Vlakwater. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.aanhou. Iets het die varke oorgekom. Hy kan nie onthou wat nie. Die varke was groot en pragtig en sy pa het geesdriftig beduie hoe hoog hulle staan en hoe hulle blink van die vet en toe gebeur daar iets. Is daar enigiemand oor wat sal weet wat gebeur het? Daar moet iémand wees wat weet wat die varke oorgekom het.
Niek se suster en sy oudste broer sal nie weet nie, want hulle is wat hom betref write-offs. Sy suster is ’n hartsjirurg en sy vlieg deur die sale van een of ander akademiese hospitaal, spanne witgekledenes met kloppende harte op ys in steriele houers kort op haar hakke. Sy’t nie tyd vir varkherinnerings nie. Sy oudste broer is ’n tycoon. Well, good for him. Die verlede is ook nie deel van sy verwysingsveld nie. Die enigste een wat sou weet – sy ander broer, vyf jaar ouer as hy – het homself des moers gery op ’n motorfiets in Namibië. Diamante aan’t smokkel. (Wie sal ooit weet?) Sy held en tormenteerder. Niek is die jongste. Sieklike kind, almal dag hy’s vertraag. Hy het sy geheime lewe gehad, sy fantasie wat hom bloots gery het. Verskriklike nagmerries, visioene van die hel op teer leeftyd; Bosch gedroom voor hy sy werk ooit gesien het. Rondgeseil in die tuin op sy maag soos ’n slang of ’n slak op soek na iets wat hy nie op ooghoogte kon vind nie. Wat de hel, hy sou wurms vreet as dit moet. Sy suster het wel ’n sagte plek vir hom gehad; oudste broer soos ’n perd ooggeklap op pad na tycoon-skap. Dit laat Niek met smokkelaarbroer, sy held. Saam gerook, saam gedrink, saam porno mags gekyk en hy skaars ouer as tien, twaalf. Broer vee sy gat aan alles af en is onweerstaanbaar sjarmant op die koop toe. Hy het Niek laat teken. Alle posisies. Broer is die eerste een met waardering vir Niek se vaardigheid. Niek is ’n slow developer en eers toe almal ophou groei, skiet hy op. Asma, ringwurm en pokkies kon hom nie meer terughou nie. Eers wou hy ’n rugbyspeler word, toe ’n bomber pilot. Word ’n artist, sê sy broer. Painters is sissies, sê Niek. Broer wys vir hom ’n foto van Jackson Pollock energiek besig. Lyk dit vir jou na sissie-werk? (In die broer se oë tel dit ook in Pollock se guns dat hy homself op vier-en-veertig, dronk, des moers in ’n kar gery het.)
Donker vroue is vir Niek die mooiste, maar as dit by kattemaai kom, het hy altyd ’n voorkeur vir blondes gehad. Sterk kuite, bene éffens bak, gaping tussen die voortande. Uitdrukking iets tussen onnosel en jags. Om gotsnaam net nie wholesome blondes nie. Effens af, éffens slonsig en verloop. Die leë, dromerige blik op partytjies ná twaalf. Wat seks betref? Teen sy middel dertigs het hy al genoeg daarvan gehad om hom twee leeftye lank te hou. Tot en met sy kortstondige huwelik. En daarna, na sy mislukte huwelik, sy verhouding met Isabel die afgelope sewe jaar. Haar hare so wit soos vlas en haar vel heuningbruin in die somer. Swaar ooglede, ’n trae blik, ’n huiwerige glimlag. Haar rug en ledemate lank en smal, soos dié van ’n Sikladiese grafidool.
*
Toe hy die oggend sy motor uittrek op pad werk toe, kom hy Marthinus Scheepers op ’n oggendwandeling teë. Geen vark op sy hak nie.
Marthinus dra ’n soort Peruviaanse wolmus, ’n snazzy sweetpakbroek, vreemde boots en ’n helderkleurige windbreaker. Hy groet Niek hartlik. Kom maak vanaand ’n draai, sê hy, kom kyk ’n video saam met ons.
Die middag kry Niek ’n poskaart in sy posbus. Dis ’n afbeelding van El Greco se skildery van Vincenzo Anastagi.Die boodskap agterop lui: Enige ekstra eksemplare van Vlakwater? V.S.
V.S., nè?! Dit kan net Viktor Schoeman wees. ’n Suid-Afrikaanse posseël. Hier gepos dus. Dit voorspel niks goeds nie. Beteken dit Viktor is in die land? Wanneer het hulle mekaar laas gesien? (En dit geld trouens ook vir Blinky, en Chris Kestell, en Marlena?!) Het hy enige begeerte om weer met Viktor kontak op te neem? Nee. Die ekstra eksemplare van Vlakwater wat hy jare lank gestoor het, het hy laat verpulp toe hy niks meer van Viktor hoor nie. Hoekom sou hy met die skuld én die bokse boeke bly sit?
Goeie keuse van poskaart, Viktor, dink hy. Die El Greco is een van sy gunstelingskilderye. Hy het hierdie portret laas saam met Isabel in die Frick gesien, op hulle laaste, fatale reis saam, kort voor die einde van hulle verhouding, in November verlede jaar. Nie dat hý so geesdriftig was om die Frick te besoek nie (grotendeels uitgekuier met die Westerse skilderkuns), maar vir haar was dit ’n belade reis, ’n soort pelgrimstog dalk. En daar in die Frick het sy skielik haar ore toegedruk (waarom nie haar oë nie, het hy gewonder), in aller yl haar jas by die garderobe gaan afhaal, en weggehardloop (hy kan dit nie anders beskryf nie). Hy is agterna, die koue strate in, ’n yskoue wind (asof uit Siberië) op hulle wange en nat sneeu op die strate. Hy kon haar by ’n Oosterse museum en teehuis inlok, waar hy haar met ’n delikate sneeu-ertjie-en-garnaalsop en tee uit Japanse erdewerk-teepotjies tot bedaring kon bring. Daar het effens kleur in haar wange gekom. (Ek kan nie meer nie, het hy gedink, ek kán jou nie langer dra nie, dit verg te veel van my.) Sy het so opgevrolik dat sy later selfs uitgelate was, flankeerderig, maar die dag was vir hom bederf. Hy was stug; hy wou hom nie meer deur haar laat bekoor nie. Vergeef my, het sy gesê, ek weet nie wat met my aan die gang is nie.
Drie
JOU MINNAAR, en my geliefde vriend. Jy was sprakeloos van verdriet, jou wange koud soos albaster. ’n Maand of so later het ek my goed gepak en weggegaan. Ek moes gebly het, ek moes jou bygestaan het, maar as ek bly, het ek gedink, sal ek ondergaan. Na Jacobus se dood was daar ’n kortsluiting in my kop, ek moes my in ’n ander omgewing bevind, of ondergaan.
Ons ontmoet mekaar eers weer aan die begin van die nuwe jaar in die coffee shop, nadat jy terug is van jóú lang, uitgebreide reis. Die coffee shop het ’n donker interieur. Hoe bly is ek om jou liewe gesig weer te sien. Ek vat jou gesig in my twee hande en ek sê: Dit is so lank dat ons mekaar nie gesien het nie! Ons kyk mekaar lank en innig in die oë. Ons gaan sit by ’n tafeltjie in die hoek. Buite reën dit steeds onophoudelik sedert die vorige dag. Nou is ons oplaas weer albei terug in die dorp, sê ek. Jy het geen planne om weer weg te gaan nie? vra jy. Nee, ek het geen sulke planne nie. En hoe vind jy dit om terug te wees? vra jy. Ek weet nie, sê ek. Jy weet hoe ambivalent ek oor die dorp voel. Ek het so lank ’n weersin in die plek gehad. Ek het dit steeds; soms baie intens. Weersin of vrees? vra jy. Dalk ’n bietjie van albei. Terwyl ek weg was, het ek dikwels gedink ek wil nie weer terugkom nie.
Die kelnerin bring ons koffie. Ons bly albei ’n rukkie stil. Hoe gaan dit met jou? vra ek. Jy antwoord nie dadelik nie, hou jou blik neergeslaan. Skuif ’n suikerkorrel met jou vinger op die tafel voor jou rond. Dinge was nooit weer dieselfde nie, sê jy sag. Alles het subtiel maar onkeerbaar verander. Nie heeltemal ’n drenkeling nie, maar die vaste grond onder jou voete weggekalwe. Sou dit ooit anders kon wees – bring tyd nie verandering nie? vra ek; so sê hulle in elk geval. Miskien, miskien nie, sê jy, hoe sal jy weet? Op die oomblik voel dit nie asof dit ooit weer anders kan wees nie.
Weer bly ons stil, en luister na die reën wat sag maar onophoudelik buite val. En jou reis, vra ek, het dit enige verskil gemaak? Dit het jou tydelik afgelei, sê jy, hoewel jy soms dink dat jy moes gebly het, en jou verdriet in die gesig gekyk het. Dit sou dalk die helingsproses versnel het.
Ek het ’n monografie oor die Olivier-broers begin skryf, sê ek. Jy het al lank beplan om dit te doen, sê jy. Ja, maar dit het my lank geneem om daarmee te begin, sê ek. Daar is min mense in die coffee shop, die interieur is donker, klank word gedemp deur die aanhoudende reën buite. Ek hoop om ’n onderhoud met die broers se vader, met Markus Olivier, te kry, maar dis nie so maklik nie.
Ons sit ’n tyd lank swygend en luister na die reën. Drink ons koffie. Dan kyk jy skielik op en vra, wat staan jou te dóén?
*
Toe ons opstaan, voel ek effens lighoofdig, van vreugde of ontsteltenis of oorstelping, dis nie vir my duidelik nie. Ons neem afskeid. Ek voel nie jonk nie, ek voel nie oud nie. Dit is hoogsomer, in die strate is die blaarlower dig, die skaduwees skerp.
Ek lees ’n boek waarin die ontslape Fernando Pessoa een van sy alter ego’s (en heteronieme), Ricardo Reis, besoek. Reis het pas in ’n apartement ingetrek na sy verblyf van meer as twee maande in die Hotel Bragança, en dis sy eerste nag in sy nuwe blyplek; dis koud, hy’t pas ingeslaap, dan klop iemand. Dis Pessoa. Hy nooi hom binne, hulle gesels ’n rukkie, dan sê Pessoa Reis moet weer gaan lê, hy wil hom nie uit die slaap hou nie. Reis gaan lê, Pessoa trek sy laken sorgsaam soos ’n moeder reg. Reis vra hom om die lig af te skakel. Aanvanklik is die kamer donker, dan word die lig van buite sigbaar deur