Ester. Kerneels Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Ester - Kerneels Breytenbach


Скачать книгу
musiek wat geneurie word om die hitte in die pot aan te moedig, Wachet auf, en vir ’n oomblik voel hy tuis.

      Mevrou Denk, haar alleraandag op AO Bergman, neurie nie saam nie. Haar gedagtes is gefokus, kan ’n mens raai: Drie polisiemanne wat gestuur is om die vuil werk van die Unie-regering te doen. Een vrou, drie mans?

      Vir haar opgeleide oog is dit duidelik dat AO Bergman ongeduldig is om te begin. Hy het nie sy kans waargeneem om die jagtrofeë teen die voorstoep se muur te bewonder nie, of die olifantpote wat dien as staanders vir asbakkies nie. Hy het nie die springbok- en sebravelle gesien wat oor die leiklip van die stoep gegooi is nie. Sy sitvlak het nog nie eers die bekleedsel van sy stoel geraak voordat hy sy tassie nader trek en ’n paar velle papier uitgehaal het nie. “Herken u hierdie dokument?”

      Mevrou Denk strek haar hand uit, haar naels effens donkerder as velkleur getint met naellak, die hele beweging van hand en pols elegant genoeg om die konstabels die kop te laat lig. Sy neem die dokument by hom. Vars getik. Karlowa se rapportering aan die Ryksminister vir Buitelandse Sake, Joachim von Ribbentrop, oor Thyra Denk se verslag. Geskryf iewers in Maart 1940. Sy slaan haar oë op na Bergman. “Afskrif?”

      AO Bergman antwoord nie.

      Die dokument is in Duits. Sou sy bewus wees van die stip blik van AO Bergman? Van die vernouing van sy oë wanneer hy sien hoe die kleur haar gesig verlaat? Die AO stel hom die versnelling van haar hartslag voor, oortuig daarvan dat daar ’n groot innerlike stryd by haar is om te sorg dat sy geen verdere teken van onsteltenis gee nie. Maar mevrou Denk maak of sy lees, die een wenkbrou gelig asof iets tot haar deurdring. Die oorlog is verby. Sal daardie besoek aan Malan haar nou, na die jare wat sy op hierdie verlate plaas in eensaamheid moes lewe, uiteindelik inhaal? Haar enigste betrokkenheid by die oorlog?

      Sy begin praat. “Ja.” Sy kan die oorlog nie ongedaan maak nie. Geen daad, onbesonne of weldeurdag, kan enigiets verander nie. “Dit is my verslag, gerapporteer deur my eggenoot.”

      Terwyl AO Bergman nog wonder of hy veronderstel is om soete oorwinning te smaak, verras sy hom. “Is dit al? Die dokumente waaroor die koerante geskryf het?”

      Die koffie is ingedra deur die huishulp, sy wat so in die kombuis staan en Bach neurie.

      Bergman wat bly sit. Hy laat sy glimlag talm terwyl die vrou in die vertrek is. Laat haar nie toe om heeltemal op haar gemak te raak nie.

      “Die versoek?” Sy kyk af na die papier in haar hande terwyl sy praat.

      “Die Volksraad van die Unie van Suid-Afrika het op 9 Mei vanjaar ’n komitee aangestel om na aanleiding van dokumente na afloop van die oorlog gevind in die besit van Von Ribbentrop se Departement van Buitelandse Sake, sekere van daardie dokumente te ondersoek. U hou ’n afskrif van die belangrikste daarvan in u hande.”

      “Verstaan hulle dit dan nie?”

      “U moet die omstandigheid waaruit dit voortgespruit het, asook die implikasies daarvan aan die agbare lede verduidelik.”

      Mevrou Denk bly stil sit, haar koppie koffie in die lug voor haar mond, die beweging gestol. Stadig trek sy die pinkie van die koppie-hand in.

      Waaraan sou sy dink – of dit die finale strik is wat vir haar gestel word? Ses jaar van meedoen aan ’n oorlog ver hiervandaan. Ses jaar van waaksaamheid teen die Unie se agente – agente wat uiteindelik nooit die moed had om haar te arresteer nie, net daar agter hul kamoefleernette gelê en kyk of Hans Denk nie in die rondte is nie. Ses jaar van brute verveling. Ses jaar waarin sy soos ’n versluierde maagd die duiwel van haar ore geweer het.

      “Net die verslag?” Uiteindelik bring sy die koffie nader, ledig die koppie met ’n laaste sluk.

      “Die Gekose Komitee kan nie afwyk van sy opdrag nie.”

      Sy staan op. Beweeg na die deur en gaan staan daar. Kyk uit, oor die stoep, oor die vlaktes duskant Windhoek.

      Haar uitkykpos, oor ses jaar heen. Die veld waar sy só graag gaan wandel het. Die reuk van die skape, die reuk van die stof. Die saligheid van die plaas se stilte, die plaas ’n kollektief van eensames wat nie elders wou wees nie. Nie kón wees nie. ’n Vreemde knegskap.

      Dit sal haar laaste waagstuk wees.

      Daarvan is sy seker.

      Sy draai om, maar gaan sit nie. Dit is tyd vir hulle om te gaan. “Goed,” sê sy. “Net my verslag.” Sy vou haar hande kuis voor haar, asof sy boete doen. “Ons is in elk geval ad idem. Ek het reeds via die koerante verklaar dat ek graag die dokument sal toelig. In die Unie, nie in Suidwes-Afrika nie.”

      Indien sy bewus is daarvan dat dit die beurt is van AO Bergman om ongemaklik te voel, laat sy dit nie blyk nie. Wat het hy verwag, wonder mens, dat sy nie sou gehoor het van die vind van haar verslag aan Karlowa nie? En het hy regtig gedink dat hy hier ’n oomblik van dramatiese kapitulasie sou beleef?

      Hy sit die dokument in sy leertassie weg. Tevrede met die manier waarop hy die heel eerste deel van die opdrag uitgevoer het. ’n Goeie teken, dié. Die gevoel wat hy kry dat hy in beheer is. Dieter Bergman se manier. Méér as wat die polisiehandboeke vereis.

      2

      Mevrou Denk het op dieselfde plek bly staan. Sy het neergekyk op haar drie besoekers. Bergman en sy ploerte eweneens onbeweeglik. Het sekerlik nie die tekens verstaan wat deel is van beskaafde ommegang nie, en wat sy so onsubtiel gesinjaleer het nie: Gaan nou. Loop.

      “U moet u tasse gaan pak,” het Bergman gesê. “Genoeg klere vir vier dae op die trein, ’n paar dae in die Volksraad, en dan weer vier dae terug.”

      “Nog koffie sal lekker wees terwyl sy pak,” sê konstabel Bentley. Aan hom. Asof hy hom nie verwerdig om haar direk aan te spreek nie.

      “Nou praat jy my taal,” sê Fitzsimmons.

      Bergman het na mevrou Denk gedraai: “Asseblief.”

      Maar dit is die huishulp, wat deurentyd in die vooringang getalm het, wat haar kop knik en weer op wieke van Wachet auf deur die donker binneruim van Mecklenburg ingesluk word.

      ’n Uur later gaan hulle vort, sy met vier koffers waarvan een tussen haar en Bergman agter in die Fleetline staan. Mevrou Denk versonke in haar stilte. Maar kon dit anders, in só ’n klein ruimte, dat sy moes luister na die twee polisiemanne voor in die motor se geklets oor rantsoene en vriende wat nie van die oorlog af teruggekom het nie? Wil hulle hê sy moet skuldig voel, ’n gloed in die nek kry? Dalk in trane uitbars, boete doen?

      ’n Aand in ’n met weeluis besmette losieshuis in Brandbergstraat.

      ’n Oggend van sit en wag en probeer om so min as moontlik met Bergman te doen te hê, al het hulle om dieselfde ontbyttafel aangesit, dieselfde aaklige koffie gedrink, dieselfde karige spyse probeer inwurg. Sy kan nie glo dat hulle ’n spesiale permit aan die losieshuis moes toestaan vir hierdie voorreg nie. Eiers, skaapkarmenaadjie en wors. ’n Brit se idee van vroeë spyse. Seker ’n groot toegewing van die owerheid se kant, gegee die rantsoen-gemors waarin die Uniale bewind hom bevind, volgens die konstabels, wat nou amptelik aan haar voorgestel is. Moet sy hulle sonder meer aanvaar, hulle met hul Britse bloed, en die een nogal met ’n Afrikaanse moeder?

      Uiteindelik, net voor elf, hou hulle op dool.

      AO Bergman het hom weggeskeur van die stapel aantekeninge wat hy die oggend gemaak het, sy aandag stip op sy annotasies tot op die laaste oomblik, wanneer hy die velle papier bymekaarskraap, in sy leertassie wegmoffel en iets in die rigting van konstabels Fitzsimmons en Bentley blaf.

      Bergman en Bentley vertrek met ’n bevel dat sy haar gereed moet maak om te gaan. Fitsimmons bly sit, vanuit sy plek aan tafel het hy ’n uitsig op die gang en die deure na alle vertrekke.

      Die Chevy, vuiler as bruin weens die stof van Mecklenburg wat nog plek-plek bly sit aan die Amerikaanse kolos se intieme plekkies, neem die twee nie ver van die losieshuis nie, na ’n sinkplaathuis, eiendom van die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens, en bewoon deur die treindrywer wat die Kaapstad-trein vandag van Windhoek af verder neem.

      Die


Скачать книгу