Ester. Kerneels Breytenbach
Читать онлайн книгу.van patriarg Bergman se vrou se een oom, wat in 1925, tydens generaal Hertzog se eerste Nasionale Goewerment, Lid van die Provinsiale Raad vir Wakkerstroom geword het, was die patriarg in 1932, met die groot Depressie, feitlik op sy knieë. Die AO, toe in sy derde jaar as regstudent op Stellenbosch, moes terugkeer plaas toe. Twee jaar later het sy Stellenbosse droom weggewaai saam met die warm winde wat die groot droogte oor die Hoëveld vasgedruk het. ’n Mens kan jou voorstel, terugskouend, dat hy twee keuses gehad het: onderwys of polisie. Omdat hy die belangstelling had in regspleging, was die polisiediens vanselfsprekend sy keuse. Dit was geen geheim nie in sy klein vriendekring op die dorp dat hy intens bewus was van hoe anders dit vir hom kon gewees het, was dit nie vir die Depressie nie, en, uiteraard, as die kapitalisme nie in 1929 sy Groot Hik gehik het nie. Sou hy afgestudeer teruggekeer het na sy geboortedorp, om een van die vername Duitse families se dogter na die kansel op te voer? Een van die vrouens wat nóú so buite sy bereik is, ’n stasiebevelvoerder helaas nie sosiaal ’n vangs nie? Hy is ’n veteraan van verskeie liefdesteleurstellings, die vrouens op wie hy verlief geraak het nou almal reeds getroud met die ryk boere van die omgewing, of die dorpsadel: dokters, dominees en skoolhoof. Die vroulike liggaam is nie aan hom onbekend nie, maar weens sy vereensaming ook nie in die heel fynste besonderhede nie.
En sy wat in die kompartement in die middel van die wa sit, waarheen hy haar in Windhoek geneem het? Volgens die dokumentasie oor haar wat brigadier Butler in Pretoria aan hom gegee het, is sy ook van ’n besonderse Duitse familie, Nissen-Lass, die eerste van die Duitse nedersetters wat in 1891 na die Duitse kolonie gekom het om hulle naby Windhoek te vestig – ’n skrale jaar ná die koms van Curt von Francois.
Duitswes-adel.
AO Bergman sit in sy kompartement, blaai, lees, blaai en lees. Die opdrifsels uit die een of ander geheime staatsdepartement, inligting oor Duitse inwoners van Suid- en Suidwes-Afrika wat opgediep is vir leidrade na moontlike insurgensie. Duitsers wat tydens die oorlog eers saam met die Afrikaanse opstandiges geïnterneer is, en later na Baviaanspoort oorgeplaas is. Geen Nissen-Lass onder hulle nie, geen Denk. Het sy haar ouers aan die dood afgestaan, soos hy? Nee, die rede blyk uiteindelik, aan die Denk-kant, maar alledaags te wees. Want Denk, Herr Hans Denk, eggenoot van die vrou wat hom op die trap van die treinwa ’n blik in haar siel gegee het, hy het die oorlog deurgebring in Lourenço Marques, te bang om sy voete in die Unie te sit, diep onder die indruk van sy geheime verbintenis met Karlowa en Joachim von Ribbentrop. Hans Denk, geleier van inligting oor die Smuts-regering en hul strategiese paraatheid. Sy vrou, die skone Thyra, wat haar liefde vir haar eggenoot saam met haar ideale vir die Duitse Wêreldryk vertroetel het in die loop van ses lang, sieldodend eensame jare op Mecklenburg, vyf en vyftig myl van Windhoek. Thyra Denk, gereeld die onderwerp van lompe spioenasie deur Sy Majesteit se Suid-Afrikaanse helde.
’n Duitser in ’n omgewing wat deur Afrikaners oorheers is. Sou hy haar daaroor uitvra, sal mevrou Denk hom vertel dat sy geen hoë dunk van die nasate van tulpesmouse het nie – knegte, houthakkers en waterdraers wat bestem is om telkens ’n juk af te werp en dan ’n nuwe een oor die skof te voel skuif. Weggehardloop van die brandstapels van die Hervorming, net om die knie en later die hoof te buig vir die Britse koning. Bestem om altyd weg te vlug na ’n volgende gewaande paradys.
Maar nou is hy nog heeltemal onder die indruk van haar as Suidwes-presteerder, hierdie kosb’re pêrel, fraaie pêrel, wat onskendbaar op Mecklenburg bly glinster het terwyl die oorlog met groot gedruis in die gemoedere van Duitssprekendes chaos gesaai het.
Die AO kyk op van die legger. Die dokumentasie oor haar laat hom begryp hoekom sy met soveel omsigtigheid benader word. Al in 1940 moes daar besluit word of sy as Duitse spioen geïnterneer moes word. Altesame sewe Duitse vroue is in die loop van die oorlog na ’n interneringskamp in Suid-Rhodesië gestuur. Maar sy was nie een van hulle nie. Hoekom? wonder AO Bergman. Niemand het kans gesien om haar te laat haal nie. Sy was daarbowe verhewe. Eintlik ongehoord, voel ons plattelandse stasiehoof, om ’n spioen wat in Duitsland opgelei is toe te laat om onbelemmerd op ’n plaas in Suidwes-Afrika te gaan sit en net nou en dan seker te maak dat haar man nie oor die Angolese grens geglip het om haar te kom besoek nie. Maar daar is nog leemtes in die dokumentasie, en wat hom betref is dit glad nie benede hom om so ’n bietjie uit te vra daaroor nie.
AO Bergman sit terug, draai sy sit oor na sy linkerboud sodat hy sy regterbeen kan kruis en by die venster uitstaar. Hy sien, maar sien ook nie. Hy het ’n hele skedule opgetrek vir die reis, maar hy kan nie nóú daaraan aandag gee nie. Sy gedagtes is by haar oë, by sy hand en hoe sy dit neem, maar nie beweeg nie. Net kyk na hom. Kyk in hom. Het sy hartslag versnel? Het sy dit vermoed?
Hy ken haar slegs ’n dag en tog dink hy aan niks anders nie. ’n Pianis, nes sy ma. Hý wat so gewoond geraak het daaraan om te hunker, pynlik te verlang na iemand wat hy nog nooit ontmoet het nie, wat gedink het dis sy lot om sy skemerjare alleen tegemoet te gaan, hy dink skielik anders oor haar. Natuurlik, sê hy vir homself, is dit muisneste, wat hy op sy ouderdom nie behoort te hê nie. Maar hoe moet hy weet om hierdie verlange na haar nabyheid te hanteer, hý wat nog nooit só verbyster is deur ’n aanraking en ’n blik nie?
Kon hy dit verhelp, die galante heer wat deur haar oë diep in haar siel gestaar het? Hy was dadelik oorweldig deur die begeerte dat sy tot hom toegeneë moes raak. Tot hom, Dieter Bergman. Nie tot die uniform en die rang wat daarmee saamgaan nie. Kon sy hom verlos van die vakuum aan liefdesherinneringe wat hy met hom saamdra?
Sy, ’n getroude vrou, tans sonder gemaal?
En met sy hart wat bons soos dié van ’n tiener, is die AO onverwags bly oor brigadier Butler se besluit dat die wa waarin mevrou Denk haar vir die duur van die reis sal bevind, met uitsondering van etes, aan die eindpunt van die trein is, net voor die bagasiewa, waar geen ander passasiers kan rondsnuffel nie. Hulle sal nie by die konstabels Fitzsimmons en Bentley verbykom nie. Nie dat die SA Spoorweë & Hawens enige verdere besprekings vir hierdie tog aanvaar het nadat die Gekose Komitee besluit het om mevrou Denk vanuit Windhoek te laat afreis nie. Dít was brigadier Butler se eerste dekreet.
Fitzsimmons en Bentley deel ’n kajuit op die punt naaste aan die res van die trein, in die kompartement langs hulle is Bergman, twee kompartemente verder is mevrou Denk. Weerskante van mevrou Denk is ’n leë kompartement en heel aan die einde van die wa is die kloos, deur brigadier Butler aangewys as vir die uitsluitende gebruik van die Duitse spioen.
Ná hul wa is daar geen passasierwaens of mense nie. Net die bagasiewa.
Hoe geval die reis vir haar wat die gemoed van AO Bergman vul, sy bloed laat bruis? Sy wat in Windhoek dit gelate aanvaar het dat konstabels Fitzsimmons en Bentley haar koffers op die bank verste van die lokomotief plaas sodat sy heelpad agtertoe kyk? Wat sonder om ’n spier in haar ongegrimeerde dog opvallend aantreklike gesig te trek luister hoe Fitzsimmons in geradbraakte, gemutileerde Duits verduidelik dat sy die boonste bank kan afslaan en die koffers wat sy die minste gebruik daarop kan plaas? Sy het ’n sweem van ’n glimlag kon deel met Bentley, wat in nog meer beskadigde Duits vertel het dat dit beter is om met haar rug na die lokomotief te reis, aangesien die kans dat daar dan van die lokomotief se roet in haar oë kan waai, feitlik nul is.
Ná hul vertrek het sy die kompartement bekyk, die rakkies bokant die vensters gesien en dadelik haar grimering, seep, waslappie en tandeborsel daarin geplaas. Sy het die blad van die tafeltjie tussen die sitbanke opgeslaan, sodat dit ’n wasbakkie onthul, haar hande gewas. Uit haar kleinste tas het sy ’n handdoekie gehaal, en toe die proses afgehandel was, het sy ’n hangplek daarvoor bokant die skuifdeur gevind. Toe eers het die blou leer van die sitbanke, wat saans haar bed sou word, haar opgeval, en die baie hout-paneelwerk, en die ry van vyf foto’s in rame bokant albei sitbanke. Plekke waarvan sy gehoor het, maar nog nooit gesien het nie: Sir Lowryspas uit ’n trein gesien, leeus wat ’n bokkie in die wildtuin eet, Houtbaai se berg, Durban se strand, en die drake se berge. Die ander plekke herken sy nie.
Sy slaan die boonste slaapbank oorkant haar sitplek af, tel haar stel koffers op en plaas hulle een vir een daarop neer. Die reuk van die tasse bring dadelik ryke herinneringe – in die Wielandstrasse gekoop voordat sy na Afrika gekom het, netjiese kompartemente waarin niks kan kreukel nie. Sy ruik die leerwerk daarvan, dink terug aan die Salon.
Sy glimlag – of is dit ’n grimas? Haar gedagtegang het