Die besoeker. Anchien Troskie
Читать онлайн книгу.In die kamer ontdek ek dat ek my slaapklere vergeet het. Waarin is ek veronderstel om te slaap? Die outydse hangkas vang my oog. Toe ek dit oopmaak, is daar klere in. Net die noodsaaklike – meneer Meyer glo aan voorbereid wees.
Ek kry niks tussen mevrou se klere wat soos gemaklike slaapklere lyk nie. Net ’n satyn-en-kantnommertjie waarin ek nie dood gesien wil word nie. Tussen meneer Meyer se goed is daar ’n pak manspajamas. Flennie met ’n paisleypatroon.
Ek trek dit vinnig aan. Die broek is effens te groot, nie baie nie, meneer Meyer is nou nie juis ’n spiertier nie. Soms is dit handig om ’n stofpoepertjie vir ’n baas te hê, glimlag ek terwyl ek die hemp vasknoop.
Toe ek in die kombuis kom, is daar rys, ’n ui, botter, ’n blokkie hoenderaftreksel, goed wat ek nie ken nie, sout en peper op die tafel uitgepak.
“Rys? Gaan ons rys eet?” Nou nie juis wat ek ’n vullende maaltyd sal noem nie.
“Risotto.”
“Ek kan nie risotto maak nie.”
“Ek sal jou leer. Kap solank die ui vir ons lekker fyn op.”
“Ek raak nie aan daardie ui nie, Migael. Ek het nou net gebad. My hande gaan vir twee dae na ui ruik!”
Hy rol sy oë, gryp ’n mes en begin die ui opkap. “Meet solank so vier eetlepels botter af en smelt dit. Moenie dat dit verkleur nie!”
Ek maak soos hy sê. “Ek het aan nog vrae gedink.”
“Vra maar.” Hy gooi die fyngekapte ui by die botter. Stop my ’n houtlepel in die hand. “Roer terwyl jy vra, moenie dat die ui bruin word nie.”
Ek roer. “Jy kan gedagtes lees. Het jy ander supermagte ook?”
“Soos wat?”
“Ek weet nie, is jy . . . supervinnig? Supersterk? Kan jy lasers deur jou oë skiet? Daai soort ding.”
Hy lag. “Ek hoef nie vinnig te wees nie. En ek het nog nooit probeer om lasers uit my oë te skiet nie.”
“Hoe het jy dan so vinnig van die waterval tot hier gekom?”
“Daai ui gaan bruin word, verlaag die hitte. Ek beweeg met ’n gedagte, Emmie.”
Ek draai die plaat kleiner. Hy beweeg met ’n gedagte. Handig. Ek sou nie omgee om so vinnig te kon beweeg nie.
Hy gooi kookwater by die blokkie hoenderaftreksel, dan ’n koppie rys by my ui. “Roer. Nog vrae?”
“Ja. Jy is my beskermengel, kyk jy net na my?”
Hy gooi van die hoenderaftreksel by die rys. “Nee, ek het ander ook na wie ek moet omsien.”
“Wat word van hulle as jy hier is? En wat is daardie reuk?”
“Saffraan. By die hoenderaftreksel. Ek kyk steeds na hulle.”
“So, jy kan op twee plekke gelyk wees?”
“Of meer.” Nog hoenderaftreksel.
Ek dink ’n oomblik daaroor na. “Het almal net een beskermengel?”
“Sommige mense het meer as een nodig,” lag hy.
“Het almal ’n beskermengel?”
Hy dink ’n oomblik. “Ek weet nie,” sê hy verras.
“Oukei, jy is hierdie superwese wat superdinge kan doen. Is daar iets wat jy nié kan doen nie?”
Stilte.
“Migael? Is daar iets wat jy nie kan doen nie?”
Hy gooi nog hoenderaftreksel by, bietjie sout, bietjie peper.
“Ek kan nie leuens vertel nie,” sug hy.
“Regtig? Nie eens ’n witleuentjie nie?”
“Glad nie.”
“Dit suck.”
Hy glimlag, gooi nog hoenderaftreksel by.
“Hoeveel van die goed gaan jy nog ingooi? Hoe lank moet ek nog roer?”
“Totdat die rys mooi uitgedy is en die aftreksel geabsorbeer is.”
Hy klink soos Jamie bleddie Oliver. “Wie het jou geleer kook?”
“Niemand het my geleer nie.”
“Dit kom natuurlik?”
“Seker.” Hy haal sy skouers op, loer in die pot. “Amper reg.”
Hy gooi die laaste bietjie hoenderaftreksel by, neem dan die lepel uit my hand en begin die rys stadig deurroer.
“Hoekom voel dit vir my beter by jou? Daar het aaklige dinge met my gebeur. Sommige deur my eie toedoen. Eintlik alles deur my eie toedoen,” mompel ek. “Maar vandat jy hier is, voel ek beter. Hoekom?”
“Want jou verlede hoef nie die bloudruk van jou toekoms te wees nie. Alles wat sleg was – of is – kan beter gemaak word. Jý kan dit beter maak.”
“Hoe?” wil ek verslae weet. Weet hy nie wat ek gedoen het nie? “As jy jou in die donkerste diepte bevind, hoe . . . wáár kry jy weer die krag om jou pad na die lig te vind?”
“Jy weet waar, jy weet hoe, Emmie. Maar dis vir later. Die risotto is reg. Kom, jy moet eet.”
Hoofstuk 5
“Vertel verder.”
Ons sit weer in die sitkamer. Ek op die bank, hy in die leunstoel.
“Ek het nog vrae . . .”
Hy rol sy oë en gee sy kenmerkende skewe glimlag.
“Wat?”
“Emmie, jou vrae van vroeër was net ’n manier van uitstel. Jy weet dit, ek weet dit. Jy kan niks vir my verberg nie. Jy kan nie vir my lieg nie.”
“Is daar iets wat ek kan doen?” Sarkasties.
“Jy kan my alles vertel. Jy moet.”
Ek het klaar geëet. Die risotto was voortreflik, natuurlik. Die skottelgoed is gewas en afgedroog en weggepak. Nie geweet daar bestaan iemand, behalwe my ma, wat glo dat jy nie kan gaan slaap voor jou kombuis blinkskoon is nie.
Maar helaas, dis te vroeg om nou al te gaan slaap. Ek kan nie eens moegheid veins nie, want ek het vanmiddag geslaap. Genoeg. En hy sal weet. Ek sug. Vir ’n rukkie, terwyl ons rys geroer het, terwyl ek geëet het, was ek net ’n jong vrou aan die sy van ’n mooi man. Kon dít nie maar eerder my werklikheid wees nie? Nou moet alles bederf word deur my wérklike werklikheid.
En vir wat? Ek vermoed dat Migael in elk geval alles weet. En daar is soveel wat ek eerder sou wou vergeet. Aan die ander kant, ek is oortuig daarvan dat ek ’n kilogram minder skuld op my skouers dra. En dit net deur te praat. Deur by die begin te begin.
Wie weet, as ek Migael alles vertel, as ek hom aan die hand vat en deur my sordid lewe laat stap, word die ton skuld op my skouers dalk nog ligter. Dalk word die gewig wat op my bors lê en dreig om my te versmoor ook minder.
“Wanneer jy wil weet waarheen jy op pad is, is dit soms nodig om te onthou waarvandaan jy kom,” onderbreek hy my gedagtegang.
Dalk is dit tóg nodig dat ek hom alles vertel, besluit ek. Laat sy wat ’n mond het, praat. Laat hy wat ’n oor het, luister.
“Ek het reeds vir jou vertel dat ek skuld gehad het, skuld wat gedreig het om my te verswelg. Toe die euforie van my eerste werk en finansiële onafhanklikheid vervaag, het ek besef dat ek altyd ’n armgat sal wees. My salaris was nie sleg nie. Ek het nie sleg aangetrek nie. Maar tussen daardie rykmanskinders, by daardie rykmanskool, het ek arm gelyk, arm gevoel. Hulle het duur klere gedra. Nie noodwendig mooi nie. Van daardie klere het gelyk of dit al ’n dekade oud was, maar dit het een of ander famous designer label opgehad en daarvoor het hulle betaal.”
Ek