Sewe-en-veertig. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Sewe-en-veertig - Irma Venter


Скачать книгу
“Okay. Dis seker moontlik.”

      Ek kan sien Mosi wil iets sê, maar pers dan net haar lippe saam.

      Jaap beduie na die rekenaar voor haar. “Vertel my van die rooftogte.”

      Mosi blaai deur twee skerms. “Die een was op Leeukop – twee mense – en een op Bloubergstrand.”

      “Wanneer?”

      “Verskillende tye, maar binne 24 uur ná die massering by The 33 Hotel.”

      “Wat sê die polisie?”

      “Rooftogte wat skeefgeloop het. Hulle innige simpatie, maar Kaapstad is veilig, hierdie is ’n uitsondering.”

      “Ek sou dit seker ook sê. Help nie almal raak paniekerig nie.” Jaap vryf oor sy ken. “Gaan die aanvalle met uitermatige woede gepaard? Verminking? Posering van die lyke?”

      “Nie wat ek uit die data kon aflei nie.”

      “Dis als baie vreemd,” gee hy onwillig toe. “As die data reg is.”

      Hierdie keer kan Mosi dit nie binne hou nie. “Natuurlik is dit reg.” Sy kyk hom aan asof sy wens hy slaan aan die brand.

      Ek is bekommerd oor ander goed. Sekerlik moet Jaap meer te sê hê oor Mosi se patroon as dat dit vreemd is.

      Hy sit terug, arms gevou. Dink lank.

      “Julle jag groot visse, besef julle dit?” sê hy oplaas.

      “Wat bedoel jy?” vra ek.

      “As hierdie patroon waar is, en ek sê ás, sê dit dat daar vanoggend ’n sluip- of huurmoordenaar in die Kaap geland het. Iemand wat van duur hotelle en Russiese masserings hou.”

      SARAH

      2.

      Maandag 6 Julie, 11:37

      “’n Sluipmoordenaar?” vra ek Jaap. “Nie reeksmoordenaar nie?”

      “Ek dink nie so nie. Hoekom sou ’n reeksmoordenaar die moorde soos rooftogte laat lyk? Dit pas nie. Die impuls om te show en tell is afwesig. Die woede en die emosie. Reeksmoordenaars kommunikeer dikwels onwillekeurig met hulle eie gemeenskappe, hulle eie omgewing, en dit lyk nie asof dit hier teenwoordig is nie.” Hy skud sy kop. “Nee, indien hierdie ou bestaan, lyk dit asof hy nie wil aandag trek nie.”

      Sy oë trek op skrefies soos hy dink. “En hoekom Suid-Afrika toe vlieg om moord te pleeg as dit jou plesier gee? Daar is baie ander lande waar die polisie dalk minder waaksaam en minder gesofistikeerd is. Die Kongo. Zimbabwe. Venezuela.”

      Hy kyk na Mosi. “Is jy seker daar was niks vreemds aan die manier hoe die slagoffers dood is nie?”

      “Nee,” sê sy. “Die polisie sê die aanvalle was vinnig en effektief. En sover ek kan sien, glo die naasbestaandes dat dit rooftogte was. Daar is geen uitermatige skok of ’n hoe-ha in die koerante oor die manier waarop hulle dood is nie.”

      “So dit gaan nie noodwendig oor iets wat die slagoffers geweet het nie,” redeneer Jaap. “Dis nie dat iemand inligting uit hulle wou martel nie. Weet jy wat op die misdaadtonele vermis word?”

      Mosi kyk op die skerm voor haar. “Die gewone. Beursies, selfone, iPads. ’n Kamera. Juwele.”

      “Nes mens sou verwag. Maar ons sal seker ook nie weet as iets uitsonderliks weg is nie.” Hy dink ’n oomblik. “Is ’n mes die enigste wapen wat gebruik is?”

      “Ja.”

      “En dit maak ook seker sin. ’n Mes is veilig en maklik om plaaslik in die hande te kry, veral as jy moes vlieg. En dit pas in by baie van die misdaad hier in die Kaap.” Hy staan op, loop asof hy sy knie probeer strek. “Dis ’n moeilike ene hierdie. As jy my vra, dink ek julle moet met die polisie gaan praat.”

      “Vergeet dit,” sê Mosi dadelik.

      “Kan nie,” eggo ek.

      Hy gaan staan. “Hoekom nie? Ek verstaan die Library se boeke is nie skoon nie, maar kontak hulle anoniem.”

      “Daar’s niks fout met die Library se boeke –” stry Mosi.

      “Wag nou, al twee van julle.” Ek draai na Jaap. “Dink jy die polisie sal ons glo? Jý glo ons dan nie eers nie. Mosi het geen bewyse nie, net ’n datapatroon met 59% probability.” Ek kyk op my horlosie. “En dit gaan ’n leeftyd vat om die polisie aan die gang te kry. Wat as daar binnekort nog iemand vermoor word?”

      “Wat’s die alternatief?” vra hy geïrriteerd.

      Mosi vee met haar handpalms oor haar wange, lang, elegante rooinaelvingers wat op haar lippe eindig, soos altyd as sy kwaad is en dit probeer onderdruk. Sy blaas haar asem stadig uit.

      “Dis amper twaalfuur,” sê sy. “Die massering gaan netnou begin. Ek weet watter kamer dit aangevra het. Kamer 3002, Jordan Moore. Ek kan deur die 33 en die InterContinental se CCTV soek om te probeer uitwerk hoe Moore lyk.”

      Jaap staar haar aan. “En wat dan? Wil julle na hierdie ou gaan soek?”

      “Jy kan,” sê Mosi. “Jy is die polisieman. Gaan kyk wat hy doen, en sê of jy dink my datapatroon is reg. Is dit nie hoekom Sarah jou saamgebring het nie?”

      “Ek’s ’n áfgetrede speurder.”

      “Maak nie saak nie. Sarah sê jy weet wat jy doen. Al wat tel, is dat iemand binne die volgende dag vermoor kan word. Ons tyd is min.”

      “Indien jy ooit reg is.”

      “Ek sê nie ek is reg nie. Al wat ek sê, is dat daar ’n 59%-kans is. Kan jy dit nie verstaan nie?”

      “Stop dit!” roep ek, moeg vir die heen en weer gepik. “Julle maak my mal.”

      Ek beduie na Jaap. “Ons kan ’n kamer in die hotel probeer kry, op dieselfde vloer as hierdie Jordan Moore. Ons kan sien of hy regtig bestaan, hoe hy lyk, wat hy doen. Hy betaal moontlik met ’n kredietkaart, en heel waarskynlik gebruik hy ’n foon. Hy moet seker op een of ander stadium kontak maak met die persoon wat hom gehuur het. Ons kan dit als probeer trace. Dalk kan ons die polisie ’n rede gee om in hom belang te stel.”

      “Dis nie so mak-” Hy sug moedeloos. “Dis nie net vir kyk nie. Indien hierdie sluipmoordenaar bestaan, sal hy doelgerig wees. Hy moet invlieg, iemand vinnig en effektief doodmaak, en padgee. Hy is waarskynlik militêr opgelei, baie wakker en uiters gevaarlik. Ons gaan baie gelukkig wees as hy ons nie sien kom nie.”

      “Dis moontlik,” gee ek toe. “Maar maak dit regtig saak? Die basics is nog steeds waar. Die tyd is min en die cops gaan vir ons lag. En ons praat hier van iemand se lewe.” Ek dwing my stem sagter, redeliker. “Ons sal versigtig wees, Jaap. Ons fokus op die datapatroon en gee al die inligting vir die polisie sodra ons kan. Niks meer nie. En ons bly onsigbaar. Ek’s nie lus vir nonsens nie, ek belowe jou.”

      Ek speel my troefkaart, hoop wragtig ek’s reg. “En anyway, dalk pan hierdie ding nie eers uit nie. Dalk is dit blote toeval. Ek is seker Mosi sal bly wees as haar 59% verkeerd is.”

      Hy kyk van my na Mosi met ’n halwe, wrang glimlag. Bly lank stil. “Nou goed dan. Bespreek ’n kamer by hierdie 33.” Sy regterwysvinger skiet op, waarsku my. “Maar ek moet ’n vuurwapen kry. ’n Wettige een. Ek gaan nie blindelings in hierdie gemors infoeter nie.”

      JAAP

      1.

      Maandag 6 Julie, 13:07

      The 33 het drie-en-dertig kamers. Dis waar die naam vandaan kom. Die glansbrosjure in my hand sê die hotel is “waarlik uniek in dekor en styl”. Lyk vir my meer soos sinonieme vir volksvreemd, of weird, soos Sarah sou sê.

      Die hoofkleure in retro-avant-garde styl – wat dit ook al mag beteken – is silwer, goud en blou.


Скачать книгу