Sarah du Pisanie Omnibus 8. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
’n kamer in die hotel bespreek sodat ek my ook ’n bietjie kan opknap. Ek het ongelukkig nie vir my iets saamgebring om aan te trek nie.”

      “Nie een van ons het nie. Jy sal jou maar vanaand vir jou klomp mansmense moet skaam, want ek sal met hierdie kortbroek moet gaan.”

      ’n Warm, behaaglike gevoel sprei deur Annie. Dis so lekker as hy haar so insluit en deel van hulle maak. Hy praat so gemaklik van haar klomp mansmense.

      “Jy lyk in elk geval heeltemal goed, juffrou Annie.”

      Die fliek is toe baie goed. Annie is egter moeg en toe sy eers ontspanne en gemaklik in die sagte stoel sit, is dit ’n stryd om haar oë oop te hou.

      Bertus se breë skouer druk liggies teen hare en sy wens sy kan haar kop op sy skouer laat rus en sommer net wegdommel.

      Pouse stamp Bertus liggies aan haar arm.

      “Kom ons gaan drink ’n koeldrank. Jy sit en slaap dan al!”

      “Ek slaap glad nie. Ek is net lui.”

      “Gmf! Ek ken daardie soort lui wat elke kort-kort ligte snorkgeluidjies maak!”

      Annie lag. Wat haar betref, kan Bertus haar maar heeldag terg – as hy net altyd in so ’n gemaklike en ontspanne luim sal wees.

      Hy gaan haal vir haar ’n koeldrank en hulle staan soos twee trotse ouers hul seuns en dophou.

      “Die seuns is heeltemal op hul gemak by die meisies. Ek het gedink hulle sou skaam wees,” fluister Annie saggies in Bertus se oor toe Kobus vir sy meisie ’n koeldrank bring en hulle in ’n ernstige gesprek gewikkel raak.

      “Hulle is darem net skooltyd onder die tiran se oë. Vakansies het ek geen seggenskap oor hulle nie.”

      Annie kyk vinnig na Bertus en is verbaas oor die seer in die grysblou oë.

      “Dis glad nie wat ek bedoel het nie . . .”

      Hulle kan nie verder daaroor praat nie, want ’n lang, blonde man kom glimlaggend na hulle toe aangestap.

      “Hallo, mooi ding! Ek het gewonder of ou Bertus jou al van Skurwekop af verjaag het. ’n Mens sien jou dan nooit nie.”

      Annie kyk gesteurd op in die blou oë van die aantreklike Schalk Potgieter. Sy kan aanvoel hoe Bertus onmiddellik in sy dop kruip en sy het lus en skop die grinnikende man op sy skeen. Hy het darem ’n hoë dunk van homself! Sy is seker hy gee homself volpunte vir sy voorkoms wanneer hy saans voor die spieël staan.

      “Ons is besig, meneer Potgieter. Ons het ’n vol program en ons kan nie heeldag op die dorp rondlê nie. Ons kom net in as ons skoolaktiwiteite het, soos vandag.” Sy antwoord Schalk so uit die hoogte dat Bertus vinnig na haar kyk.

      “Wel, dan sal ek jou maar net moet verlos van daardie afgesonderde bestaan.Wat van volgende Saterdag? Ek kom haal jou en dan kom fliek ons weer.”

      “Nee dankie, meneer.”

      “Ag, noem my sommer Schalk.”

      Annie ignoreer hierdie woorde egter en gaan net aan waar sy opgehou het.

      “Ek dink nie so nie, meneer. Ons het reeds iets aan die gang volgende Saterdagaand. Dis klaar gereël.”

      Sy kyk nie na Bertus nie, want ’n ligte blos verkleur haar wange.

      “Dit moet seker die een of ander verveligheid daar by die skool wees. Wel, dan sal ek maar moet opoffer en dit kom meemaak as ek jou wil sien.”

      “Nee! Dis net vir die kinders en personeel.”

      “Ag, Bertus sal nie omgee nie! Ek kom loer so van tyd tot tyd daar in. Ons is maar almal betrokke by die skool se bedrywighede. Of wat sê jy, Bertus?”

      Bertus se mond vertrek en Annie kan sien hoe hy sukkel om ernstig te bly. Vandat hy agtergekom het hy kan lag, lyk dit asof hy sommer oor alles wil lag.

      Sy het darem nou vir haar ’n yslike gat gegrawe en kop eerste daarin geval.

      “Ja, seker! Kom gerus.”

      “Dankie, ek het juis nuus wat ek vir jou ook wil vertel. Dalk dink jy dis goeie nuus.”

      Schalk groet en verdwyn tussen die mense. Vies kyk Annie die selfgenoegsame man agterna.

      “Jy kon my darem gehelp het.”

      Bertus lag gedemp.

      “Nou hoe is dit dan dat jy nie uit so ’n eenvoudige ou situasietjie kon kom nie? Jy is dan altyd so vol planne. Dit sal jou leer om so blatant te staan en jok.”

      “Wat kon ek anders doen? Ek wil nie met hom uitgaan nie. Hy dink die stof verander in goud waar hy trap.”

      “Jy kon vir hom gesê het dat ek jou uitneem.”

      Annie bloos bloedrooi en die eerste keer sedert sy hom ken, het sy geen antwoord vir hom nie.

      Sy worstel darem die fliek deur sonder om aan die slaap te raak, en dis met ’n gevoel van saligheid dat sy later in die bus klim en haar lekker regskuif op die bank. Sonder om te verduidelik het sy eerste ingeskuif. Bertus se breë skouer druk liggies teen hare toe hy langs haar kom sit.

      “Wil jy nie hier op die punt sit nie? Gaan jy nie weer kitaar speel nie?”

      “Nee, dankie! Ek gaan nou slaap en nou kan jy maar lag en spot, want ek gee nie eens meer om of ek snork nie.”

      Die seuns is gou terug van die koshuis waar hulle die meisies gaan wegsien het, en kort voor lank gooi die bus se ligte breë, blink bane deur die stil maanlignag.

      Almal is gedaan maar baie tevrede met die lewe. ’n Paar seuns probeer nog ’n bietjie sing, maar toe hulle geen ondersteuning kry nie, gooi hulle ook maar die handdoek in. Annie draai effens skuins en laat rus haar kop teen die rugleuning. Die bus wieg haar geleidelik teen Bertus se skouer vas en hy draai ’n bietjie meer skuins sodat sy makliker kan lê.

      Hy kyk af na die tevrede gesiggie hier teen sy skouer en heeltemal teenstrydig met sy geaardheid wens hy dat hulle twee nou alleen kon wees . . . heeltemal alleen!

      Hoofstuk 8

      Terug by die skool is Bertus weer in homself gekeer, maar daar is tog die gevoel dat hy meer genaakbaar is.

      Maandagoggend nadat hy klaar uit die Bybel gelees en gebid het, loer hy vinnig in Annie se rigting voordat hy met ’n onpersoonlike stem aankondig: “Daar sal Saterdag­aand ’n debat wees. Kobus, jy kan die onderwerp kies en sorg vir drie sprekers aan elke kant. Juffrou Delport sal verdere reëlings tref.”

      Annie byt haar kieste vas om nie te glimlag nie. Dierbare ding! Hy wil iets reël vir Saterdagaand wanneer Schalk hier aankom.

      Sy kom gou agter hoeveel die seuns sang geniet en neem haar voor om ’n koortjie saam te stel. Daar is later in die jaar ’n kompetisie vir skoolkore.

      Bertus is glad nie ongeneë met die voorstel toe sy dit later teenoor hom noem nie, seker omdat Schalk toe ook die Saterdagaand met die debat net ’n uur gebly het. Hy was later hopeloos verveeld, veral toe hy sien hy maak geen hond haaraf by Annie nie.

      Bertus kon maar net sy kop skud. As sy dalk belangstel in Schalk Potgieter, is dit die regte benadering. Schalk sal dit nooit kan verwerk dat daar iewers op hierdie aardbodem’n vrou rondloop wat nie in ’n beswyming voor sy voete neerval nie. Hy sal weer en weer kom kuier. Nou is hy mos ’n slag die jagter!

      Die dae vleg die een in die ander en hulle is behoorlik begrawe onder die werk. Die kwartaal snel ten einde sonder dat een van hulle dit verwelkom.

      Toegegooi onder al die verpligtinge raak Bertus weer stiller en meer kortaf en Annie kan later kwalik glo dat hy ’n dag lank so spontaan en dierbaar was. Sy wens sy kon meer doen om vir hom die las ligter te maak. Haar program is egter reeds so vol, veral noudat sy die koor ook nog namiddae inpas.

      “Juffrou, waarheen gaan juffrou vir die vakansie? Dis seker te ver om huis toe te gaan?”


Скачать книгу