Goudduiwel. Duane Aslett
Читать онлайн книгу.merk hoe die ander twee se gesigte ophelder. Dalk moes hy eerder ’n preek oor verhoudings tussen kollegas afgesteek het.
“Ek drink nie eintlik bier nie,” sê sy skugter toe Rooies die Castle Lite vir haar uithou.
“Toemaar, ons sal jou leer,” kom dit van Andries.
“Kan ons begin?” vra Diana gretig nadat sy ’n slukkie bier gevat en haar mond skeef getrek het vir die bitter smaak.
“Ek gaan gou reël.” Rex stap na die ontvangstoonbank.
“Welcome to our indoor go-kart circuit,” sê die jong man wat daar aan diens is.
“Thank you, we’re here for some team building. And we have the whole afternoon.”
Die jong man loer oor Rex se skouer na die drie wat elkeen besig is om ’n ryding uit te soek.
“You’ve come to the right place, sir. And it’s very quiet today, so you’ll mostly have the track to yourselves.”
10
Eduard skop sy hakke in die bruin hings se ribbes sodat die dier kan spoed optel. Hy wil weg wees voor lord Roberts en sy Kakies hier aankom. Agter hom lê Machadodorp, sy tydelike tuiste vir die afgelope maand en ’n half.
Die dag na sy aankoms het president Kruger hom persoonlik bedank en geprys vir die belangrike taak wat hy verrig het. Hy moes toe help om die goud se waarde te bereken, waarna hy getaak was met die evaluering van die rye en rye skuldeisers en die uitbetaling van hul eise. Hulle het ’n spesiale skaal van Pelgrimsrus af daarvoor laat haal.
Hy was aanvanklik bekommerd om die transaksies so oop en bloot in die spoorwegstasie uit te voer, maar het aanvaar dat dit onder die omstandighede nie anders kon nie. Daar was baie kansvatters met vervalste eise en hy was die eerste paar keer benoud toe hy hulle moes konfronteer, maar namate sy selfvertroue toegeneem het, het hy nie geskroom om hulle vas te vat nie. Sommige van die verskonings wat dan aangevoer is, was belaglik, indien nie lagwekkend nie.
Hy sien nie daarna uit om by die kommando aan te sluit nie. Die finansiële administrasie het goed binne sy bevoegdhede geval, maar dieselfde geld nie die hantering van ’n Mauser nie. Hy wens hy kon aanbly en verder help met die uitbetalings, maar sy goudtrein het Machadodorp reeds verlaat – dié keer met meer trokke aangehaak – bergaf in Nelspruit se rigting. En president Kruger het na Waterval-Onder verhuis omdat hy die koue van Machadodorp ondraaglik gevind het. Die hele administrasie sal binnekort volg en Eduard het gehoop om saam te gaan. Hy was baie teleurgesteld toe hy die opdrag kry om by die kommando te gaan aansluit, want daarmee was sy oomblik van glorie verby.
Hy wonder of iemand ooit sal weet watter bydrae hy tot die oorlog gemaak het. Was dit nie vir hom nie, het ’n hoop goud in Britse hande beland …
Hy skop weer die hings in die ribbes. Die Kakies moet hom tog net nie alleen hier betrap nie. Lord Roberts is besig om al met die spoorlyn langs ooswaarts op te ruk, ná sy jongste oorwinning by Donkerhoek. Dalk sal die kommando waarby Eduard hom nou gaan aansluit lord Roberts by Dalmanutha keer en hom terugja tot in Pretoria. Dit sal maak dat hy kan spog met twéé belangrike bydraes.
Hy sug. Wonder of hy ooit weer sy geliefdes sal sien. En al ken hulle nie die besonderhede nie, hoop hy hulle is trots op wat hy hier doen.
* * *
28 Augustus 1900, Nelspruit
Noodvergadering na afloop van die Slag van Dalmanutha, waarin die Boere ’n kwaai neerlaag gely het. Daar is reeds besluit dat ’n strategiese verandering in die manier van oorlogvoering noodsaaklik is, veral omdat die spoorlyn na Delagoabaai gekompromitteer is en binnekort volkome onder Britse beheer sal wees. Die belangrikste punt op die agenda en wat tans onder bespreking is, is hoe om die goud te hanteer.
“Ons het ’n skriftelike aanbod vir die goud vanuit Lourenço Marques ontvang, meneer die president. Die aanbod kom van een van ons leweransiers, die firma Wilcken en Ackermann. Ek het intussen die vrymoedigheid geneem om ’n koopkontrak saam te stel, om tyd te spaar – ingeval die raad vandag die verkoop van die goud goedkeur. Wilcken en Ackermann het aangebied om die goud met gemunte geld te koop.”
“Dankie, meneer Malherbe,” antwoord die president toe die tesourier-generaal klaar gepraat het. Paul Kruger staar ’n oomblik voor hom uit, met wanhoop wat dreig om in hom pos te vat. Hy mis sy vrou. Hy het haar laas in Mei gesien toe hulle afskeid moes neem sodat hy Pretoria kon verlaat. En hoe mis hy nie sy geliefde Pretoria ook nie … Hy wonder of hy ooit weer in die skemer deur daardie strate sal wandel met Gezina aan sy sy. En hy verlang na sy jeug, want op 75-jarige ouderdom wil sy lyf nie meer saamwerk nie. Dit kon eenvoudig nie die koue Machadodorp hanteer nie, sodat hy na Waterval-Onder moes verhuis. Dit het hom soos ’n swakkeling laat voel, veral aangesien soveel Boere iewers in die veld moet slaap.
Hy onderdruk die depressie wat dreig om hom baas te raak. Hierdie land het hom so baie gegee, en hoewel hy begin planne maak het om binnekort op reis te gaan, om ondersteuning vir hul stryd op die Europese vasteland te gaan vra, wil hy alle moontlike reëlings tref sodat die oorlog onverpoosd kan voortgaan as hy eers vertrek het. Op die Nederlandse oorlogskip wat koningin Wilhelmina goedgunstiglik aan hom beskikbaar gestel het.
Hy hoop dat die ander regerings op die Europese vasteland hom ewe goedgesind sal wees wanneer hy hulle om ondersteuning nader.
Hy wend hom tot die groep: “Menere, wat is die raad se gevoel?”
“Meneer die president, aangesien ek instaan vir meneer Smuts, sal ek my onderwerp aan die besluit van die meerderheid van die raadslede,” sê Louis Jacobs, assistent-staatsprokureur.
Die man maak dus geen bydrae nie – wat is die punt om hom hier te hê? wonder Kruger. Hy hoop die ander gebruik hul Godgegewe talente en dra iets waardevols by tot die besluitnemingsproses.
Hy maak oogkontak met generaal Lukas Meyer, in die hoop dat dié iets sinvols te sê het.
“Meneer die voorsitter, die gemunte geld sal die transaksies vir aankope vir die oorlog geweldig vergemaklik. Die leweransiers is huiwerig om Bluebacks te aanvaar, hoewel heelparty seker is dat dié geldeenheid na die oorlog steeds erkenning sal geniet. Gemunte geld sal egter enige teësinnigheid uit die weg ruim en dinge baie vergemaklik,” sê Meyer.
Dit maak sin. Die man kan op sy voete dink.
Dan maak die visepresident, Schalk Burger, keel skoon. “Wilcken en Ackermann sal die gemunte geld in trust kan hou totdat ons dit aanvra. Dit sal beteken dat ons nie met die vervoer en bewaring van die fondse gemoeid hoef te wees as ons die setel dalk noodgedwonge weer moet verskuif nie.”
Ook waar. Tot dusver het hulle die voordeel van die treinspoor gehad, maar dit sal nie vir lank voortduur nie. En om ’n klomp goud op waens te vervoer is onhaalbaar. Dis bloot te swaar. En die laaste ding wat hy nou nodig het, is dat die goud in Britse hande beland.
Dan is die oorlog verby.
“Dit is wel so, meneer die voorsitter,” beaam Reitz, die staatsekretaris. “En die Britte sal alles in hul vermoë doen om beslag te lê op die regering se buitelandse bates, asook enige plaaslike bates waarop hulle hul hande kan kry.” Dis asof die man sy gedagtes kon lees, dink Paul Kruger, en weer eens beïndruk Reitz se vermoëns hom. “Die Portugese weier reeds om enige oorlogskontrabande deur die hawe in Lourenço Marques te laat kom en ons moet dié goedere dus deursmokkel. Daar is ook sprake dat lord Chamberlain dit sy persoonlike taak gemaak het om op alle bates van die regering beslag te lê. Ek het dus ook reeds vir doktor Leyds in Brussel per telegram in kennis gestel dat hy op sy hoede moet wees én dat ons moontlik in die nabye toekoms al ons Europese bates te gelde sal moet maak en elders belê. Hy het terug laat weet dat die regering se bank moeilik raak en weier om wissels te honoreer …”
“Donderse Labouchere, Oyens & Kie.! As ek daai bliksems in die hande kry …” onderbreek die generaal vir Reitz, maar stop midde-in sy sin toe Kruger hom aangluur.
Om te kla oor die bank dien geen doel nie. Nou is dit tyd vir besluite neem: goeie besluite, deurdagte besluite. Hy het tog waardering vir die generaal