Skadukant. Rika Cloete
Читать онлайн книгу.’n kind wat nie sy sin kon kry nie.
“Ek gee nie om nie. Jy kan my maar haat soveel as wat jy wil. Dis jy wat misluk het, nie ek nie.”
Haar woorde ruk hom tot stilstand. Sy weet hy gluur haar aan deur die masker, dat hy onseker is oor wat om nou te doen.
Sy wil eintlik byvoeg dat sy in elk geval reeds alles verloor het, dat alles wat vir haar saak gemaak het tot niet is en dat dit ’n verlossing sal wees om te sterf. Saam met Fionn. Maar sy gaan nie. Om die een of ander rede kan en wil sy nie die bietjie mag wat sy oor hom gekry het, inboet nie. Dit is ’n rare gevoel om beheer te hê oor iemand van wie jou lewe afhang. Om te weet dat die bordjies dalk, hopelik, verhang is en jý gaan bepaal of jy sterf of nie. Dit versterk haar drang om te oorleef.
“Ek het nie misluk nie, hoor jy my?” skel hy. “Dis nie my skuld nie!”
“Dis nie hoe dit vir mý lyk nie,” daag sy hom uit met spot in haar stem.
“Ek sal jou wys. My kind is hier.”
Hy vlieg om na die tafel toe. Deirdre kan bottels hoor rinkel en weet nie watter haas hy hierdie keer uit die hoed gaan pluk nie.
Sy is bewus van die skalpel onder haar rug, verbeel haar dit sny in haar vel in. Sy wil skuif, maar kan dit nie nou waag nie. Kan nie sy aandag onnodig op haar vestig nie. Hy het van die skalpel vergeet en sy mag hom nie daaraan herinner nie. Dit is dalk haar uitkoms.
Hy het blykbaar gevind waarna hy gesoek het.
“Hierso, kyk.”
Hy hou ’n glasbottel op en sy word gedwing om haar kop te lig om te kan sien. Die pyn is nog oral, maar dis onbenullig in vergelyking met wat sy moet aanskou.
Agter die glas, in ’n vloeistof wat sy aanneem formalien is wat ietwat vertroebel het, is ’n fetus. ’n Klein, volmaak gevormde mensie met geslote oë. Sy kan net-net die stuk naelstring sien wat uit die lyfie kom, die skakel met sy ma wat te vroeg geknip is.
“Die ma,” sê hy en spoeg minagtend op die vloer, “se naam was Hanna.”
Haar onderlyf reageer op daardie woorde. Begin ruk … Sy moet dit in bedwang hou, anders gaan haar binneste verder skeur. En die skalpel – sy gaan haarself seermaak as sy nie stil lê nie.
Dít is dus wat hierdie maniak in die bottels wil bewaar. ’n Gesinnetjie van ander mense se ongebore kinders, soos insekte vasgevang in amber.
Sy kan nie meer na die figuurtjie kyk nie.
“Dis genoeg!” roep sy uit.
Dan tref dit haar soos weerlig. En Fionn? Wat van hom? Sal hy as gevolg van die miskraam ten minste nie só opeindig nie? Gaan hy dit gespaar bly om in formalien uitgestal te word omdat hy nie lewendig in die wêreld gekom het nie?
Die man loop na die tafel om die bottel terug te sit. Hy raak met van die ander doenig en sy hoor hoe hy ’n deksel afskroef, dan vloeistof ingooi.
Toe hy na haar toe terugdraai, hou hy ’n soortgelyke bottel as die vorige op en sy voel van voor af siek. Gaan hy tog –?
“Dié een is vir my seuntjie,” sê hy en kom nader.
Nee. Hy gaan nie vir Fionn in ’n bottel sit nie! Nie solank sy hier is om dit te verhoed nie.
Sy probeer orent kom, druk haarself regop. Voel agter haar om die skalpel raak te vat.
Sy gaan hom doodmaak. Hier en nou.
Hy kom tot by haar, dwing haar bene verder uitmekaar en tel dan die fetus sorgsaam van die sementvloer af op. Voor Deirdre enigiets kan doen, word die liggaampie in die vloeistof gedompel, die bottel toegeskroef en dit terug by die ander op die tafel geplaas.
Daar is iets soos die skuur- en kreungeluide van swaar masjinerie in haar kop. Dit verjaag alle rasionele gedagtes behalwe een. Sy span al haar wilskrag in om op te staan, ignoreer hoe haar bene wankel en storm dan op die gemaskerde man af.
Sonder veel moeite stamp hy haar van hom af weg. Sy slaan neer en die skalpel kletter iewers op die sementvloer.
Haar liggaam is so seer dat sy eenvoudig nie weer orent kan kom nie. Die terugbaklei is heeltemal uit haar uit.
“Lê nou en dink na oor jou sondes,” beveel hy met ’n doodse stem. “Ek gaan eers eet. Maar ek is netnou terug om met jou af te reken. Jy gaan nie hiermee wegkom nie, dit belowe ek jou.” Met ’n grinnik tel hy die skalpel op. “En ek vat dié saam sodat jy nie weer gedagtes kry nie.”
Hy skakel die lig af en sy hoor die deur agter hom toeklap. Sy wag om te hoor of hy dit sluit, maar die geluid kom nie. Net voetstappe wat sagter word, ’n skuifgeluid, en toe ’n enjin wat aangeskakel word en stadig wegsterf.
* * *
Hoeveel langer sy nog kan uithou, weet sy nie. Maar sy moet hier wegkom en haar enigste kans is nóú. Sy mag dit nie verspeel nie.
Eers na ’n paar sekondes kom Deirdre agter dat sy huil. Sy snuif, lig haar hand om die trane van haar wange af te vee. Wat help dit om hier te sit en tjank? Sy moet eerder vinnig dink wat om te doen.
Toe slaan dit haar soos ’n voorhamerhou. Sy hou haar hande op, draai hulle voor haar in die rondte. Pappa het nou wel die skalpel saamgeneem, maar hy het skynbaar in sy woede vergeet dat sy die beweging van haar ledemate terug het. Hy het haar nie vasgebind nie.
Haar kop is sommer dadelik helder en sy kry nuwe moed. Sy moet dink aan moontlikhede, ’n plan maak om te ontsnap. Sy kyk om haar, wik en weeg.
Dan onthou sy van haar foon. Waar is dit? Het hy dit in haar motor gelos of sou hy dit miskien saamgebring het om die ontvoering na ’n roof te laat lyk? As dit iewers in die werkswinkel lê, kan sy iemand bel …
Nee. Dis belaglik. Hy is nie so onnosel om dit oop en bloot vir haar gebruik te laat rondlê nie.
Haar bene wil onder haar meegee toe sy orent kom, maar sy durf nie talm nie. Hy kan baie binnekort terug wees.
Die slooprok sak teen haar lyf af en plek-plek moet sy die materiaal regtrek omdat haar bene taai is. Dit kan haar bewegings belemmer, besef sy. Dit is reeds op een plek aan die onderkant geskeur, dit het seker gebeur toe hy so hardhandig daaraan gepluk het. Sy skeur die materiaal verder af, sodat die rok nou net tot onder haar knieë hang.
So saggies moontlik beweeg sy na die deur, maak dit oop. Al wat sy aantref, is ’n gang wat na ’n ander deur lei. ’n Swaar skuifdeur wat beslis van buite gegrendel is. G’n wonder hy het dié keer nie die moeite gedoen om haar toe te sluit nie. Sy loop soontoe, stoot en trek daaraan, enigiets om dit oop te kry, maar dit is tevergeefs.
Deirdre loop terug in die gang af, klik die werkswinkel se lig aan en begin elke area bestudeer.
Toe sien sy dit.
Een van die vensters is op ’n skrefie oop. Al wat sy moet doen, is om dit verder oop te stoot en dan uit te klim. Wat egter in die pad is, is die diefwering. Maar miskien … Die yster is kwaai geroes en met inspanning en die regte gereedskap kan sy dit dalk oopkry …
Die klein koevoet wat tussen twee hamers teen die muur hang, is ’n seën. Adrenalien bou in Deirdre op toe sy dit afhaal.
Die diefwering is van die ou soort, nog aan die binnekant vasgesit. Sy maak die venster so ver moontlik oop, dring die koevoet tussen die metaalstawe in en beur vir al wat sy werd is. Mettertyd kry sy dit reg om dit wyer oop te buig. As sy net aanhou, sal sy kan uit.
Die veraf gebrom van ’n enjin klink opeens op, word harder soos dit nader kom.
Dis te laat. Hy is terug.
Daar gaan nooit genoeg tyd wees om hier uit te wurm nie. Hy sal haar op heterdaad betrap en dan is haar doppie geklink.
Haar oog val op die materiaal wat sy van haar rok afgeskeur het. Sy gaan tel dit op en smyt dit vinnig by die venster uit – om die illusie te skep dat haar rok vasgehaak het terwyl sy ontsnap het. Sy sit die koevoet netjies teen die muur neer. Toe gryp sy ’n skroewedraaier om haar mee te verdedig en gaan