Skadukant. Rika Cloete

Читать онлайн книгу.

Skadukant - Rika Cloete


Скачать книгу
eens vir jou nie.”

      Deirdre se hartklop is dawerend in haar ore en naarheid dreig om haar te oorweldig. Sy forseer dit terug. Die sigaretrook wat in die lug hang, help ook nie.

      “Laat ek net gou jou geheue verfris.” Liam se stem is kil. “Om hiernatoe te trek was ’n gesamentlike besluit. Jy het so goed soos ek geweet Murraybaai is ’n blote spikkel in vergelyking met Kaapstad, maar jy het my verseker dat ’n klein kusdorpie die perfekte plek sou wees om jou in jou kuns uit te leef. En ons sou meer tyd vir mekaar hê juis omdat dit minder gejaag is as die stad. Veral wat my werk betref. Ons was besig om uitmekaar te dryf, het jy gesê. Ons doen niks meer saam nie. Daarom was dit die perfekte oplossing. Nou verwyt jy my daaroor. En gepraat van opofferings: wanneer presies het jy gedink om met ’n gesin te begin? Om uiteindelik ’n ma te wees?”

      “Wat maak dit saak? Jy en Hanna het mos reeds werk daarvan gemaak.”

      Toe sy sy gesigsuitdrukking sien, is sy sekondes lank spyt oor wat sy kwytgeraak het. Sy verdriet is byna tasbaar. Dan is die gevoel verby. Dit is die één ding wat hy nie nou voor haar deur moes kom gooi het nie. Nie nadat hy ’n klug van hulle huwelik gemaak het nie.

      “Sê wat jy wil sê, Liam. En kry klaar. Ek wag.”

      “Jy weet wat ek wil sê.”

      “Nee. Jy gaan dit sê. Direk. In my gesig. Ek gaan dit nie vir jou doen nie.”

      Liam se oë is liggroen poele. Sy lippe is bleek. Hy huiwer. Enige oomblik nou, dink sy. Die gewraakte woord: egskeiding.

      “Deirdre, ek …” begin hy en druk sy sigaret in die asbak op die wasbak dood.

      Haar bravade verdwyn in die niet. Sy wil nie hê hy moet dit sê nie. Sy wil dit nie hoor nie. Haar kop begin liggies duisel en die naarheid stoot weer in haar keel op.

      Hy staar na haar, maar asof hy haar nie sien nie. Eerder asof hy haar soek, iewers waar sy lank gelede was.

      “Liam …”

      Hy draai om en begin wegstap. Sonder om te groet. Sonder om terug te kyk.

      “Liam, wag! Daar is iets …” roep sy agterna, maar hoor die voordeur toeklap.

      Deirdre se lyf ruk. Sy voel hoe die trane teen haar wange afloop, warm soos vingers op haar vel. Sy huil egter geluidloos. Toe sy op die koerant afkyk, swem die hoofopskrif voor haar oë en word Hanna se foto ’n waas van kleur.

      Sy druk haar hand oor haar mond en moet hardloop om by die badkamer uit te kom.

      * * *

      Die vloer is koud onder haar en Deirdre maak haar oë oop. Al wat sy onthou, is die paniek, die wanhoop en die donkerte wat oor haar uitgesak het toe sy op haar knieë voor die toilet was.

      Sy kom orent, lig haar regterarm en kyk na die voortjies wat die teëls in haar vel gemaak het. Daar is ’n aaklige, bitter smaak in haar keel en sy loop wasbak toe om haar mond uit te spoel. Toe sy in die spieël kyk, is sy geskok.

      Haar dik rooi poniestert hang losserig teen haar nek af. Die rekkie moes met al die beweging skietgegee het. Sy is doodsbleek, maar haar nek het nog ligrooi vlekke wat deur die inspanning van die opgooiery veroorsaak is.

      Sy lyk skielik vir haarself oud. Veel ouer as haar vyf-en-dertig jaar. Daar is plooie aan weerskante van haar mond wat nie werklik nuut kan wees nie, maar wat sy nie ken nie. En die sproete oor haar neus en wange, wat sy weet gewoonlik ’n speelse indruk maak, is dof. Hoewel nie so leweloos soos haar oë nie. Blou poele sonder enige vonkeling, want daarvoor het ’n mens lig van binne nodig.

      Toe pak die naarheid van ’n vroeë swangerskap haar opnuut en moet sy nog ’n keer oor die toiletbak gaan hang.

      HOOFSTUK 2

      “Jy lyk vir my ylerig om die kiewe, Deirdre. Is daar fout?” vra Tertia en sit haar koppie netjies in die holte van die piering neer.

      Deirdre wou eers die tee-afspraak met haar ou koshuisvriendin kanselleer, maar het op die nippertjie besluit om tog maar vir Tertia vir hulle gebruiklike weeklikse kletssessie te sien. Sy kan tog nie by die huis sit en wegkruip nie. Tertia sou in elk geval snuf in die neus gekry het, in haar Merc gespring het en die uur of wat van Stellenbosch af Murraybaai toe gejaag het om te kom uitvind wat aangaan. En eintlik is sy bly sy het die afspraak nagekom, want Tertia is net die tonikum wat sy nodig het om haar op te kikker. Liam en hulle verhouding, haar swangerskap, Hanna se moord – dit word alles net te veel.

      “Hoor jy wat ek sê, vrou?” Tertia raak saggies aan haar arm.

      Dit sal nie help om verder voor te gee dat daar niks verkeerd is nie. Die waarheid gaan tog die een of ander tyd uitkom; indien nie vandag nie, dan binnekort. Tertia het buitendien valkoë en is so nuuskierig soos nog iets. As sy die nuus nie uit die perd se bek hoor nie, is al wat nodig sal wees ’n toevallige pit-stop by ’n kafee of ’n draai by die vulstasie. Want vertel moet die Murraybaaiers vertel, maak nie saak vir wie nie.

      Ongetwyfeld weet die meeste van hulle dat Liam en Hanna ’n skelm verhouding by die werk gehad het, en dié wat nie bewus was daarvan dat Hanna swanger was nie, kon dit in die koerantberig lees. Vanselfsprekend sal daar nou bespiegelings oor vaderskap wees en dit sal haar glad nie verbaas as iemand reeds die polisie op Liam se spoor gesit het as ’n moontlike verdagte nie. Dis ’n nuwe, sappige storie.

      Die vraag is net waar om te begin. Sy sal die vuil wasgoed oor die verhouding moet uithang, maar hoe doen sy dit sonder om Hanna se nagedagtenis te beswadder en ’n string negatiewe uitlatings te ontlok? Dit voel nie vir haar reg ná wat gebeur het nie. Sy wil nie Tertia se ondersteuning afdwing om haar gevoelens te help verwerk nie. Wat met Hanna gebeur het, is erger as enige oortreding wat sy ooit kon begaan het. Dit is nie nodig om die spykers dieper in die kis te slaan nie.

      Dat Liam die pa van Hanna se kind is, gaan sy nie sê nie. Nie oor Liam of ter wille van haarself nie, maar om Riaan se ontwil. ’n Mens mag nie jou menslikheid vergeet net omdat jy seer het nie. Riaan verdien nie skinderstories en onderlangse kyke nie. Hy het genoeg verloor soos dit is.

      Sy besef Tertia sal nie haar mond kan hou as sy eers weet van die verhouding nie. Iemand sal net Hanna se naam hoef te noem, dan sal sy onmiddellik haar stuiwer in die armbeurs gooi. Grotendeels om vir Liam by te kom. Sy kon nog nooit juis vat aan hom kry nie. Van die begin af het sy Deirdre gewaarsku dat daar iets aan hom is wat haar kriewelrig maak. Hy was veels te glad na haar sin en ’n mooi man is gewoon almal se man. Dit het sy ’n paar keer gesê. Dat Liam haar boonop tydens ’n partytjie voor al wat leef en beef uitgekryt het as ’n spinnekopwyfie wat gedurig op jag is na ’n welvarende prooi, het Tertia hom ook nooit vergewe nie. Dit was lank voor sy die strop om Herman se nek gesit het, maar dit het bly haper. Suur druiwe? Wie sal weet?

      “Ek dink dit is verby tussen my en Liam.”

      “Hoe nou?” Tertia frons. “Jy is seker nie ernstig nie, Deirdre. Hy was dan altyd so committed. Ek meen, ek onthou nog soos gister toe julle mekaar op varsity ontmoet het. Die verstrooide kuns-eerstejaar en die gewilde LL.B-senior. Regte tortelduifies en totaal onafskeidbaar.”

      Verbeel sy haar, of is daar ’n sarkastiese toon in Tertia se stem?

      “Die afgelope ruk het dit maar gekrap tussen ons. Verlede naweek het dinge tot breekpunt gekom en het hy hier uitgestorm. Daarna het ek nog nie veel van hom gehoor nie.”

      “Is dit ’n midlife crisis, of wat?”

      Deirdre verwonder haar aan die perfekte buiging van Tertia se geligte wenkbrou. Ook by die blonde bob is daar geen plek vir verbetering nie. Nie ’n enkele haartjie is uit sy plek nie.

      “Ek dink Liam is nog ’n bietjie jonk vir ’n midlife crisis. Hy is nog nie eens veertig nie.”

      “Man, Herman het al op tien sy midlife crisis gekry en hy is nog steeds nie daaruit nie. ’n Ander vrou dan?” vra Tertia en trek haar helderrooi mond op ’n plooi.

      “Dit is seker al moontlikheid wat oorbly, is dit nie?”

      “En weet


Скачать книгу