Skoenlapper. Irma Venter
Читать онлайн книгу.ses keer vinniger te laat werk as wat nog ooit moontlik was. Boonop is hy ’n hubare vrygesel met ’n stoutseun-reputasie en ’n lang lys bekende vroue op sy kerfstok.
Ná sy lyk ’n dag later op die strand uitgespoel het, en terwyl die reën steeds onverpoos neersak, het nuusmense een vir een by die deurdrenkte lughawe opgedaag. Al die koerante en TV-stasies wat nie korrespondente in Tanzanië het nie, het hulle mense ingestuur. Skielik was die stad vol joernaliste, kameramanne en fotograwe met ’n honger in hulle oë.
Maar nog voor die eerste vliegtuig onsierlik oor die nat aanloopbaan tot stilstand gegly het, was ek en Ranna reeds daar. Ons het immers op die lyk afgekom.
Ons tel skulpe op, met opgerolde jeans en stadige, soekende treë soos kinders en ou vroue tydens lang, reënerige Junievakansies in die Kaap doen. Asof dit regtig saak maak. Asof dit ’n kompetisie is. In weerwil van die slegte weer sif ons deur die nat sand op soek na die perfekte skulp. Die een wat die malende golwe oorleef het.
Uit pure verveling het ons vroeër vanoggend besluit om strand toe te kom. Ranna het haar boek toegemaak en gesê ’n mens kan ook net só lank lees en TV kyk.
Dit is Sondag en ons is die enigste mense op die uitgestrekte wit sand. Die strand is leeg, die grasdakhutte waar die sonsoekers gewoonlik sit verlate. Die vissermanne se dhows lê vasgemeer, die aanhoudende reën te veel vir selfs die mees vasberade onder hulle. Die see is donker, anders as die gewone helderblou; die altyd rustige water klots onstuimig.
Voor my loop Ranna soos ’n verkenner deur die misreën. ’n Vae, geboë figuur in die grou oggend.
“Het hom!” roep sy. Sy draai om. Doem skielik voor my op. Sy glimlag, haar linkervuis gebal. “Maak toe jou oë.”
Ek maak soos sy sê. Sy sit iets in my handpalm neer. Dis koel teen my vel. Dit ruik soos die see, soos ’n vrou.
Ek maak my oë oop en kyk na die wit skulp met die gesig op uitgekerf. “Lyk goed.” Ek draai dit om. Aan die onderkant is daar ’n kepie uit, maar ek bly stil.
“Hey. Jy’s veronderstel om jou oë toe te hou.” Sy glimlag. ’n Trotse, ingenome glimlag deur die swart krulle wat om haar kop maal.
Ek sit die skulp in my sak en trek my baadjie stywer om my lyf toe die reën skielik harder neersif. Ranna strek bloot haar arms uit asof sy dit wil omhels. Sy begin vorentoe hardloop, al hoe vinniger, asof ons aan die einde van die aarde staan en sy wil afspring.
Maar sy vlieg. Sy styg op en leun vorentoe in die wind en ek kyk hoe haar lyf teen die deurdrenkte T-hemp beur. Ek staar na haar stywe maagspiere, die ronding van haar borste. Die hardkoppige lyn van haar kakebeen, selfs meer verbete as laas nag en die nag voor dit en die nag voor dit.
Toe, net verby die rotse, sien ek haar terugruk. Soos ’n vraagteken en ’n uitroepteken tegelyk. Asof sy iets sien wat sy nie kan glo nie. Ranna, wat al alles gesien het.
“Wat is dit?” Ek hardloop nader, spring oor die rotse tot ek uitasem langs haar staan.
Ek trek my asem hard in. “Wat de hel . . .?”
Sy sê niks nie.
Ek kyk van die dooie man na haar. Sy hou die stukkende, bleek lyf voor haar voete met ’n vreemde uitdrukking dop. Uiteindelik plaas ek die emosie: Sy wens sy het haar kamera by haar gehad. Maar vandag, omdat sy nie lus was om dit te dra nie, lê dit in die Land Rover, en dié staan ’n goeie kilometer weg.
Eers baie later sou ek besef dit was nie haar kamera wat sy gesoek het nie, maar ’n agterdeur. ’n Wegkomkans.
Die golwe stoot die man vorentoe, tot hy teen ons voete klots saam met die gety, die agterkant van sy kop ’n bruin klos hare. In sy nek is daar ’n dowwe tatoeëermerk. Iets Kelties. Ek leun vorentoe om beter te sien. Drie inmekaargestrengelde sirkels.
Ek maak my mond toe, maar dis te laat. Die stank sit reeds agter in my keel. Dit kruip tot op die krop van my maag en ek beweeg onwillekeurig agteruit. Ek haal diep asem, gee ’n tree vorentoe. My knieë sink weg in die sagte sand toe ek langs die man hurk. Ranna beweeg nie.
“Help my,” sê ek.
“Hoekom? Daar is niks om te sien nie.” Sy kyk na my asof ek onnosel is. “Die helfte van hom is . . . weg.”
Ek ignoreer haar. Sukkel met die man se bonkige lyf. Ek sê dit nie, maar ek wil hom omdraai om te sien wie dit is. Dalk ken ons hom. Hy is nie van Tanzanië nie, daarvoor is hy te leliewit. Ek gryp sy swart hemp vas en slaan my hakke in die nat sand in. Kom regop. Uiteindelik kyk ek vas in wat oor is van sy gesig. Dis niemand wat ek herken nie.
Ek voel in sy keel. Sy vel is ’n yskoue klam lap wat onder my vingers rondskuif asof dit nie meer deel van hom is nie. Sy hare is slymerig en min. Ranna is reg: die see was nie genadig nie, veral nie met sy gesig nie. Die visse nog minder.
Ek soek af met sy lyf. Daar is geen juwele wat dit makliker sal maak om hom uit te ken nie. Die tatoeëermerk sal darem help.
Langs my begin Ranna versigtig wegskuif, maar die sand suig aan haar stewels vas, asof dit haar daar wil hou. Daar is iets soos hartseer op haar gesig.
My oë skiet van haar na die man. “Ken jy hom?”
Sy knik haar kop stadig, haar gesig uitdrukkingloos. “Ek weet nie. Miskien. Dis moeilik om te sê. Ek dink ek het eenmaal sy foto vir Time geneem.”
“Time?” Dit beteken dis iemand bekends.
Ek kyk weer na die man voor my. Miskien . . . Kan dit wees? Onmoontlik.
Ek draai terug na haar. “Is jy okay?”
“Ja.” Sy klink skielik bang. Dis nie die emosie wat ek verwag het nie.
“Is jy seker?”
Sy kyk weg van die lyk na die see, dan na my. Draai om en begin vinnig wegloop.
“Bly hier. Ek gaan my kamera haal!” roep sy oor haar skouer net voor sy om die rotse verdwyn.
17
“JY MOET EERSTE INGAAN.”
“Wat?”
Ek skud my kop, maar nie vir haar woorde nie. Ranna is heeltemal te kalm – amper klinies – vir iemand wat in ’n polisiekantoor sit. Sy lyk amper gewoond hieraan.
Meer nog: dis ’n ander vrou wat nou hier langs my sit. Die emosionele vrou van die rotse is weg. Ek wou nog troos toe sy teruggekom het strand toe, kamera oor die skouer, maar haar lyf was skielik hard en rigied. Soos lover’s rigor mortis.
Ek vryf my klam handpalms teen mekaar. Anders as Ranna sukkel ek om rustig te raak. Hierdie is nie die kant van die storie waarvan ek hou nie. Gewoonlik skryf ek die nuus. Ek maak dit beslis nie.
“Sal jy vir my cover?” praat sy weer. “Net vir ’n paar minute.”
“Waarheen gaan jy?”
Sy hou die Nikon omhoog. “Ek gaan die foto’s deurstuur.” Sy wys na die drie polisiemanne wat staan en koffie drink. “Een van daai konstabels is goeie vriende met die ou van die Daily News. Hy gaan vir Patrick aftip.”
“En waarheen sou jy so skielik verdwyn het?”
“Griep. Asma. Jy kan seker aan iets dink.”
“Ek gaan nie vir die polisie lieg nie.”
“Dis dieselfde as lieg vir ander mense.”
“Klink soos iets wat jy gereeld doen.”
“Vir die polisie of ander mense?”
“Ha-ha, baie snaaks. Beide.”
Sy haal haar motorsleutels uit haar sak. “Is alles altyd so swart en wit vir jou?”
“Daar is min tussenin. En wat daar is, is mensgemaak.”
“Dis waar jy verkeerd is, Alex. Daar is ’n heelal tussenin. ’n Fokken afgrond. Eendag gaan iemand jou ook daar afstoot.”
“Ek