Vlakwater. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.of hy haar moet neem om te gaan klere koop – maar dit sou seker verregaande en aanmatigend wees van hom. Hy kyk weer in die badkamer. Tandepasta en tandeborsel. Velprodukte (na sy mening nie baie duur nie). In ’n klein make-up-sakkie (sagte materiaal met ’n geborduurde Sjinese draakmotief op, seker by een of ander Sjinese winkel gekoop) – maskara en lip gloss. Twee botteltjies naelpolitoer. (Smal vingers, smal naels.) ’n Naelskêrtjie, naelvyltjie. Tampax in die kassie onder die wasbak. Toiletpapier. Shampoo en conditioner in die stort, ’n stortkeps. Hy kan nie onthou wat sy gewoonlik met haar saamneem soggens nie. Hy herinner hom vaagweg dat sy soms ’n rugsak dra. Dis nie daar nie.
Hy gaan sit op haar bed. Hy onthou skielik dat sy hom vertel het dat sy die meisie in wie se kamer sy gebly het toe sy pas in die Kaap aangekom het, nie baie goed geken het nie. Haar kamer was verskriklik deurmekaar, en verskriklik vol. Sy kon nie glo dat iemand soveel goed het – soveel nuttelose goed nie. Sy’t probeer aan kant maak, maar sy’t nie geweet waar om alles te bêre nie, en dan het dit haar ontmoedig. Sy’t heeltemal vervreem gevoel in daardie vertrek. En sy’t altyd koud gekry daar. Maar sy’t baie gehou van die ander meisie wat in die huis gebly het. Die een wat die dag so gehuil het oor haar ouers se hond.
Dinsdag bel hy weer deur die loop van die dag. Steeds dieselfde boodskap. Hy weet nie waar om die Desirée-vrou in die hande te kry nie, hy weet nie wat haar van is nie.
Woensdagoggend is Charelle nog steeds nie terug nie. Hy gaan teësinnig werk toe. Die studente is terug na hulle drie weke lange Paasvakansie. Goddank het hy nie vandag ’n afspraak met die Karlien-meisie nie. Sy’t aan die einde van die vorige kwartaal begin draal met haar satanisme-projek (doodgebore, begin Niek vermoed). Miskien omdat haar ouers dit afkeur. (Die pa het soos ’n boelie gelyk. ’n Brutale kêrel, wat gewoond is om sy sin te kry.) Hy dink nie hy sou vandag taktvol met haar kon wees nie. Hy gaan vroeg huis toe. Hy bel Marthinus en vra of hy kan oorkom. Daar is iets wat hy dringend met hom moet bespreek. Marthinus wag hom boaan die trap in, beker tee en sigaret in die hand. Kom in, kom in, sê hy. ’n Hartlike kêrel. Niek is dankbaar om hom te sien.
Hy verduidelik vir Marthinus die situasie. Hoe lank is sy al weg? vra Marthinus. Al sedert Saterdagoggend. Dit wil sê vier dae. Moet hy polisie toe gaan? Nee, sê Marthinus, vergeet van die polisie. Hulle stel nie belang nie. Daar’s te veel vermiste persone. Hy’t ’n beter plan. Hy neem Niek na ’n plek waar die mense ’n baie goeie idee het van wat oral in die omgewing en onder in die stad aangaan – oral: onder brûe, in tonnels en waterpype, in elke denkbare uithangplek. Hierdie ouens het hulle hand op die ondergrondse pols van die stad. Ondergronds én bogronds. Hy neem hom sommer vanmiddag nog.
“Waar werk sy, wie is haar vriende?” vra Marthinus toe hulle later die middag eers ’n paar blokke in die rigting van die berg stap, toe regs draai en nog ’n paar blokke verder teen ’n helling op stap.
“Ek weet nie. Sy’t ’n vriendin, Desirée, ’n vrou met ’n tulband.”
“Dis al iets,” sê Marthinus, “daar’s nie baie vroue met tulbande nie.”
“Haar naam is Charelle Koopman,” sê Niek. “Sy studeer by die Skiereiland Kunsakademie. Sy’s baie ernstig oor fotografie. Sy help ’n vriendin twee middae per week by ’n haarsalon. Sy’s stil, sy gaan nie dikwels uit nie. Sy’t nog nooit eintlik vriende by die huis ontvang nie. Ek kook soms vir ons saans.” (Hy voel bietjie kak om dit te moet sê.)
“Waar kom sy vandaan?” vra Marthinus. Van Veldenburg, sê Niek. En hy’s bang dat die mense wat op hom gevloek het, en die kêrel wat haar ’n tyd gelede gedreig het, miskien iets met haar verdwyning te make het.
Wat laat Niek so dink? (Enige intrige, en die man is die ene aandag. Die geval van Viktor Schoeman en die ontsnapte psigiatriese pasiënte ’n pertinente voorbeeld.) ’n Swart kar wat hy een of twee keer na die vloek-episode voor sy huis sien verbyry het, sê hy, en as hy reg onthou, het hulle ook uit ’n swart kar op hom gevloek, hoewel hy dit nie met sekerheid kan sê nie. Sy het wel onlangs gesê dat sy ’n hele tyd al nie meer las gehad het van die man wat haar gedreig het nie. Hy hang blykbaar met slegte geselskap uit – tikkoppe en so.
“Klink nie goed nie,” sê Marthinus. “Daar steek waarskynlik iets in jou vermoedens.”
“Waarheen is ons op pad?” vra Niek.
“Na ’n nedersetting hier bo teen die hang,” sê Marthinus.
“’n Nedersetting?” vra Niek.
“’n Vriend van Alfons het dit begin as ’n depot vir verstotelinge en verskoppelinge. Jy kan maar sê die man was ’n soort volksplanter. Hy het die plek jare lank met ’n baie ongewone styl bestuur. Toe het hy dit onlangs oorgegee aan ’n jonger kêrel – baie idealisties – wat besig is om die hele spul as’t ware te hervorm,” sê Marthinus, en hy lag sy abrupte laggie. “O Here,” sê hy.
“O,” sê Niek, nie baie oortuig van Marthinus se plan nie, maar bly dat hy ten minste iets dóén, nie net onrustig en magteloos rondsit nie.
Aan die einde van die steil bult swenk hulle weer regs. Nog ’n entjie verder op kom hulle by ’n hek. Daar is ’n wag hier. Die hek is op slot. Marthinus ken hom skynbaar, hy praat met hom in Xhosa. Die man laat hulle in. Soos hulle met die pad boontoe stap, verduidelik Marthinus.
Die eerste gebou op regterhand is die kombuis en rekreasie-area. Hier word een keer per dag ’n voedsame maaltyd gekook, geborg deur die Departement van Welsyn. Op linkerhand is daar ’n paar prefab-geboue, hier woon die permanente inwoners. Dis nog vroeg, die meeste mense is seker nog nie terug van die werk nie, sê Marthinus.
Agter die kombuis is die groentetuin. Dit beslaan ’n groot stuk grond, alles is hier in netjiese rye geplant en duidelik goed onderhou. Die mense werk self in die tuin in ruil vir verblyfplek, sê Marthinus. Hy het hier met die nuwe uitleg en aanplanting gehelp – die oorspronklike tuin was so verwaarloos, daar was omtrent niks van oor nie. Nou kweek hulle genoeg groente en vrugte om selfversorgend te wees. Daar word van man, vrou en kind verwag om hier te werk.
Regs van die groentetuin word die diere aangehou: varke, hoenders en twee melkkoeie. Eiers en melk is daar volop, sê Marthinus. Sy varke is die afstammelinge van hierdie varke.
Agter die groentetuin is daar die vrugteboord.
“Vantevore was alles hier baie meer chaoties,” sê Marthinus. “Minder gereglementeer. Die stigter het vroeër min of meer enigiemand in nood hier ingeneem – hoewel meesal weeskinders en haweloses. Hy het die aanvanklike groentetuin aangelê en die bome geplant. Dit was ’n bewonderenswaardige projek maar dit het later begin handuit ruk. Die higiëne het veel te wense oorgelaat. Die kombuis was skynbaar so vuil, die gesondheidsdepartement was bang die pes kan hier uitbreek. Die inwoners het onder mekaar begin baklei. Die honde het aangeteel. Die varke het los in die omgewing rondgeloop. Niemand het meer na die tuine omgesien nie. Die weeskinders het rondloperbendes gevorm. Hulle het op voorstedelike sypaadjies gekak. Die Departement van Welsyn het van alle kante klagtes ontvang.”
Heel bo teen die bult draai die pad na regs. (Niek sukkel teen die bult uit, hy’s onfiks, hy’t lanklaas enige oefening gedoen.) Dit was die afgelope dae oordag weer behoorlik warm. Voor hulle is daar vyf bunkeragtige geboue.
“Wapenopslagplekke tydens die Britse militêre bewind aan die Kaap,” sê Marthinus. “Die man was ’n kunstenaar. ’n Kunstenaar en volksplanter! Hy het die bunkers as installasieruimtes gebruik. Dít was nou waaragtig iets om te sien,” sê hy, skud sy kop, fluit saggies deur sy tande. “O Here. Dit was grensverskuiwend, dit was way-out. Vyf verskillende ruimtes en elk met ’n ander tema. Maar dónker, hoor. ’n Genadelose aanval op gevestigde Afrikaner- kulturele waardes.”
“Wat het van hom geword?” vra Niek.
“Ek is nie seker nie. Kyk, daardie man was ’n pionier, en rusteloos. Hy’t verveeld geraak met die projek. Hy was moeg vir baklei met die Departement. Met die hele omgewing. Hy’t al wat departement en instansie en bourgeois belangegroep is voortdurend op sy nek gehad. Die logistiek het te veel van sy tyd en energie gevra. Die diere en die mense het hom begin irriteer. Hy was seer sekerlik humanitêr