Vlakwater. Ingrid Winterbach

Читать онлайн книгу.

Vlakwater - Ingrid Winterbach


Скачать книгу
teen die vloer. “My God, Charelle,” roep hy uit, en sak op sy hurke by haar neer, “wat het gebeur?!” Sy maak haar oë effens oop. ’n Bietjie bloederige spoeg loop by haar mond uit. Sy kreun. Geen bloed op die grond of op haar klere nie, sover hy kan sien. Sy dra pajamas, die een broekspyp het halfpad teen haar been opgeskuif (delikate enkel en kuit). Geen teken van enige uitwendige besering nie. Hy weet nie wat om te doen nie. Hy vat versigtig aan haar boarm. “Charelle,” sê hy. Sy maak haar oë effens groter oop dié keer. Dit lyk nie of sy hom herken nie. Moet hy ’n ambulans bel? Dit lyk of sy normaal asemhaal.

      Baie versigtig probeer hy haar ten minste op haar rug draai. Hy sit ’n kussing onder haar kop. Behalwe vir die bloederige skuim by haar mondhoeke lyk sy ongedeerd. Sy probeer regop sit. Hy help haar versigtig op, sodat sy op die stoel sit. Haar hare staan wild en stowwerig. Die plankvloer het ’n imprint op haar wang gelaat. Sy lyk steeds of sy hom nie herken nie.

      “Wat het gebeur,” vra hy, “het iemand jou seergemaak?” Sy lek haar droë lippe af. “Wag,” sê hy, “ek kry vir jou water.” Sy hande bewe toe hy die glas by haar mond hou. Haar oë beweeg traag na hom asof sy hom nie kan eien nie. Sy frons effens, haar oë vreemd slaperig ongefokus, en herken hom dan skynbaar ineens.

      “Wat het gebéúr, Charelle?” vra hy toe sy ’n slukkie water geneem het. “Is jy okay?”

      “’n Aanval,” sê sy. “Ek ly aan epilepsie.”

      “My Here,” sê hy. “En jy was alleen by die huis.”

      “Dis okay,” sê sy. Sy praat so stadig, of haar tong ’n obstakel in haar mond is. Dit lyk asof sy pas nou weet wie hy is.

      “Moet ek jou dokter toe neem?”

      Sy skud haar kop. “Dis okay.”

      “Ek maak vir ons tee,” sê hy, “vir die skok.”

      Sy knik.

      Sy hande bewe steeds toe hy tee maak. Tee met baie suiker vir hulle albei. Hy het geskrik. Hy weet niks van epilepsie nie. Moet sy slaap, moet hy haar probeer wakker hou? Sê nou sy gaan in ’n koma?

      Hy sit by haar. Hulle drink hulle tee. Toe sy klaar is, sê sy sy’s moeg, sy gaan nou slaap. Sy slaap altyd na ’n aanval. Hy wil haar help om op die bed te lê, maar sy sê dis okay, sy’s gewoond hieraan, sy sal regkom.

      Hy gaan lê op sy bed. Onseker oor wat om te doen. Hy weet niks van epilepsie nie – miskien moet sy na ’n aanval nie alleen gelaat word nie.

      Die aand hoor hy haar in die kombuis. Sy’t ’n kamerjas aan, sy beweeg stadig, effens onvas, of sy die grond onder haar voete nie heeltemal vertrou nie. Hy spring haar voor; ek maak vir ons tee, sê hy, sit. Sy gehoorsaam. Hulle sit saam by die kombuistafel en tee drink. Vir die tweede keer vandag, dink hy. Eers sien hulle mekaar skaars, en nou drink hulle vir die tweede keer op dieselfde dag saam tee. Haar gesig is slaperig, haar oë steeds effens ongefokus, sy lyk of sy nog nie heeltemal by is nie. Daar is ’n bloukol op haar regterwangbeen en haar onderlip is geswel. Haar hare staan nog steeds wild krullerig.

      “Is daar iets wat so ’n aanval veroorsaak?” vra hy.

      Eers haal sy haar skouers op; enigiets, sê sy. Toe sê sy, stres. Toe sê sy: “Daar’s iemand agter my aan. Ek dink hy was vanmiddag hier.”

      “Wie is dit?” roep hy ontstig uit.

      “Iemand,” sê sy. “Iemand wat nie nee kan vat vir ’n antwoord nie. Hy was hier met sy vriende.”

      “In ’n swart kar met getinte ruite?!” vra hy.

      Sy skud haar kop. Sy weet nie. Sy’t nie so opgelet nie. Hy was by die hek. Sy wou hulle nie laat inkom nie. Sy’t genoeg gehad van sy nonsens. Toe’t hy haar gedreig. Toe’s hulle hier weg.

      Hoe laat was dit?

      Sy weet nie. Sy’t nie opgelet nie. So vieruur se kant. Sy’t pas by die huis aangekom. Desirée het haar afgelaai. Net haar goed neergesit. Sy’t gesien Niek is nie hier nie.

      En wanneer het sy die aanval gehad?

      ’n Rukkie later. Vyfuur of so.

      Kanse is goed, dink hy, dat dit dieselfde fokkers is wat haar gepla het wat op hom gevloek het. Hulle dink dalk sy bly by hom, dat hulle lovers is of iets.

      Sy’t vroeër Saterdagmiddag al vreemd begin voel, sê sy, maar sy’t haar nie eintlik daaraan gesteur nie, want sy’t lanklaas ’n aanval gehad en die naweek was lekker.

      Wie is Desirée? vra hy.

      Sy’s ’n vriendin van haar ouer suster. Sy ken haar al haar lewe lank. Hulle kom van dieselfde dorp. Sy gee klas by die universiteit, genderstudies.

      En die man wat agter haar aan is?

      Ag, dié is sommer ’n lastige klong. Dis iemand wat haar lankal fancy, al van skooltyd af. Maar sy wou nooit iets van hom weet nie.

      Hy’s nie dalk deel van ’n bende of so nie?

      Miskien. Sy weet nie. Sy dink sy vriende is dalk skollies. Tikkoppe, party.

      Skollies, gangsters, tikkoppe, wat is die verskil, dink hy. Alles beteken moeilikheid. Vir haar, en dalk vir hom ook.

      “Jy moet versigtig wees,” sê hy.

      Sy knik.

      Eers was sy net ’n meisie wat ’n kamer by hom gehuur het, en nou voel hy – teen sy sin – verantwoordelik vir haar veiligheid.

      Ses

      TWEE DAE PER WEEK gee Niek klas by ’n klein privaat kunsskool net buite Stellenbosch. Hy los een van die dosente af, ’n vrou wat skielik met siekteverlof moes gaan. Hy sou kon aanbly in die huis in Stellenbosch nadat hy en Isabel uitmekaar is, maar hy het die dorp en die huis beklemmend gevind. Niks het hom meer daar gehou nie. Die huis is verkoop. Hy’t die huis in Kaapstad gekoop; Isabel is vort. Hulle was kinderloos.

      Die studente is meesal kinders van vermoënde ouers. Hy verwag nie veel van hulle nie; daar is selde ’n student wat hom verras. Dis net ’n tydelike job wat hy doen. Sy hart is nouliks daarin.

      Die dag is laag. Dis warm. Die hitte duur nou onafgebroke vir dae aaneen. Die afgelope dae is daar hewige bergbrande by Stellenbosch en die Franschhoekvallei. Geen wonder die gemoedere van mense loop hoog nie: die verskriklike hitte, die wind, die stakings oral, bloedige konfrontasies met die polisie, openbare onrus.

      Hy moet vandag sy studente te woord staan oor hulle projekte. Sy eerste afspraak is met ’n jong mannetjie, een van die min studente wie se werk hom interesseer. Die student sit ineengedoke voor hom in sy stoel. Hy kyk deurentyd na ’n punt voor hom op die mat. Praat met ’n monotone stem. Lang stiltes. Hy praat nie graag oor sy verlede nie, sê hy. Baie tyd op straat deurgebring. Wat hy wil oproep, is sy gelukkige kindertyd. Hy wil in verskillende mediums werk: skilder, teken, beeldhou, teks en films. Hy stoot stadig ’n lêer oor die lessenaar na Niek. Niek blaai daardeur: beelde van koplose seemeeue, hotelle met gebreekte vensters, ’n verlate sanatorium. ’n Foto van ’n klein wasbeeldjie van ’n kind, sy oë verseël met kopspelde. (As dit herinneringe aan ’n gelukkige kindertyd is, wil hy nie weet hoe die teendeel lyk nie.)

      Hy is die hele dag ongeduldig met die studente. Die hitte is versengend. Die omliggende berge brand steeds. Hy dink hy ruik rook. Die veraf geluid van helikopters, van sirenes ’n ent weg in die dorp – brandweerwaens of ambulanse. Hy wil wegkom, hy wil in sy koel ateljee gaan werk. Hy’t voorlopig genoeg van die studente gehad. Die meeste van hulle hoort nie hier nie, hulle het te min talent en hulle ouers te veel geld. Hulle weet nie wat hulle wil doen nie, hulle stel nie regtig belang nie, hulle is heeldag op hulle laptops en selfone en hulle praat soos barbare. Hy weet hy’s bevooroordeeld, maar hulle lyk vir hom dom.

      Die laaste student wat hy sien se hare is in ’n blonde nes op haar kop gestapel en sy dra swart shorts wat so klein is dat hy dink hy die vou van een van haar haarlose (waxed) skaamlippe kan sien. Skaamteloos. Maar nee, van skaamte of skaamteloos weet sy op die oog af ewe min


Скачать книгу