Goudduiwel. Duane Aslett
Читать онлайн книгу.Rex kom agter dat hy besig is om uit frustrasie sy regterbeen op en af te pomp. Hy haat dit dat Campher sy lewe so binnedring.
Hy het sy prokureurspraktyk die rug gekeer en ’n lewe as ’n geheime agent aanvaar … om in afsondering Leigh se skielike dood te probeer verwerk. Weg van al die “En hoe gaan dit vandag, Rex?”-vrae, in stemtone wat medelye moes oordra. Die vervulling wat die prokureurspraktyk hom eenmaal gebied het, was net so afwesig soos sy.
Elke dag op kantoor was leër as die vorige, totdat dit vir hom gevoel het die kantoor is sy eie witgeverfde graf.
Nadat hy Alicia ontmoet het, kon hy insien dat hy eintlik heeltyd besig was om weg te hardloop, eerder as om vrede te maak met sy vrou se afsterwe. En só het die wil om weer voluit te lewe algaande sterker geword – maar Niel Campher was die fynskrif in die “Dis te goed om waar te wees”-aanbod.
En nou is hy gatvol vir Campher se streke.
Hy soek ’n nommer op sy selfoon, skakel dit. Oorkant die pad toring die Witkop-blokhuis half vervalle, met ontblote dakkappe wat soos die ribbes van ’n karkas deur die son verskroei word.
“Hoesit, my broe’?” antwoord Myron Januarie opgewek.
“Myron, ek weet ons sien mekaar môremiddag, maar ek het vroeër ’n weird oproep van Campher af gekry.”
Nadat Rex klaar verduidelik het, is Januarie ’n ruk lank stil, sê dan. “Klink vir my ook maar na spookstories, Rex.”
“Ek wil eintlik hoor of jy kan vasstel deur watter selfoontoring sy oproep gekom het. Ek vermoed hy was nie by sy penthouse nie. As hy weer besig is met sy stront, wil ek dit weet.” Hy beduie aan die kelnerin dat sy die rekening kan bring.
“Ek sal môre bietjie check, ’cause leopards mos never change their spots, of hoe?” merk Januarie op voor hy aflui.
* * *
Hy staar na die leë kelder van die Paleis van Justisie. In besonder na die indrukke wat die goudstawe in die sementvloer gelaat het.
Buite wag die wa wat hulle tot barstens toe gelaai het. Goiingsakke is oor die vrag gegooi om dit te verskuil, heel moontlik onnodig aangesien die strate verlate is.
“Die ouditeur-generaal wag vir julle daar by die stasie,” ontvang Preller sy finale opdrag. “Die trein sal Machadodorp toe vertrek wanneer julle klaar gelaai het. En daar is geen tyd om te verspil nie – die trein moet vertrek voordat die Kakies dit op die Oosterlyn kan onderskep. President Kruger sal self die goedere in Machadodorp in ontvangs neem.”
Preller merk die moegheid op Smuts se gesig. Al is die man maar pas 30 teenoor sy eie 25, lyk hy vanaand heelwat ouer. Seker die verantwoordelikheid wat so swaar op sy skouers rus, want toe die ander amptenare begin pad vat het, het Smuts agtergebly om toesig te hou oor die ontruiming van die stad voor die Britse magte dit beset.
“Wanneer gaan u Pretoria verlaat, meneer?” wil Preller bekommerd weet. Hulle kan nie bekostig dat lord Roberts hom in Pretoria betrap nie.
“Ek gaan môre by die kommando’s aansluit.”
Preller glimlag. Die Kakies glo die oorlog is op sy einde, maar hulle onderskat hoe taai die Boere is, veral as hulle in ’n hoek gekeer is – en daardie hoek is nou die Oos-Transvaal. Preller vermoed daar sal nog baie bloed oor dié vrugbare grond gegiet word voor die oorlog verby is. Die goud wat hy vanaand help wegstuur, gaan die Boeremag se verset versterk.
“Reg so, meneer Smuts, ons sal u nie teleurstel nie.” Hy sien ’n glimlag oor die moeë gesig spoel. En hy is verheug dat hierdie belangrike taak aan hom opgedra is; dit kan die finale uitslag van die oorlog bepaal.
Pompie klap die leisels en die muile beur om hul vrag aan die beweeg te kry.
Die houtwa kreun deur die nou straatjies en kraak oor elke hobbel in die pad. Preller het stelling agter die Zoeloe-drywer ingeneem, Webley in sy hand, gereed vir die wis en die onwis.
Toe hulle eindelik langs die trein tot stilstand kom, kan Preller die ouditeur-generaal se angs duidelik op sy gesig lees. Sy hoë stemtoon verraai dit ook.
“Roberts en sy troepe kan enige oomblik om die draai gestorm kom, en julle vat julle bleddie tyd met ’n muilwa!”
Preller oorweeg dit om hom ’n goeie tongloesing te gee, maar besef dis nie die regte tyd nie. Die ouditeur-generaal is ’n finansiesman; oorlog sit nie in sy murg nie. Die man se blik flits heen en weer met elke geluid of beweging en hy sien klaarblyklik uit daarna om die stoomlokomotief te hoor fluit as die trein begin beweeg. Na regte behoort hy eers te ontspan as die trein veilig verby die Oosterlyn is, waar die Kakies hulle nie meer kan onderskep nie, maar Preller besluit egter om hom salig onbewus daarvan te los.
“Waar moet ons aflaai?” vra Preller so kalm moontlik, om die man hopelik te help bedaar.
“Volg my!” sê die ouditeur-generaal en vee met ’n sakdoek oor sy voorkop. Ten spyte van die koue aandluggie sweet hy asof dit ’n snikhete somersdag is.
Hy lei hulle na die agterste trok, waar hy die swaar sydeur stadig ooptrek. Links van die stasie, op ’n sylyn, merk Preller ’n ander trein wat gereed staan om die staatsamptenare vanaand Machadodorp toe te neem. ’n Unieke en besonderse trein, dink hy, want dit gaan die tydelike setel van die regering word.
“Laai hier in!” beveel die ouditeur-generaal agter hom. “Toe, toe! Wat staan julle nog so rond?” Die handlangers spring aan die werk. Preller kan nie die gebabbel van dié Ierse vrywilligers verstaan nie, maar die geskarrel maak dat die goud vinniger gelaai word as wat hy verwag het. Hy moet glimlag toe hy die ouditeur-generaal se verligting merk. Dié vee weer met die sakdoek oor sy voorkop, ooglopend steeds sonder ’n benul dat die gevaar nog lank nie verby is nie.
Die ouditeur-generaal klim op die trein en waai glimlaggend vir Preller toe dit met ’n gefluit aan die beweeg begin kom. Wiele skree soos wat die remme hulle los en stampgeluide trek deur die trokke soos hulle op die spoor begin voortrol.
Preller haal sy sakhorlosie uit en sien dat dit amper middernag is. Agter hom klap Pompie die leisels van die wa terwyl die trein die stasie begin agterlaat. Preller staar die leë bak van die trolliewa ’n oomblik agterna voor hy omspring.
Die Engelse is naby en hy moet nog sy persoonlike besittings by Fort Wonderboom gaan oppik voor hy self padgee uit Pretoria.
* * *
Niel vee die sweet van sy voorkop af. Die son bak vuurwarm op Wonderboom-lughawe se aanloopbaan. Dit lyk of daar poele water vorm agter die wasigheid wat bokant die teeroppervlak hang en dit smaak hom selfs die teer is besig om te verdamp.
Die nat kolle slaan donker uit op die grys gholfhemp wat hy saam met sy wit-en-swart geruite kniebroek dra. ’n Sweetdruppel kielie uit die vou agter sy regterknie teen sy kuitspier af totdat dit tussen sy enkel en Lacoste-seilskoen verdwyn.
“Dink jy Rex het jou storie geglo?” vra Wingnut hier langs hom.
“Hy het geen rede om my nie te trust nie,” antwoord Niel skouerophalend terwyl hy en Wingnut die Piper Seneca uit die snikhete vliegtuigloods stoot. Die sinkstruktuur doen niks om die hitte van die son te temper nie.
“Jy het seker gemaak my naam verskyn nie op jou vlugplan nie, nè?” maak Niel vir oulaas seker toe hulle in die vliegtuig klim.
“Name is nie nodig nie,” antwoord Wingnut kortweg en skakel die twee motore aan.
Wanneer die vliegtuig ’n rukkie later na die aanloopbaan rol, vra Wingnut bo die enjin se geraas: “Hoe gaan jy by jou afspraak kom?”
“Ek het ’n kar bespreek. Hulle sal hom by die vliegveld gereed hê.”
Wingnut knik en Niel is verbaas oor hoe anders hy lyk noudat die groot oorfone sy bakore wegsteek. Die Ray-Ban Aviator-sonbril laat hom ook meer selfversekerd voorkom.
“En jy sal laat weet wanneer ek jou weer moet optel?” vra Wingnut. “Ek sal ’n dag of twee voor die tyd moet weet sodat ek myself nie double-book