Die troebel tyd. Ingrid Winterbach

Читать онлайн книгу.

Die troebel tyd - Ingrid Winterbach


Скачать книгу
word ’n ondergrondse lewe gelei onder die radar van die algemeen beskaafde middelklaslewe. Net hulle spore laat hulle – die enkele skoen, die kledingstuk halfpad met grond bedek. Iets nylonrigs ’n keer, in blou en pers met pienk skuinsstrepe. Sy skop daarteen met haar skoen, probeer dit met die punte van voorvinger en duim optel, gril daarvoor, ’n vrouebloes van sintetiese stof, halfpad bedek deur hardgekoekte modder.

      Wat is die taal, die geheime argot wat hierdie mense besig? Sy dink sy hoor soms die naklank daarvan op die wieke van die wind – die geheime argot van die poes. Poes gán. Poes kóm. Poes vóétsek.

      In die lug, ’n enorme poes, soos die oog van God.

      Vier

      Karakters wat in motors klim en iewers heen ry na plekke waar dinge met hulle gebeur – aangename sowel as onaangename dinge. Soos dat hulle deur ’n bekruiper agtervolg, of op straat aangeval of beroof word, of val en ’n besering opdoen. Of ’n oproep ontvang wat hulle lewens verander. Of agter die stuur van hulle motor begin hallusineer en nie verder kan ry nie. Of dat hulle die objek van hulle begeerte (liefdesbegeerte) hoopvol, maar ook met ’n verlammende gevoel van voorbode tegemoetgaan en dat hierdie persoon hulle attensies dan finaal afwys. (“Ek is jammer, jy is ’n goeie vriend/vriendin, maar meer as vriende kan ons nie wees nie.”) Of dat ’n karakter, aan die einde van haar kragte, op die ingewing van die oomblik of selfs met voorbedagte rade, teen haar rasionele wete in, ’n daad pleeg wat die liefdesobjek selfs verder van haar vervreem, en wat haar emosioneel gestrand of selfs onherroeplik ontheem laat. Of ’n karakter kan langs die see wandel, met ’n sinkende skip op die horison waarvan hy nie eens bewus is nie. So ’n karakter kan langs die see stap en op ’n uitgespoelde rob- of selfs walviskarkas afkom. Hy staar dan in ongeloof na die enorme dier en – gekonfronteer met die dooie leviatan uit die diepsee – begryp iets omtrent homself as aardgebonde, tweebenige soogdier, asook sy plek in die orde van dinge. Die dier herinner hom noodwendig aan die Bybelse leviatan – Jona wat deur die vis ingesluk en ná drie dae weer uitgespoeg is. Jona wat drie dae lank in die buik van die grootste soogdier op aarde vertoef het – geen halwe maatreëls vir God nie: As jy nie wil hóór nie, moet jy vóél. Daar was ’n opdrag om uit te voer, en uitvoer sal jy hom.

      ’n Karakter kan reis na ’n bestemming met die doel om daar ’n einde aan sy lewe te maak. Hy kan die motor op ’n verlate duin parkeer, uitklim, met die duin af strompel, oor die smal stukkie strand stap, en die see inwaad. Miskien kan sy oog vir laas op ’n mooi skulp val, wat hom momenteel in sy spore laat vassteek, sy voorneme tydelik in toom gehou. Maar reeds half benewel van pille wat hy gedrink het, of alkohol, om sy skrikwekkende voorneme te versag, kan hy die skulp agterlaat en voortstrompel. Of hy kan skrikwekkend sober die see instap, net deur sy wil voortgedryf. Of hy kan ry na ’n cottage by die see, goedgunstiglik vir sy gebruik deur ’n vriend beskikbaar gestel, en homself dáár om die lewe bring – deur homself te skiet, op te hang, of ’n oordosis pille te drink. Die cottage net afgeleë genoeg dat hy pas ná etlike dae gevind word, en soms heel toevallig, en dan vanweë die warm weer bykans onherkenbaar is vir identifikasie.

      Of ’n karakter kan besluit dat die enigste manier waarop sy beheer oor haar lewe kan kry, sal wees om ’n tyd lank in afsondering in ’n vriend of vriendin se cottage by die see te gaan bly. Tydperke van afsondering word dikwels aanbeveel vir mense onder emosionele druk – weg van die verlokkinge van Facebook, koerante, Twitter en dies meer, asook die veelvuldige en stresvolle aansprake van geliefdes, kinders, eggenotes, bedelaars en vriende. Maar nie almal kan goed emosioneel oorleef in omstandighede van uiterste isolasie nie. Hetsy in ’n houthuisie in ’n bos, ’n bergchalet, of ’n cottage by die see, kan so ’n iemand by haar aankoms, of reeds binne die eerste uur of twee, besef dit was ’n fout. Sy het die idee van alleen iewers sit om tot verhaal te kom gruwelik geromantiseer. Met paniek kan sy besef dat sy dit nie sal kan volhou nie. Die isolasie gooi haar terug op haarself met die krag van ’n voorwerp wat teen ’n muur geslinger word – ’n objek, soos ’n glas, of ’n bord, of selfs ’n troeteldier. Hy raak oorval van ’n mistroostigheid, van ’n ervaring van die afgrond in homself, ’n plek so troosteloos desolaat dat niks helends daaruit kan voortkom nie. Hierdie sensasie van verlatenheid kan so bedreigend wees dat die persoon in ’n toestand van paniek ingaan, verlam raak, en onttrek in slaap. Of besluit om alles net so te laat en die see in te stap, of homself in die stort aan die reling op te hang.

      Vyf

      Magrieta vind Markus Potsdam interessant. Hy is gereserveerd. Streng selfs, en ’n bietjie bot soms, maar met ’n effense onbeholpenheid wat sy strengheid temper. Miskien is hy selfs skaam. Hy maak nie graag geselsies nie. Soveel verrassender dus sy laid-back, ironiese sms-boodskappe, en sy soms onverwagse, subversiewe tersydes. Omdat sy niks van hom weet nie, pols sy mevrou Beetge versigtig. Maar die vrou is nie uit te lok nie. Dit was nog altyd haar beleid, sê sy, om haar nie met die persoonlike lewens van haar werkgewers te bemoei nie. En sy en meneer Potsdam werk in elk geval nog nie so lank saam nie. Kan sy ten minste sê of hy getroud is? vra Magrieta. Nee, sê mevrou Beetge, nie sover sy weet nie.

      Hoewel die dae in Julie ná die wintersonkeerpunt reeds elke dag ’n bietjie langer word, voel dit nog nie so nie. Dit word nog steeds vroeg donker, en Magrieta en Willem stap dikwels met die hond in die ryk skemer; die wingerdstokke, pas gesnoei, is kaal, die berge soms in slierte mis gehul. Wanneer hulle in laat Julie ná sonsonder op ’n bewolkte dag stap, is die berge donker, vastig, die oorheersende kleure is donker bloue en groene, geen sweem van geel en rooi tinte meer nie, hoewel die kaal wingerde ’n gryspers skynsel het.

      In Augustus kry sy opdrag van Markus Potsdam om met professor Deneys Swiegers te skakel. Hy is verbonde aan die departement ingenieurswese, ’n kenner op die gebied van kunsmatige intelligensie en neurale netwerke. Hy is besig met die bou van ’n eend – ’n sagte robot, verduidelik hy, met die beheerstelsel gebaseer op die beginsels van neurale netwerke, wat ooreenkomste toon met die manier waarop die brein funksioneer. Magrieta hou daarvan om daaraan as ’n meganiese eend te dink (wat dit natuurlik nie is nie). Waarom nie eerder ’n sagte robot-vrou bou nie, wonder sy, dit sal tog veel interessanter wees as ’n eend. Deneys Swiegers het ’n oop gesig, ’n hoë voorkop en helder oë.

      In Augustus moet sy voorts, ook in opdrag van Potsdam, met twee van hulle belangrikste donateurs eet. Sorg dat jy sexy lyk, sê hy, die mense maak groot skenkings. (Teen dié tyd is sy gewoond aan sy deadpan-uitsprake.)

      “Blow jobs vir albei ná afloop?” vra sy.

      “Jy hoef nie so ver te gaan nie,” sê hy.

      Die een donateur het ’n groot kop en dik nek, maar sy gelaatstrekke sit heeltemal te na aan mekaar in sy groot, vlesige gesig. Iets reptielagtigs. Die ander een is een van daardie Afrikanermans wat Magrieta assosieer met die ooms uit haar kindertyd: bruusk, patriargaal, besnor, met ’n maag, ’n bruingebrande nek, dik, harige vingers – die ooms wat sy assosieer met haar ontluikende erotiese gewaarwordinge – verwarring, weersin, fassinasie, seksuele prikkeling. Sy onthou een so ’n geval. Op die plaas van ’n tannie van haar. Die tantes, volwasse vroue, het onderlangs onder mekaar gesê: Grillerig, ’n pervert. Sy’t nie begryp op watter manier nie, miskien is dit nie eens uitgespel nie, maar iets afwykends is gesuggereer; haar belangstelling is daardeur geprikkel. Snags het sy gefantaseer. Die volmaan het die werf verlig. Daar was ’n intensiteit van ongeartikuleerde seksuele verlange (wat miskien nooit weer in haar volwasse lewe geëwenaar is nie). Die een donateur se massiewe fortuin is gebou op selfoontorings wat in die res van Afrika opgerig word, en die ander s’n op die uitvoer van blikkieskos en sigarette na Afrikalande (’n Lucky Strike-empire). Hulle praat besigheid. Wanneer hulle op haar fokus, is hulle oordrewe galant. (Die hand soms op haar been.) Hulle skink vir haar te veel wyn, bestel nog geregte terwyl sy al lank reeds versadig is, maak onsubtiele seksuele innuendo’s, raak dan weer opgeneem in hulle eie besigheidsgesprek. Sy is sjarmant en koketterig (nou’s ek ’n glorified PR en ’n hoer, dink sy, hoekom eet Potsdam nie sélf met die belangrike donateurs nie?).

      Toe sy na die toilet ontsnap, staan daar in swart koki-pen teen die agterkant van die deur geskryf: SLAAN AG OP DIE LEVIATAN. Met ’n vreemde, klein skematiese voorstelling onderaan – ’n soort piktogram – wat sy nie kan ontsyfer nie; iets tussen


Скачать книгу