Vlakwater. Ingrid Winterbach

Читать онлайн книгу.

Vlakwater - Ingrid Winterbach


Скачать книгу
Kýk!” sê hy, en steek ’n sigaret aan, “kyk wat staan voorin geskryf.”

      Niek kyk. Die titel is ’n Bybels-maatskaplike regverdiging vir rasse-segregasie in Suid-Afrika, deur professor J.G. Kestell, hoogleraar in Ou-Testamentiese Eksegese, asook Moderator van die NG Kerk van Suid-Afrika. Voorin staan geskryf: Vir Christiaan Gerhardus Kestell, van sy oupa, C.G. Kestell. Eer jou God, jou ouers, jou leiers en jou nasie, en jy sal altyd wandel in die lig van geregtigheid. Daaronder, in ’n groot geronde kinderhandskrif: Hierdie boek behoort aan Christiaan Kestell, en die datum: 15 Julie 1966.

      “Wat sê dit vir jou oor die kinderjare van Chris?” sê Marthinus.

      “Die kinderjare van Chris,” sê Niek, verwonder.

      “Kan jy dink wat so ’n patriargale opdrag moet doen aan die gees van ’n intelligente, sensitiewe kind, iemand wat op sy eie die status quo al begin bevraagteken het? Om dan met hierdie waansin gekonfronteer te word? Sy oupa was ’n predikant, sy pa was ’n predikant. Albei bankvas agter apartheid.”

      “Ek het gedink Chris het seker iewers ’n slegte knock gevat,” sê Niek floutjies.

      “Maar presies!” sê Marthinus. “Hier het jy al ’n moontlike sleutel tot Chris se diep psigiese verwonding. Om van sy groot ongedefinieerde woede nie te praat nie.”

      “Mens kan dit seker so sien,” sê Niek, nie seker of die hele Chris-ding hom op die oomblik interesseer nie. Hy kyk na die inhoudsopgawe, blaai deur die boekie. Een van die hoofstukke is “Apartheid as roeping, die verantwoordelikheid van die Sterkere teenoor die Swakkere”. Daar is onderafdelings soos “Binne- en Buite-egtelike bloedvermenging”, en “Die insypeling van nie-blanke bloed”. In die slotbeskouing word rasse-apartheid gesien as die taak van die blanke ras, en sou dit nie gebeur nie, sal rasse-verbastering die gevolg wees.

      “Jy’s seker reg,” sê hy vir Marthinus, “dié soort ding kan ’n gevoelige kind seker ’n lewenslange knou gee.”

      *

      Toe hy by sy straat indraai, sien Niek ’n swart motor stadig voor sy huis verbyry. Dit lyk vir hom verdag baie na die motor waaruit daar op hom gevloek is. Hoewel hy met geen sekerheid kan sê nie. Hy haas hom na binne. Hy tref Charelle in die kombuis aan. Sy is besig om tee te maak.

      “Was hier iemand?” vra hy.

      Nee, sê sy verwonderd. Sy’t ’n rukkie gelede by die huis aangekom en hier was niemand nie. Kan sy vir hom ook ’n koppie tee maak? Hy sak verlig op ’n stoel by die kombuistafel neer. Hy voel ineens behoorlik aangedaan deur hierdie gebaar van haar.

      Hy hou haar dop terwyl sy tee maak. Sy is vir hom mooi. Sy het donker oë en donker wenkbroue, en ’n groterige neus en ’n besliste mond en haar tande is oneweredig. (Geld vir ortodontiese werk was daar seker nie.) En dan die sagte, welige, digte bos krullerige hare. Delikaat gebou. Hy hou gewoonlik van meer robuuste vroue, maar sy is vir hom mooi. Wonderbaarlik dat ’n volwassene (hy neem aan sy is ouer as agtien) sulke smal kinderpolse kan hê. Hy is dankbaar, ontroer dat hulle so saam aan die kombuistafel kan sit en tee drink.

      Hy wil haar nie met vrae bestook nie, maar daar is heelwat wat hy nie van haar weet nie. Hy het nog skaars ’n behoorlike gesprek met haar gehad sedert sy hier kom woon het. Hy wil nie indringerig wees nie, hy wil die nuwe gemeensaamheid waarmee hulle hier sit, nie versteur nie. Sy is skaam, hy wil haar allereers gerusstel.

      Hoe vind sy haar kursus?

      Sy hou daarvan. Dis baie opwindend.

      Het sy werk om vir hom te wys? (Onmiddellik spyt dat hy dit gevra het. Éintlik wil hy so min as moontlik by haar lewe betrek wees. By énigiemand se lewe.)

      Sy sal graag vir hom wys. (Haar gesig verkleur effens. ’n Donker blos.) Sy sal haar portefeulje bymekaar kry. Hy sien dat sy nie heeltemal op haar gemak is nie. Hy staan op om nog tee te maak, toe die deurklokkie lui. Eers oorweeg hy om dit te ignoreer. Hy wil hulle gesellige samesyn nie onderbreek nie. Maar die klokkie lui weer. Twee keer. Nadruklik. Hy staan op. Toe hy die voordeur oopmaak, is daar niemand buite by die hek nie. Hy sit die stoeplig aan. Maak die voordeur weer toe. Hoe het die persoon wat die klokkie gelui het, dit reggekry om so vinnig te verdwyn? Hy hou nie hiervan nie.

      Hy gaan terug in die huis. “Niemand,” sê hy. Sy sê niks. Kyk af na haar hande.

      “Hierdie man wat jou agtervolg,” sê hy, “is hy in staat om … het jy rede om bang te wees vir hom?”

      Sy haal haar skouers op. Sy weet nie. Sy dink sy vriende is ’n slegte invloed. En hy’s ook lekker deurmekaar in sy kop. Maar sy weet nie. Dit hang af met wie hy saam uithang.

      Op watter manier is hy deurmekaar in sy kop? vra hy.

      Hy’t al van skooltyd af hierdie ding oor haar, maar sy’t nooit in hom belanggestel nie. Hy’t Kaap toe gekom om werk te soek. Maar sy dink nie hy’t al werk gekry nie. Sy dink hy hang nou met tikkoppe uit.

      Het sy al met hom gepraat?

      Nie eintlik vandat sy hier is nie. Net die een keer voor sy die aanval gehad het.

      Wat het hy toe gesê?

      Hy’t haar gedreig. (Sy kyk af. Onwillig om te praat.)

      Waarmee?

      Hy’t gesê sy sal nie wegkom nie. Hy sal agter haar aankom totdat sy met hom saamgaan. As sy nie wil nie, sal hy haar laat betaal.

      “Jy kan hom nie by die polisie aangee nie?” vra hy.

      Sy skud haar kop. “Hy’t nog niks gedoen nie,” sê sy sag.

      “Moet jy nou eers wag totdat hy iets doen?!” vra hy.

      Sy haal weer haar skouers op.

      Die gesellige sfeer tussen hulle is verbreek. Kort daarna gaan sy na haar kamer. Hy bly alleen agter by die kombuistafel. Onrustig en onbehaaglik. So het hy in New York ook by die tafel in hulle apartement gesit. Isabel het elke oggend gehuil. Smiddae het sy nie gepraat nie. Hy was later bang vir haar, so verbete desperaat was sy in haar blou kamerjas. Hulle het oomblikke van swygsame gemeensaamheid gehad op die moltrein, in strate onderweg na museums, maar die opwinding van New York het grotendeels aan hulle verbygegaan. Daar het ’n stroefheid oor hom gekom. Desondanks het hy haar nog steeds by tye begeer. Intens begeer. Hy wou haar blou kamerjas oopslaan en haar stook soos ’n vuur. Totdat sy spontaan in vlamme uitbars en hulle albei daardeur verteer word. In die museums het net die Oosterse kuns hom nog aangespreek. Die delikate hand van Jizõ se Bodhisattva Ksitigarbha uit die twaalfde of dertiende eeu. Die elfde-eeuse Bodhisattva uit die Noordelike Song-dinastie met sy regop rug en trotse, verlig-verrukte gesigsuitdrukking. Vir die Westerse kuns het hy met enkele uitsonderinge geen ooghare meer gehad nie. El Greco se Gesig op Toledo en portret van die kardinaal; Jeff Koons se werk (Ilona se trim klein poephol).

      Laterig die volgende middag koop hy – vir die eerste keer in weke – uitgebreid kookbestanddele. Vanaand kook hy. Hy wil Charelle vra of sy saam wil eet. Hy’t lanklaas ordentlik gekook en hy is ’n goeie kok. Hy maak ’n groen Thai-kerrie. Die kombuis raak gevul met verlokkende geure. Die ruite raak toegewasem. Die ongewone hitte is gebreek. Dit het skielik begin reën. ’n Goeie dag vir kerrie. Hy wil haar nie amptelik nooi nie, bang hy skrik haar af. Hy sal die kans waag. Dalk kom sy nie eens terug nie, of het sy ander planne, hoewel sy tot dusver nie dikwels saans in die week uitgegaan het nie. Nie dat hy eintlik voorheen so opgelet het nie.

      Sy kom vroegaand terug. Wakker oë, oplettend. Hoe het sy hier gekom? Met ’n taxi, sê sy, en toe ’n paar blokke gestap. Op haar wange weer die dieprooi blos (van die vinnig stap, van opwinding?), en fyn waterdruppels in haar digte bos krulhare. Hy nooi haar om saam te eet, hy’t kos gemaak, sê hy, sy kan net sowel. Eers lyk sy effens onseker. Maar sy laat haar ompraat. Saam sit hulle in die opgewasemde kombuis. Hy en die kind met die dun bruin polse soos Tamar in die Bybel. (Kind?) Afgesluit van die wêreld, en veilig, terwyl hulle hier sit. Sy eet. Sy moet honger wees. Hy’t nog nie vantevore nagedink waarvan sy eintlik leef nie, want in die yskas is daar nouliks enigiets: af en toe ’n bakkie jogurt, ’n plakkie kaas, ’n houertjie met goedkoop margarien.


Скачать книгу