Vlakwater. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.as deel van ’n projek vir die skoolkinders klein kameras gegee. Sy was van die begin af mal daaroor. Sy’t alles afgeneem, voor die voet. Meesal die mense van die dorp. Die begraafplaas. Die landskap. Stadigaan het sy meer gewaag. Voor sy weg is uit die dorp het sy ’n reeks selfportrette in vreemde kontekste gemaak. Sy’t baie nuwe idees – die idees kóm net. Sy geniet haar kursus by die kunsskool – dis uitdagend, en die ekstra joppie wat sy doen, is nie te bad nie. Sy help twee middae ’n week in ’n vriendin se haarkappersalon. Doen kliënte se naels en so. (Tot sy skande het hy nooit eens gevra wat sy doen nie.) Sy’s nou al twee jaar in die stad, maar dis haar eerste jaar by die kunsskool. Sy’t hard gewerk om daarvoor te spaar. Haar vel is merkwaardig sag, letselloos soos dié van ’n meisie voor puberteit. Hulle praat nie oor die kêrel wat haar teister en dreig nie, maar dis daar, die gegewe is daar tussen hulle. Hy is seker sy voel dit ook aan.
Die volgende dag is daar by hom ’n vreemde opwinding. Hy gaan die aand weer kook. Dalk kan hulle nou meer dikwels saans saam eet. Op dié manier kry sy darem elke dag ’n behoorlike, voedsame maaltyd in.
Hy beplan die spyskaart noukeurig. Hy stap met ’n ligter tred; die studente irriteer hom minder. Hy vind selfs die meisie wat oor satanisme wil werk, minder belaglik. Hy’s geduldig met haar, al lyk dit nie eintlik of sy rigting kry nie. Hy begin selfs dink dat sy iets met die installasie-projek kan doen. Hy is ondersteunend. In so ’n mate dat hy in ’n onbewaakte oomblik agterkom dat sy hom stip dophou, iets wat sy nog nie vantevore gedoen het nie. Dalk dink die kind hy wil haar verlei – hoe sal hy ook weet wat in daardie kop aangaan. Dink dalk hy wil haar plattrek op die luiperdvelkombers wat sy in haar installasie wil gebruik (gebaseer op ’n Huisgenoot-foto van ’n “satanis-hool” wat in ’n verlate mynskag aangetref is), onsedelike dade met haar pleeg. Die kinders word seker deesdae uitvoerig teen pedofiele gewaarsku.
Hy maak die aand ’n geurige hoendergereg. Uit die boonste rakke, dink hy. Charelle eet geredeliker saam. Hulle drink weer wyn en sy gesels nog vryliker as die vorige aand. Is Charelle ’n familienaam? wil hy versigtig weet. Nee wat, sê sy, bruinmense is lief vir fancy name. Dis bietjie van ’n mode, name soos Lisché en Shinique en Izona. Watse soort mense is haar ouers? vra hy. Sy trek haar skouers op. Eenvoudige dorpsmense. Konserwatief. Gelowig. En sy? Sy trek weer net haar skouers op. Maar sy glo wel in die duiwel? Sy lag net, skud haar kop ontkennend. Hulle praat oor die kuns waarvan hulle hou. Sy is duidelik gretig om soveel as moontlik van tydgenootlike kuns te wete te kom. (Anders as sy blasé, trae studente by die kunsskool.) Sy het ’n manier om haar wenkbroue te lig wanneer sy geesdriftig oor iets praat. (Teen die einde was Isabel se wenkbroue soos twee gekruiste swaarde – bleek, soos haar hare.) Hy vertel haar van Ilya Kabakov, na wie se werk hy die afgelope tyd met hernude aandag kyk. (Tot sy spyt was niks daarvan in New York te sien nie.) Sy luister met belangstelling; wakker oë. Hy vra haar uit na haar jeug. Haar pa het eers in Klippiesbaai in die kreeffabriek gewerk, sy’s op die dorp gebore, maar later is hulle Veldenburg toe, waar hy nou by ’n houtsaak werk. Sy’t daar skoolgegaan, op die dorp. Maar sy’t vroeg geweet sy wil meer hê in die lewe. Sy wil ’n kunsfotograaf wees. Dis haar doel met haar opleiding. Het sy baie vriende in die stad gemaak? Nee wat, sy’s eintlik maar ’n alleenloper. En die man, die kêrel wat haar so lastig val? Hy’t eers begin van die jaar in die Kaap aangekom.
Hy maan homself om nie met haar te familiêr te wees nie, om ’n betaamlike afstand te behou. Die volgende twee aande eet hulle weer saam. Sy wys haar portefeulje vir hom. Hy is beïndruk. Verrassend, dat hierdie meisie, wat in ’n klein Weskusdorpie grootgeword het, met waarskynlik geen behoorlike skoolopleiding nie en seker tot dusver beperkte blootstelling aan internasionale kuns, met werk vorendag kom wat so vars is. Soos Cindy Sherman plaas en fotografeer sy haarself in allerlei kunsmatige situasies. Een van hierdie selfportrette is geneem in ’n slaghuis, met meters wors om haar kaal lyf gedrapeer. (Dit skok hom, moet hy erken.) Hy moet haar nie onderskat nie – delikate polse of te not, sy’s waagmoedig, gefokus, en ambisieus. As sy kan deurdruk, kan sy met haar natuurlike talent en vindingrykheid ver kom.
Sewe
LAATSOMER WORD HERFS. Dit reën. Dit raak geleidelik koeler. Hy is twee dae per week by die kunsskool. Die res van die tyd bring hy in sy ateljee deur. Dis nie ’n ruimte waarvan hy baie hou nie, hy huur dit tydelik, hy moet begin uitkyk vir iets anders. Hy werk aan figure wat hy uit hout kerf – eenvoudige, gestileerde figure, met vreemde koppe: soms dié van diere, soms dié van mense. Soms staande, soms knielend, met vergrote genitalieë. Soms selfs met sterte, grynsend, met grimasse. Dit is al ’n hele paar jaar dat hy nie meer skilder nie, net kerf, en teken. Hy is by sy galery bespreek vir ’n uitstalling volgende jaar.
In die weke na Charelle se epileptiese aanval kom Niek in die gewoonte om minstens twee keer per week saans en dikwels ook oor die naweek vir hulle te kook. Hy vra haar uit na die kêrel wat haar gedreig het. Nee, sê sy, hy agtervolg haar nie meer nie. Sy’t hom lanklaas gesien. Sy weet nie waar hy nou uithang nie. Maar met hom sal sy die vrede nooit heeltemal vertrou nie – hy’s swak van inbors. Wat bedoel sy? vra hy. Nee, dit sal haar nie verbaas as hy ook kriminele neigings het nie. Sy het dit al van ver sien kom. Van skooltyd af. Niek sien ook nie weer enige verdagte motors voor of in die omgewing van die huis nie, en daar is nie ’n herhaling van die vloek-insident nie.
Dis al heelwat koeler, en hy vind die aande saam met Charelle gesellig in die warm, opgewasemde kombuis. Hy begin uitsien hierna. Hy doen moeite met die kos. Hy dink sy raak geleidelik meer op haar gemak met hom. Hy vind haar skerp, gevat; hoe meer sy op haar gemak met hom raak, hoe meer waag sy – hy terg haar oor die duiwel, en sy terg terug. Sy is vir hom mooi. Ongewoon, met die smal polse en die groot gelaatstrekke – die donker oë en die digte, warm hare. Hoewel nie sy tipe nie, is sy vir hom sexy. Sy begin hom versigtig uitvra oor sý lewe, oor sy werk. Hy vertel nie veel nie. ’n Bietjie oor Isabel. Oor die reis na New York. Hy vertel haar waarmee hy besig is, maar neem haar nie na sy ateljee nie. Miskien later. Hy is versigtig. Wanneer sy ’n boek nodig het, bring hy dit soms vir haar van die kunsskool af. Sy vertel hom van haar kindertyd en van haar skooldae. Toe sy tien was, is hulle na Veldenburg, haar pa het daar ’n beter werk gekry. Toe sy op vyftien begin foto’s neem het, wou sy álles in haar omgewing dokumenteer. Sy’t die jong mense afgeneem in die township, buite die dorp. Sy’t sommer goed afgeneem soos mense se agterplase, en die kos op hulle tafels, alles waarop haar oog geval het. Sy’t graag in die begraafplaas foto’s geneem van al die nuwe grafte wat daagliks bygekom het. En van die swanger meisies wat hand om die lyf staan met hulle vriendinne (nooit ’n vader in sig nie). En van die jong ma’s met hulle babas – die meisies vir wie sy jammer was, want as hulle eers ’n kind op die heup het, is hulle lewens daarmee heen. Sy is drie-en-twintig. (Ouer as wat sy lyk.) Sy’t ’n paar jaar op die dorp gewerk om geld te verdien voor sy Kaap toe gekom het. Hulle praat dikwels oor kuns. Dit gaan goed met haar by die kunsskool. Sy’s bly sy doen die kursus. Dit was ’n goeie besluit. Sy hou ook baie van haar kamer. Sy het nog nooit soveel ruimte vir haarself gehad nie, sê sy weer. Soms voel sy skuldig daaroor, maar sy kla nie. Sy het gedink sy’t haar epilepsie ontgroei – sy neem al lank nie meer medisyne daarvoor nie. Sy’t haar so geskaam, sê sy, nadat hy die dag so op haar afgekom het. Nee, sê hy, nee, dit moet sy nóóit voel nie. Hy aarsel om haar te vra of sy al in ’n ernstige verhouding betrokke was. Hy is bang sy sal dit dalk verkeerd interpreteer. Maar sy sê self ’n keer dat toe sy na skool ’n verhouding met iemand gehad het, die kêrel wat haar nou agtervolg bitter jaloers was.
Sy vertel hoe miserabel sy die eerste paar weke in die Kaap was. Hoe sy haar ouers en die vertroude omgewing van die dorp gemis het. Obs het vir haar gevaarlik gevoel, die straatjies was so nou. Sy’t nooit geweet van waar sy gevaar te wagte moet wees nie. In Main Road en oral het die gedurige getoeter van die taxi’s haar ontsenu. Die berg het sy eers later mooi begin vind. Maar sy hou nog altyd meer van die Weskus en omgewing.
Isabel is altyd daar, wanneer hy en Charelle in die kombuis eet. Knaend, onder die oppervlak – altyd nét buite sy gesigsveld, sy veld van bewussyn. Hy dink daaraan om ’n beeld te maak, ’n soort harpy-agtige figuur, met die liggaam van ’n voël en die kop van ’n vrou, wat balanseer op die rand van ’n kom, of ’n skottel, waarin sý kop, so groot soos ’n hoendereier, lê.
Afgesien van sy sketsboeke, waarin hy elke dag teken, begin hy weer op groot