Sewe-en-veertig. Irma Venter
Читать онлайн книгу.nie. Met die tracking company se data sien jy wie die voertuie besit – ras, ouderdom, geslag – maar jy sien nooit die naam nie. Jy het dit anyway ook nie nodig nie. Jy kan sien hoe duur die voertuie is en waar hulle stop, by watter kantore en winkelsentrums. Jy kan sien waar brandstof ingegooi word en waar hulle slaap. Met daai info kan jy weer plot hoe duur die huise is waar hulle parkeer en hoeveel geld die mense verdien wat daar bly. Ensovoorts, ensovoorts. Daardie demografiese data is baie werd as jy byvoorbeeld ’n nuwe winkelsentrum wil bou, of ’n advertensiebord wil opsit wat die regte oë moet trek.” Sy vat ’n sluk van haar rooibostee. “En dis omtrent dit.”
Klink te veilig vir iemand wat so bang is vir die polisie. “Dit kan nie al wees nie.”
Sarah trek ’n gesig asof ek besig is om haar te martel. “Ek weet sy hou soms die elektroniese deure oop ná die kontrak verby is.”
“Dis beslis nie al nie. Nie soos julle aangaan nie.”
Haar oë takseer my. Die vurk, weer vol gelaai met eier en ham, huiwer voor haar mond. “Wat gaan jy maak as jy weet?”
“Wat bedoel jy?”
“Jy weet goed.”
“Ek gaan niks sê nie.”
“Regtig?”
“Belowe.”
Sy eet die kos van haar vurk. “Onthou jy die drones waaroor ek haar gevra het?”
“Die hommeltuie?”
“Whatever. Mosi gebruik hulle om oop wi-fi-netwerke te hijack. Jy kan baie inligting van sulke netwerke oes. Dit help dat amper almal nou gratis wi-fi aanbied.”
Sy beduie om haar. “Hierdie hotel het byvoorbeeld gratis wi-fi. Jy kan hier bly en ’n moerse spul inligting oor jouself verklap as jy dit gebruik. Die websites wat jy browse. Wat jy op Facebook like. Wat jy instagram. Met wie jy baklei. Rekeninge wat jy betaal. Vir wie jy skelm boodskappe stuur. Wat jy aanlyn koop. Dis ’n moerse lang lys.”
“Wat doen Mosi met hierdie data?”
“Sy maak dit iets sinvols – maak dit patrone, databasisse – en verkoop dit. Corporates betaal baie vir inligting soos hierdie. Hulle wil weet wat mense koop, wat hulle gaan koop, waar hulle dit koop, wanneer hulle dit koop, wat hulle graag wil koop, you name it. Veral mense met geld. En hulle vra nie altyd waar die data vandaan kom nie.”
“En verkoop is al wat sy daarmee doen?”
“Ja.”
“Wat van die regering? Is hulle ook een van haar kliënte?”
“Uh-huh. Mosi doen nie besigheid met hulle nie. Anders sou ek nie dat sy Alfred nou en dan gebruik nie.”
“Alfred?”
“My superrekenaar. Big data vra groot breinkrag.”
Dit verduidelik daai monsterrekenaar op die tweede vloer van haar woonstelblok in Pretoria.
Ek hap weer aan die toebroodjie. Kyk hoe ’n peuter verby ons tafel strompel, sy petite Chinese ma agterna. “Wat doen sy nog wat julle so senuweeagtig maak? Kan nie net hommeltuie wees nie.”
Sarah sit haar mes en vurk neer asof sy oorgee. “Ek weet nie alles van haar af nie, Jaap. Daarvoor is sy hopeloos te privaat. Wat ek wel weet, is dat sy onlangs met ander projekte ook begin het. Dis waarmee Smittie help, en dis waar Mosi se 59% heel waarskynlik vandaan kom.”
Sy hou haar hand op. “Voor jy vra. Haar naam is Olga Smit en sy’s heeltemal above board. Sy’t my ook al gehelp. Sy is besig met haar doktorsgraad in algoritmes wat menslike gedrag voorspel. Sy het ’n meestersgraad in toegepaste wiskunde.”
Algoritmes? Ek begin twyfel of ek ooit hierdie gesprek moes begin het. “Jy gaan beter moet verduidelik. Hoe help hierdie algoritmes die Library?”
Sarah se frustrasie word ’n graad erger.
“Smittie en Mosi gebruik al die data wat die Library insamel om voorspellings te maak oor mense se gedrag. As jy byvoorbeeld lojaliteitskaarte by winkels en gyms vat, en mense se Facebook posts en Twitter likes en al daai nonsens, dan gebruik Smittie AI en ML – artificial intelligence en machine learning – om te voorspel wat hulle volgende gaan doen en koop.”
Sy trek haar skouers op. “Dis hoekom ek heeltyd sê: pasop vir gratis wi-fi en vir oop netwerke. Vir GPS en slimfone. Jy weet nooit wie in jou data rondkrap nie.”
Die hysbak naaste aan ons gaan oop. Drie mense klim uit, een van hulle ’n korterige blonde vrou met sterk skouers, ’n sportsak oor haar arm en in haar hande twee bosse takke, toegedraai in deursigtige plastiek.
“Saved by the bell.” Ek beduie met my ken in die vrou se rigting. “Daarsy. Sy’s joune.”
’n Sug van verligting plof oor Sarah se lippe. Sy stoot die hotelkamer se toegangskaart tot langs my bord.
“Dankie.” Ek gaan bietjie op die derde vloer ronddrentel en my oë oophou vir kamer 3002 se inwoner. Ek sou reken mens gaan stort ná ’n venik-massering.
“Het Mosi al vir jou laat weet hoe die Jordan-knaap lyk?” vra ek.
“Nee. Sy sal sodra sy kan. Moenie worry nie.”
JAAP
2.
Maandag 6 Julie, 13:36
Ek wag tot Sarah en die vrou by die hotel se foyer uit verdwyn.
By die hysbakke duik die eerste probleem op. Fênsie hotelle het fênsie hysbakke. Ek moet die kamer se sleutelkaart indruk en dan die vloer aandui waarheen ek wil gaan. Sal my kaart vir kamer 5001 my op die derde vloer toelaat?
Darem seker. Hier moet tog gaste bly wat oor en weer kuier.
Die nommer 3 verlig.
Fantasties.
Beethoven ruk en rol al die pad boontoe in die hysbak.
Ek klim uit toe die deure oopgaan. Staan vir ’n oomblik rond terwyl ek die ruimte inneem. Die lug is koel en vars. ’n Vaas met geel rose staan op ’n stinkhouttafel tussen die twee stelle hysbakke. ’n Bronsbordjie sê kamers 3001 tot 3005 is links af in die gang en kamers 3006 tot 3008 regs.
Ek loop na die linkerkant, sleutelkaart in die hand, asof ek op soek is na my kamer. Ek beweeg stadig, versigtig, my ore gespits, die dik matte wat my voetstappe insluk.
3001 baklei. Twee mans.
Stilte by 3002.
Niks by 3003.
3004 staan oop, personeel is besig om die kamer skoon te maak.
Ek hou aan loop, gaan staan by 3005 se toe deur. Hopelik is die kamer leeg tussen gaste wat reeds die hotel verlaat het en nuwes wat nog moet opdaag.
Ek staan vir omtrent vyf minute rond. Kyk nou en dan op my horlosie, asof ek vir iemand wag, net ingeval ek die skoonmakers se aandag trek.
Voetstappe uit die rigting van die hysbak.
Ek gaan staan voor 3005 se deur. Kyk vlugtig na links. ’n Man en vrou staan by 3002.
Mosi het niks gesê oor twee mense nie?
Ek druk my kaart in die kamer se deurslot, asof ek hier bly. Die liggie flits rooi. Ek vroetel met die kaart asof dit probleme gee. Ek hoop wragtig die plek is leeg.
Die man en vrou loop by 3002 in.
Drie, vier minute gaan verby.
Die deur gaan weer oop.
Ek haal my foon uit, maak asof ek met ontvangs oor die sleutelkaart praat.
Die man is lank en aantreklik. Donker hare, agtertoe gekam, keep in die ken, fikse lyf. Ek skat hom in die dertig. ’n Maori-tatoe steek onder die opgerolde mou van die ligblou linnehemp uit. Die goue horlosie aan