Die troebel tyd. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.Ingrid
Winterbach
Die troebel tyd
Human & Rousseau
Vir Brink en Liesbeth
En vir Tertia Minnie
Een
Magrieta Prinsloo, dogter van die biologieonderwyser, lank, ferm kuite en boude, donker hare, regteroog wat neig om effens na buite te dwaal wanneer sy oorvermoeid is, doktor in die soölogie, hoof van ’n laboratorium met twaalf mense onder haar, kom in vroeg Januarie, ná ’n aanloop van etlike maande, geleidelik tot stilstand. ’n Donkerte, ’n dodelike torpor, neem geleidelik van haar besit. Die Japannese tantra, die Tibettaanse kuns, begin haar interesseer – die illustrasies van die terrible deities fassineer haar, met hulle angswekkende grynslagte, hulle drie oë, hulle veelvuldige arms, hulle linkervoet op die verbryselde skedel van die oorwonnenes, die krone en halsbande van skedels, die tromme van menslike vel, die halfskedels met bloed gevul. Hoe donkerder die beelde, hoe beter, hoe meer kan sy daarmee identifiseer. Op aanbeveling van ’n kollega gaan sien sy ’n psigiater. Hy sit haar op ’n middel wat nie die gewenste uitwerking op haar gemoed het nie. (Psigiatrie is ’n kuns, nie ’n wetenskap nie, verontskuldig hy hom later.)
Van die een dag op die ander word sy uit haar dodelike torpor gelig. Sy kon ewe goed elektrokonvulsiewe terapie ondergaan het, so groot is die verandering. Sy kan snags haar hare sien orent staan – ’n gevolg van die elektriese lading van haar ooraktiewe sinapse. Ongeveer sestien weke lank is sy in ligtelaaie. Sy stort woedende trane – ná sewe droogogige maande. Sy is soos Chinnamasta, wat haar eie nek afkap om die dele van haar verdeelde self te voed. Sy is soos die godin Kali, wat gemeenskap met die lyk van Sjiva het, ’n swaard in een van haar vier hande, in die ander ’n lans, ’n halfskedel in die laaste twee. Haar een voet op die kop van ’n tier. Haar haarlose poes gepenetreer deur die dooie Sjiva se stywe wit piel.
Niemand moet haar aanvat nie. Daar styg ’n energie op vanaf haar kont tot haar kroon. Dit dreig om haar te verswelg. In plaas van apaties bedruk, soos die voorafgaande maande, is sy woedend bedruk. Hekties, virulent bedruk. Sy beledig haar departementshoof (hy is volgens haar ’n stiksienige outokraat en ’n middelmatige wetenskaplike); sy sê die departement waaraan sy verbonde is in die openbaar sleg; sy beskuldig die assistente onder haar in die laboratorium van nalatigheid, dooierigheid en algemene onnoselheid; sy vervreem haar vriende van haar deur haar uitgesproke kritiek op alles wat hulle sê en doen.
Sy gly soos ’n paling uit die omhelsing van Willem, haar man. Ek wil jou graag liefhê, sê sy, maar ek kan nie meer nie. Van my beste voornemens kom daar niks. Ek verlang na die geborgenheid van jou arms, maar sodra jy my omhels, voel ek versmoor, en kan ek nie asem kry nie. Toe sy dit herhaaldelik sê, op verskillende maniere, oor ’n tydperk van ’n hele paar weke, sê hy, as dit is hoe jy voel, dan moet ons daaraan begin dink dat ons paaie voorlopig skei. Nou ja, dink sy, as dit moet, dan moet dit seker.
Die skedel is haar banier, die dood se oppermag haar wapenskild. Sy droom van vuur, van kronkelende slange, van tierende storms, van mense van wie die vel afgetrek is.
Sy stap snags alleen deur die strate, sy stap bedags op haar eie diep in die wingerd, sy dink, laat één, laat net één enkele siel dit wáág om aan haar te raak. Sy sal hulle onthoof en hulle liggaam in stukke kap.
Met elke sesweeklikse besoek aan die psigiater sê hy, kom ons gee die middel nóg ses weke kans om behoorlik in te skop. Maar toe sy oplaas haar werk bedank en heelwat skepe agter haar verbrand het, stort sy in ’n miserabele hoop by hom ineen. So kan ek nie aanhou nie, roep sy uit, ek brand, ek verbrand, ek brand uit! Hy klik simpatiek, maak aantekeninge op sy tablet, en skryf ’n nuwe middel voor.
Hierdie nuwe middel laat haar bedaar en temper haar. Maar steeds ervaar sy nie die gevoelens van genoegdoening en diep innerlike vrede waarop sy in die eerste instansie gehoop het nie. Geen verligting nie, geen samekoms van die manlike en vroulike element in ’n kosmiese eenheid nie. Allermins. Sy is getugtig, in die bek geruk, skepties, en werkloos – en dit ná ’n soliede akademiese loopbaan.
Sy gaan sit twee weke lank in ’n vriendin se vakansiehuis by die see. Toe staan sy op, reageer op ’n advertensie in die koerant, en doen aansoek om ’n betrekking by die Buro vir Voortgesette Onderrig.
*
In die middel van Mei was sy haar hare, wend lipstiffie en maskara aan, dra hoëhakskoene en ’n pencil-skirtjie, maar sy kon net sowel in plakkies met ongewaste hare gegaan het, want tydens die onderhoud kyk Markus Potsdam, die direkteur van die Kaapse tak van die Buro, nouliks op van sy rekenaar. Die Buro bied afstandonderrig vir studente. Hulle moet reeds gegradueer wees om te kwalifiseer vir die kursus. Dit kan as ’n soort oorbruggingskursus gesien word tussen ’n voor- en nagraadse opleiding. Hierdie Kaapse tak van die Buro is pas onlangs gevestig en nog nie heeltemal goed op dreef nie – daar is uiteraard nog vestigingsprobleme wat aangespreek moet word, sê Potsdam. Hy werk aan die haakplekke. Sy moet nuwe medewerkers werf, met bestaande medewerkers skakel. Dit beteken dat sy soms sal moet reis. Soms op kort kennisgewing. In die Oos- en die Wes-Kaap, en soms na die hoofkantoor in Gauteng. Het sy beswaar teen ongereelde ure? Nee. Hy sien sy’s goed gekwalifiseer. Kan sy bondig haar gebied van kundigheid saamvat? Sy’t gewerk op die evolusionêre ontwikkeling van die filum Annelida uit die Ordovisium; op die erdwurm, om presies te wees. Die erdwurm, sê hy, en kyk vlugtig op. Ja, sê sy. Waarom die Ordovisium? Dis die bloeityd van die ongewerweldes. Hy knik kortliks. Formeel geklee in ’n langmouhemp en das. Die hemp span effens oor sy skouers. Kort donker baard, donker hare, donker wenkbroue en oë. (So anders as Willem in voorkoms.) Sy skat hom laat veertigs, ongeveer haar eie leeftyd, dalk ’n bietjie jonger as sy. Hy maak nie maklik oogkontak nie en toe hulle oë ’n keer ontmoet, is sy blik pynlik verleë. Waarom dink sy sy is geskik vir die betrekking? Sy’s goed met mense, sy’t baie kontakte in die akademiese wêreld, sy kan inligting vinnig verwerk, sy’t ’n breë belangstellingsveld (sy’s nie net kundig oor wurms nie; sy’s ingelig oor kuns, sy lees poësie). Waarom het sy haar – hy kyk weer vlugtig na haar CV voor hom – suksesvolle akademiese loopbaan opgesê? Sy was lus vir ’n verandering (verswyg die fiasko van die afgelope vier maande). Hy laat dit gelukkig daar. Hoe goed is haar wiskunde? Goed genoeg, sê sy, maar dit hang af – sou sy byvoorbeeld multi-variabele analise moet kan doen? Hy kyk weer vinnig op, takseer die opmerking, en neem kennis van die ironie. Ja, byvoorbeeld, sê hy. (Sy is dankbaar dat dit lyk of hy ten minste ontvanklik is vir ironie.) Berekenings, vooruitskattings? sê hy. Nie ’n probleem nie, sê sy. Wanneer kan sy begin? vra hy. Die volgende dag, sê sy.
*
Magrieta se kantoor is kleiner as Potsdam s’n. Hulle albei het vensters wat uitkyk op Stellenboschberg op ’n afstand. Die sekretaresse, mevrou Beetge, se kantoor is langs Potsdam s’n. Al drie kantore is bereikbaar deur ’n klein ontvangsarea. Mevrou Beetge het twee rooi kolle op haar wange. Haar hare is ’n universele donker rooibruin skakering gekleur en strooiagtig van tekstuur. Haar wenkbroue word beklemtoon deur twee effens onreëlmatig ingetekende strepies. Sy het ’n permanent verbaasde uitdrukking; Magrieta is nie seker of die vrou haar van die een dag tot die volgende herken nie. Maar sy laat waai agter die rekenaar en haar liasseersisteem is onberispelik.
Wanneer Magrieta soggens opdaag, is Potsdam reeds in sy kantoor. Haar eerste opdrag is om te skakel met agent Dommisse, ’n medewerker wat verantwoordelik is vir hulle ekonomie-komponent. Agent? Het sy reg gehoor? Potsdam sê dit sonder om te blik of te bloos. Bestuur hy hierdie buro soos ’n spioenasie-eenheid? Vir al wat sy weet, is sy nou ’n geheime agent. (’n Welkome afwisseling ná haar akademiese loopbaan.)
Magrieta en Willem raak geleidelik weer versoen. Hy is bereid om haar terug te neem ná haar manies-destruktiewe periode, toe sy vir hom gesê het dat sy haar van hom afsluit in sy omhelsing en dat sy in haarself nie meer die vermoë vind om hom lief te hê nie. Hy is diep gekwets deur haar abrupte verwerping van hom die voorafgaande weke. Hy is geskok, sê hy, dat sy bereid was om ’n vertrouensverhouding van vyftien jaar net so oorboord te gooi. Hy weet nie of hy haar ooit weer heeltemal sal kan vertrou nie. Dit oortuig hom nie heeltemal dat sy as verweer die verkeerde antidepressant die skuld gee nie.
Willem