jy nie saamgaan nie?”

      “Ek word deur iemand agtervolg en ek wil nie hê hy moet ons saam sien nie.”

      Daar is ’n stilte voor hy vra: “Hoeveel het jy gisteraand gedrink?”

      “Ek is ernstig. Bly net ’n paar dae weg van my af.”

      “Waarom sal iemand jou wil agtervolg?” Hy klink skielik wakkerder. “Alhoewel, as ’n mens na al die karakters kyk wat jy ken, is dit seker ook nie snaaks nie.”

      “Ek vermoed jou neef het hom op my spoor gesit.”

      “Becca, jy weet ek het ’n grap gemaak toe ek gesê het jy moet vir die pos by Julian aansoek doen.”

      “Daar is sekere goed waaroor ’n mens nie grappe maak nie.”

      “Laat ek hom dan ten minste sê ek ken jou. Dit kan dalk help.”

      “Nee, jy het my belowe.”

      “Moet jy altyd koppig wees?”

      “Gert, luister mooi. Ek gaan dit vir die laaste keer verduidelik. Ek glo nie daaraan om my vriende te gebruik nie. Nie vir ’n blyplek of ’n job nie. As hy weet ons ken mekaar, raak jy vir my verantwoordelik. Dis soos om vir iemand borg te staan. Jy gaan nie namens my getuig nie. End of story.”

      “Hy gaan tog een of ander tyd uitvind.”

      “Nie voordat hy besluit het of hy my ’n kans gaan gee nie. Daardie besluit gaan syne wees.”

      “Hoe seker is jy die man agtervolg jou en hoe weet jy die opdrag kom van neef Julian af?”

      “My straatkontakte en my goed ontwikkelde sesde sintuig.”

      “Wanneer kan ek jou dan weer sien?”

      “Ek sal jou bel.”

      “Iets


Скачать книгу