Skoenlapper. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Skoenlapper - Irma Venter


Скачать книгу

      15

      EK WEET NIE WANNEER DIT GEBEUR HET NIE, maar ek het aan die slaap geraak. Skielik, soos ’n kind, en sonder om te dink waar ek is.

      Ek word wakker met die ligte fladdering van hande wat oor my bors vryf. Hande wat aan my raak asof hulle weer aan my wil raak. Asof niks wat gebeur vlugtig en eenmalig moet wees nie. Asof dit saak maak wat ek dink. Wat ek voel. Wat onder my vel is.

      Te bang om my oë oop te maak voel ek Ranna se hande versigtig opskuif tot in my nek. Oor my gesig. Die besef is eensklaps en oorweldigend: haar hande is onseker. Ranna se altyd-weet-agt-foto’s-’n-sekonde-hande is onseker. Dalk selfs bang.

      Ek voel haar vorentoe leun. Sy soen my stadig, asof ek in twee sal breek. Haar mond is sag en haar asem ruik na bier en pepermente.

      “Ek weet jy’s wakker.”

      Ek hou my oë toe, ingeval dit ’n droom is. “Sê wie?”

      Sy lag. “Jy hou dan jou asem op.”

      Ek sê nie vir haar dat ek dit nog heeltyd doen nie, vandat ek haar die eerste keer ontmoet het. Asof ek steeds nie my oë kan glo nie.

      Toe ek uiteindelik tog vir haar kyk, weet ek sy kan dit sien. Sy kan alles sien.

      Sy trek haar asem in en soen my weer. Harder hierdie keer. En ek is wys genoeg om te weet dis die einde, en die begin van alles.

      Ek sit by die deur van die ou Puma-helikopter. Ons is ’n halfuur noord van Dar, op pad Kibakwe toe, maar reeds is die reënskade duidelik. Die grasveld skuif onder my voete verby, die een toneel soos die volgende. Water. Nog water.

      Ek wys vir Ranna om te kyk, maar sy skud net haar kop. Sy hou haar besig met die Nikon. Tom ignoreer my ook.

      Hoogtes doen niks aan my nie, maar vir Ranna is dit soos kaal dans voor ’n vet, swetende keiser: iewers gaan iemand sien sy haat wat sy moet doen. Dis hoekom sy agter bly sit, naby die kotssakkies wat die Franse vlieënier met die een hand teruggegooi het terwyl sy die naaldekoker met die ander hand teen die wind ingebeur het, ’n string vloekwoorde op haar lippe.

      Oor ’n paar minute, wanneer ons oor die water huiwer, moet Ranna vorentoe skuif en foto’s neem asof sy nie bang is nie, want The New York Times en The Guardian wil nie bang hê nie. Hulle wil dapper, seker foto’s hê van die verwoesting wat te veel reën bring.

      En ek wat nog altyd chaos aantrek, moet kyk en hoor en skryf. Elke emosie en gevoel. Soos vyf jaar gelede in Alexandra toe die Jukskeirivier oor sy walle gestroom en ’n kleuterskool en 171 plakkershutte meegesleur het. En hier is ek weer. Water. Te veel water.

      Die lewe herhaal meedoënloos.

      Die vlieënier kyk om en beduie met ’n duim dat sy vir ’n rukkie hier kan hang terwyl ons foto’s neem. Ek wys dat ek verstaan en wink vir Ranna om nader te kom.

      Die grond onder ons is toe onder bruin, modderige water. Op ’n vloedgemaakte eiland regs van ons staan ’n paar beeste en hulle oppasser. Langs hulle steek die dakke van ’n handvol hutte uit. Nie die beeste of die seuntjie lyk bekommerd nie. Hulle lyk eerder verbaas oor die metaalvlinder wat bo hulle huiwer.

      Waar is Ranna? Nog steeds daar agter.

      Ek wys weer vir haar om vorentoe te skuif. Toe sy dit uiteindelik doen, sien ek hoe sy die vrees afsny. Haar gesig word kalm. Haar oë ’n donker, intense blou.

      Sy kom sit langs my en beduie ek moet my arm om haar sit. Ek maak so. Sy skuif voor my in en wurm haar tussen my bene in. Sy wys ek moet stywer vashou. Dan, met die eentonige wap-wap van die helikopter wat alles anders verdryf, leun sy vorentoe, by die helikopter se deur uit.

      Nog verder.

      Ek skop my hakke in die staalmaag van die Puma in. Die spiere in haar rug knoop onder die T-hemp, en ontspan dan soos sy van my vergeet.

      Ek weet beter as om bang te wees om haar onthalwe. Ranna is wie sy is, en dit gaan niks help om te pleit dat sy moet verander nie.

      Dit voel asof ure verbygaan voor die vlieënier my op die skouer tik. Bring haar terug, beduie die vrou.

      Ek begin Ranna terughys. Haar lyf baklei eers, maar gee dan in. Uiteindelik sit sy weer langs my. Die staalkabel wat deur haar lyf loop, is snaarstyf gespan. Die adrenalien wys in die rooi vlekke aan haar keel, die lag om haar mond.

      Sy was nog nooit so mooi nie.

      Sy skree iets, maar dit los op in die gedreun van die helikopter wat begin styg.

      “Wat?” skree ek terug.

      Weer vorm haar lippe die woorde, stadiger hierdie keer. Ek lag toe ek dit snap.

      “Ek’s lief vir jou ook!” roep ek, en weet dat dit een van die beste dae van my lewe is.

      Die adrenalien hou tot by die huis. Nat van die reën draf ons by Ranna se woonstel in.

      Sy sukkel met haar stewels, skop hulle uiteindelik uit. Die nat jeans is moeiliker. Sy vloek onderlangs.

      Ek draai haar om terwyl sy nog besig is en trek haar nader. Soen haar op die bruingebrande vel wat deur die blou hemp wys. Dan hoër op, in haar nek. Sy kreun, lank en diep. Ek trek haar heupe nader en voel hoe die honger haar oorweldig. Hoe dit haar lyf oorneem en dringend in haar mond kom sit.

      Sy soek na die knope van my hemp. Raak ongeduldig. “Demmit.” Sy ruk een af. Nog een.

      Ek verstaan dit. Ek weet van nou en nie later nie. Later los op in tyd. In dalk. In miskien. In moet. Nóú is die enigste ding wat regtig bestaan.

      Sy ruk aan die boonste knoop van my Levi’s. Ek voel hoe my asemhaling vinniger word. My lyf harder. ’n Klank ruk los uit haar bors. Sy dryf my dieper die woonstel in. Teen die kas in die hoek. Die boekrak langs die TV. Ek swaai haar om dat haar rug teen die boeke is, ewe ongeduldig. Ek hys haar lyf teen myne op. Sy beur weg en trek die hemp van my lyf af.

      Nou.

      Ek soek na haar jeans met een hand. Sukkel met myne. Gee op. Sit haar op die vloer neer en skil die nat broek af tot sy daaruit kan stap. Dan my eie. Ek lig haar weer op, my hande om haar middel. Haar bene knoop om my heupe. Haar naels slaan in my rug in.

      Een vir een val die boeke uit. The Mating Habits of Butterflies. The Dream Taker. Primal Fear.

      In.

      Nou.

      Nou.

      Nou.

      16

      DIE WEER, NET SOOS SPORT EN FILMSTERRE, is altyd nuus. Almal wil weet of dit môre warm of koud gaan wees, al is daar niks wat hulle daaraan kan doen nie. Van die slegste dae in die geskiedenis van die mensdom was toe die weer nuus gemaak het. Dit bly dae en name wat niemand vergeet nie.

      Die tsoenami op 26 Desember 2004. Orkaan Katrina. Japan se 2011-tsoenami. Elke keer haal dit die voorblaaie.

      As die temperatuur in Oudtshoorn tot 47 grade Celsius styg en ses mense en 130 volstruise doodgaan weens hitte-uitputting, is dit nuus. As dit sneeu waar dit nog nie in ’n honderd jaar gesneeu het nie, haal dit die koerant. Selfde wanneer dit hael. As die wind waai. As dit nie reën nie. As dit reën. En reën. En reën.

      Toe die eerste dorpies dae gelede begin oorstroom het, was dit weggesteek op bladsy 6 van die plaaslike koerante, agter stories van ’n minister se rebelse buite-egtelike kind. Toe die vloed naderkom en dit lyk of Dar es Salaam self in die see gaan wegspoel, het dit eers na bladsy 2 geskuif, en toe na die voorblad.

      Eergister, toe drie Britse toeriste ’n joernalis in Londen per e-pos laat weet het hulle is gestrand op Zanzibar, die land se toeriste-eiland, het dit die hoofdeel van vier oorsese koerante en elf webwerwe gehaal. Nie eers Lion Mining kon dít regkry nie.

      En toe gebeur dit. Die ding wat alles verander het. Die ding wat alles nog groter gemaak het. Chaos.

      Die vloed tref Oesterbaai, Dar se rykmanstrand. Die IT-biljoenêr William Peter Jones se drieverdieping-vakansiehuis stort saam met drie


Скачать книгу