Sewe-en-veertig. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Sewe-en-veertig - Irma Venter


Скачать книгу
maak Mosela seker gelukkig dat ek so kwaad is. Ek leun met ’n oop palm teen die naaste glasmuur, los ’n vetterige merk. Vra: “Is dit regtig die moeite werd om hierdie vrou te help?”

      “Dit is. Sy weet wat sy doen. Ons sou nie hier gewees het as dit nie belangrik was nie. As iemand nie in die moeilikheid was nie.”

      Ek weeg die erns op haar gesig. “Okay. Kom ons gaan hoor wat sy te sê het.” Ek swaai my vinger waarskuwend. “Maar as sy enigiets oor my op julle heilige web sit, gaan ek op haar rekenaars spoeg. En dis ’n belofte.”

      SARAH

      1.

      Maandag 6 Julie, 11:09

      Ons volg Mosi by die raadskamer uit, af in nog ’n gang met wasige glasmure, na waar die suising van masjiene harder opklink. Sy loop vinnig, asof sy Jaap so min as moontlik tyd wil gee om rond te kyk.

      Wat spook so by haar dat sy ons hier toelaat, in haar tempel se allerheiligste? Sy gaan besoek altyd eerder haar kliënte by hulle kantore. Sy kon ons seker by die hotel ontmoet het as sy wou.

      Mosi sit haar hand op ’n scanner by die soveelste glasdeur. Dit skuif geluidloos oop. Voor ons staan vyf rekenaars op ’n lang wit werkstafel. Bo dit is ’n muur met besige skerms, elkeen genommer in die linkerkantse hoek. Veertig, as ek vinnig tel, meer as toe ek laas hier was. Die skerms wys wat in die stadskern en ander buurte gebeur. Ek dink ek herken Somerset-Wes van toe ek twee jaar gelede daar was.

      Kaapstad se strande is leeg, maar die restaurante is vol mense wat skuiling soek teen die weer. ’n Handvol van die skerms wys video feed van bewegende kameras.

      Ek wys daarna. “Oes jy daai data met drones?”

      “Ja,” sê Mosi. “Maar net waar daar oop wi-fi-netwerke is, en nie hier nie. Op Stellenbosch en Wellington. Die wind is nog stillerig daar vandag.”

      Sy gaan sit voor die middelste rekenaarskerm – die grootste in die ry – en beduie na die kantoorstoele weerskante van haar. “Sit.”

      Sy druk ’n sleutel en die res van die skerms op die muur word swart. Links en regs van ons, sigbaar deur glas die kleur van rook, flikker en brom verskeie servers wat die inligting verwerk wat die kameras insamel.

      “Die patroon begin altyd in die oggend,” sê Mosi. “Vlug WB 102 land van Kigali op OR Tambo-lughawe. RwandAir. Tien oor twee in die oggend. Ek weet dis daardie spesifieke vlug, want die volgende een land eers vieruur, van Brussels af.”

      Ek kyk na Jaap. Hy sê niks, sit net, bene by die enkels gekruis, hande in die sakke.

      “Die tweede deel van die patroon is ’n kamerdiensbestelling,” gaan Mosi voort. Dit gebeur omtrent vyftien minute ná aankoms by die hotel. ’n Viereier-omelet met tamatie-en-komkommerslaai, hummus en ’n dubbel-espresso, gevolg deur ’n Russiese venik-massering. ’n Professionele terapeut word vir die massering na die sauna van die InterContinental Southern Sun-hotel, net oorkant die lughawe, ontbied. Dit gebeur so teen vieruur die oggend, teen ekstra betaling – vier maal die gewone prys, om presies te wees.”

      Ek sien die vraagtekens in Jaap se oë.

      “Venik-massering?” vra hy.

      “Basies word die liggaam met ’n bos eike- of berketakke geslaan of gevryf in ’n sauna, gevolg deur ’n koue bad. Blykbaar verbeter dit sirkulasie en metabolisme. Die praktyk is van Russiese oorsprong, sover ek kan sien.”

      Mosi kyk na hom asof sy vra of daar nog iets is. Hy skud sy kop.

      “Die derde deel is hier, in Kaapstad,” praat sy verder. “’n Wit BMW 1-reeks word net ná tien by die lughawe gehuur. Dan nog ’n venik-massering by The 33 Hotel, vooraf bespreek, om kwart oor twaalf. En dis die patroon.”

      Ek sit vorentoe. Probeer om die ongeloof uit my stem te hou. “Dit kan nie al wees nie. Op die foon het jy van moord gepraat.”

      “Ja,” sê sy. “En dis die moeilike deel. Binne 24 uur ná hierdie datapatroon word iemand in Kaapstad vermoor. Gewoonlik in ’n rooftog. Die wapen is ’n mes en die slagoffers almal toeriste.”

      Stilte.

      Ek kan Jaap hóór dink. “Toeval” is die woord wat in my kop skree vir aandag.

      “Hoeveel keer het hierdie patroon al voorheen opgeduik?” vra hy.

      “Twee keer,” sê Mosi.

      “En jy het Sarah gebel, want …?”

      “Iemand het gister ’n venik-massering by die Continental-hotel in Johannesburg bespreek vir vieruur vanoggend en ’n tweede een vir kwart oor twaalf hier by The 33. Tot dusver het die patroon op al die ander punte ook gepieng. Die vlug, die huurmotor, die ontbyt, die hotel. Dis nou die derde keer wat dit gebeur.”

      Jaap haal sy hande uit sy sakke en vou hulle inmekaar. “Dit kan blote toeval wees. Daar is baie moorde in die Kaap.”

      Mosi kyk na my asof sy hoop ek gaan haar verdedig.

      Ek maak asof ek nie sien nie. Ek gaan nie aanhou skeidsregter speel tussen hulle twee nie.

      “Dis moontlik,” gee sy dan toe. “Maar die ontbytbestelling en die massering is redelik vreemd. En ons praat hier van mesaanvalle op toeriste, nie kapings of bendegeweld nie.”

      “Okay, miskien het jy ’n punt beet,” gee hy toe. “Maar dis ’n groot miskien. Kon jy enige verband tussen die slagoffers kry?”

      “Ek weet nog nie. Ek het eers vanoggend van die datapatroon bewus geraak. Die stelsel gooi teen eenuur in die oggend teenstrydighede en interessanthede uit van die data wat die vorige dag ingesamel is. Ek kyk vroegoggend na alles en besluit wat om daarmee te doen.”

      Jaap skuif vorentoe, rus sy hande op sy knieë. Ek kan sien hy stel belang. Hy wil nie, maar hy kan dit nie verhelp nie.

      “Wat van die man wat die masserings bespreek?” vra hy. “Weet jy iets van hom? Is hy ’n Rus, as hy dan nou van hierdie tipe massering hou?”

      Mosi skud haar kop. “Dit weet ek ook nie.”

      “Wat sê die vlug se passasierslys, die een van RwandAir? Is daar ’n Rus op?”

      “Geen idee nie. Dalk kan Sarah kyk.”

      “En die vorige vlugte? Is daar ’n naam wat uitstaan? Wat ooreenstem op elke vlug?”

      “Daardie data het ek al,” sê Mosi. “Geen Russe sover ek kan sien nie, en geen name wat ooreenstem nie.”

      “So hy gebruik dalk vals paspoorte.”

      Sy knik in ’n kortaf, stomp gebaar. “Ek dink so, want ek kry ook geen korrelasies tussen die vluglyste en die hotelbesprekings nie. En die name vir laasgenoemde is redelik niksseggend: Riley Thomson en Hudson Smith.”

      “Kredietkaarte wat ooreenstem?”

      “Weet nie. Hopelik kan Sarah daar ook help.”

      “Wat van die gehuurde motors? Enige name wat ooreenstem?”

      “Nee. Ek’s nie dom nie, ek het deur al die opsies gewerk,” hap sy na hom.

      Jaap ignoreer haar irritasie. “Ek verstaan nie. Hoekom versigtig genoeg wees om elke keer ’n ander identiteit te gebruik, maar dan dieselfde patroon volg?”

      Mosi se gesig sê sy’s nie meer lus om saam te speel nie.

      “Mosi,” moedig ek haar aan. “Dis ’n goeie vraag.”

      Sy sê iets onhoorbaars. Kyk na haar voete. Draai dan uiteindelik haar kop in Jaap se rigting. “Dink ’n bietjie. Niemand soek na hierdie tipe datapatrone nie. Net mense soos ek is gek genoeg om dit te doen. En almal van ons, maak nie saak wie ons is nie, het gewoontes. Dieselfde gewoontes, elke dag. Goed waarvan ons hou. Motors, kos. Jy dink jy vat ’n obskure vlug wat in die middel van die nag land as doeane- en paspoortbeheer aan die slaap is en voor jy jou kom kry, word dit ’n gewoonte.


Скачать книгу