Ester. Kerneels Breytenbach
Читать онлайн книгу.maar dit is twee dieners wat daar op die stoepie staan. Dis ’n toneeltjie wat die drywer dadelik bang maak, twee kakie-uniforms voor ’n sinkplaathuisie. Ou herinneringe van die slegte afloop van toktokkiespelery kom by hom op en vul hom met ’n naarheid. Sy vrou, Elize, is in die kombuis besig met sy kostrommel, en hy neem die dieners daarheen, stil soos muise.
Die een met range verbreek sy swye: “Adjudant-offisier Bergman,” en gee hom die hand.
“Jurie Kimberley.” Hy gee sy bynaam, nog lam van die skrik.
Die dieners knik net. Weet wie hy is.
Elize onverstoord. Sy trommel toegemaak, aangegee. Elize se vredigheid is misleidend.
“Ons kom jou haal,” sê AO Bergman.
“Wat het ek verkeerd gedoen?” roep Jurie Kimberley uit. Armoede moet altyd voor mag kapituleer, nie waar nie?
Die dieners deel onderlangs ’n blik. “Niks nie.” Glimlagge in die rondte. “Ons moet net seker maak dat jy die trein vandag op tyd wegkry.”
O. Mond wat die klank vorm, maar nie lug gee nie.
“Presies volgens skedule.”
Jurie wou niks sê nie, maar die hele situasie is vir hom baie eienaardig. Twee dieners kom haal ’n treindrywer, pleks van die roepman, stap in sy huis in, staan sy vrou behoorlik toe in sy kombuis. Natuurlik sal hy begin voel of hulle iets weet wat hy verkeerd gedoen het. Maar hulle kyk net onder mekaar vir hom, asof hy iemand is wat maar altyd aan die verkeerde kant van die spoorlyn sal woon. Só is dit mos maar met hom.
AO Bergman laat hom sy trommel en tassie kry, prop hom in hul Chevrolet Fleetline voor die deur in, terug na Bahnhofstrasse. “’n Spesiale passasier klim in Windhoek op,” sê Bergman langs hom.
Jurie Kimberley, die enigste lid van hierdie klein kring wat geen benul het van presies waar hy in die groot geheimsinnigheid inpas nie, kyk hoe sinkplaathuise en rooi bakstene plek maak vir mooier modder, gebak in die een of ander godverlate groef buite Windhoek. Die oorlog is nou al lank genoeg verby. Waarom nou nog sulke dinge? Hy geniet die rit in die polisiemotor, soveel weelderiger as die roepman se trokkie, maar sy gedagtes is tuis, by Elize, wie se maag seker nou al gegaan het. Sulke onverwagse dinge, soos hierdie besoek, slaan op haar senuwees.
“Dis ’n vrou,” onderbreek AO Bergman die gang van sy gedagtes. “Dinsdag laai ons haar in Kaapstad af. Hulle wag vir haar daar.”
“Hulle?”
“’n Gekose komitee van die Volksraad.”
“Goed,” sê Jurie. “’n Spesiale vrou.”
“Baie.”
By Bahnhofstrasse draai hulle op na die stasiegebou, ’n groot wit dubbelverdieping-gebou in Duitse styl gebou, met ’n titseltjie Holland in die gewels. Die konstabel agter die stuurwiel parkeer die Chevy Fleetline dwarsoor ’n gereserveerde plek vir polisievoertuie skuins voor die stasie-ingang, asof hy vir die wêreld wil uitbasuin dat hulle van Pretoria hulle nie aan kleinburgerlike dinge soos parkeerplekke steur nie.
En nou stap AO Bergman langs Jurie, die konstabel agter hulle. Op met die trappies, verby die stasiemeester se kantoor, verby die loodsman en die roepman, wat net vir Jurie knik, sy oë groot. Af met die perron, en aan die onderpunt daarvan af na grondvlak, en oor die spore, na die jaart se kant, tot by die asput, waar die 7F-lokomotief al wag, en Daveltjie die wonderdadige stoker gereed staan. Daveltjie wat so gretig is om ’n welbehae te wees vir Jurie Kimberley, die lewende legende, die treindrywer wat nog nooit ooit ’n enkele keer laat uit ’n stasie vertrek het nie, en nog minder laat aangekom het by sy bestemming – selfs al was daar ’n swerm sprinkane onderweg wat die spore glad en olierig gemaak het, hel vir enige stoomlokomotief, en ’n nóg groter hel vir enige stoker, wat dan gruis voor die wiele moet gooi vir traksie én die vuur daarbo aan die prima-prut moet hou.
Daveltjie is altyd vroegtydig op sy pos, wanneer Jurie Kimberley nog tuis sy oor spits vir die roepman se klop. Daveltjie se hart swel van trots as hy net dink aan die lokomotief waarin hy nou staan. Die pragtige 4-8-0-wielstel, die grootste wat nog enige plek in die wêreld op treine gebruik is. Met sy klas 7F-stoomketel, nasaat van die ou Mastodon-lokomotiewe wat al in 1913 in die Unie begin diens doen het, en ná 1925 volopper geword het. Vra vir Jurie Kimberley, soos Daveltjie gereeld doen, want hy is nie ’n ou vir dinge onthou nie, en Jurie sal jou die detail gee oor die kleinste stukkie apparaat in die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens se magasyn. Vra vir Jurie Kimberley, hy wat nou langs die 7F staan, die hand van die diener met die rang op sy skouer, asof hy ’n pa is wat sy kind voorsê.
Daveltjie hou die ding só dop: Die ander diener wat so effens tru staan van die grootkop, maar tog met gespanne aandag luister na wat gesê word. Gespanne aandag en ’n aardige glimlag, presies dieselfde trek as wat die voorryman gehad het wat hom verlede Saterdag op die rugbyveld gemoer het, die grimas van mag, wat ’n mens net sien wanneer jy ónder lê – die prerogatief van die onderdruktes. Daveltjie voel sommer aan sy pere dat hier moeilikheid kom. Hy kan Jurie Kimberley se gesig nie sien nie, maar hy kan sien aan die manier wat Jurie beduie met sy arms, die kak sit wit op die klippe.
“Sy’s joune.” Die man met die rang neem van Jurie Kimberley afskeid.
Die drywer klim met ’n lang gesig op na die vloerplaat. Daveltjie staan sommer tru, laat kom net met ’n “more, oom Jurie”. Daveltjie kom oorspronklik van Transvaal af.
Die dieners is al ver op pad terug stasie toe.
“Daveltjie, my mater.” Jurie Kimberley sit sy kostrommeltjie en tassie op hul gebruiklike plek neer.
“Die vuur is al geskud, oom Jurie.”
Kimberley kyk af, sien dat die valrooster oopgetrek is. Die reste van die veertien ton steenkool wat die 7F op sy laaste op-tog na Windhoek verbrand het, lê nou onder in die asput, as en stof, as tot stof.
Voordat die dieners Jurie Kimberley hier aangebring het, was Daveltjie besig om met die klinkerhark ’n nuwe vuur te bou.
Die loodsman het nie kans gekry om die lokomotief hierdie keer behoorlik skoon te maak nie. Gelukkig het die drywer wat dit van Walvis af opgebring het dit in ’n goeie toestand gelaat nadat hy die lokomotief gestabiliseer het.
“Laat ek jou vertel, Daveltjie.” Koddig hoe die gryse spoorweg-puris van Daveltjie praat terwyl Daveltjie ’n goeie ses duim langer as hy is, met spiere soos Tromp van Diggelen. Maar dis sy reg, as drywer, om só te praat, en Daveltjie voel vereer om deur Jurie Kimberley geken te wees.
Jurie vertel van die groot nuus wat hy pas moes aanhoor: “Daai ou is adjudant-offisier Bergman. Dis sy jop om te sorg dat ons trein vandag ’n baie belangrike passasier hier wegneem. Sy moet Dinsdag in Kaapstad wees, die regering wil haar aantree voor ’n gekose komitee; onse Liewe Hemelse Vader alleen weet wat dit is, moet my nie vra nie.”
Daveltjie kyk na sy drywer. Jurie Kimberley, hy wat sy leerlingskap gedoen het tussen Kimberley en De Aar, hy wat lank die topstoker was in Germiston, van waar hy bevorder is tot drywer en nooit weer teruggekyk het nie, hy is nou baie omgekrap deur die adjudant-offisier. Duidelik.
“Die trein van Usakos sal presies op skedule om twaalf minute oor twaalf hier wees. Ons het gesorg daarvoor. Dit gee jou genoeg tyd vir die omruil van lokomotiewe. Maar om halfeen stiptelik sal jy uit hierdie stasie uit vertrek, ja?”
Daveltjie se aandag vat so bietjie-bietjie. “Jis, oom Jurie, kom die vrou al van Walvisbaai deur?”
Jurie Kimberley staar ’n oomblik glasig in die verte. “Nee,” sê hy ná ’n ruk. “Sy is in ’n losieshuis naby die stasie. Die dieners sit haar presies vyf en twintig minute oor twaalf op die trein.”
Daveltjie se mond vorm die “o” maar hy maak nie die klank nie, nes Jurie Kimberley altyd doen. Hy sien die swart hond het weer oom Jurie se gedermte beet, slaat in sweetdruppels op sy gesig uit. Maar Daveltjie kan nie weet nie, hoe sou hy, nè, dat Jurie Kimberley bekommerd is oor hom wat Daveltjie is, dat hy voel hy moet die klong beskerm, sy gemoed vul met heerlikheid en lig en ’n welbehae in die lewe.