Ester. Kerneels Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Ester - Kerneels Breytenbach


Скачать книгу
onderweg, soos voorgeskryf, per telegram inlig oor die spesiale gas op die trein, maar ons sal na haar verwys as ’n genooide persoon, nié ’n gevangene nie. Julle ken Gresham se Wet. Eenvoudig gestel: Daar is meer pennies as ponde in omloop. Maar nie hier nie. Nee. Nie pennieplesier vir ons gas nie. Vir haar is dit pondepret. Sy sal nie in ’n tweedeklaskompartement toegesluit word nie. Sy ry eerste klas. Julle ook. Geniet dit terwyl jule kan. Dis ’n spesiale geval dié. Hoogverraad is nie elke dag se storie nie. Mevrou Denk word nooit geboei nie. Daar sal nie voortdurend ’n wag voor haar deur wees nie. Maar jul wa is die laaste voor die bagasiewa, en julle sal jul kompartemente só kies dat niemand by julle kan verby sonder dat julle dit weet nie. Die heel laaste toilet in die trein word vir haar uitsluitende gebruik gereserveer. Wanneer sy nie daarbinne is nie, sluit AO Bergman dit en hou die sleutel by hom.”

      Die brigadier wend hom weer tot ’n verposing, om die opgeboude speeksel in sy mond af te sluk. “En belangrikste van alles,” sê hy dan, “voedsel word nie na haar geneem nie. Sy sal haar in die eetwa as gas van die regering gaan verlustig in die ryke spyse wat aangebied word. ’n Spesiale vergunning word aan hierdie trein gemaak. Geen rantsoenering is hier van toepassing nie, en ons het moeite gedoen om te sorg dat die rit vir mevrou Denk só aangenaam sal wees dat sy sonder huiwering haar samewerking sal gee.”

      Die brigadier staan op agter sy lessenaar. “Is dit duidelik?”

      Die konstabels begryp, ja. Die koning en Jan Smuts kyk ingenome oor die brigadier se skouers na hul skrander dienaars.

      Meer as duidelik genoeg ook vir AO Bergman. Hy moet sorg dat die regering se ster-getuie veilig in die Kaap aankom sonder dat Malan se mense met haar lol of op sinistere manier haar geheue besoedel. Niks hoef aan hom verduidelik te word oor die nar in die visier nie, ’n hangery hoef nie geregverdig te word nie, hoogverraad hoef nie aan hom uitgewys te word in die statute van halsmisdade nie – hy beweeg reeds aan, getransformeer, vlerke aan die voete, sy strydwa wat vlamme in die lug brand, ’n krans skitterliggies wat hy in sy lugbaan agterna sprinkel, die engele daarbowe wat sy pad oopblaas na Mecklenburg, die plaas van die Denk-dinastie noordoos van Windhoek, waar hy en sy twee konstabels op die oggend van 31 Mei arriveer in ’n bruin Chevrolet Fleetline, eiendom van die Staat.

      Mevrou Denk het hulle sien aankom, van ver af al. Anders as die smeerlappe wat tydens die oorlog kom spioeneer het, was hul aankoms onverwags nadat hulle dae lank iewers agter ’n bos geskuil het terwyl hulle die plaasopstal dopgehou het om te sien of die spioen Hans Denk nie ’n draai by die huis kom maak het om sy huweliksregte lewend te hou nie.

      Sy het gereeld die horison dopgehou, in die lug daarbo gesoek na roofvoëls wat sirkel. Hulle het die voorafgaande paar jaar las gehad van luiperds, wat dele van die karkasse van wildsbokke net so laat lê, traak-my-nie-agtig omdat almal weet, mens en dier, daar is nie ’n manshand wat sake vasvat nie.

      Daardie spulletjie was nie aasvoëls nie. Hulle het argeloos en kommervry aangestorm, die stofwolk van hul motor van ver sigbaar. Nader aan die plaas kon sy sien hoekom die stofwolk so buitengewoon was. Hulle het gejáág. Dit het gelyk of die vier wiele nooit tegelyk op die grondpaadjie was nie. Natuurlik nie hul eie motor wat hulle gebruik het nie. Geen rede vir pamperlang nie. ’n Amerikaanse motor. Groot en blink en met ’n oorweldigende estetiese wanstaltigheid, ’n voertuig sonder stuitjie. Hulle het gewag vir die stofwolk om te gaan lê voordat hulle uitgeklim het uit die staalkas met wiele. AO Bergman het agter gesit, sy bene sonder twyfel lank uitgestrek. Só sou sy ook sit, die hele pad terug na Windhoek, Bentley en Fitzsimmons wat later sou onthou, van hul lippe na my gesoute ore, dat sy in daardie sit-lêende posisie nie ’n enkele woord gepraat het nie, heelpad.

      Mevrou Denk wag hulle op die trappe van die stoep in. Alleen.

      Konstabel Bentley, die toonbeeld van bronstigheid, sal tot op sy sterfbed vertel dat sy vir hom gelyk het soos die boegbeeld op ’n outydse seilskip – “beeldskoon, haar rok wat om haar knie in die ligte briesie beweeg. Waar ek gestaan het, het dit gelyk asof sy bo-oor ons koppe kyk, haar oë op die toekoms gefokus.” En afhangende van die hoeveelheid dop-en-dam wat die bejaarde Bentley gesink het voor die ophaal van sy herinneringe, sal hy met ’n trotse laggie erken dat “as sy op daardie oomblik haar regterarm uitgeskiet het en ‘Heil Hitler!’ uitgeroep het, sou ek die saluut beantwoord het. Daardie antie was die Here weet warm.”

      Deel AO Bergman sy gewaarwording? Hy wat rustig nader stap na die groot voorstoep van die opstal, waar hierdie visioen haar twee bene betreklik aggressief wyd van mekaar geplant het? Sien hy die sterk lyn van haar ken, die staal in haar blou oë? Is hy meer bewus van die kragtige bobene en heupe as van die skouers wat effens lakonies terugsak, asof dit als haar nie raak nie?

      Sonder om te wag dat sy hom nooi, neem hy die leiding en stap met die trappies op na die stoep se koelte, ’n verlossende gevoel van kalmte wat oor hom kom die oomblik dat hy in die skadu staan, sy oë wat sowel die plaaswerkers op die werf as die horings van koedoes en gemsbokke teen die mure op die stoep inneem voordat hy sy aandag weer stadig na mevrou Denk terugbring.

      Kort op sy hakke kom die konstabels Bentley en Fitzsimmons aangedrentel soos prostitute by ’n sinodesitting. Hulle kom onverwags tot stilstand, amper teenaan die Oos-Transvaler, en staar met jakopeweroë na mevrou Denk. Diep onder die indruk van die feit dat hulle nie oorlogsaksie ervaar het nie en nou eers, ná alles verby is, hul eerste kontak maak met die Vyand.

      “Mevrou Denk?” AO Bergman se vraag is versigtig, onseker. Hy het op die vliegtuig die dokumentasie deurgegaan. Hy kan nie glo hoe jeugdig sy lyk nie, ’n blosende skoonheid, elke duim van haar gesond en kragtig. Soos sy daar staan. Kan sy werklik ouer wees as sy nege en dertig lewensjare? Die lewe op die plaas moet goed wees vir haar, dink hy.

      “Thyra Elizabeth Margarethe Denk.” Haar uitspraak duidelik, die sillabes wat melodieus oor haar lippe gly. Terwyl sy praat, wil-wil sy die woorde skandeer, jambes daarin vind. ’n Sangeres? wonder hy.

      Hy stel homself voor, met rang.

      Die konstabels vir eers anoniem.

      AO Bergman, doelgerig: “Ons is hier met ’n versoek …”

      “Geen Afrikaans nie, asseblief!” Sy val hom op Duits in die rede. “Ek is die taal nie magtig nie.”

      Geen verskonende glimlag nie, Fitzsimmons en Bentley merk dit albei op.

      “Engels …?”

      “Absoluut nie!”

      Mevrou Denk hou sy blik – ’n geesgenoot van brigadier Butler, dink die AO, maar aan die ander kant. Moontlik verwag sy die polisieman se moed sal hom begewe. Tog reageer sy nie wanneer hy vlot in Duits voortgaan nie: “Ons is hier met ’n versoek van die Suid-Afrikaanse Volksraad …”

      “Kan ek koffie aanbied?” vra sy, hoflik ondanks haar natuurlike ongeneentheid.

      Die twee konstabels swyg steeds. Sy is nie seker of hulle verstaan of nie. Die woord “Kaffee” sal hulle sekerlik kan eien.

      Sy herhaal haar vraag. Praat stadiger.

      Fitzsimmons en Bentley knik hul kop, ja, hulle sal koffie nou baie geniet.

      Mevrou Denk draai na haar huishoudster. Gee haar ’n teken.

      “Hel,” fluister Bentley aan Fitzsimmons, “die spioen het ’n wit bediende.”

      Mevrou Denk steur haar nie aan Bentley nie.

      Die vrou verdwyn dadelik die huis in terwyl die beeldskone spioen van weleer oor die stoep stap en in een van die gemakstoele gaan sit. Sou sy weet hulle kyk na elke treetjie wat sy gee? Hoe sy stap, gemaklike treë waarmee sy haar voete amper in stadige pas na vore laat gly, haar liggaam wat soepel en grasieus sweef daarbowe? Na die manier waarop sy haar bene kruis en hulle haar slanke kuite sien, haar enkels en die sandale wat nie die fynheid van haar voete verberg nie?

      Die oomblikke word vir AO Bergman al langer. Hy neem nie aanstoot aan die manier waarop sy hom doodgepraat het nie, die manier waarop sy die leiding in die gesprek oorgeneem het nie. Dit gee hom die geleentheid om te kyk hoe sy beweeg. Soos hy gemaak het as kind, wanneer hy in die veld afkom op iets wat hy nog nooit in sy lewe gesien het nie. Verwondering


Скачать книгу