Niggie. Ingrid Winterbach

Читать онлайн книгу.

Niggie - Ingrid Winterbach


Скачать книгу
>

      Niggie

      Ingrid Winterbach

      Human & Rousseau

      Vir Dawie en Hester Gouws

      Hoofstuk 1

      Hulle kom teen sononder op die plaaswerf aan.

      Dit lyk verlate, maar die honde blaf, en die boer kom hulle spoedig tegemoet. Hy nooi hulle binne, sodra die perde versorg is.

      Hy dring daarop aan dat hulle saam met hom eet. Hulle vra of hulle voor aandete mag was. In hulle huidige toestand kan hulle aan geen behoorlike tafel aansit nie.

      In die kombuis blaas die boer die vuur energiek maar sorgsaam aan.

      Sy vrou is drie maande gelede oorlede, sê hy. Hy sal hulle die graf môre gaan wys – as hulle belangstel.

      Hulle eet die vleis en die swaar wit brood met konfyt. Hulle eet gulsig; kan nouliks genoeg van die kos kry. Na ete skink die boer versigtig vir elkeen ’n afgemete skeut brandewyn by die koffie. Die gevoel van weldadigheid sprei deur hulle liggame.

      Die huis is nie groot nie, maar daar is ’n keurigheid in die manier waarop elke voorwerp geplaas is, wat dui op ’n vrouehand.

      Reitz sien hoe versigtig die boer alle voorwerpe en oppervlakke na gebruik skoon maak. Met ’n soort talmende verlange. Asof hy iets onthou by die neersit van iedere voorwerp.

      “My vrou was ’n puntenerige mens,” sê hy, laataand. Dit is nie duidelik of hy dit verskonend of verduidelikend sê nie.

      Hy skink nog koffie, nog versigtige skeute brandewyn.

      Nog later vra hy of hy hulle ’n droom kan vertel wat hy die nag vantevore gehad het. Willem knik instemmend namens hulle almal.

      Hy het gedroom, sê die boer, van die triekstervrou – hy het altyd gedink dit is ’n man, maar in die droom was dit ’n vrou. Daar was ’n klomp mense rondom die dorpskerk vergader. Hy het niemand herken nie. Toe sien hy ’n vrou wat hy ken. Haar hare is rooi, haar gesig witgepoeier en sy dra ’n verehoedjie.

      Hy kan nie begin, sê die boer, om die aanvalligheid van daardie hoedjie te beskryf nie. Dit was sag soos die vlerke van ’n berghaan. Met ’n flits van blougroen lig daarin.

      Hy en die vrou beweeg mettertyd weg van die mense, na ’n kamer met ’n bed. Toe dit blyk dat dit tyd vir saamlê is en hy strek sy arms na haar uit, toe is daar skielik in haar plek ’n wildvreemde man, en sý lag buite op die stoep. Toe weet hy, dit was die triekster.

      Ben knik belangstellend.

      Reitz kyk oor sy skouer in die skaduwees.

      “Het een van julle al met die ou poetsbakker kennis gemaak?” vra die boer. “In een van sy of haar gedaantes?”

      Niemand antwoord dadelik nie. Dit wil voorkom asof Ben die ernstigste oor die vraag nadink.

      Jong Abraham is die hele aand merkwaardig rustig. Hy sit roerloos en swygend, uiter geen onsamehangende frases nie.

      Toe hulle aanstaltes maak om te gaan slaap, omdat die plan is om reeds vroeg die volgende oggend verder te gaan, wil die boer sy katel afstaan, maar Willem wys dit ferm van die hand. Hulle slaap so lank reeds nie meer op katels nie, sê hy.

      So slaap hulle in die vrykamer op bulsakke, met skoon komberse en jakkalsvelkarosse.

      Omdat hy nie kan slaap nie, staan Reitz in die nag op en stap na buite. Die huis lê in ’n kom tussen die berge. In die maanlig is daar ’n reddelose verlatenheid oor die stil werf. ’n Kilte en ’n aanmaning van droefnis soos selde in sy onlangse ervaring. Miskien kom dit deur die stilte. Miskien deur die ordelikheid van die werf, die simmetrie van die blomtuintjie voor die huis.

      Die volgende oggend merk Reitz opnuut die sorg waarmee die boer elke takie verrig; klein, netjiese, ingehoue bewegings. Ook die netheid van die huis val Reitz weer op. Asof ’n vrou haar pas daaroor ontferm het. En toe vort is. ’n Vrou van wie die halfverdwene geur nog aan voorwerpe kleef.

      Toe hulle afskeid neem, sê die boer hy hoop van harte dat hy weer in sy lewe daardie hoedjie van vere sal sien. “Dit was werklik iets besonders,” sê hy.

      Hoofstuk 2

      Van die boer se plaas beweeg hulle vroegoggend teen die steil helling bergop. Laat die kom waarin die boer se huis tussen die voetheuwels lê agter hulle. Bereik mettertyd ’n smal pas, waar hulle deur die berge kan gaan. Aan weerskant van die smal paadjie skiet die kranse loodreg langs hulle op. Dik sedimentêre lae modder- en sandsteen duidelik sigbaar, sien Reitz, met doleriet-intrusieplate. ’n Bergreeks van die Karoosisteem – die klipformasies so anders as die dramatiese voue van die Kaapse plooiingsgebergte. Die perdepote klink op die los klippers en die eggo’s laat voëls vervaard van die smal rotslyste opvlieg. In die grotte moet wildeheuning wees, bobbejane en die luiperd wat skuil en hurk. ’n Koue rilling gaan by hulle ruggrate af, hoewel dit helder oordag is. Die hemel ’n smal strepie weerklinkende blou direk bo hulle koppe.

      Toe hulle deur die berg kom, maak ’n uitgestrekte gelykte voor hulle oop. Van hier beweeg hulle direk noordoos. Hulle volg ’n roete langs die droë loop van ’n rivier. Waar moontlik bekyk Reitz met geoefende oog die rivierwal vir tekens van fossiele wanneer hulle kort rukkies afsaal. So beweeg hulle minstens ’n halfdag ver.

      Om twaalfuur toe hulle skaduwees kort om hulle hakke is, kom hulle drie swart mans op perde teë. Die mans dra hoede en komberse. Een dra die verweerde baadjie van ’n Kakie-uniform. ’n Ander dra ’n veer in sy hoed.

      “Van alles en nog wat,” sê Ben onderlangs.

      Die twee groepe kom teenoor mekaar tot stilstand.

      “Wat wil julle hê?” vra Willem. “Ek vertrou dat julle nie die Kakies help nie.”

      Die mans praat in Xhosa onder mekaar. Die leier maak ’n handgebaar wat lyk na ’n vredesteken.

      Hy en Willem buig formeel na mekaar.

      Dan gaan die groepie sonder om te groet by hulle verby.

      “Vanaand sluit hulle by generaal Pettingale aan,” sê Ben.

      “Hulle is onbewapen,” sê Willem, “soos dit hoort.”

      Die res van die dag kom hulle niemand teë nie. Hulle beweeg deur ’n landskap met lae heuwels, doringbome en hoë gras. Die vlakte maak geleidelik oper. Hulle laat mettertyd die Koueberge agter hulle.

      In die laatmiddag gaan hulle deur ’n groterige syspruit van ’n rivier – die Seekoeirivier dalk, wonder hulle. Kan met geen sekerheid sê nie. Hulle beweeg steeds noordoos, in die rigting van die Oranjerivier.

      “O bring my terug na die ou Transvaal,” sing Ben sag.

      “Ons is nog ver daarvandaan, ou Ben,” sê Reitz, “danksy Senekal se taktiese vernuf.”

      “Die held van Skeurbuikhoogte,” sê Ben.

      “Van Allesverloren en Droogleegte,” sê Reitz.

      Hulle soek skuiling teen die hang van ’n groterige kliprant met groot, los rotsblokke. Vind ’n vlak grot. Maak vuur. Eet die kos wat die boer vir hulle ingesit het.

      Jong Abraham is weer onsamehangend.

      “Met die bef beroer,” sê hy.

      “Abraham, wat skeel?” vra Willem. Afgetrokke.

      “Kornuitsonde,” sê Abraham, en sy oë rol effens.

      “Slegte nag,” sê Ben vir Reitz. “Abraham is erg opgeruie.”

      Dit is middel-Februarie, die ergste somerhitte begin afneem.

      “In hierdie streke word dit goed koud snags,” sê Ben.

      “Onder die grond loop daar kimberlietpype,” sê Reitz, “maar of daar diamante in is, kan nie met sekerheid gesê word nie.”

      “Moet dit in ieder geval nie te hard sê nie,” sê Ben.


Скачать книгу