Goudduiwel. Duane Aslett
Читать онлайн книгу.stoom Januarie voort voor Dolf iets kan sê, “dié is Rex. Hy is amper bokveld toe as gevolg van twee koeëls wat jou voormalige kliënt hom persent gegee het. En hy het nog nie closure daaroor gekry nie. So ek sal nie my luck met hom try nie, veral nie terwyl ek dalk geïnteresseerd is om jou mooi vliegtuie te gaan bewonder nie.”
Dolf se oë skiet na Rex. Betrag hom van kop tot toon, ooglopend om te meet hoe geïntimideer hy behoort te wees.
“Watse vliegtuig is daardie?” vra Rex en beduie na ’n ou propeller-aangedrewe model wat gehawend in die hoek staangemaak is.
“Dis ’n ou Lugmag Harvard wat ek eendag nog wil restoureer,” antwoord Dolf onseker.
“Daai een lyk baie interessant, kaptein – hoekom gaan loer jy nie na hom terwyl ek en Dolf mekaar hier beter leer ken nie?” Rex vou sy arms voor sy bors en hoewel hy warm kry in die donker pak wat hy vir die vennotevergadering aangetrek het, wil hy nie sy baadjie uittrek nie, want hy kan sien sy voorkoms het die gewenste uitwerking op Dolfie.
“Wag-wag. Ek het niks om weg te steek nie.” Die sweetkolle slaan nou sterk deur op die kakie-knopieshemp wat Dolf by sy chino-kniebroek en bruin vellies dra.
“Een van jou pilots – hulle roep hom Wingnut – het moontlik in die afgelope drie dae ’n vlug onderneem. Ek soek die details,” sê Januarie ernstig.
“Ek wil nou nie moeilik wees nie, kaptein, maar ek het kliënte wat nie tevrede sal wees as ek bloot inligting uitdeel nie. So, mag ek asseblief die lasbrief sien?” Dan voeg hy vinnig by: “Net om myself teen die kliënte te beskerm, natuurlik.”
“But of course, ou Dolfie. Ons is mos ou pelle wat vir mekaar uitkyk, of hoe?” sê Januarie en oorhandig die dokument.
“Dis reg, kaptein … ou pelle.” Met ’n oordrewe glimlag bêre Dolf die lasbrief in sy boonste laai. Hy haal ’n rooi lêer van die rak agter hom af en blaai daardeur. “Ja, hier is dit. Hy was Sondag Nelspruit toe, en toe sommer op dieselfde dag terug. Ek kan hom inroep as julle meer wil weet.”
“Not yet necessary, Dolfie. Inteendeel, niemand moet van hierdie enquiry weet nie. Ek weet mos uit ervaring jy wil jou nie skuldig maak aan defeating or obstructing the course of justice nie. So, ek weet sommer, your lips are sealed, nè?”
Dolf knik instemmend.
“Wat het hy daar gaan maak?” vra Rex.
“Ek is nie seker nie. Al wat ek weet, is dat die vlug deur ene Glenn McGregor geboek en betaal is.”
Rex en Januarie kyk mekaar vraend aan.
“Thanks, Dolfie, that’s all for now. En onthou, nie ’n woord hieroor nie. Ek glo jou. Jou company is above-board. Dis meneer McGregor se shenanigans waarin ons belangstel. So bel my asseblief as hy enige ander vlugte met julle charter. Ek reël sommer vir jou informer’s fees. Dis lekker money-for-jam daai. Cash in your pocket, my vriend.”
Januarie haal sy visitekaartjie uit en oorhandig dit aan Dolf, waarna hulle omdraai en wegstap.
“Nelspruit? En is Glenn McGregor in werklikheid Niel Campher?” sê-vra Rex toe hy sy baadjie uittrek terwyl hulle aanstap na die S5 toe. Dan trek hy sy das oor sy kop en rol sy moue op teen die hitte. “Wat sal hy daar gaan soek? En hoekom die hele fasade met Freddie-hulle?”
“Seker om jou rede te gee om nie te veel vrae te vra nie en onder die radar te beweeg,” merk Januarie op. “Maar hy het hom misgis met die inquisitiveness van Rex Reynecke. Well done, partner. Ek dink hier is ’n groot slang in die gras. En blykbaar is jy die snake whisperer. Dalk moet ek Wingnut na die Valke se interrogation room toe vat en sy skroewe bietjie stywer draai. Hoor wat aangaan.”
Rex oordink die voorstel.
“Kom ons gee eers kans. Dolfie sal bel, hy het soos ’n akkedis op warm sinkplaat rondgetrippel. Hy sal sy samewerking gee. Ek wil nie Campher snuf in die neus gee nie,” sê hy toe hulle die Audi se deure toeklap en hy die enjin aanskakel.
“H’m. Give him enough rope, meen jy. Fine met my, maar as Dolfie nie binne die volgende paar dae bel nie, gaan ek Wingnut se vlerke vir hom afknip.”
8
Alicia druk die voordeur toe en sit die sleutels vir Niel se dakwoonstel op die kombuistoonbank neer. Dan staan sy besluiteloos. Sy voel klaar skuldig dat sy hier is sonder Niel se medewete, laat staan nog tussen sy goed rondkrap. En sy is nie seker waar om te begin nie.
Sy is keelvol vir sy streke. Meer as dit, sy is keelvol vir die invloed wat dit op haar en Rex se verhouding het. Rex is goed vir haar en Michiel. Sy het lankal die idee van liefde prysgegee en só het Michiel en Niel die enigste mans in haar lewe geword. Hoeveel dokters het sy nie by die hospitaal met die skouer aangekyk wanneer hulle by haar begin aanlê het nie? “Is jy mal?” het die ander verpleegsters haar om die beurt berispe. “Dis elke vrou se droom om ’n mooi jong dokter te haak, en jy wys hulle een na die ander weg.”
En sy het erg bekommerd geraak toe sy wou begin val vir een van die skurke met wie Niel uithang. En hoe meer sy teen die aantrekkingskrag baklei, hoe meer val sy. Tot sy begin dink het sy sal nooit haar aangetrokkenheid tot ’n “bad boy” – soos haar beste skoolvriendin tydens die matriekvakansie na hulle verwys het – afskud nie. En toe Rex halfdood uit ’n ambulans gelaai word en Niel haar meedeel dat hy die hele tyd ’n geheime agent was, het die laaste stene van die muur waaraan sy so lank gebou het, verkrummel.
Sy sal nie toelaat dat haar broer dit opneuk nie. Vererg stap sy na Niel se studeerkamer toe. Dit is waarskynlik die beste plek om te begin soek vir leidrade oor waarmee die klein twak nou weer doenig is.
Die regterkantste boonste laai van sy mahoniehout-lessenaar is gesluit. Sy sak op die groot bruin leerstoel neer en haar oë dwaal moedeloos deur die studeerkamer. Sy moet daardie laai oopkry sonder om die slot te beskadig. Niel het haar op ’n keer ewe windmakerig geleer hoe om ’n slot te manipuleer, maar dit was met die spesiale gereedskap wat hy in ’n swart leerhouer by hom gehad het. Sy trek die ander laaie oop met die hoop dat daai leerhouer in een van hulle gebêre is, maar moet almal weer teleurgesteld toedruk.
Teen die muur oorkant haar hang ’n olieverfskildery van ’n naakte vrou se bolyf, met die kennebak en naeltjie wat die portret bo en onder afsny. Sy vee ’n paar van haar donker hare wat losgekom het agter haar regteroor in en staan op om die skildery van nader te aanskou. Sy trek dit van die muur af weg en glimlag tevrede toe sy op die kluis afkom wat daaragter geskuil het.
Sy vat die skildery aan weerskante vas en lig dit van die hakie af, skud haar kop oor die twee kaal borste wat so vlak voor haar gesig is. Wat is dit met mans en ’n vrou se borste? Wys dit vir hulle en alle redelikheid, toerekenbaarheid en verantwoordelikheid – om maar net ’n paar te noem – is daarmee heen.
Sy staar hande op die heupe na die kluis se toetspaneeltjie, dankbaar dat dit nie met ’n draaiknop toegerus is nie, want dan sou sy sekerlik nie die syferkombinasie kon uitwerk nie.
Dink, Alicia, motiveer sy haarself. Jy ken hom al jou lewe lank. Watter kombinasie sal hy gebruik? Sy tik die familie se geboortedatums om die beurt in, om telkens ’n flitsende rooi liggie en drie kort biepgeluide vir haar moeite te ontvang.
Misnoeë begin in haar posvat, want die moontlikhede is oneindig … maar nee, berispe sy haarself, Niel sal mos nie enige kombinasie opkook nie. Hy is ’n berekende mens en hou van orde in sy lewe. Hy sal nie ’n kombinasie uit sy duim suig nie. Dit sal iets wees wat betekenis dra, maar iets wat nie maklik geraai kan word nie, daarom die vermyding van geboortedatums.
Dink, Alicia! Watter syferkombinasie hou vir hom betekenis in? Sy sleutel een in en skrik omtrent toe die groen liggie flits en die slot ontgrendel. Sy weet nie hoe die gedagte by haar opgekom het nie, maar die gebruik van die datum waarop hul oupa dood is, stuur rillings deur haar lyf – asof iemand oor háár graf geloop het. Sy draai die versinkte handvatsel en swaai die kluisdeur oop.
Sy skrik en gee ’n sagte gil toe haar selfoon begin lui. Druk haar handpalm teen haar hart in ’n poging om te kalmeer terwyl sy na haar