Goudduiwel. Duane Aslett

Читать онлайн книгу.

Goudduiwel - Duane Aslett


Скачать книгу
uitgewis voor hulle daarna selfdood uitgevoer het? En almal van hulle het gedink hulle is ‘oukei’.” Weer die aanhalingstekens.

      “Ek het nie familie nie, dok. Ek meen … ek is nog nie getroud nie.” Sy oë dwaal die soveelste keer oor die sertifikate wat teen die mure pryk. Sommige is in die naam van Elisma Karen Wilken uitgereik. Wilken was seker haar nooiensvan, want die mees onlangse sertifikate is vir Elisma Karen Serfontein. Hy skat sy het in 2003 of 2004 getrou, en uit die afwesigheid van ’n trouring en die gebruik van haar nooiensvan maak hy die afleiding dat sy geskei is.

      Hy wonder of dit ’n minlike skeisaak was. Hy glo nie so nie, want dit is seker die rede waarom sy weer haar ou van opgeneem het.

      Die speurder in hom wil maar net nie gaan lê nie. Foto’s van haar en ’n blonde vrou wat allerhande aktiwiteite beoefen, is oral in die spreekkamer staangemaak.

      Op die een is hulle saam op ’n rubberboot in die witwater van ’n rivier; op ’n ander sit hulle op ’n oord se kabelkar met ski’s in hul hande; op ’n ander loer hulle oor die rand van ’n brug met reksprongkoorde om hul enkels vasgebind; en op ander foto’s sit hulle met skemerkelkies by eksotiese bestemmings.

      Die fooie vir sy sessies sal seker tot die volgende avontuur bydra. Maar as Polmed egter bereid is om só geld in die water te gooi, is dit Polmed se probleem.

      Myron bestudeer die twee vroue op die foto’s. Uit die paar sessies met doktor Wilken het hy nou al afgelei dat die blonde vrou die avontuurlustige een is. Dit is sy wat doktor Wilken uit haar gemaksone dryf om die lewe by die horings te pak. Dit is seker Blondie se lus vir die lewe wat doktor Wilken na haar toe aantrek en haar konserwatiewe wortels afgekap het, sodat sy die sogenaamde sorgeloosheid van die adrenalien-fanatikus kan omhels.

      Hy wonder hoe lank dit sal hou, want elkeen moet getrou wees aan jouself, doktor Wilken. Sonder die voeding wat die wortels verskaf, verdroog die stam. Adrenalien kan jou net só lank aan die lewe hou en jy kan jouself nie gedurig dwing om iets te wees wat jy nie is nie. Het jy dít nie geleer tydens die studies wat hier teen die mure verteenwoordig word nie?

      Dit verg inspanning om anders te wees as wat ’n mens werklik is. En dan maak dit jou gedaan.

      Hy besef sy wag nog vir hom om te reageer. Sy, wat besig is met haar eie identiteitskrisis, wil hom help met syne. Want sy dink hy is net nóg ’n poliesman wat sy emosies onderdruk.

      * * *

      Rex bestudeer die vennote wat om die raadstafel vergader het. Hul oë is gefokus op die Excel-werksblad wat die dataprojektor op die skerm gooi.

      Een van die kolomme dui die geteikende inkomste per maand aan terwyl ’n ander wys wat die inkomste van die huidige projekte beloop. ’n Derde kolom wys die tekort uit en dit is dié een wat tans deur Harry Warrick bespreek word. Met sy staalraambril, styllose bruin hare, breë snor en effense boep wat oor sy gordel hang, kon Harry Warrick na Rex se mening niks anders as ’n rekenmeester gewees het nie. Die ou probeer egter baie hard om daarvoor te vergoed met die Mercedes-Benz wat in die kelder geparkeer staan: die afslaankap-sportmodel.

      “Gents, as PIC I am concerned that we have a lot of blue sky. Rex, you need to push this captain January of yours for an answer on the Sphinx Traders engagement. When are you meeting with him again?” Harry Warrick hou daarvan om sy vennote te herinner dat hy die “partner in charge” is en hy laat val dus die “PIC”-titel by elke moontlike geleentheid.

      “Today. We’re having lunch after this meeting.”

      “Good, get an answer from him. He needs to put pressure on his superiors to sign the engagement letter. They’re dragging their feet on this, but I suppose that’s par for the course with government projects these days. In any event, that engagement may add a bar to the bottom line.”

      Hoekom kan die man nie net “million” sê pleks van “bar” nie? Dis nie asof dit ’n moeilike woord is om uit te spreek nie. Rex weet egter sy frustrasie lê eerder by die spreker as by die woordgebruik.

      “I’ll see what I can do,” antwoord hy in die hoop dat dit ’n einde aan die gesprek sal bring … en hy is verlig toe Harry Warrick wel die vennotevergadering daarmee beëindig.

      Met die uitstap merk hy saggies op: “Dit was moord.”

      “Ja, jou eerste vennotevergadering was bietjie van ’n vuurdoop,” antwoord Guillaume laggend. Rex skud sy kop onwillekeurig. Die man verstaan nie wat ’n vuurdoop regtig is nie. ’n Paar dik vennote is kinderspeletjies teenoor ’n pikdonker bomskuiling iewers in Italië. “Na die laaste budget-vergadering het ek oor die pad gestap na die Maserati showroom toe en een gaan koop. Ek gaan vandag eerder daar wegbly. Lizelle sal my skei as ek met nog ’n kar by die huis opdaag.”

      “Watter Maserati het jy gekoop?”

      “’n Wit Gran Turismo. Jy’t hom dalk al hier onder in die kelder gesien,” kom die trotse antwoord. Rex besef dat Guillaume gehoop het hy sou vra. “Hoor hier, Rex, sit maar bietjie pressure op daai contact van jou by die cop shop. Dit sal die ander vennote impress as jy die knoop deurhaak. Dis as gevolg van daai engagement dat ek hulle kon oorreed om jou as partner eerder as ’n associate aan te stel. En jy weet mos hoe moeilik dit is om ’n wit man as vennoot aan te stel met vandag se politiek. Veral as dit nog iemand van buite die maatskappy is. Hierdie is die brass ring, ou maat. Einde van die jaar gaan al die vennote op ’n whisky-toer Ierland en Skotland toe. En ons vlieg besigheidsklas. Jy beter intussen jou gholf-swing oefen, want ons gaan ’n ronde op St. Andrews speel. The home of golf, kan jy dit glo? Sien jou.”

      Rex kyk sy vennoot agterna. Hoe het Guillaume nie verander sedert hul tyd as grootoog-klerke by die prokureursfirma nie! Toe bier en slaptjips by O’Hagan’s, en ’n 12 jaar oue Jetta om jou daar te kry, goed genoeg was. Geld het soms ’n vreemde uitwerking op mense. Nou is 12 jaar oue whisky nie eens meer goed genoeg vir Guillaume nie.

      Hy kyk op sy polshorlosie – die Jacques Lemans wat Niel hom vir sy verjaardag gegee het. Hoog en laag gesweer hy’t self daarvoor betaal: En dis ’n genuine een, Rex.

      Hy sal moet wikkel om betyds te wees vir sy afspraak met Myron Januarie. En hulle twee het baie om oor te gesels, want dis asof Campher van die aardbol af verdwyn het, en dít maak Rex kriewelrig.

      6

      Niel Campher stap haastig by Nelspruit se Southern Sun Emnotweni Hotel uit. Hy klim in die Toyota Fortuner wat hy by Avis gehuur het. Hy wou iets hê met meer hoogte as ’n sedan en dié was al wat hulle hom kon aanbied.

      Hy wonder wat om te verwag tydens sy vergadering by die i’langa-winkelkompleks. Wingnut het gister die Piper Seneca netjies op Nelspruit-lughawe se aanloopbaan laat neerstryk en amper onmiddellik terug na Wonderboom vertrek.

      Die buigsaamheid wat Wingnut se dienste hom bied, is gerieflik en hy moet toegee dat die vent ’n goeie vlieënier is. Seker as gevolg van al die ure op die Bosbok-vliegtuie tydens die Bosoorlog. Die mense kan hulle verluister aan Wingnut se stories as hy ’n paar biere in het. Van klandestiene vlugte onder die dekmantel van die nag en landings “op plekke waar nie eens ’n Land Cruiser dit sou waag nie”.

      Niel wonder soms hoeveel van dié stories oorvertellings van ander se ervarings is, met Wingnut wat die hoofrol oorneem.

      Hy ry met Madibalaan af oor die Krokodilrivier en draai eindelik by die i’langa-winkelkompleks in, waar hy voor Cappuccino’s Café & Pizzeria parkeer. Die hitte dryf hom na die lugverkoelde verligting wat binne die restaurant te vinde is, en hy vra die kelner of hy in een van die eethoekies kan sit – meer geleë vir die vergadering as een van die oop tafels. Hy bestel ’n Appletiser en bekyk die spyskaart terwyl hy wag.

      Die persoon op wie hy wag en sy Appletiser daag gelyktydig op.

      “Niel Campher?” vra die poenskopman met ’n roggelstem, wat Niel laat dink die man rook al sy lewe lank elke dag ’n pakkie dertigs. Niel skat hom so in sy middel vyftigs, maar hy dra sy jare goed. Hoewel hy ’n effense magie het, is hy stewig gebou en herinner hy Niel aan hul bure in Stilfontein se Staffordshire-terriër wat hom altyd


Скачать книгу