Sewe-en-veertig. Irma Venter
Читать онлайн книгу.6 Julie, 10:26
Dit pla my nie dat die meisiekind my vanoggend kom wakker klop het nie. Sarah is soos familie. Ons is al deur ’n paar moeilike dinge saam. Meer nog, sy het mý gehelp toe ek laas gevra het. En sy’s reg, ek is nie tans besig met ’n ondersoek nie.
Wat my wel pla, is waar sy nou weer infoeter. Moord? Klink soos moeilikheid.
By The Library se hysbak druk sy die knoppie vir die sestiende vloer. Haar Converse-tekkies raas op die teëls toe sy na my draai. Sy vee die rooi hare – mooi so lank, maar ek weet om niks te sê nie – agter haar ore in. Stamp haar voete, duidelik nie beïndruk met die wind en weer nie.
Sy beduie na die trappe langs die hysbak. “Sien jou bo,” sê sy met daai diep, hees stem van haar wat soveel groter as haar lyf is.
Nie gedink sy gaan die hysbak vat nie. Ek is verbaas dat sy vanoggend gevlieg het, en dit in hierdie weer. Sy moet diep in die skuld wees by hierdie Mosela-vrou.
“Dis sestien vloere,” waarsku ek.
Sy haal bloot haar skouers op onder die swart leerbaadjie en druk haar ken dieper in die geruite serp toe die wind deur die parkeergarage swiep. Haar kort figuur verdwyn teen die trappe op, rugsak oor die skouer.
Op die sestiende vloer wag ek vir haar waar die hysbak my aflewer, in ’n witgeverfde portaal met ’n glaskoffietafel, swart banke, ’n swart mat en swart blindings.
As Sarah op die bank gaan sit, gaan sy verdwyn.
The Library. Data Scientists. Die naam staan in outydse tikmasjienskrif op die wit muur langs ’n deur met ’n swart ysterhek en ’n syferpaneel wat vir ’n toegangskode wag. ’n Kamera loer vir my vanuit die een hoek.
Iewers hoor ek ’n dowwe dreuning. Kragtige lugversorging, as ek moet raai. Hoekom weet ek nie, dis seker ses grade Celsius daar buite.
Tensy dit nodig is om die gebou se temperatuur konstant te hou.
Ek steek my hande in my baadjiesakke, kyk na die kamera regs teen die dak. Roer ongemaklik in my skoene. Wat is hierdie plek? Daar is geen horlosie teen die muur, geen koerante of tydskrifte op die koffietafel en geen ontvangsdame nie. Dis amper asof jy net hier mag inkom as jy ’n afspraak het.
Sarah kom uitasem in die gang afgestoom, duidelik nie gewoond aan die hoeveelheid trappe nie.
“Wakker?”
Haar oë sê sy maak my dood. Lieflike persoonlikheid so vroeg in die oggend.
Sy loop verby my en gaan staan voor die syferpaneel. Sê niks, doen niks.
Ek beduie met ’n hand steeds in my baadjiesak. “Ek staan al ’n rukkie hier, maar niks gebeur nie.”
“Wees net geduldig.”
Ons wag nog ’n paar minute.
Sarah se foon lui. Sy antwoord.
“Ja … ja. Okay.”
Sy lui af.
“Jy moet reguit na die kamera kyk.” Sy beduie na die hoek waar die swart oog blink.
Ek maak so.
Die sekondes tik verby.
“Ek weet ek’s nie Sean Connery nie, maar ek’s darem mooi genoeg om saam met jou in te gaan,” sê ek.
Sy draai om. “Onthou wat ek in die kar gesê het?”
“Moet aan niks raak nie? Moenie eet nie?”
“Moet ook nie simpel grappies maak nie.”
Die veiligheidshek biep en die deur agter die hek skuif oop.
“Kom,” beduie Sarah.
Ons loop ’n wit vertrek binne. Die deur skuif toe. Ek klop daaraan, hand steeds in my baadjiesak. Staal. Vreemde plek dié.
Ons is in ’n lang, smal, vensterlose vertrek met wit rusbanke en stoele teen twee van drie wasige glasmure. ’n Staalrak met klerehangers staan langs ’n glasdeur aan die verste kant van die vertrek. Die vloer is ’n grys industriële sementoppervlak.
’n Termostaat teen die muur sê dis 16 grade Celsius hier binne.
Sarah gaan sit op ’n stoel en begin haar tekkies se veters losmaak. Sy beduie na die stoel langs haar. “Trek jou skoene uit.”
“Ek dog ek mag aan niks raak nie.”
“Baie snaaks.”
Ek gaan sit, skop my skoene een vir een uit. Onthou te laat my linkersokkie het ’n gat by die kleintoon danksy ’n verveelde Labrador. Ek maak soos Sarah en hou my sokkies aan. Sy haal twee stelle dun, wit aanglippantoffels in geseëlde, deursigtige plastieksakke onder die bank uit en ons trek dit oor ons voete. Ek bêre my skoene teen die muur en hang my baadjie oor ’n hanger.
Die glasdeur skuif oop net toe ons klaar is, asof iemand ons nog die hele tyd dophou. Ons loop af in ’n lang gang, deur nog twee skuifdeure.
Anderkant die tweede deur, en net voor ’n derde deur, gaan staan ons een ná die ander op ’n stel voetmerke op die vloer. ’n Sterk wind blaas op ons neer.
Die lug is koeler en skoner in die volgende vertrek, asof ons ’n stofvrye omgewing binnegaan.
Die gang loop dood in ’n raadskamer met sagte blou lig en wit mure. Geen vensters nie. Behalwe vir die lang wit tafel en stoele is daar niks in die vertrek nie. Nie ’n enkele skildery, kussing of projektor in sig nie. Ek vee vinnig, ongesiens, met my vinger oor die tafel. Nie eers ’n stoffie nie. Ook geen boek in sig nie.
Die Library se gat.
Sarah trek ’n stoel uit en gaan sit.
Ek gaan sit langs haar, luister na die gedreun van die lugversorging. ’n Ander geluid het bygekom soos ons in die hart van die gebou in beweeg het – die klank van meer gesofistikeerde masjinerie. ’n Wit gesuis.
Die glasdeur aan die oorkant van die kamer skuif oop.
’n Langbeenvrou stap in asof sy op ’n New Yorkse loopplank paradeer, haar vel ’n pragtige, diep swart. Sy is meer as mooi. Prominente wangbene, kaalgeskeerde kop, ’n slanke, elegante nek met ’n breë swart halssnoer wat styf teen haar vel sit. Sagte wit langbroek, swart sybloes, laag oopgeknoop. Geen bra. Swart sokkies aan haar voete.
Dis moeilik om haar ouderdom te skat. Dertig? Veertig? Dit maak in elk geval nie saak nie, sy sal op sestig nog beeldskoon wees.
Sy gaan sit.
Daar is niks in haar hande nie, geen emosie op haar gesig nie. Nie eers nuuskierigheid oor my nie. Trouens, sy kyk nie eers na my nie.
“Vanoggend was die derde keer dat die patroon opgeduik het.”
Haar Afrikaans is perfek.
“En drie keer is ’n patroon?” vra Sarah, blykbaar min gepla deur die gebrek aan ’n groet of ’n dankie dat ons vroegdag Kaap toe gevlieg het.
“Ek wil nie vir ’n vierde keer wag om uit te vind nie. Wat as die patroon reg is?”
“Watse patroon?” vra ek.
Die vrou se oë swenk na my, terug na Sarah.
“Ek vertrou hom,” sê Sarah.
Sy kyk kwaai na my oor ek my mond oopgemaak het.
“Hy’s ’n afgetrede speurder. Kolonel.” Die vrou se stem is toonloos en afgemete, so steriel soos hierdie plek. “Jakobus Johannes Reyneke. Een-en-sestig jaar oud. Ma Johanna Frederika, pa Jakobus Johannes. Sy susterskind is in die Karoo vermoor. Sy was die rede hoekom julle die eerste keer saamgewerk het.”
“Wag ’n bietjie,” stry ek. “Ek weet wie ek is. Wie de hel is jy?”
Steeds kyk die vrou nie na my nie.
Sarah beduie ek moet stilbly. “Ek weet dit alles. Het jy op iets afgekom wat jou laat worry?”