Vlakwater. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.Theunis ‘Rooi Rus’ Swanepoel, en die Dalai Lama.” Hy steek nog ’n sigaret aan. Sy tee is seker al yskoud, maar hy drink dit nog met ewe veel smaak.
“Ewentwel,” sê Marthinus, “ek is bereid om my kop op ’n blok te sit dat Viktor agter die ontsnapping én die sluipmoordpoging is. Dis dáár, dis alles daar in sy romans!”
“So?!” roep Niek uit. “Sy romans kan tog geen basis wees vir so ’n aanname nie!” Hy is ongeduldig. Hy is nie meer in die bui vir Marthinus se vergesogte vermoedens nie. Dis reeds tienuur. Charelle slaap nooit so laat nie. Moet hy vir haar gaan sê dis okay, sy kan maar kombuis toe kom, sy’t seker al lus vir ’n koppie tee?
“Wag en kyk,” sê Marthinus. “Dis een honderd persent Viktor se soort scenario.”
“Van waar het die pasiënte ontsnap?” vra Niek.
“Een of ander hoësekuriteit- psigiatriese hospitaal in die omgewing van Moorreesburg. Net die mees ekstreme gevalle kry jy daar. Die regtig swaar versteurde ouens. O Here, dit pas so in Viktor se kraal! Hoe afwykender, hoe beter.”
Marthinus drink sy tee klaar. Rook nog ’n sigaret. Dan moet hy (gelukkig) iets by die huis gaan doen, die varke gaan versorg of wat ook al.
Wat moet hy doen? wonder Niek. Om nou aan Charelle se deur te gaan klop, neem dit miskien ’n bietjie te ver. Sy kom dalk uit sodra sy nie meer stemme in die kombuis hoor nie.
Elfuur klop hy sag aan haar deur. Geen antwoord nie. Hy roep haar naam en klop harder. Geen antwoord nie. Teen sy beterwete maak hy die deur versigtig oop. Sy is nie daar nie. Haar badkamerdeur is oop. Niemand daar nie. Haar tandeborsel is nog daar. Haar kamer is netjies, soos altyd, die bed opgemaak. Haar naweeksak is bo-op die hangkas. Hy het haar nie gisteraand hoor inkom of vanoggend hoor uitgaan nie. Waarom is hy ontsteld – sy’s hom geen verduideliking van haar kom en gaan skuldig nie.
Hy het ’n afspraak in Woodstock om na ’n ander moontlike ateljeeruimte te gaan kyk. Hy moet die ateljee wat hy in Observatory huur binnekort ontruim. Hy’t te lank uitgestel. Hy was nie lus vir die ontwrigting nie. Hy’t geen verterende lus om vanoggend te gaan kyk nie. Maar goeie ateljeeruimte is moeilik bekombaar.
Teësinnig gaan kyk hy. (Waar sou Charelle so skielik heen wees? Sy gaan selde uit.) Die ruimte lyk goed genoeg. Hy sal dit neem. Dit skeel hom nie vandag soveel waar hy werk nie. Die werk waarmee hy besig is, is nog nie substansieel genoeg vir sy uitstalling volgende jaar nie. Hy sal vinniger moet werk, vinniger moet produseer. Die skuif na Kaapstad was ontwrigtend, dit het hom momentum laat verloor. Die druk is groot vir enige kunstenaar om op die radar te bly. (Hy los tydelik af in iemand se plek by die kunsskool omdat hy finansieel onder druk was na die skuif hierheen.) Intussen beweeg die kunswêreld aan. Daar is elke dag honderde jong kunstenaars wat interessante en innoverende werk maak. Almal is gedrewe en ambisieus. Soos Charelle. Miskien nie almal ewe talentvol as sy nie, maar talent is deesdae nie meer ’n vereiste nie. Hy sal nie meer veel langer op sy naam en vorige sukses kan staatmaak nie.
Hy lees die koerant terwyl hy koffie in ’n klein coffee shop drink. Hy sien geen berig oor die sluipmoordaanval óf voortvlugtende psigiatriese pasiënte nie. Sou die hele ding ’n versinsel van Marthinus se lewendige verbeelding wees? Hy’t al vermoed die kêrel gaan op loop met dinge (so baie soos sy onrealistiese neef) – soos met die praatjies oor Chris Kestell.
Laatmiddag kom hy by die huis. Weer is daar geen antwoord by Charelle se deur nie.
Saterdagaand is sy nog steeds nie by die huis nie. Dis naderhand negeuur, tienuur. Sy’t nie gesê sy gaan die naweek weg nie. Sy doen dit gewoonlik. Hoewel sy dit natuurlik nie hóéf te doen nie. Sy’s die vorige naweek weg saam met die vrou met die tulband. Desirée, nie ’n besonder vriendelike vrou nie. Hy wil Charelle nie bel nie. Sy sal dink hy check op op haar. Onvergeeflik. Elfuur gaan hy slaap. Hy slaap aanvanklik lig, luister vir haar voetstappe. Iewers in die voornag word hy half wakker, en verbeel hom hy hoor stemme op die sypaadjie voor die huis, hoop half deur die slaap dis Charelle, maar hy hoor haar nie inkom nie, en hy slaap onrustig verder.
Hy word die volgende oggend in ’n befoeterde bui wakker. Hy moes wéét hy gaan haar vroeër of later die skrik op die lyf jaag. ’n Middeljarige wit man wat skielik vir haar begin kook. En dit nogal haar huisbaas. Heeltemal te close vir comfort. Hy voel verleë en verneder. Wat het hy gedínk? Dan dink hy weer: behalwe dat hulle die afgelope weke gereeld saans saamgeëet het, het hy niks gedoen wat haar hoegenaamd die idee kon gee dat hy op enige manier toenadering soek of met ’n verleidingspoging besig is nie.
Teen Sondagaand is sy steeds nie terug nie.
Agt
DIE BOME RAAK GESTROOP VAN BLARE. Dit word steeds later lig. Ek drink soggens tee in die bed en kyk na die berge. My blik, sien ek in die spieël, is lakoniek. My gees is oproerig en gekwel. Die onderhandelings met professor Markus Olivier – emeritus hoogleraar in geskiedenis – vorder nie. Hy is die vader van die Olivier-broers, ’n tweeling, oor wie ek die monografie skryf. Dat so ’n vader twee sulke seuns kon verwek! Ek wil met hom praat, hoewel ek nog nie seker is wat ek by hom wil weet nie. Hoe meer obstakels hy in my pad gooi, hoe meer vasberade is ek om by hom uit te kom. Ek onderhandel nie direk met hom nie – alle kommunikasie (telefonies en per e-pos) gaan deur sy sekretaresse-cum-huishoudster. Ek het geen idee hoe sy lyk nie, maar ek stel my ’n saaklik-kompetente vrou voor, geklee in ’n uniform, met dienlike leerskoene met dik rubbersole.
Op kaarte bring ek alles aan wat met die broers en hulle werk verband hou. Biografiese inligting (die vader, die afwesige moeder, hulle jeug in Suid-Afrika), hulle opleiding (voor- en nagraads), poppespelery (puppetry), literêre invloede (Franz Kafka, Bruno Schulz, ens.), die surrealisme (’n belangrike komponent van hulle werk), musiek, die tegniek van stop-action-verfilming (hulle voorkeurtegniek en een waarin hulle as moderne meesters beskou word), die kritiese resepsie van hulle werk (daar is heelwat oor hulle geskryf). Intussen onderhandel ek met die sekretaresse/huishoudster. Ek is van plan om aan te hou totdat ek ’n onderhoud met die ou vader kry.
Die dorp is mooi, maar ook weersinwekkend.
Ek vermy mense. Dis ’n tyd van afsondering. Op die voorgrond: ek en die berge en die broers. Daar is soms ’n gezoem in die lug. Die berge vibreer. Op die agtergrond: die afwesige maar dringende teenwoordigheid van die halsstarrige ou vader en sy sidekick-cum-huishoudster. Soms ontmoet ek jou in die dorp. Altyd praat ons oor hom, want sy dood is nog vars in ons gemoedere. Soms is dit beter, en soms is dit slegter, sê jy, maar die gemis bly.
Wanneer ek nie met die kaarte besig is nie, volg ek skakels op die internet. Ek lees dat Philip Roth in ’n onderhoud sê hy is klaar met skryf. Hy het die grootste en die beste deel van sy lewe aan die roman gewy, maar nou het hy nie meer die gedrewenheid nie. Daar is ’n foto van hom: hy lyk soos ’n ontnugterde ou man, maar sy blik is nog steeds priemend. Klaar is hy vermoedelik met karakters soos Mickey Sabbath: panty-sniffing, outrageous Sabbath, wat ’n loflied sing op die klitoris, masturbeer op die graf van sy minnares met die kort beentjies (of verwar ek haar met ’n ander karakter – Winnie Verloc dalk, in The Secret Agent? Winnie wat nie te diep in dinge wou kyk nie).
Dan op ’n dag bel die sekretaresse, ’n mejuffrou De Jongh. Professor Olivier is bereid om my te woord te staan. Maar die onderhoud is onderhewig aan streng voorwaardes. Dit sal nie langer as ’n halfuur kan wees nie, korter selfs as die professor vind dat dit hom te veel vermoei. Ek moet my vrae vooraf stuur vir die professor se goedkeuring.
Ons maak ’n afspraak vir die einde van die week, om vieruur die middag.
Nege
TOE CHARELLE MAANDAGMIDDAG nog nie terug is nie, bel Niek haar op haar selfoon. The subscriber you have dialled is not available, is die enigste boodskap wat hy telkens kry. Hy gaan kyk weer in haar kamer. Ruim, byna die grootte van twee vertrekke. Sy het meer as een keer gesê sy’t nog nooit in haar lewe soveel ruimte vir haarself gehad nie. Alles op die groot werktafel (waaroor sy baie bly was) – ordelik gerangskik. Daar is min van haar eie goed in die vertrek, behalwe haar eie gehekelde bedsprei oor die bed. Alles pynlik netjies. Nie ’n frilly, meisieagtige