Die besoeker. Anchien Troskie
Читать онлайн книгу.skool toe. En almal weet van my pa. Ek sien hoe hulle pouses agter bakhande fluister. En ek kan niks doen nie. Niks sê nie, want die waarheid is die waarheid. My lewe het soos ’n oop boek gelê en almal kon daaruit lees.” Ek knik my kop. “Soos ek gesê het, ek weet dis baie mense se storie.”
“Maar dit maak die ervaring nie minder erg nie, Emmie. Jy het baie swaargekry.” Sy stem is simpatiek.
Simpatie is goed. Nee, besluit ek, simpatie se waarde word oorskat. Jy kan met iemand simpatie hê tot jy blou is daarvan, dit maak dit nie vir die ander mens beter nie. Jou hart is dalk tot oorlopens toe vol met simpatie, maar die ander mens bly stukkend. Bly verneder. Niemand reik regtig na jou uit nie, want hulle verstaan nie.
“Wat van vriende?”
“Van my vorige vriende het probeer kontak hou, maar wat sou dit tog help? Ons het verskillende lewens gelei. Ek kon nie meer saam met hulle uitgaan nie – omdat ek dit nie meer kon bekostig nie, en omdat ek nie wou nie.”
“Het jy nie nuwe vriende gemaak nie?”
“Nee.”
“Emmie?”
“Ek het nie. Daar was baie wat vriende wou wees. Maar ek wou nie, ek was te skaam.”
“Te skaam?”
“Vir ons omstandighede.”
“Te skaam?”
Ek sug. “Goed, ek was nie net skaam nie. Ek wou nie vriende hê nie.”
“Omdat jy geglo het jy is beter as hulle.”
“Nee!”
“Emmie . . .”
“Nou goed, Migael, dis waar. Ek hét geglo ek is beter as hulle. Ek wás beter as hulle! Ek was beter gewoond.”
“In watter opsig?”
“In alle opsigte!”
“Regtig? So, jou pa was vir jou ’n beter voorbeeld as wat hulle pa’s vir hulle was?”
“Nee, seker nie.”
“Jy het akademies beter as hulle gevaar?”
“Nee . . .”
“Jy het ’n meer voorbeeldige lewe gelei?”
“Seker nie . . .”
“Jy was ’n beter Christen?”
“Dis nie wat ek . . .”
“Jy het jou naaste lief soos hulle is?” Hy sug, skud sy kop. “En so leef jy toe ’n alleenlewe.”
“Ek was nie só alleen nie.”
“Ai, Emmie.”
Ek ignoreer hom, vou my arms beskermend oor my bors. Ek staan nie in die hof nie, engel of geen engel nie! En hy wóú hoor.
“Vertel verder.”
Ek hou my lippe styf opmekaar gepers.
“Emmie, vertel verder.”
Ignoreer hom.
“Jy kan my nie ignoreer nie. Ek is hier. En soms moet ek dinge sê wat jou sal laat nadink.”
“Ek dink nie na nie, ek is moerig!”
“Of wat jou gaan kwaad maak,” glimlag hy. “Vertel verder.”
En ek kan dit nie weerstaan nie, nie sy pleitende oë of stem nie.
“Ons het lank swaargekry. Maar eindelik het my ma tog werk gekry, as kassier by ’n supermark. En snags het sy klere gemaak vir ’n ekstra inkomste. Haar salaris was klein, maar sy was so trots daarop! En ons kon maand vir maand ons koppe ’n bietjie hoër lig. Want ons kon ons eie kos koop. Ons het nie skuld gehad nie. Ons het nie goed gelewe nie, maar ons het gelewe. Al was dit nie dieselfde as voorheen nie. Al moes ons sonder baie dinge bly, al moes ék sonder baie bly.”
“En as jy nou terugdink, dink jy nie daar het tog iets goeds uit dit alles gekom nie? Uit julle situasie?”
“Soos wat?” wil ek verbaas weet.
“Hoe gaan dit met jou pa, Emmie? Hoe gaan dit met jou ma? Is hulle nog dieselfde mense as toe jy sestien was?”
“Nee, hulle is nie.” Die verbasing in my stem verras my. “Dit gaan beter met my pa. Sy lyf het dalk krom getrek, maar emosioneel is hy sterk. Sy geloof het verdiep. Ek dink dat hy eindelik verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar het. En dit gaan goed met my ma. Sy voel, dalk vir die eerste keer, dat sy ’n bydrae lewer. En sy lag weer. Jy’s reg,” sê ek verwonderd, “daar hét tog iets goeds daaruit gekom. Vir hulle.”
“Nie vir jou nie?”
“Nie vir my nie. Ek wou ná skool so graag universiteit toe gaan, eendag ’n goeie werk kry. Ek wou rýk wees. Natuurlik kon my ouers nie bekostig om my universiteit toe te stuur nie, en ek was nie slim genoeg vir ’n beurs nie. My ma wou nie skuld maak nie, dus was ’n lening buite die kwessie. Al opsie was om ’n sekretariële kursus by die technikon te loop, en saans het ek as kelnerin gewerk. Tussen my en my ma kon ons my studiegeld bekostig. En tot my verbasing het ek die kursus geniet. Ek het besef dat ek nooit ryk sou word uit my beroep nie, maar dit was ook goed. Ek sou ten minste gelukkig wees in wat ek doen.”
Migael is nou besig om pleisters op die sny bokant my oog en die groot een op my wang te plak. Ek hou hom deur skrefiesoë dop, maak my oë groter oop toe sy hande om my keel vou. Vir ’n oomblik dink ek hy gaan my wurg, maar hy doen dit nie. Vryf net saggies met sy koel hande oor die blou kneusings.
“Drie jaar, toe het ek my diploma. Kort daarna kry ek ’n onderhoud by die baie eksklusiewe Hoërskool Geelhoutboom. Die skool stel bitter min nuwe personeel aan, omdat die personeellede aan hul goed betaalde posisies klou. En hulle is baie kieskeurig. Maar my punte was goed, en ek het ’n goeie indruk op die beheerliggaam gemaak. Ek het gedink ek het met my gat in die botter geval toe ek die sekretariële pos kry.”
“Omdat dit ’n eksklusiewe privaat skool is.”
“Nee! Ek is darem nie só nie!”
Migael se wenkbroue skiet op.
“Goed, jy is reg,” gee ek bes. “Dis die tipe skool waarheen my pa my graag wou gestuur het, maar toe ek my skoolloopbaan begin het, was daar nie soveel geld nie. Geelhoutboom is een van daardie rare skole wat nie beurse toestaan nie. Daar tel net een ding in jou guns en dis geld. As jy dit het, en baie daarvan, word jy aanvaar.”
Ek bly ’n oomblik stil; dis nie lekker herinneringe nie. “My ma kon uiteindelik ’n ou groen bakkie bekostig, en met dié knallende, grommende ding het sy my op my eerste dag skool toe gevat. Tot groot vermaak van die leerlinge. So het ek, my gesig rooi van vernedering, my loopbaan begin. Ek het totaal uit my diepte gevoel. Nie met die werk nie, dit was eenvoudig genoeg, maar tussen die leerlinge en sommige van die personeel. Dit was asof ek nie daar hoort nie, nie tussen hulle nie. Van die volgende dag af het ek eerder bus gery.
“Die naam Hoërskool Geelhoutboom is misleidend, want dis nie ’n statige ou skool wat uit ’n vorige eeu dateer nie. Inteendeel, dis ’n moderne konstruksie van staal en glas wat meer na ’n kantoorgebou as ’n privaat skool lyk. Die tuin, wat van die hoofgebou tot by die hoofhek strek, is pragtig. Uitgestrekte groen grasperk, die blomme in baldadige kleure. Regs van die hoofgebou lê die klaskamers, links die sportvelde. Voor die hoofgebou is parkering, nie net vir die personeel nie, maar ook vir al die bedorwe brokkies wat met ’n lisensie en ’n blinknuwe motor kan spog. Geen koshuis nie. Die leerlinge wat van ver kom – en daar is heelwat – loseer privaat.
“Die eerste keer toe ek by die hoofgebou instap, het ek na my asem gesnak. Want dit lyk nie soos die gewone skoolkantoor nie, eerder soos die ontvangsarea van ’n spoghotel. Twee derdes van die ontvangs word afgestaan aan sitplek, met pragtige stoele op die dik mat. Die ander derde is die werkarea, met drie lessenaars agter die ontvangstoonbank. Een van hierdie lessenaars is myne, het ek gelukkig gedink. Vanuit die wagkamer