Rebecca. Wilna Adriaanse
Читать онлайн книгу.as jy geen ondervinding het nie? Niemand wil jou ’n kans gee nie.” Sy maak een van die blikkies oop en neem ’n sluk. Die koeldrank loop koud in haar keel af en lê soet op haar tong.
Salie se blik gaan onseker oor haar.
“Ek is nie ’n dief of ’n moordenaar nie. Ek is hardwerkend en eerlik. Maar dink jy dit beteken iets?” Sy hou weer die ander blikkie na hom toe uit. “Ek het dit vir jou gekoop, jy kan dit net sowel drink.”
Toe sy sien hoe hy aarsel, glimlag sy. “Dis geseël. Ek is nie besig om jou te vergiftig nie.”
“Ek het ook kinders, juffrou. Ek weet dis nie meer maklik om werk te kry nie.” Hy neem die blikkie, maar maak dit nie dadelik oop nie.
“Hoeveel kinders het jy?” Sy vee oor haar nek, waar sweetdruppeltjies onder haar hare uitloop.
“Drie. Twee seuns en ’n dogter. Die oudste seun gee onderwys in Engeland, die dogter het na ’n gesukkel werk by ’n klerevervaardiger gekry. Sy is baie knap met naaldwerk maar wou nie gaan leer nie. En die kleintjie leer nog. Hy wil net met computers werk.”
“Ek het ook ’n vriendin wat net met computers wil werk. Vir mý sal dit te vervelig wees.”
Die grys kop knik. “Die kinders doen deesdae snaakse werke.”
“Hoe lank is julle seun al in Engeland?”
“Hy is verlede jaar Julie oor en as alles goed gaan, kom hy darem Kersfees vir twee weke huis toe.”
“Julle verlang seker baie.”
Sy vinger krul om die blikkie se ringetjie en die gas ontsnap met ’n sisgeluid toe hy dit ooptrek.
“Ons is gelukkig. Ons kinders het ons nog nooit moeilikheid gegee nie.” Sy stem is meteens sagter.
“Ja, die kinders kan deesdae so maklik in die moeilikheid beland.” Sy neem weer ’n sluk en hy gee ’n kekkellaggie langs haar.
“Hoe praat juffrou dan nou soos ’n ou mens. Juffrou is self maar nog ’n kind.”
“Op vyf en twintig was my ma getroud en het sy al vir my gehad,” antwoord sy.
Sy grys kop skud. “Dis beter dat die kinders deesdae nie so vroeg trou en kinders kry nie. Hulle skei hopeloos te maklik en dan kry die kleintjies swaar.”
Rebecca antwoord hom nie daarop nie. Sy laat eerder haar blik oor die plein gaan. Daar hang ’n tamheid oor alles en almal. Die hitte slaan in golwe vanuit die kegelsteentjies op. Eenkant is die vrou wat hare vleg met ’n kliënt se hare besig. Haar vaardige vingers is vandag ook strammer as ander dae.
Skielik staan Salie langs haar op en Rebecca se blik volg syne. Julian Hoffman is besig om ’n paar mans buite ’n restaurant te groet voordat hy in die rigting van die motor begin loop.
“Kan hy nie maar hierheen gestap het nie? Die kantoor is ’n hanetree hiervandaan.”
“Hy moet twee-uur ’n lesing by die universiteit gee.” Salie begin die linkeragterdeur oopmaak. “Baie dankie vir die koeldrank en ek hoop juffrou kry gou werk.”
“Ek wil net vir ’n minuut met hom praat.” Haar stem is byna smekend.
Hy kyk onseker na haar. “Ek kan nie ja sê nie, juffrou. Hy gaan haastig wees.”
Rebecca se blik gaan na Julian Hoffman wat nou ’n paar tree van die motor af is. Die ligte pak en wit hemp laat hom koel lyk. Sy sien in sy oë die oomblik toe hy haar gewaar en eien.
“Ek kom net hoor of jy van die foto’s gehou het en of ek vir jou nog kan stuur,” gee sy hom nie kans om te praat nie.
Tot haar onverwagse grimmigheid bly sy gesig uitdrukkingloos. Hy moet fenomenaal om ’n pokertafel wees.
“Ons ondersoek almal wat by ons aansoek doen vir werk.”
“Aangesien jy nie my aansoek oorweeg het nie, stel ek voor dat julle die ondersoek staak. Julle is besig om my privaatheid te skend.”
“Miskien het ek van plan verander.”
“Dan stel ek voor julle stel my amptelik in kennis dat ek ’n kandidaat is en dat julle navraag oor my sal doen. Ek is seker dis wat julle met die ander kandidate gedoen het.”
“Klim in.” Hy beduie na die oop motordeur.
“Ekskuus?”
“Ek het ’n afspraak. Ons kan op pad daarheen gesels.”
Rebecca weet nie waarom sy na Salie kyk nie, maar toe hy agter sy werkgewer se rug vir haar knik, skuif sy haastig agter in. Julian Hoffman klim langs haar in en Salie maak die deur toe voordat hy omstap en inklim.
“Hoe het jy geweet waar ek vanmiddag gaan wees?” spring hy haar voor.
“Sal jy my glo as ek sê ek het toevallig hier verbygeloop?”
Hy haal ’n gevoude bladsy uit sy baadjiesak en begin lees. “Nee.”
“Ek het nie ’n ander verduideliking nie.”
“Hoe het jy geweet jy word agtervolg?” Sy blik is steeds op die bladsy in sy hand en sy wonder of hy werklik weet wat hy lees, of alternatiewelik weet wat sy sê.
“Ek slaap in die nag.”
Hy kyk skuins na haar toe op.
“Ek is ’n nuuskierige mens. Ek let dinge op, soms dinge wat ander mense nie sal raaksien nie.”
“Waar woon jy?”
Rebecca kan nie help om te lag nie. “In Langstraat.”
“Langstraat is lank.” Hy vou die bladsy op en druk dit terug in sy sak.
“Ek is seker jy het foto’s van my blyplek gesien.”
“Ek het foto’s van ’n backpackers’ hostel gesien. Jy woon sekerlik nie daar nie.”
“Het die maatskappy voorvereistes waar die werknemers mag woon?” Sy draai effens skuins op die sagte sitplek sodat sy hom beter kan sien.
“As daar nie is nie, moet ’n mens miskien ’n paar instel.”
“Doktor Hoffman, almal van ons het nie ’n huis in Bishopscourt geërf nie.”
Sy wenkbroue lig sigbaar. “En jy beskuldig my dat ek jou privaatheid aantas!”
“Dink jy jou woonadres is ’n staatsgeheim?” Dis haar beurt om spottend te lag.
“Nee, maar dit staan nie op die maatskappy se briefhoofde of in die telefoongids nie. Dit laat my besef jy moet dit ook êrens uitgesnuffel het.”
“Sal jy beter voel as ek vir jou sê ek was nog nooit by jou huis nie? Ek ken net toevallig die adres.”
“Wat weet jy nog alles van my of van die maatskappy?”
“Die maatskappy is deur jou oupa gestig en aanvanklik was hulle slegs betrokke in die drankbedryf. Onder jou oupa se leiding het die familiesaak gegroei tot ’n volwaardige maatskappy met vertakkings in die visbedryf, voedselbedryf, eiendomme, mynbou, die wynbedryf en vervaardiging. Hy was bekend vir sy versiendheid en hy het ’n paar uiters winsgewende beleggings gedoen. Jou pa het na sy studie by die maatskappy aangesluit en dit het ’n paar jaar later ’n openbare maatskappy geword. Die familie het egter steeds die beherende aandeel behou. Jy was dertig jaar oud toe jou pa in die motorongeluk oorlede is. Die helfte van die direksie wou hê jy moes by hom oorneem, terwyl die ander helfte gevoel het jy het nie die nodige ondervinding nie. Jy is uiteindelik tog met ’n meerderheidstem as uitvoerende voorsitter in sy plek verkies. Vandag beheer jy ’n multibiljoenrandmaatskappy, met belange in ’n onnoembare aantal sektore. Julle het kantore in Londen, Amsterdam en New York. Daar is sprake dat julle kantore in Tokio en Los Angeles gaan open. Met jou pa se afsterwe was jy hoof van die Londense kantoor. Beide jou oupa en jou pa het eredoktorsgrade in die ekonomie ontvang. Joune is nie ’n eredoktorsgraad nie. Jy het dit verwerf