Vlakwater. Ingrid Winterbach

Читать онлайн книгу.

Vlakwater - Ingrid Winterbach


Скачать книгу
ection>

      Vlakwater

      Ingrid Winterbach

      Human & Rousseau

      Vir Ena Jansen

      Een

      DIE TYD DAAR WAS HEILIG. So sien ek dit terugskouend. (Is heilig ’n woord wat algemeen in my woordeskat voorkom? Nee.) Wat ook al daarvoor of daarna gebeur het, daardie tyd was heilig. Heilig! Ek sal dit nooit vergeet nie. Dis op my hart gegraveer. Dit was koud. Dit het die dag gereën toe ek en Willem Wepener na Jacobus se liggaam gaan kyk het. (Jy wou nie saamgaan nie. Jy wil hom nie so onthou nie, het jy gesê.) In die ontvangslokaal van die ondernemers was daar ’n groot afdruk van ’n leeuwyfie met haar welpies, verskeie voorbeelde van kranse, en twee ontvangsdames met uitdrukkings van permanente piëteit. ’n Man het ons na die besigtigingsvertrek geneem – deur die gebou, by die agterdeur uit, deur waterplasse, tot by ’n klein agterkamertjie (nouliks ingerig vir die besigtiging van liggame). ’n Deursigtige donkergroen chintz- Mr Price-gordyn teen die een muur. ’n Sementvloer, koud. Daar lê Jacobus, in sy kis. God, so doodstil! Op Willem se gesig ’n uitdrukking van onuitspreeklike droefnis. Lank staan hy onbeweeglik na die liggaam en kyk.

      Ek bly die eerste aand by jou oor sodat jy nie op jou eie hoef te wees nie. Willem maak kos. Hy kom yskoud van buite af in met proviand. Sy wange is bleek, hy het wit kringe onder sy oë. Ons sit saamgebondel om die eetkamertafel. Die kos en die wyn is vertroostend. Laataand stort ek en kruip oplaas halfdronk tussen die yskoue lakens in. Die oggend breek hopeloos te gou aan. Dit is grou en uitermate koud. (Dit is toe ek die ysigheid die eerste keer in my beendere voel sypel het.) Ek klou nog aan die nag vas. My eerste gedagte: Niks bring hom ooit weer terug nie. ’n Heilige tyd, vir altyd op my hart gegraveer.

      In my lewe het ek onverantwoordelike dinge gedoen. Ek was soms oneerlik en ontrou. Maar ek is lojaal teenoor diegene wat ek liefhet. Ek en Willem staan in die klein agterkamertjie. Ek raak met die agterkant van my hand aan Jacobus se koue wang. Die vlees reageer nie. Ek raak effens met my vingers aan sy bors, net onder die punt van die borsbeen. Die vlees voel soos klei. Dis asof my vingerpunte steeds voorberei is op die geringste aanduiding van lewe – die allergeringste op-en-neer-deining van die borskas – en asof my víngers die absolute roerloosheid van die liggaam nie kan begryp nie. Langs my staan Willem roerloos; ek het hom nog nooit so bewegingloos sien staan nie. Vir hom is aanraking taboe, sê hy. Hy staan net en kyk met die uitdrukking op sy gesig van onuitspreeklike droefenis.

      *

      Ek is gebore met ’n gesplete verhemelte en ’n haaslip. Ek het ’n breë, platterige neus, ’n smal voorkop en hare so welig soos dié van ’n Katolieke heilige. Tydens die sesde tot tiende week van swangerskap behoort die bene en nate van die bokaak, neus en mond saam te snoer om die verhemelte en bolip te vorm. Wanneer dit nie gebeur nie, word die baba met ’n gesplete verhemelte en ’n haaslip gebore. Ek vermoed dat ek ’n ongewenste swangerskap was, en dat my moeder my in die embrionale fase probeer aborteer het. Dit is nooit direk aan my gesê nie, dit is iets wat ek intuïtief aangevoel het. Vanweë die gesplete verhemelte en haaslip kon ek as baba nie behoorlik drink nie en het ek met moeite leer praat. Ek was gevolglik ’n woedende en gefrustreerde kind. Wat dit nie makliker vir my moeder gemaak het nie – negentien jaar oud, met ’n onwelkome, onooglike baba, en dit boonop ’n meisie. Ek is geopereer. Die gesplete verhemelte is herstel. Maar die letsel van die gekorrigeerde haaslip is meer prominent by my as wat dit behoort te wees. Mense van albei geslagte vind my seksueel óf onweerstaanbaar óf afstootlik.

      Na Jacobus se dood het ek my goed gepak, my huis verhuur, en is ek vir ’n tyd lank weg. Ek kon dit nie verduur om in die dorp aan te bly waar boom en berg onverskillig staan teenoor iedere menslike lotgeval nie.

      Twee

      DIE MEISIE KOM roep hom een oggend.

      Daar’s ’n vark in die tuin, sê sy.

      Saam staan hulle op die stoep daarna en kyk. ’n Groot, swart vark wat rustig wei. Net sowel hy het nog nie begin tuinmaak nie.

      Waar dink sy kom dit vandaan? Waar sou dit by die erf ingekom het?

      Sy weet nie. (Hoewel hy om een of ander rede dink sy weet, maar wil nie sê nie.)

      Wil sy nie ’n foto neem nie, vir haar portefeulje?

      Nee. Sy neem nie varke af nie. Varke is bad luck.

      Sê wie?

      Die mense waar sy vandaan kom.

      Watse soort bad luck?

      Dit kan sy nie sê nie. Enige soort.

      Soos wát? hou hy vol.

      Sy wil nie sê nie. Dis bad luck om oor bad luck te praat, sê sy.

      Sy glo dit?

      Sy gaan nie ’n kans vat nie.

      Sy is vanoggend vir hom mooi, hierdie meisie met die welige hare en die sagte, teekleurige vel.

      Hulle sê varke is baie intelligent, sê hy.

      Die duiwel is ook slim, sê sy.

      O ja, sê hy, en glo sy in die duiwel?

      Sy sê niks, gee net ’n klein glimlaggie. (Hy vermoed sy is besig om met hom die gek te skeer.)

      Later lê die vark in die skaduwee van ’n struik. Miskien ’n mooi ding om te skilder, maar hy is geen skilder van varke, of van mense nie. Die nuwe huis voel nog chaoties. Die sitkamer staan vol onuitgepakte bokse. Hy bly bewus van die vark in die tuin, in die skaduwee. Hy het nog nie gekyk waar dit moontlik iewers langs die heining ingekom het nie.

      Laatoggend lui iemand die voordeurklokkie. ’n Man. Hy’t sy vark kom haal, hy sien hy lê hier in die tuin. Die man het ’n groot, oop, aantreklike gesig. Vriendelik. Vertrouend. Bruingebrand.

      Hy’t nie geweet mens mag varke in ’n residensiële gebied aanhou nie, sê Niek.

      Hy het ’n groot erf, hier bo, teen die hang, beduie hy met sy skouer.

      “Marthinus Scheepers,” sê hy, en steek sy hand uit.

      “Niek Steyn.”

      Die man se handdruk is stewig. Moet dit seker wees, om varke in toom te hou.

      “Kom ’n keer langs,” sê Marthinus, “kom ontmoet die ander varke.” (Hy gee ’n kort, opgewekte laggie.)

      Daar’s iets aan die man. Die groot, harmonieus gebeitelde kop en gelaatstrekke. ’n Edel gesig. Het iets foutgegaan, vreet hy nou semels saam met die varke?

      “Het die vark ’n naam?” vra Niek.

      “President Burgers,” sê Marthinus. “Die voorste onder die varke. Werklik ’n leier. Werklik geroepe.”

      “Ek sien,” sê Niek.

      Man en vark vertrek. Byna naasbure. Hy sal moet gaan kyk. Iets aan die man, iets aan die vark. Albei iets superieurs aan hulle? Albei met die nobele hoofde en ’n liggaamlike welskapenheid.

      *

      Niek het onlangs die huis in Tamboerskloof gekoop. Hy werk nie hier nie, huur tydelik ’n ateljee in Observatory. Weg uit Stellenbosch, daardie hotbed van selftevredenheid; nuwe begin, nadat die verhouding met Isabel ten einde geloop het. Skaars is hy hier, of ’n meisie klop een oggend aan sy voordeur. Sy’t gehoor hy verhuur kamers. Waar’t sy dít gehoor? By die vrou by die galery. Hy’t nog net die móóntlikheid van verhuring genoem en hier staan daar reeds ’n potensiële huurder voor sy deur. Die meisie dra ’n swart fluweelbroek, verslete boots, ’n babablou fleece top wat lyk na ’n pajamatop. Haar hare krul wild in alle rigtings om haar kop asof sy pas op stowwerige paaie hierheen geryloop het. Haar oë is wákker. Haar naam is Charelle Koopman. Sy lyk nie veel ouer as twintig nie. Sy doen ’n kursus in fotografie by die Skiereiland Kunsakademie. Dis haar eerste jaar. Sy’s ernstig oor haar studies. Waar kom sy vandaan? vra hy. Van die Weskus, Veldenburg. Maar sy’s al van verlede jaar in die Kaap. Die volgende dag trek sy in die ruim agterste kamer in.

      En nou staan daar skielik op ’n dag ’n man met ’n vark in sy voortuin. Sy pa en ’n susterskind van hom het indertyd saam


Скачать книгу