Goudduiwel. Duane Aslett
Читать онлайн книгу.Hy merk skielik ’n bultjie in die water ’n ent voor hom. Uit ondervinding weet hy onder só ’n bultjie skuil ’n rots, onsigbaar weens momentum wat die vloeiende waters bo-oor die rots forseer om ’n slagyster te vorm wat die onoplettende roeier onkant betrap.
Rex trap die pedaal om die Assegai K1-kano links van die bultjie verby te stuur. Hy sien hoe die rots deur die dun watervlies aan die agterkant van die bultjie loer, oor die stiller water van die draaikolk wat daar vorm – asof die rots van agter ’n sluier vir hom gluur voordat dit op ’n volgende prooi wag. Rex blaas asem uit, tevrede met die verbetering in sy vermoë om die rivier te lees.
Hy besef egter die grote lê nog voor: Karavaanpark. Van die oewer af lyk dié stroomversnelling nie besonder uitdagend nie, maar oor die boeg van ’n kano met jou sitvlak onder die waterlyn, is dit ’n monster. En vandag wil hy nie omslaan as hy Karavaanpark skiet nie. Hy oordink die stappe: stuur op die middelpunt van die watertong af; roei so ver moontlik in die stroomversnelling in; lig die spaan hoog wanneer jy deur die brander aan die onderkant skiet sodat die spaan nie vasgevang word en jou omtrek nie. En wanneer jy deur die brander is … roei vir ’n vale!
Hy hoor die bruisende waterval voor hy die Karavaanpark-stroomversnelling kan sien. Dan gewaar hy Alicia en Michiel waar hulle stroomaf op die oewer staan, Alicia se groot wit sonhoed opvallend. Die eerste keer toe hy haar ontmoet het – en hy vasgekyk het in daardie blou oë wat steeds sy asem wegneem – sou hy nooit kon dink hulle sal eendag só saam by die Kliprivier ontspan nie. Sy trap hom nog gereeld speels uit oor hy haar toe vir ’n prostituut aangesien het.
“En ek was in my gewone verpleegstersuniform,” het sy dit op ’n keer aan Niel en sy trawante duidelik gemaak. “Nie daardie twee-groottes-te-klein wit pakkies wat die strippers dra nie.” Rex se verweer is natuurlik dat dit haar broer se skuld was, want Niel Campher wou seker maak daar is geen romantiese verwikkelinge tussen sy suster en die geheime agent wat die Valke in sy sluikhandel-bedrywighede ingeforseer het nie.
“En ek sal nie omgee as jy een van daardie wit uniformpies aanskaf nie,” het Rex teruggespot. Hy is nie seker of Alicia of Niel die hardste geprotesteer het nie.
“Kom, oom Rex!” skree Michiel terwyl hy op en af spring, met Alicia wat steeds sy hand vashou. Sy bly beskermend teenoor die bloedjie, veral omdat haar eksman hom so gereeld in die steek laat.
Hy dwing sy gedagtes terug na die taak op hande, want Karavaanpark vereis ’n roeier se volle aandag. Anderkant die stroomversnelling sien hy die rompe van kano’s wat getiep het en nou al dobberend deur die stroom voortgesleur word. Die roeiers wat voete eerste langs hul kano’s stroomaf dryf en verbete probeer om dit wal toe te stuur. Hulle sal hopelik onthou dat hulle nie durf opstaan nie – ’n natuurlike reaksie, maar noodlottig as jou voet tussen die klippe op die bodem vashaak. Een van die roeiers van die Duzi-kanomarathon het weggekom met ’n been wat op drie plekke gebreek is.
’n Ander een was nie so gelukkig nie: hy het vasgeval en die sterk stroom het hom ondergedompel. Die lewensredders was te laat.
Rex voel hoe die kano versnel. Hy hou aan roei – ritmiese hale. Dan sak die boeg voor hom weg en verdwyn onder die skuimende waters terwyl sy maag in sy borskas opdruk. Dit bruis om hom, in sy ore, weergalm in sy skedel. Die hele kano is nou buite sig, onder die kolkende oppervlak. Hy hou die spaan bo sy kop. Water spat in sy gesig. Verblind hom toe hy opwaarts deur die brander skiet asof die woedende massa hom uitspoeg.
Dan voel hy hoe hy na links kantel. Klap met die rug van die spaan op die water. Roei verbete. Kantel na regs. Klap. Nie genoeg nie. Klap weer. Roei!
Die water word kalmer om hom, maar hy hou nie op roei nie, want hy onthou die slag toe hy opgehou het omdat hy gedink het hy was deur ’n stroomversnelling. Hy was verkeerd en ’n verleë swem na die oewer was sy straf.
Hy trap die regterkantste pedaal in om die kano wal toe te stuur, waar Alicia en Michiel hom luid toejuig. Hy glimlag in hul rigting toe hy tot stilstand kom en draai dan sy kop om terug te kyk na Karavaanpark se stroomversnelling, wat hy pas vir die eerste maal suksesvol geskiet het. Trots.
Dan tiep hy om.
* * *
Rex draai ’n handdoek om sy onderlyf vas. Die nat flotteerbaadjie, waterskoene en helm lê op die gras waar die middagson dit kan droogbak. Hy skud sy kop – die hele Kliprivier af, net om verby die eindstreep om te tiep. Ten minste het hy Alicia en Michiel daarmee vermaak.
Hy laai die kano op die roeiklub se treiler en het pas begin om dit vas te bind, toe sy selfoon lui: Niel Campher.
“Is jy nou spyt jy’t nie saamgekom nie?” antwoord hy met die selfoon tussen sy skouer en oor vasgedruk terwyl hy die bande om die kano styftrek.
“Rex,” fluister Niel. “Ek’s in die moeilikheid! Jy moet help …” Sy stem is angsbevange.
“Wat’s fout?” vra Rex terwyl hy afstap rivier toe, buite hoorafstand van Alicia en Michiel.
“Shit! Hulle is naby!”
En dan word die verbinding verbreek.
Rex probeer terugbel. Die foon lui een keer en skakel dan oor na Niel se stempos. Hy druk dood sonder om ’n boodskap te los, draai om en stap fronsend terug na die sleepwa.
Die selfoon vibreer in sy hand en hy lees Niel se WhatsApp-boodskap: Kani nou praat ni. Kruip weg vi Fred se ouens. Hul hier vi my. Help! Ek by penthouse.
Rex wonder of dit weer een van Campher se bogstories is. Die seun wat wolf geskree het, het uiteindelik sy rieme styfgeloop. Miskien moet hy hom die voordeel van die twyfel gee, maar die laaste keer toe hy Campher vertrou het, is hy met twee koeëlgate in sy bors by Ongevalle opgeneem.
“Ek gaan vir julle ’n ander lift reël,” sê hy saggies vir Alicia. “Daar is iets aan die gang by Niel se penthouse. Ek wil gaan kyk of hy oukei is.”
“Is hy in die moeilikheid? Wat gaan aan?” Daardie blou oë wat haar angs verklap.
“Ek is nie seker nie. Hy het iets gesê van Freddie se ouens wat op sy spoor is. Ek sal meer weet wanneer ek daar aankom. Dalk wil hulle wraak neem. Freddie se bates is verlede week deur die Batebeslaglegging-eenheid opgeveil, so ek glo nie hy is meer ’n fan van Niel nie.”
“Jy moet gou maak, Rex.” Die angs is nou in haar stem ook. “En wees asseblief versigtig.”
“Altyd.” Hy trek haar tot teen hom, soen haar terwyl sy hom styf vasdruk. Dan wink hy Michiel nader.
“Ek weet ons sou nou vir roomys gegaan het, maar ek moet gou na oom Niel toe ry om hom met iets dringends te help. Ek sal jou en Mamma vanaand vat vir pizza. Is dit oukei?” Hy gee Michiel ’n stywe drukkie toe hy die haastige kopknik sien.
Skaars twee minute later pluk hy ’n T-hemp aan terwyl hy na die Audi S5 hardloop, met ’n geleentheid huis toe vir Alicia en Michiel gereël en nadat hy een van die klublede gevra het om sy kano by die klub af te laai en te berg. Sy nat broek het hy sommer so in die staan onder die handdoek met ’n droë een vervang.
Die S5 brul aan die lewe en Rex stuur dit na die roete tussen Meyerton en Sandton.
Hy het egter pas op die R59 geklim toe sy selfoon lui. Weer Campher.
“Is jy oukei?”
“Ja, ek is, hulle is weg. Hulle kon my nie kry nie. Ek het in die kas onder die sink in die opwaskamer weggekruip.”
Rex frons. Dit klink taamlik verregaande.
“Hoe weet jy dit was Freddie se manne?”
“Dit kon net hulle gewees het. Die bliksems! In elk geval, Rex, moenie worry om na my penthouse toe te gaan nie. Ek het reeds gery en ek het met Wingnut gereël om vir ’n ruk te verdwyn … tot die stof gaan lê het. Ek is nou op pad na hom toe. Ek sal later kontak maak, maar sê vir Alicia sy moenie haar bekommer nie.”
Hy beëindig die oproep voor Rex iets kan sê.
Rex wonder waarmee Campher besig is, want sy storie maak