Ester. Kerneels Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Ester - Kerneels Breytenbach


Скачать книгу
glimlag gewaag en in die rigting van die twee konstabels gekyk, albei steeds staande sedert hy die kamer binnegetree en hy hulle met die SAP-saluut gegroet het. Fitzsimmons en Bentley het nie geglimlag nie, vir hulle was dit ’n feit soos ’n koei.

      “Laat ek die groter prentjie vir julle skilder,” het die brigadier van agter sy lessenaar begin. “Die oorlog teen Duitsland en Italië is gewonne,” deklameer hy in Engels teenoor sy drie staande toehoorders, “maar nog nie in alle opsigte verby nie. Op 7 Mei, ’n paar weke gelede, nè, het ons agbare Minister van Justisie, sy edele meneer Harry Lawrence, wat ek sekerlik nie aan julle hoef bekend te stel nie, in die Volksraad van die Unie van Suid-Afrika tydens ’n verbale onderonsie met doktor D.F. Malan dit laat val dat doktor Malan tydens die oorlog kontak gemaak het met ’n Duitse spioen, ’n sekere mevrou Denk. Doktor Malan het geskok gereageer op ons agbare Minister van Justisie se woorde. Sigbaar verbleek! Dis hoe die koerante dit gestel het. Fisieke ongemak verduur terwyl hy vanuit die regeringsbanke getreiter is. Julle het sekerlik gelees hiervan …”

      Sy luisteraars knik onseker, nie bereid om hom oor beuselagtighede teleur te stel nie. ’n Duitse spioen? En wat sal ’n Duitse spioen nou met ’n Nat uit te waaie wil hê? Maar die geslepe ou strydros agter die lessenaar sien alles raak, merk die huiwering op en die vertes waarheen hul oë skielik gesamentlik mik, wat vir hom bevestig dat hulle dalk van so iets gehoor het, maar dat hulle waarskynlik nie getroue koerantlesers is nie. Hulle pas só knap in by sy strategie. Bergman het nie filosowe en denkers nodig om hom by te staan nie.

      “Natuurlik weet ons hoekom doktor Malan verstar het daar waar hy op sy leerbank gesit het. Ons weet ook hoekom sy kornuit Paul Sauer gehaas het om hom te onderskraag!” Die brigadier geniet sy relaas dermate dat hy so met die praat ’n sproeireën fyn speeksel oor die tafel stuur. “Die Vrystater Henning Klopper het nog gedink hy karnuffel vir Lawrence oor interneringskampe, toe werp ons minister die tere saak in die Nasionale Party se midde. ‘Vra die agbare lid vir Piketberg wat tydens die oorlog gebeur het,’ sê hy. Dikke Dail Malan maak eers of hy niks weet nie. Toe sê die minister: ‘Vra vir Malan oor ’n mevrou Denk.’ Terwyl die lid vir Piketberg kriewel en die floutes wil kry, skree agterbankers aan regeringskant dat die minister moet uitkom met die volle waarheid. Hy moet ophou dinge insinueer. En daar, in dieselfde parlement waar generaal Louis Botha die Unie se eerste volksgesante byeengebring het, onthul minister Lawrence dat die sonder twyfel agbare lid vir Piketberg op 16 Januarie 1940 kontak gehad het met die Duitse spioen mevrou Denk. En hy onthul aan die Volksraad, en natuurlik die ganse Suid-Afrika, hoe die Geallieerde Magte ná die Duitse kapitulasie tussen die dokumente van Von Ribbentrop se Departement van Buitelandse Sake afgekom het op ’n verslag oor die ontmoeting tussen die onbesproke lid vir Piketberg en mevrou Denk, ’n verslag wat via ’n persoon genaamd Karlowa aan die Duitse opperbevel gestuur is.”

      Die brigadier maak gewag van ’n dramatiese verposing.

      Konstabels Fitzsimmons en Bentley versit onderskeidelik hul gewig van die een voet na ’n ander, knak en sluit die knieë in opgewonde antisipasie van nuus wat hulle dalk veronderstél is om te ken, maar wat, die waarheid mag nie hier uitgesluit word nie, grotendeels aan hulle onbekend is.

      Net AO Bergman, ’n soekende siel, weet presies waarheen die brigadier op pad is en wat die uiteinde van sy hoogs idiosinkratiese verslag sal wees. Op sy weg sal dit later ook lê om aan die twee konstabels te verduidelik presies wie Von Ribbentrop is, waar Piketberg op die landkaart gevind kan word – kortom, wat gaan vir wat en hoekom.

      “Is dit nie ’n fraaie nom de guerre nie? Karlowa!” Brigadier Butler is nie naastenby korpulent nie, maar te oordeel na die galming van die lagbui waarmee hy sy trits luisteraars nou tot hilariteit aanvuur, huisves sy skraal figuur tog ’n volumineuse buik. Dit alles vanuit die sittende posisie, moenie ’n fout maak nie. “Wie is Karlowa? Wie gaan vir ons die raaisel opklaar van wat die tere woorde was wat mevrou Denk in die agbare lid vir Piketberg se ore geprewel het? Wat was hierdie man van God se opregte antwoord toe sy hom vertel hoe Duitsland die suiderpunt van Afrika sou herverdeel ná sy triomfantelike oorwinning oor die Geallieerde Magte? En toe sy hom die wens van haar Nazi-meesters oordra dat doktor Malan en generaal Hertzog moet opstaan en die Unie se neutraliteit in die oorlog moet bepleit, wat was sy verlossende antwoord? Die listige woorde van die skone spioen – is dit inderdaad sý wat Hertzog enkele dae ná haar besoek aan Malan in die Volksraad laat opstaan het om ’n vredesmosie voor die agbare lede van die Volksraad in te dien? Of was dit doktor Malan wat hom dit laat doen het, in opdrag van die fraaie Duitse besoeker? O, dit was ’n joligheid! J.G. Strijdom het die man van God probeer beskerm. Eric Louw het, soos hy gewend was, in die karakters van almal ingeklim en ons geliefde minister sy humeur laat verloor. Selfs Arthur Barlow en kolonel Stallard het ernstige kritiek op ons minister se hantering van die inligting uitgespreek. Die engele van God het hulle om die man met die kale paat geskaar. Daar was peper op die vloer, mosterd in die agbare volksraadslede se stemme, en suurlemoen in hul oë, aldus die koerante …”

      Dan, onverwags, is dit grappies op ’n stokkie vir die brigadier. Hy maak sy keel skoon met ’n doelgerigte roggel, kom regop en kyk sy gehoor een vir een in die oë.

      “Kolonel Stallard het gesinspeel op ’n kommissie van ondersoek. En soos julle weet, het waarnemende eerste minister Hofmeyr die volgende dag kennis gegee van die aanstel van ’n Gekose Komitee oor Duitse Buitelandsesake-dokumente. Onder voorsitterskap van meneer A.E. Trollip van die Verenigde Party. Die regerende party het twee ander verteenwoordigers op die komitee, synde J.C. Faure en P.V. Pocock. Die Arbeidersparty het meneer J. Christie bygedra, en die Nasionaliste drie, te wete A.J. Stals, T.E. Dönges en G.P. Steyn.”

      Die brigadier se gedagtes begin dwaal terwyl hy die name aftel. Hoe moet hy dit vir die troepe uitspel? Hoe direk kan hy wees? Hy versink die grootste deel van ’n minuut in stilte, onmenslik lank volgens sy eie standaarde van duidelike en aanhoudende selfbetuiging. Dan gaan hy voort, sy besluit geneem: “Waaroor gaan dit hier? As julle vir my sê dit gaan net oor verraad, sal ek lag!” Hy gee hulle weer die volle lading van sy ondersoekende blik. “Dit gaan oor hoogverraad ten tye van oorlog! Hoogverraad! As Malan skuldig is daaraan, sal hy deur sy portuurs in die Volksraad verhoor word. Niks van hierdie gemors in die howe voor regters wat sit en slaap nie. Nee. In die oë van die volk sal hy ondervra word, en indien skuldig bevind, ter dood veroordeel word.”

      AO Bergman ken die landswette. Hy het verwag dat die gevolge ernstig sou wees vir Malan. Maar konstabels Fitzsimons en Bentley? O, geniet hulle dit nie! Té lekker. Hulle is meegevoer deur die brigadier se opregte passie, sy ooglopende gebrek aan twyfel oor wat die eindpunt van hierdie stukkie landsgeskiedenis gaan wees, sy onfeilbare insig in die situasie, al is hul begrip daarvoor tans armoedig en net wat ’n mens van hulle sou kon verwag.

      “Jou taak, adjudant-offisier Bergman, is om mevrou Denk te gaan haal op Mecklenburg, die Denk-familieplaas noordoos van Windhoek, en haar per trein van Windhoek na Kaapstad te bring. Sy sal aanstaande Dinsdag 4 Junie voor die Gekose Komitee verskyn om te getuig oor die inhoud van die verslag wat sy aan Karlowa gestuur het. Konstabels, julle sal AO Bergman bystaan, en hom help om te sorg dat mevrou Denk veilig in Kaapstad aankom, en dat niemand met haar kommunikeer sonder dat julle teenwoordig is nie. Julle sal alles wat sy met buitestanders praat, neerskryf vir toekomstige verwysing. Verkieslik mag niemand met haar kontak maak nie.”

      Die brigadier kyk af na die teekoppie voor hom. “Een spesiale reëling geld,” sê hy. “Die Duitsers van Suidwes, hulle is nog nie heeltemal te vertrou nie. Dis ’n delikate saak. Daarom gaan ons die onmoontlike probeer vermag – met een drywer en stoker van Windhoek tot De Aar vorder. Die geluk is aan ons kant. ’n Onmenslik sterke stoker is volgens die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens se rotasiestelsel aan diens. Dit sal jou taak wees, adjudant-offisier Bergman, om ’n besorgde oog oor hom en sy drywer te hou. As jy by enige van die stasies merk hulle gaan dit nie kan volhou nie, mag jy die stasiemeester vra om te telegrafeer vir aflossers by die volgende stasie.” Hy hou Bergman se blik, ongemaklik lank sonder om verder te praat. “Verkieslik nie. Ons wil nie hê enige Nazi-meelopers moet in hierdie stadium ons sending saboteer nie, wil ons?”

      Soos dit ’n man van sy onbetwisbare integriteit betaam, verduidelik hy aan hulle dat mevrou Denk nie ’n gevangene is nie. Sy is ’n gas van die Staat, uitgenooi deur die Gekose Komitee.


Скачать книгу